Donkermaan. André P. Brink

Читать онлайн.
Название Donkermaan
Автор произведения André P. Brink
Жанр Контркультура
Серия
Издательство Контркультура
Год выпуска 0
isbn 9780798158664



Скачать книгу

loop gaan neem het. “Kom ons gaan studeerkamer toe,” stel ek haastig voor, asof sy my op ’n indiskresie betrap het. “Ek het ’n vuur aangesteek. Dit lyk asof jy kan doen met so iets.”

      “Great. Ek vrek van die koue.”

      Ek loop vooruit, terug na die studeerkamer, verby die onmusikale houers in die gang, en staan daar tru om haar te laat verbykom. Sy kom oor die drumpel in die halfdonker kamer in – soos gewoonlik brand net die leeslamp op die lessenaar. Soos ’n dogtertjie by ’n verjaardagpartytjie loop sy deur die kamer, bekyk die wanorde wat my altyd laat tuis voel, en buk dan oor ’n stapel langspeelplate op die vloer om hulle van nader te beskou. Daar is weer die effens bysiende vernouing van haar oë.

      “Jy’t baie van dié,” sê sy na ’n rukkie.

      “Hulle het maar ’n neiging om op te gaar.”

      “Jy’t nog nie oorgeslaan na CD’s nie?”

      Ek skud my kop effens verleë. “Te veel van ’n gedoente.” Ek aarsel. “En ek is nogal geheg aan die oues.”

      Sy glimlag toegeeflik.

      “Sal ek iets opsit?” vra ek.

      “As jy wil.”

      “Wat wil jy hoor?”

      “Het jy Bob Dylan?”

      “Nee, ek is jammer.”

      “No problem. Kies enigiets.”

      Lieflik en lenig sypel die musiek in die skemerkamer in. ’n Kat roer. Ek draai die volume sagter.

      Sy luister na ’n paar mate, draai dan haar kop skuins. “Wat is dit?”

      “Mozart. Fluitsonates.”

      “Nou, hoekom nie?”

      Ek bly haar dophou, nog nie seker wat ek moet besluit nie.

      Teen dié tyd is sy by die lessenaar, wat sy deurkyk soos ’n argeoloog wat ’n nuwe terrein inspekteer. Sy knik in die rigting van die rekenaar wat stilweg in sy ligkol bly gons. “Ek sien jy’t darem ’n paar mod cons ook.”

      “Ek moes teen wil en dank maar leer, toe die biblioteek ’n paar jaar terug begin moderniseer het.”

      “Waarvoor gebruik jy dit nou?”

      “Notas. Navorsing. Letterkunde, musiek, geskiedenis, skilderkuns, dié klas van ding. En natuurlik e-pos. Ek het jare lank bly baklei daarteen, maar toe oorgegee. Nie dat dit altyd so voor die wind gaan nie. Om die waarheid te sê, die ding het my net vanmiddag weer in die steek gelaat.”

      “Wat is fout?”

      “Ek moet iets verkeerd doen. Hy steek net vas.”

      “Kan ek kyk?”

      “Weet jy iets van rekenaars af?” vra ek agterdogtig.

      “Dis my specialty.”

      “Wel …” Ek bly nog teësinnig. “Soveel mense het dit al met goeie bedoelings opgemors.”

      “Gee my net ’n vinnige kans. As dit nie werk nie, sal ek dit los.”

      “Dis regtig nie nodig nie, hoor. Ek …”

      Maar sy’t klaar agter die rekenaar ingeskuif. “Watse program gebruik jy?”

      Binne ’n paar minute is sy aan die klik en tik en te kere gaan teen ’n vaart wat my verbyster.

      “Wees tog asseblief versigtig,” maan ek met ’n mengsel van bewondering en afgryse.

      Sy hoor my nie eens nie, lyk dit. Dan en wan vra sy ’n kort vragie, dan val sy weer weg. Tien minute, twintig, ’n halfuur. Een of twee keer mompel sy: “Fok!” Meer dikwels knik sy met ’n tevrede “Daar’s hy!”

      Ek kan nie my oë afneem van haar hande wat soos vinnige water oor die klawers vloei nie. Lang vingers, delikate kneukels, maar stomp gepunt, met kort praktiese naels wat sê sy vat nie nonsens nie. Sy behoort ’n skitterende pianis te wees, besluit ek by myself. Begeleiding vir die ingewikkelde patrone van die fluit op die agtergrond.

      Dit kom amper as ’n teleurstelling toe sy ophou. “Ek dink dis nou dit.”

      “Jy verdien ’n glas wyn,” sê ek.

      “Spot on.”

      “Merlot?”

      “Kan nie beter nie.”

      Toe ek terugkom uit die kombuis, sit sy voor die vuur, haar bolyf teen haar knieë, die los trui afgetrek tot op haar voete sodat net haar tone wys. (’n Smal goue ring aan een van hulle.) Sy kyk op, strek ’n arm uit om die glas te neem, vuurlig op haar wangbene. In die smal gesig, met die kortgeknipte nat hare, lyk die helder oë byna onnatuurlik groot. Daar is iets sonderling gerusstellends omtrent haar teenwoordigheid, asof sy daar hoort, asof sy van altyd af daar was, ’n kind in die huis.

      Ek het in my ou leunstoel gaan sit – verweerde leer, vroeër donkerrooi, aangepas by die kontoere van my lyf – en gesien hoe sy my stip aanstaar oor haar opgetrekte knieë.

      “Dit moet lonesome wees in so ’n groot huis?”

      In ander omstandighede sou die opmerking ongevraag geklink het. Maar dis so spontaan, en die halfdonkerte om ons so intiem, en ek ineens so oorbewus van dié onvoorspelbare, mooi mens met die suggestie van ongepeilde dieptes agter haar pront oë (hoe naarstig probeer ek nou, agterna, regverdig wat gebeur het!), dat ek daar op dié oomblik niks ergerliks of ongewoons in vind nie. En toe ek dáárop antwoord, was die kans om wal te gooi eintlik verby.

      “Ek is gewoond daaraan.”

      “Is dit hoekom jy loseerders soek?”

      “Dit was nie ek nie. Dis my kinders wat aangedring het.”

      “Waar bly hulle?”

      “Een seun in Australië. Nog een in Johannesburg, maar sy kop staan Kanada toe. Hulle het klaar begin opruim.”

      “G’n dogter nie?”

      “G’n dogter nie. Maar eenkeer …” Ek bly stil en kyk af na die glas tussen my bakhande.

      “Eenkeer wat?”

      “Sommer niks.”

      “Is sy dood?”

      “Nee.” Ek het my eers teëgesit, maar na ’n rukkie verby haar in die donker kamer in gepraat. “Sy’t nooit gelewe nie. Sy is voor haar geboorte al dood.”

      “En jy het nooit weer probeer nie?”

      “My vrou kon nie. Nie na die miskraam nie. Dit het … skeefgeloop.”

      “Is jy geskei? Of is jou vrou dood?”

      “Sy’s dood. Lankal. Elf jaar.”

      “Jy nie weer gedink aan trou nie?”

      Ek het my kop geskud.

      “Wat doen jy vir seks?”

      Hier kom nou eers ’n onderbreking te pas. NOTA OOR SEKS EN DIE BEJAARDE WEWENAAR. Daar’s maniere, kon ek vir haar gesê het. Maar natuurlik het ek nie. Wat sou sy daarvan verstaan, dié onaanraakbare jong vrou uit die onstuimige nag, dié vreemdeling met haar stompgeknipte hare, dié meisie wat wegkruip in haar lelike ou trui waaronder net haar tone uitsteek soos die pienk snoetjies van klein katjies? – Die eensame gestommel in jou bed. Die verbeeldings wat jy aangryp, die ontoereikende herinnerings, af en toe die beskamende reëlings, na ure van wik en weeg, om ’n bietjie verligting te bewerkstellig, al weet jy vooruit daar wag net teleurstelling, mislukking en afsku: die laatnagse oproep na ’n agentskap uit die koerant se advertensiekolomme. Die vernederende katalogus, antwoord ja of nee: blond of donker of rooikop, groot of petite, dominerend of inskiklik, eksoties of plaaslik, noem maar op. Nooit twee keer na mekaar dieselfde nie. Soos om pizza of pasta te bestel. Die terugoproep om te bevestig. Die wag in die donker huis, die motor wat voor die hek