Donkermaan. André P. Brink

Читать онлайн.
Название Donkermaan
Автор произведения André P. Brink
Жанр Контркультура
Серия
Издательство Контркультура
Год выпуска 0
isbn 9780798158664



Скачать книгу

te gaan haal terwyl hy sy wilde dans voortsit om die bloedsomloop weer aan die gang te kry. Toe ek terugkom, het hy al dwarsdeur die bruin begin blou deurslaan.

      Terwyl hy badkamer toe is, het ek ongevraag in die voorhuis ’n vuur in die kaggel aangesteek (daar was klaar dennebolle, ’n stapel hout en ’n bak kole byderhand). Maar hy is eers weer uit om sy bondel besmeerde klere en skoene buite te gaan skoonspuit en die gereedskap in die garage te gaan bêre. ’n Pynlik presiese man, het ek gou agtergekom.

      “Bietjie koffie?” het hy uiteindelik kom verneem, meer sê as vra. Dit op sigself was ’n omslagtige proses, want hy het self sy pitte gebrand en gemaal. Maar uiteindelik was ons ingerig, met koffie en beskuit (wat hy self gebak het, het ek later agtergekom), en groot swaar glase Pinotage. Al wat kortgekom het, het ek gedink, was musiek. Maar net daar het hy my ontnugter.

      “Nie in my huis nie,” het Johnny kort en klaar gesê toe ek dit voorstel. “Musiek is die mees oorskatte geraas in die wêreld. Ek het voëls in my tuin en dis genoeg.”

      Net daar, het ek besluit, sneuwel elke vooruitsig op ’n mooi vriendskap. Soos wat hy seker op sy beurt besluit het toe hy ’n paar dae later by my huis aankom en aanbied om my met die tuin te help, wat ek beslis van die hand gewys het. Op die duur, dink ek, was dit die teken van ons vriendskap dat elk iets van soveel belang in die ander kon vergewe en nog genoeg oorhou om verder saam te gaan.

      Ons koffie en wyn daardie aand het vanself oorgeloop in ’n ete wat hy met ’n minimum van omhaal uit karige bestanddele – alles vars – opgetower het. Vegetaries. En voortreflik. Daarna, met ’n nuwe bottel wyn, ’n Cabernet, het hy voorgestel dat ons ’n pot skaak speel. Dit het vroeër die aand al op die lappe gekom dat dit vir ons altwee ’n passie was. Behalwe dat ek die afgelope jare, sedert Riana se dood, maar tevrede moes wees om teen myself te speel – en dan het ek meestal verloor. (Uit Johnny se gemoedelike laggie het ek afgelei dat as dit hy was wat teen homself moes speel, hy gewoonlik sou wen.) Sy stel het hy self met die hand gekerf: geelhout en stinkhout. Vreemde mitologiese figuurtjies; uit inheemse oorleweringe, het hy my vertel.

      Ek het wit getrek en met een van Fischer se gewaagde openinge begin. Johnny se eerste skuif of twee was uit die boek, maar daarop het hy my met ’n heeltemal onverwagse set van ’n ruiter probeer ontsenu. Ek het ’n amper vergete, amper seksuele ou opwinding in my slape voel klop en met ’n ewe onkonvensionele skuif geantwoord. Byna vyf uur later het hy ’n oomblik sy konsentrasie laat glip en ek het hom met my koningin skaakmat gesit – meer geluk as wysheid.

      Dat dit opgevolg moes word, was onvermydelik. Maar ek dink nie een van ons twee het toe al besef hoe heg die vriendskap sou word nie. ’n Pot skaak elke naweek, en meermale ook in die week, het net die buitelyne van die roetine uitgestippel. Ons gesprekke was eintlik, op die duur, belangriker. Oor alles onder die son en heelwat daarbuite. Hy was net so ’n maniese leser soos ek. Baie daarvan het oorvleuel – filosofie, skilderkuns, letterkunde – maar daarby het ons genoeg verskil om dit boeiend te hou, met die onvoorspelbare en die verrassende altyd op die agtergrond, nes in ons skaakpotte.

      ’n Geliefkoosde strydperk was die godsdiens. Johnny was ’n toegewyde Katoliek, terwyl ek lankal weggebreek het van alles wat met die kerk te doen het. Juis dit het sout en speserye aan ons argumente verskaf. Dié was altyd hartstogtelik, maar nooit venynig nie. Soos skaak, was dit oefening vir die gees, net so veeleisend as sy drawwery of sy gereelde sessies in die gimnasium.

      Dit was ook nie net die godsdiens waaroor ons verskil het nie. Ek was heelwat ouer as hy, seker ’n goeie twaalf jaar. Daarby was ek nog altyd ’n boekmens; Johnny was, in weerwil van sy liefde vir lees, ’n buitemens. Hy was ’n botanis by Kirstenbosch en sy hegste verhoudings was byna sonder uitsondering met plante. Hy kon oor ’n nuwe protea, of selfs die mees beskeie vygie of madeliefie, so liries raak as ’n verliefde jong minnaar. Miskien het dié passie eintlik die plek van liefde in sy lewe ingeneem. Want oor vroue het hy, byvoorbeeld, nooit gepraat nie. Vir my het hy af en toe terloops iets oor Riana gevra, maar dit het nooit gelyk asof dit hom veel traak om meer van ons huwelik te weet nie. En eintlik het dit my goed gepas.

      Sy eie liefdeslewe, vir sover dit bestaan het, was ’n geslote boek. Van die mense in die buurt, dit weet ek, het mettertyd begin skinder dat hy seker gay was; daar was dikwels jong seuns by hom aan huis, en ek weet dit was een van sy gunsteling tydverdrywe om op staptoere te gaan – in die Sederberge, in die Swartberge na Die Hel, deur die Richtersveld – gewoonlik met vier of vyf jong mans saam met hom. Maar vir al wat ek weet, was dit sonder bybedoeling. Hy het nooit daaroor gepraat nie, ek het nooit gevra nie. By alles wat ons so gretig met mekaar kon deel, was daar ook vir elk sekere landstreke van ons lewens wat ons uitgesonder het; en die respek wat ons wedersyds daarvoor gehad het, het die vriendskap verder verstewig. Des te meer toe dit so gebeur dat ons byna terselfdertyd, binne twee maande van mekaar, uit ons werk afgedank is. “Rasionalisasie”, het hulle dit genoem. ’n Verminking van die taal. Daar is geen rede in nie. ’n Hele nuwe woordeskat kom rondom ons op, soos die plante wat na ’n reën in die Kalahari uit die dorre grond bars.

      Vir hom was dit op ’n manier ’n groter slag: hy was maar vroeg in die vyftig – ek darem al twee-en-sestig. Maar in ander opsigte het hy weer makliker daarmee vrede gemaak, terwyl ek, tot Magrieta se bekommernis, al meer opgeskeep begin raak het met myself, al meer ontevrede met die wêreld. Johnny het die verandering probeer verwerk deur op al langer staptoere te gaan, en tussenin al yweriger in sy tuin te werskaf. As hy ooit erg gehad het aan so iets, sou nommer 23 enige dag in Garden and Home kon beland het.

      Maar toe, natuurlik, is hy dood.

      Die gebeurtenis het rillings deur die buurt laat trek, soos ’n hond wat geslaan is. Dit was nog al die jare so ’n vreedsame voorstad, byna niemand het bedags ’n voordeur gesluit nie.

      Tot dié skemeraand in Februarie vanjaar. Soos ons dit agterna gehoor het, het hy die môre ’n handlanger van die straat af gehuur om hom te help met ’n vrag mis wat hy van ’n plaas af bestel het. Na ’n kwaai dag se werk het die vent glo gevra of hy ’n toebroodjie en iets te drinke kan kry. Johnny is kombuis toe, die jong tuinier agterna. En toe oorval hy onverwags sy weldoener, gryp die mes waarmee Johnny die brood aan die sny was, en eis geld. In die slaapkamer het Johnny hom al die kontant gegee wat daar was, ’n skamele sestig of sewentig rand. Daarop het die jong boef hom van kamer tot kamer begin sleep en hom aanhoudend met die mes gesteek – die huis was in ’n toestand agterna – en uiteindelik besluit om hom keelaf te sny. Hom vir dood laat lê.

      Naderhand het Johnny bygekom en probeer hulp soek, maar die telefoondraad was afgesny. Volgens die bloedspoor het hy na drie of vier huise in die straat gekruip, maar hy kon nie die hekke oopkry nie. (Myne kan al jare nie toemaak nie; as hy maar vyftig tree verder diékant toe kom soek het. Maar natuurlik, daardie aand was ek nie tuis nie.) Daarna het hy in die rigting van Newlands Avenue begin kruip, seker in die hoop dat ’n motor sou stilhou. Onderweg het hy meer kere sy bewussyn verloor as wat hy agterna kon onthou. Maar alhoewel hy in ’n bloederige bondel halflyf in die straat beland het, het g’n enkele mens vir hom stilgehou nie. Ek ook nie.

      Hoe moes ek geweet het dit was Johnny? Ek was uit na ’n boekvrystelling in Koningin Victoriastraat en dit was al sterk skemer toe ek uit die stad weg is. Ek was haastig om te begin lees aan die pas gepubliseerde boek, wat naas ander essays ook die eerste behoorlik nagevorste stuk oor Antje van Bengale bevat het, geskryf deur ’n jong historikus by UWK vir wie ek op die spoor gebring het (mooi, waarderende inskripsie voorin). In Newlands Avenue moes ek baie skerp uitswaai vir die bondel vodde in die pad. As daar toe verkeer van voor was, kon dit ’n lelike ding afgegee het. My eerste gedagte was dat dit ’n dier was, ’n groot hond of iets, raakgery deur ’n motor. Eers toe ek vlak teenaan verbykom, het dit begin lyk na mens. Die bondel het half orent gekom en ’n arm in my rigting geswaai. ’n Dronk bergie, het ek gedink. Die enigste logiese – rasionele – afleiding in die omstandighede. Ek is huis toe en het daar vir my ’n bietjie sop opgewarm wat Magrieta gemaak het. Toe my sit in die studeerkamer gekry, met my boek. As ek wel weer aan die insident gedink het, dan het ek dit maklik afgeskud. Hoe kan dit van enigiemand by sy positiewe verwag word om – in die donker – stil te hou en met ’n dronk bergie in die straat te onderhandel?

      Die volgende dag het die storie uitgekom. Dit