God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles. George Claassen

Читать онлайн.
Название God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles
Автор произведения George Claassen
Жанр Религия: прочее
Серия
Издательство Религия: прочее
Год выпуска 0
isbn 9780624054153



Скачать книгу

of daarna gaan soek nie, sal jy dit ook nie (weer) kry nie.

      Wie is jy?

      Ten slotte: Wie is Frits Gaum?

      Ek is ’n (afgetrede) predikant, het op 35 kanker gehad wat al meer as 35 jaar lank genees is, het ’n vrou, Henda, drie kinders, ’n skoonseun en een (amper twee) kleinkinders. Ek was stigter-direkteur van Bybelkor/Bybel-Media en sewentien jaar lank redakteur van die oudste steeds bestaande Afrikaanse blad in die land, Kerkbode. Later van tyd is die hoofartikels wat ek tydens die Suid-Afrikaanse oorgangsperiode, 1994-2004, in Kerkbode geskryf het, in ’n doktorsproefskrif onder die loep geneem. Die proefskrif ontleed die artikels tot op die been en evalueer dit krities – maar, en daaroor is ek dankbaar, meen nie dat ek en my geskrifte destyds verkramp of verstok of vasgevang in uitgediende idees was nie. Ek hét met die jare sommige idees en opvattings wat ek in my jonger dae gehad het, hersien en – in die lig van nuwe lig – aangepas, selfs drasties verander. Ek het agtergekom dat om te lewe is om te verander (as jy nie verander nie, is jy dood). Ek het ook verskoning gevra waar ek besef het dat van my vroeëre opvattings mense seergemaak het, en het selfs namens en in opdrag van die NG Kerk ’n amptelike stuk geskryf om vir die kerk se rol tydens die apartheidsjare verskoning te vra.

      Gelukkig was ek nie altyd verkeerd nie en daarvoor vra ek nie verskoning nie.

      Ek is lief vir die kerk waarvan ek ’n predikant is, maar nie blind vir sy/haar foute nie. Daarom het ek ’n boek, Fluit-fluit, die kerk is uit? (2011), geskryf waarin ek die sondes van die kerk in die algemeen en die NG Kerk in besonder uitwys – maar gelukkig ook die baie, baie goeie goed opnoem wat die kerk, en die NG Kerk, doen en gedoen het.

      Liefde doen niemand kwaad aan nie en ek wens dat iets daarvan in my lewe gesien kan word. Onreg doen mense kwaad aan en ek probeer hard om dit oral raak te sien en altyd te bestry. Vergifnis maak heel en ek wil graag vergewe en vergewe word.

      En ek glo in Jesus Christus, my Vanger wie se hande gebloei het maar nie sweet nie.

      Ek glo dat Hy die Alfa en die Omega, die begin en die einde, van my bestaan is.

      Ek glo dat Hy die “oorsprong” en die “uiteinde” van alles is.

      Hy is my Here en my God.

      As die klippe van wetenskap begin uitroep . . .

      GEORGE CLAASSEN

      Tussen 218 en 222 (G.E.[1]) dwing Elagabalus (Bassianus Antoninus), die jeugdige, Siries gebore, transseksuele priester-keiser van die Romeinse Ryk, sy onderdane om ’n swart, koniese meteoriet te aanbid.[2]

      In die herfs van 1901 is die komeet Viscara ’n maand lank duidelik sigbaar oor Suider-Afrika. Ook bekend as “Die Groot Komeet van 1901”, word Viscara deur heelwat Boerekrygers en Engelse soldate in die veld as ’n doemprofesie en voorteken uit die hand van God gesien wat die dood van duisende op die slagveld en in konsentrasiekampe aankondig.[3]

      En sedert 2007 ruk duisende Afrikanermans jaarliks op na ’n plaas buite Greytown in die KwaZulu-Natalse platteland om hul onsekerheid oor hul aardse bestaan in vaste sekerheid oor wat ná die dood kom, te omskep. Hulle hang aan die lippe van die lekeprediker Angus Buchan, wat ’n nuwe moraliteit verkondig en ’n ewige lewe vir die voorbeeldiges belowe. Die Buchan-fenomeen is maar net een vorm van bygelowigheid waarin rasionele denke by Afrikaners opgehef word om ruimte te skep vir ’n onbewese en onsigbare skepper van die heelal en lewe op Aarde. Saam met die ander twee voorbeelde bied dit ’n mikrokosmiese beeld van die geskiedenis van Homo sapiens, die menslike spesie, se gehegtheid en verknogtheid aan een of ander hoër gesag wat aanbid moet word en by wie antwoorde oor die onverklaarbaarheid en dikwelse wreedheid en ongenaakbaarheid van die aardse bestaan gesoek word.

      Hoe verklaar ’n mens vandag die verskynsel van religieuse onderdanigheid aan een of ander hoër orde van gesag of krag wat jou in staat sou stel om moreel te leef, selfs die strewe en verwagting in jou brein skep dat die aardse bestaan net die voorloper is tot iets beters hierna en dan nog vir ewig ook? Is daar redes om nog in God te glo of een of ander god te aanbid? Is geloof in ’n bonatuurlike wese, ’n Intelligente Ontwerper, die Groot Onsigbare, hoegenaamd versoenbaar met die ontdekkings van die wetenskap en die ontvouende wêreld van kennis en die steeds krimpende onkundesfeer?

      Hoe kan religie, of dan die aanbidding van ’n skepper-god, tot voordeel van evolusionêre fiksheid wees en hoe pas religie in by ’n natuur waarin evolusie so ’n kardinale rol speel?

      ’n Evolusionêre bioloog en antropoloog van Oxford-universiteit, Robin Dunbar, beskryf religie en geloof in gode as ’n enigma en raaisel. “In our everyday lives, most of us make at least some effort to check the truth of claims for ourselves. Yet when it comes to religion, studies show that we are most persuaded by stories that contradict the known laws of physics. Tales of supernatural beings walking on water, raising the dead, passing through walls, foretelling the future, and the like, are universally popular. At the same time, however, we expect our gods to have normal human feelings and emotions. We like our miracles, and those who perform them, to have just the right mix of otherworldliness and everyday characteristics.”[4]

      Dunbar noem vier moontlikhede waarom geloof in ’n skeppingsgod nog voordelig kan wees en tot die mens se evolusionêre fiksheid kan lei:

       Om voldoende verduidelikingstruktuur aan die heelal te gee en ons toe te laat om dit te beheer, moontlik deur die bemiddeling van ’n geesteswêreld. Dié moontlikheid is nie ’n geldige rede waarom religie tot evolusionêre fiksheid kan lei nie, glo Dunbar.

       Om ons beter te laat voel oor die lewe, of ten minste in aanvaarding van sy slegste nukke (Karl Marx se beskrywing van religie as ’n “opium van die massas”). Dit is ’n geldige verklaring, volgens die meeste navorsingstudies. Hierdeur vervul religie duidelik ’n plasebo-effek; dit dien as troosmiddel om die lewe meer draaglik te maak.

       Religie en godsdienste verskaf ’n sekere soort morele kode en dwing dit op; sodoende skep dit maatskaplike orde. Volgens Dunbar is dié moontlikheid ongeldig omdat sekulêre samelewings dikwels veel minder misdaad het as lande waar godsdiens sterk staan.

       Religieuse geloof kan moontlik ’n sin vir gemeenskaplikheid, van groeplidmaatskap skep. Dit is die geldigste van die vier moontlikhede, glo Dunbar.

      In die komplekse verhouding wat tussen wetenskap en religie bestaan, word veral drie modelle uitgesonder:

      1. Die teoloog en natuurwetenskaplike Ian Barbour se model. Barbour onderskei vier maniere waarop geloof en wetenskap in verhouding teenoor mekaar staan.[5]

      Konflik: Die twee wêrelde van wetenskap en religie verkeer in botsing weens die uiteenlopendheid van hul vertrekpunte. Die konflik vind neerslag in Christus se woorde, “As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie . . .” (Matteus 18:2) – geloof dus soos ’n klein kindjie. Dit staan reëlreg teenoor die essensie van die wetenskaplike metode dat jy niks kan glo sonder bewyse gebaseer op die natuurwette nie, soos die astrofisikus Carl Sagan sê, “Extraordinary claims require extraordinary evidence”.[6]

      Onafhanklikheid: Die Nederlandse teoloog Gijsbert van den Brink noem dit ook die “boedelskeidingsmodel”; geloof en wetenskap se kategoriale verskille bring mee dat hulle nie met mekaar in botsing kan kom nie.[7]

      Dialoog: Volgens Barbour bestaan bepaalde raakvlakke of analogieë tussen geloof en wetenskap waaroor dan dialoog gevoer kan word. In ’n groot mate pas die Templeton Foundation se gesprekke om dialoog tussen wetenskap en religie aan te moedig, asook die toekenning van die Templeton-prys, binne dié versoeningsmodel.

      Integrasie: Volgens Barbour is wetenskap en godsdiens heeltemal versoenbaar omdat die wetenskap se bevindings deur ’n skeppende godheid moontlik gemaak is en steeds word. Hy beskou wetenskaplike teorieë dus as God se werktuie om sy skepping in stand te hou en te ontwikkel.

      Barbour verwerp die konflik- en onafhanklikheidsmodelle en steun dialoog en die integrasie van geloof en wetenskap.

      2. Die paleontoloog Stephen Jay Gould se NOMA-model.

      Gould,