Xanthe Patterson kan nie verstaan waarom haar pa die huis op hul plasie aan ’n vreemdeling, ene Hanko Joubert, sou nalaat nie. Wat gaan sy met die vent onder haar voete maak? Veral aangesien sy mooi hande haar gedagtes laat dwaal . . . Sy kan nie nou bekostig om te dagdroom nie. Haar pa het aan Xanthe sy bou-onderneming nagelaat en sy kan haar lewenslange droom bewaarheid om in die boubedryf te werk. Maar aangesien haar ouers haar vroeër juis uit dié bedryf probeer weghou het, het sy geen benul van hoe om die taak aan te pak nie. Dan kom Xanthe se kritiese stiefma en halfsuster kuier en gaan dit net nog doller. Vir Hanko kom die erfenis net betyds om ’n nuwe lewe in Suid-Afrika te begin na vyftien jaar in Engeland. Hy sien hoe die mooi groenoogvrou sukkel en aangesien hy die boubedryf ken, wil hy help. Maar Xanthe laat hom mooi verstaan dat sy g’n man met ridderneigings duld nie. Sal Xanthe aanhou om met Hanko koppe te stamp, of is hy die man by wie haar hart tuishoort?
In ’n Stadsjapie vir Pafuri het al Janie se vriende haar gewaarsku dat sy ’n groot fout maak. “Jy kan nie met ’n man trou wat jy skaars twee weke ken nie,” het hulle gesê. “Leer hom eers beter ken . . . en leer eers sy omstandighede beter ken. Hoe sal ’n gebore Johannesburger dit in ’n eensame wildreservaat uithou, met net vlieë en slange vir geselskap?” Maar Janie het gedink dat sy beter weet. Theo was dan so ’n wonderlike man, so liefdevol en bedagsaam, en sy was so inniglik lief vir hom. Wat maak dit dan saak waar hy woon, solank sy net by hom kan wees? Dit duur nie lank voordat sy besef dat sy dalk na haar vriende se raad moes geluister het nie. Theo wat sy arm om haar gesit en mooi woordjies in haar oor gefluister het voordat hulle getroud is, is nie die Theo wat so vasgevang is in sy werk dat sy hom skaars sien nie. Sy leer ’n ander Theo ken: ’n sleggehumeurde man wat gedurig met haar rusie maak sonder dat sy verstaan waarom dit gaan. Gelukkig is Katinka daar om haar raad te gee en haar vriendin te wees, en dierbare Walt, Theo se neef wat ’n kunstenaar en ’n beskaafde man is. Hulle twee maak haar onaangename lewe ’n bietjie draagliker. In Benodig: ’n Vrou vir Braam besoek Belinda die historiese Graaff-Reinet op pad na die Kaap waar sy vakansie gaan hou. Soos elke toeris gaan neem sy foto’s van al die ou geskiedkundige geboue en tot haar groot ontsteltenis ontmoet sy ’n dogtertjie wat in die kerk wegkruip. Die kind huil hartverskeurend en na geduldige ondervraging kom die waarheid uit. Die kind is bang vir haar pa en nou kruip sy hier in die kerk vir hom weg. Belinda is dadelik simpatiek en vind toe ook uit dat die kind se ma dood is, en dat haar pa haar nou kom haal om by hom te bly. Haar pa en ma is geskei en sy het by haar ma gebly, want haar pa is ’n slegte man en sy wil nie saam met hom gaan nie. Impulsief besluit Belinda om die kind se pleegma se toestemming te kry om haar saam te neem Kaapstad toe. Dié is maar te bly om van die kind ontslae te raak en die twee vertrek. Hulle is egter skaars op pad toe die dogtertjie agtertoe kyk en haar pa in ’n motor sien. Belinda besef dadelik dat hy hulle agtervolg en daar volg ’n verbete vlug af Kaap toe, om die kind te red van ’n pa met moordneigings. In Man in die donker is Senta Swiegers en haar man, kaptein Henk Swiegers van Jakaranda-lugdiens, op die punt om haar verjaardag te gaan vier toe Henk ontbied word om vir ’n medevlieënier op ’n oorsese vlug in te staan. Dit bederf die hele dag vir Senta en sy is woedend, maar min kon sy weet dat die ergste nog sou kom. Voor die einde van daardie dag word daar ’n moord gepleeg waarby sy betrek word . . . Sy was immers die laaste persoon wat die vermoorde, die sjarmante vrouejagter kaptein Don Metelerkamp, lewend gesien het voordat die donker figuur in die tuin toegeslaan het. Senta gaan deur die moeilikste tydperk van haar lewe – ’n tydperk waarin dit lyk of selfs haar man haar nie glo nie, want is hy nie maar té bewus van die verhouding wat daar vroeër tussen sy vrou en Don was nie?
In Gasheer van Drakeneiland kry vyf vreemdelinge ’n aanbod: Gaan hou ’n maand lank vakansie op ’n afgesonderde eiland. Die beloning? Vir elk ’n bedrag wat steier aan die nulle. Die weldoener? ’n Anonieme, eksentrieke miljoenêr en eienaar van Drakeneiland. Aanvanklik ’n avontuur, weldra ’n nagmerrie in die hart van die hel. Wat soek ’n laboratorium in ’n grot in die middel van nêrens? Wie is hul gesiglose gasheer wat net ’n stem oor ’n luidspreker bly? Watter duiwelse eksperimente voer die professor uit? Erger as die gif van dié eksperimente in proefkonyn ná proefkonyn se bloedstroom, is die gif van wantroue in Irma Bruwer: Kan sy Anton de Woud, met sy donker broeiende sjarme, vertrou? Of is hy kop in een mus met die professor? Speel hy toneel en wat is sy rol? In Die droster van Doringbaai is die droster ene Koos van der Merwe, of so stel hy homself voor. Met sy verskyning op die dorp, en met dié van die geheimsinnige skilder, Zuna Steyl, begin sake skeefloop: ongelukke vind plaas en ’n vreemde spanning ontwikkel onder die werkers van Sebastiaan Stadler se visfabriek wat deur sy neef, Eghardt Landman, vir hom bestuur word terwyl hy van ‘n hartaanval herstel. Maar dis nie al nie. Petra Pelser, Sebastiaan se verpleegster, volg hom een nag wanneer hy geheimsinnig verdwyn. Iets is gaande in die groot toring – maar wat? In Net ná middernag word daar een Saterdagnag, toe die kerkhorlosie sy twaalf slae oor Driedoring uitbeier, ’n moord gepleeg op dié rustige plattelandse dorpie. Tot almal se skok en verbasing word die prokureur se lyk die Saterdagoggend in die pastorietuin gevind. Kaptein Deon Roux word ontbied en saam met die speurder leer ons die mense van Driedoring ken – die gewilde dominee, die bekwame skoolhoof, die Badenhorsts met hul vinnige humeure, die mooi, senuweeagtige predikantsvrou, die nuuskierige dokter en sy goeie vrou, die orreliste met haar bewondering vir die dominee, en les bes: Marie Grebe, die jeugliefde van die prokureur wat nou met die skoolhoof getroud is en versot is op speurverhale . . . Saam met kaptein Roux is die leser warm op die spoor van die moordenaar – of is dit ’n dwaalspoor?
Zia is nie ’n natuurlike blondine nie, maar sy doen haar bes om funky te wees. Sy dra way-out tweedehandse ontwerpersklere wat sy by liefdadigheidswinkels koop. Dis net dat ’n ander vrou se rok nie aldag so lekker aan haar lyf of in haar lewe pas nie. Want Zia bars uit haar nate op meer as een manier. Sy is nou eenmaal nie haar perfekte niggie nie, al hét sy ook ’n kêrel. Met ’n poegie. Karel is haar kêrel. Maar net op mooiweersdae. Toe Zia se onderwysloopbaan met ’n hengse knal in haar gesig ontplof, hou Karel hom skaars. Want hy wil eintlik ’n ordentlike vrou hê, een wat nie skandes maak nie. Ouma Betta wil ook van haar ’n goeie Afrikanervrou maak sodat sy tog net nie soos haar ma sal uitdraai nie. Maar Zia maak ’n nasionale sport van elke faux pas in die boek. Zia sou nooit kon raai hoe kreatief haar lewe nog sou word toe sy die dag by Creative Creatures se glasdeur instap nie. Of dat ’n man wat soos ’n winkelpop lyk haar hart op hol sou kry nie. Sy weet Jack de Villiers kies sy meisies om by sy dasse te pas, maar sy kan hul chemistry nie ontken nie.
In Regters oor gister haal die verlede vir Mignon Preller in – ’n verlede waaraan sy heeltemal onskuldig is . . . Mignon is ’n gelukkige, sorgvrye student uit ’n stabiele ouerhuis. Wanneer sy hoor dat haar beste vriendin ’n aangenome kind is, ontstel dit haar diep – té diep, want só sluip ’n ou verskrikking uit die verlede ongevraag die vreedsame tuiste binne wat Fred en Anita Preller vir Mignon en haar lieflingbroer, Steve, probeer skep het. Twintig jaar gelede het hulle ’n verkeerde besluit omtrent Mignon geneem, ’n fout wat nou duisend maal vergroot terugkom en twee jongmense in die ban van ’n verbode liefde hou. ’n Ontroerende verhaal van ontreddering, en uiteindelik van die helende krag van die liefde.
Louise Barnard is in die wolke wanneer haar vriend, die aantreklike, skatryk Eben Griesel vir haar die woonstel wat hy vir hulle uitgesoek het gaan wys. Mevrou Louise Griesel, mymer sy, drome wasig in haar oë terwyl sy opkyk na Eben wat langs haar in die hysbak staan. Sy glimlag met hom. Hy het reeds hulle woonstel gekies, hoewel hulle nog nie op 'n troudatum besluit het nie. Maar só het sy Eben die afgelope maande leer ken. Hy dink aan die praktiese dinge en 'n woonplek sal beslis vir hom van groter belang wees as al die beplanning en gepraat en bespiegelinge oor 'n geskikte troudatum en hoe groot die huweliksonthaal gaan wees. Net 'n paar minute later, in dieselfde woonstel waaroor Louise so baie drome gedroom het, spat haar hele wêreld erger aan skerwe. Eben het beslis nie aan die beplanning óf 'n geskikte datum vir hulle huwelik gedink nie. Tewens, niks was verder uit sy gedagtes verwyder as juis ‘n huwelik met Louise nie. Sy idee was suiwer dat hy en sy moes saambly – soos sy antwoord op haar weersin dan ook getuig – “Genugtig, Louise, trou is so uit die mode soos Kersvader en Kerskabouters!” het hy gesmaal terwyl sy so vinnig moontlik van hom af probeer wegvlug het. Met haar vertroue in mans geheel en al vernietig, besluit Louise om uit Johannesburg pad te gee. Sy moet wegkom van Eben af . . . van die smet wat sy idees in haar binneste gelos het, en die huis wat haar moeder kort gelede van haar tant Ragie de la Rey op Rheedershoop geërf het, bied aan haar ‘n salige heenkome. Maar Louise het nie rekening gehou met die ander De la Reys van Rheedershoop nie. Met Lafras, die breedgekouerde padbou-ingenieur met die gesig wat lyk of dit uit graniet gebeitel is nie. Ook nie met Theresa Hattingh, die skatryk, suksesvolle, talentvolle, aantreklike vrou, soos iemand haar aan Louise beskryf het, wat Lafras de la Rey vir haarself toegeëien het, of met Belinda, die agtienjarige prikkelpop op wie Lafras ooglopend op sý beurt verlief is nie. Wanneer, o wanneer, so het Louise se hart telkens geweeklaag, sou die lokstem van die liefde háár weer roep. Wanneer . . .?
Toe die pragtige Ilse Brink universiteit toe gaan, het sy nie die spreekwoordelike sterre in haar oë en die wêreld aan haar voete nie. Sy besef dat sy hard sal moet werk – en boonop gou klaarkry – sodat sy kan help om vir haar behoeftige ouers op die plaas te sorg. En toe vat 'n nuwe idee by haar pos: as sy met 'n ryk man kan trou, 'n ryk man met baie geld, sodat sy en haar ouers nooit weer aan hulle armoede hoef te dink nie . . . Ilse is 'n gelukkige meisie, want sy loop vir Bruce Reyneke raak. Hier en daar hoor sy wel 'n storietjie oor Bruce, maar wat maak dit saak? Hy het mos baie geld en hy is beleef teenoor haar. Ilse se boesemvriend, Henk Retief, hou haar egter met 'n arendsoog dop, en hy weet: eendag sal Ilse se oë wel oopgaan. Maar dit was voordat sy ingewillig het dat die beroemde Tobias Meiring haar skilder. Tobias het ook geld, en boonop is hy aantreklik, sjarmant en die antwoord op enige mooi meisie se drome – al is hy oud genoeg om Ilse se vader te wees. Die liefde oorwin is 'n pakkende, eg-menslike verhaal wat end-uit boei.
In Die despoot van Duiwelskloof ontvlug Marista Minnaar haar ongelukkige verlede as mannekyn deur vir die broers Michael en Johan de Beer te gaan huishou. Michael is ’n moeilike man, maar sy broer, vasgekluister aan ’n rolstoel, word Marista se bondgenoot en vertroueling.
In Minnaar uit die vreemde moet Aletta Vosloo met haar twee susters, Susan en Betsie, die plaas Tiervlei behartig. Die mede-erfgenaam, dr. Frans Naudé, is in Amerika en hy wil nie terugkom of ’n beslissing gee oor die verkoop van die plaas nie, ten spyte van baie aanloklike aanbiedinge. Skuil daar vreemde motiewe agter die hoë aanbiedinge? Aletta moet van die voorman ontslae raak, maar dit lyk of die nuwe voorman, Jim Muller, die bestuur oor die plaas wil oorneem. Intussen is die dorpsprokureur, Gawie Pretorius, smoorverlief op Aletta. Hierdie situasie hanteer Tryna du Toit met die vernuf wat al haar boeke kenmerk.