Kathleen en haar twee susters erf elkeen vyfmiljoen rand na hul geliefde tante Peet se afsterwe, mits hulle ’n vreemde bepaling nakom: Hulle moet elkeen eers ’n maand lank in ta’ Peet se huis op Greyton gaan bly. In hul gejaagde lewens het nie een van die drie werklik hiervoor tyd nie, maar Kathleen stem in om eerste te gaan, want sy moet in elk geval aan ’n sakeplan vir haar aanlyn-onderneming werk. Sy het egter nie daarmee rekening gehou dat iemand die kothuis agter ta’ Peet se huis sou huur nie. Beslis nie ’n aantreklike man met viooltjieblou oë nie. Sake-konsultant Steyn Erasmus se arm is in ’n hangverband en Kathleen ontferm haar oor hom. Maar wat tussen hulle broei, is veel meer as net goeie buurmanskap . . .
Volbloedvrou vir ’n vaalseun: Fransien de Swardt woon haar skoolreünie om slegs twee redes by: ná tien jaar wil sy die spoke van die verlede besweer en haar metamorfose van armlastige spoorwegkind na suksesvolle sakevrou onder ’n paar mense se neus vryf. Spesifiek mense soos Tessa de Villiers en Chris de Wet. Maar as Fransien vooraf geweet het sy gaan betrek word by ’n intrige van moord en ou geheime, sou sy twee maal gedink het voor sy die pad na haar tuisdorp aangepak het. Om alles te kroon moet sy ook nog rekening hou met kaptein Jans Jansen, die hoofondersoekbeampte in die moordsaak. Want onverwags en onverklaarbaar bevind Fransien haar in die posisie van hoofverdagte . . . Dis mooiweer en liefde: Nadat Menantheau le Clerque se verhouding met dokter Kobus Kruger op die rotse geloop het, bepaal sy haar net by haar werk as bibliotekaresse. Haar lewe word egter onverwags in ’n heel nuwe rigting gestuur die aand toe sy Nick Bender ontmoet. Dié groot man met sy onwrikbare trots oorrompel haar totaal, en dit wil voorkom asof hulle verhouding blom. Maar toe Nick in ’n ernstige motorongeluk betrokke is, vind Menantheau tot haar skok dat Kobus sy dokter is – en dis duidelik dat hy haar nog glad nie vergeet het nie. By hom ervaar sy die rustigheid wat Nick haar nooit kon gee nie. Maar Kobus is nie bereid om altyd in Nick se skaduwee te staan nie . . . My liefling is ’n wolkeman: Kwaai Sias de Wet van Petrusburg in die Vrystaat het ses dogters, maar die een wat hom die grootste kopsere gee, is die pragtige blonde Anke. Sy is net sewentien en diep gekys met Braam Venter, nege jaar ouer as sy en ’n lugvaarttegnikus in Dublin, Ierland. Toe Braam ’n vliegtuigkaartjie stuur sodat Anke kan kom kuier, moet Isabella, die verantwoordelike oudste suster, saamgaan as chaperone. Isabella, so reken Sias, stel tog net belang in haar musiekstudie. Maar toe Isabella die Ier Adrian Mimnagh ontmoet, is haar voete heel onder haar uit. Hulle naweekkuier by Adrian se gesin in Omagh lewer ’n hele paar verrassings op – soos sy gewese meisie, Aibhilin. En dié, kom Isabella agter, wil Adrian tot elke prys terughê.
Lelanie Ferris wil nie ’n romanse aanknoop tydens haar vakansie in die Kaap nie, maar Dian Bergh met sy groen oë en sterk gestalte toor behoorlik met haar sintuie. Hoe op dees aarde gaan hulle nét vriende wees wanneer hulle voortdurend moet spook om hul lippe en hande van mekaar af te hou? Is Lelanie reg om aan te beweeg ná die groot ontnugtering wat sy moes oorleef? Sy sien werklik nie kans om nóg pyn te ervaar nie. En wie is die blondine wat konstant Dian se aandag probeer trek? Dis dalk nie eens nodig om al die vrae te beantwoord nie: Haar firma ondersoek ’n saak van korrupsie en sy ken een van die beskuldigdes. Wat is Dian se betrokkenheid en het hy haar die heeltyd net om die bos gelei?
In ’n Vrou soos Salome sien die joernalis Jaco Retief ’n weerloosheid in Salome Truter – die liefling-ster van die sangverhoog. Impulsief nooi hy haar vir ete, en ontdek dan dat daar agter die openbare beeld ’n oneindige hartseer skuil . . . In Die vrou in die spieël word die hoofkarakter een oggend wakker en ontdek dat sy niks kan onthou nie, nie eens haar eie naam nie. En toe ’n lang, aantreklike man skielik die kamer binnestap, noem hy haar Ansie. Dis ’n naam wat sy in haar diepste wese wéét nie hare is nie! En in Die pad terug huis toe beland gesogte model Karina Oosthuizen in ’n grusame motorbotsing wat haar blind en verlam laat. Onverwags is daar iemand wat vir haar – en haar moeder – toevlug bied in ’n pragtige wit huis by die see. En dis perfek ingerig vir ’n persoon in ’n rolstoel. Sal Karina se trots haar toelaat om daar te bly as sy weet dat De Waal Venter die weldoener is – die seun wat sy as kind so verneder het?
Drie van Annelize Morgan se beste verhale. In Wit roos van geluk moet Rosalie deur diep water gaan. Sy was net ’n baba toe haar ma haar op oom Markus se stoep neergelê het. Maar sy familie wou haar nie op die plaas hê nie. En die man wat sy liefgekry het se skatryk pa is ontevrede oor haar verlede . . . In Huis sonder liefde besef Nora Fouché dat die Keppler-huishouding in ’n wolk van geheimsinnigheid gehul is. Waarom duik Paul van der Hoff se naam in elke fluistergesprek op? En watter geheim lê opgesluit in die verlore dagboek van Clara Keppler? In Silwer drome sterf Oswald van Noordwyk voordat hy vir Verona alles omtrent haar verlede vertel. Hy laat egter een opdrag na: Vind Konrad. Verona besluit om Amasone toe te gaan: Sy wil haar ouers se grafte gaan soek én sy wil haar jeugliefde, Konrad, opspoor. Die geheimsinnige Vasques moet talle kere Verona se lewe red. Sal die spanning van ’n emosionele tweestryd sy tol eis?
As Lucy Lombaard in Rubens se tyd geleef het, was sy met haar ronde lyf ’n gesogte skoonheid. Maar nou leef sy in ’n eeu waar vrouelywe soos kodestrepies lyk. Om dan nog vir Jan Taks by Bellville se SARS-kantoor te werk dra nie juis by tot haar gewildheid nie. In Lucy se lyf klop daar die hart van ’n feetjie wat veerlig deur die lewe wil gaan. Dis net – vet feetjies kan nie vlieg nie . . . Met die familiefees wat vir haar voorlê, het Lucy ’n metgesel dringend nodig. Billy Bruwer van Media Uniek stel wel in haar belang, maar wil hy eintlik net die blog wat sy as Funky Feetjie skryf in sy nuwe tydskrif gebruik? Lucy se pad kruis met dié van Wouter Weet-als wanneer hulle saam aan die rubriek moet skryf en die vonke spat behoorlik tussen die twee. Al is Billy Bruwer ’n lus vir die oog wat haar hart in die hoogste versnelling plaas.
Nina neem ’n blaaskansie van haar besig lewe as haarkapper en -stilis in Pretoria om haar ouma Anita Kalahari toe te neem waar sy by haar jarelange vriend, oom Chris, wil gaan kuier. Maar Nina sou nooit kon raai dat die pad na die plaas Geluk haar ook na oom Chris se kleinseun, Ian, sou neem nie – die aantreklikste man wat sy nog ooit gesien het. Vir die eerste keer in haar lewe kry ’n man dit reg om haar voete onder haar uit te slaan. Maar ’n verhouding tussen hulle sal tog nooit werk nie. Nina is ’n stadsmeisie en Ian is ’n boer in murg en been. Sy sal nooit op ’n plaas in die halfwoestyn aard nie. Nina moet maar liewer teruggaan na die standvastige Carl wat haar gesoen het voor sy uit Pretoria weg is – al is hy so koel en korrek. Buitendien blyk dit dat Ian steeds vir sy vriendin Zanelle gevoelens het . . . Watter ander rede kan daar tog wees dat Zanelle se verloofde agterdogtig is oor hom?
Van hul skooldae af het almal gedink dat Marlene Burger en Tom Lourens vir mekaar bestem is. Maar Marlene, met haar voorliefde vir avontuur en adrenalien, wou haar nie vroeg reeds aan ’n rustige huislike bestaan bind nie. Nee, sy het luitenant-kolonel Marlene Burger van die SAPD geword, haar plek in ’n manswêreld oopbaklei en kriminele laat les opsê. Maar nou is daar ’n kans vir Marlene en Tom om weer te probeer om ’n verhouding te hê – ná hulle elk ’n mislukte huwelik agter die rug het. Gaan dit dié keer werk? Want vlootoffisier Lourens blyk onnodig versigtig te wees wanneer dit by hul verhouding kom. Sý weer oorhaastig . . . Die geheimsinnige Ziegfried van Leeuwen, wat dalk die ontwykende straatkunstenaar De Leeuw kan wees, verskyn boonop op die toneel en is met luitenant-kolonel Burger gefassineer. En skielik moet Marlene besluit wat sy werklik wil hê . . .
In Om alles te weet arriveer Nelis Hoffman een snikhete somerdag op Driekolk, ’n klein nedersetting teen die Oranjerivier. Hy kom die plaasskooltjie van ondergang red, met die hoop dat hy ook homself van sy pynlike wroeging sal kan red. Hy ontmoet die bruuske Boel Meyer, wat hom oplaai en aan sy meisie Nida Thirion by die winkeltjie voorstel. Hy dreig Nelis implisiet om van haar af weg te bly. Dan kom Nelis egter as loseerder in die Thirion-huis te lande, saam met Nida en haar moeder en broer. Intussen is Reinet Eksteen nie van plan om Nelis deur haar vingers te laat glip nie, en sy tref haar eie reëlings daartoe. Verhoudinge en intrige raak vinnig verknoop. Dan kom die vloed, en alles verander. In Jaar van die feniks kom Addie Richter aan op Avondsdal, waar sy ’n tuiste by die Alants vind. Aangesien sy ouerloos en in ’n kinderhuis was, het hulle haar altyd vakansies by hulle geneem. Mooi Willem Alant kom haar op die stasie haal en braak gal oor jong dokter Bohlkamp, in wie se spreekkamer sy sal werk. Addie is eindelik deel van ’n gesin, en sy hoop om so van Louis Trefellen te vergeet. Hoewel Bresler Bohlkamp nors optree, om van sy geringskattende vriendin Zora Opperman nie te praat nie, vergoed Willem daarvoor. Maar kan haar geluk duur, of sal dit in as versink? En sal daar ’n herrysenis kan wees, soos by die mitiese feniks? In Prys vir die son sal Lesers wat vir Ryno de Meyer (Die juigende oes, Omnibus 3), Nico Burke (Agter toe vensters, Omnibus 4) en Elzar Enslin (Mense van die môre, Omnibus 10) onthou, sal bly wees om nog een van Louisa du Toit se gewilde, boeiende pastorieverhale te lese kan kry. Hierdie keer is dit Bato Frankel, jong wewenaar met twee kinders, wat een wintersdag aankom op die dorp waar hy ingrypende intrige op die lyf sal loop. Sy hart het hy agtergelaat by Lenta, die jong orrelis. Hier kom kruis sy pad met dié van twee susters: die diensbare Connie en die mooi maar bitter Annette. Sal die son hoegenaamd weer vir hom skyn, en teen watter prys?
Heler van skade: Lucinda O’Neill word ’n pos as pediater by die Wynland-kliniek vir Aansteeklike Siektes aangebied en dit bring ’n algehele ommekeer in haar lewe mee – en nie slegs op professionele gebied nie. Want hier ontmoet sy vir Werner Huber, ’n siviele ingenieur, wie se seun tydens ’n werkskontrak in Afrika ’n tropiese siekte opgedoen het. Wanneer hy die seuntjie na die kliniek bring, maak dit ’n groter impak op Lucinda se lewe as wat sy ooit kon voorsien het. En intussen maak die resiesjaer Edwin van Reenen, wat haar ken sedert hulle kinderdae in die weeshuis, aanspraak op haar vriendskap en liefde. Lucinda het haar nog altyd van liefdesverbintenisse weerhou; haar werk was haar erns. Maar in die Wynland-kliniek word sy verplig om keuses te maak – en meteens lyk haar pad vorentoe baie gekompliseerd. Die dokter se geheime passie: Janli Filmalter, ’n toegewyde mediese student in haar vyfde jaar, en dokter Christiaan Lombard ken mekaar al vandat sy ses en hy nege jaar oud was. Hulle ken ook mekaar se families goed – dalk té goed. Waarom haat Christiaan haar skatryk pa so? Sal hy Gé, haar losbol-broer, kan vergewe vir wat hy aan sy onskuldige kleinsus gedoen het? Maar die belangrikste: probeer Christiaan op die Filmaters wraak neem deur Janli te verlei? Ontmoet my in Patong: Laura Els is glad nie baie gelukkig in die hospitaal waar sy verpleeg nie. Miskien is dit omdat haar kêrel, Braam, weg is Engeland toe. Of dalk is dit nog die nadraai van die tsoenami-gebeure. Wat ook al, Laura besluit om Engeland toe te gaan, na Braam toe. Maar voor dit wil sy eers terug Thailand toe vir ’n kort vakansie om deur die herinneringe van die tsoenami en haar tyd daar te werk. In Thailand ontmoet sy toevallig weer die Engelse sakeman, Francis, wie se lewe sy destyds gered het. Die aantrekkingskrag tussen hulle skryf Laura toe aan die feit dat sy hom destyds gered het. Natuurlik sal so iets mens nader aan mekaar bring! En sy is immers nog verlief op Braam. In Patong het die lewe egter sy eie loop . . .