Название | In my vel |
---|---|
Автор произведения | Azille Coetzee |
Жанр | Биографии и Мемуары |
Серия | |
Издательство | Биографии и Мемуары |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624087304 |
Op Stellenbosch het C in ’n soort kommune gewoon. Hy het ’n groot, lendelam huis in Jamestown gehuur, op ’n plot wat afloop tot teen die Bloukliprivier. Hy het geadverteer dat hy op soek is na huismaats wat in ’n kommunale bestaan belangstel en het vinnig die gepaste kandidate gevind. Onder andere ’n kunstenaar wat stadig maar seker die grond omskep in ’n lewende, bewegende kunswerk, en sy partner wat boeke met die hand bind. Ook ’n ou vriend wat sulke groot partytjies hou dat die musiek nog dae ná die tyd in die hele buurt se ore suis.
Ek woon in Welgevonden tussen al die honderde jong wit moeders wat hul prams op en af stoot deur die singels. C het nog altyd meer visie as ek gehad.
Ná ’n paar jaar, toe C al ’n mate van ontnugtering met die kommune bereik het, trek ons saam in ’n klein kothuis op ’n plaas buite Stellenbosch in. Maar dis minder romanties as wat ek gehoop het. Ná Jamestown is C reg vir ’n volgende projek.
Hy koop ’n erf en begin ’n huis bou. ’n Omgewingsvriendelike huis. Elke baksteen, vensterraam, teël en deurknop vind hy tweedehands in verskillende uithoeke van die Wes-Kaap. Hy word heeltemal opgeneem deur hierdie edele taak, en hy is nooit tuis nie. Ek het nie die wysheid en die geduld om hom die ruimte te gee om hierdie ding te doen nie.
Ek is verveeld en eensaam. En ek was jonk en rusteloos. Ek ís jonk en rusteloos. Ek fantaseer oor al die ander lewens wat ek kan leef, al die ander selwe wat ek kan wees, saam met ander mense, op ander plekke. Daar gaan ’n kloof tussen ons oop, of iets in my, wat nie weggaan toe die huis klaar is en ons later knus en gemaklik herenig is in ’n idilliese lewe in die Sarphatistraat in Amsterdam nie.
Ná ’n verhouding van sewe goeie jare, een daarvan in Amsterdam, skud ek C af soos ou klere. Nadat ons dit saam heelpad tot in Europa gemaak het. En hy, hard en sterk, los my om my gang te gaan.
Eers later, toe ek met ’n splinternuwe Nederlandse man op ’n Amsterdamse grag woon en myself in gebroke Nederlands onsuksesvol probeer herskep tussen ’n klomp mense wat my nie verstaan nie, begin ek besef waar ek die fout gemaak het.
Een vir een verdeel ek en C die paar goedjies wat ons sover in hierdie nuwe land bymekaargemaak het, presies ’n jaar nadat ons in die Sarphatistraat aangekom het. Die meeste boeke is myne. Die meubels is syne, behalwe die spieël en ’n pienk stoel. Met twee tasse is ek op die trem daar weg.
C maak die deur agter my toe, moeg en gelate.
Kolonialiteit
Eers ná my aankoms in Nederland besef ek dat ek nog altyd half onbewustelik die idee gekoester het dat Europa vir my ’n tuiskoms sou wees. ’n Stilswyende aanname dat ek hier sou aankom en dat ek naatloos sou kon oorskakel na ’n Europese bestaan, verál ’n Nederlandse een.
Maar hoe langer ek hier is, hoe meer begin ek die gevoel kry dat hier ’n hele stel kulturele reëls, konvensies en aannames is waarvolgens almal leef, maar waartoe ek geen toegang het nie. My lewe aan die suidpunt van Afrika het my nie voorberei op hierdie wêreld nie, al is my vel spierwit en al klink my taal amper soos Nederlands. My lewenslange assosiasie met hierdie kultuur, op grond van die populêre narratief van Afrikaneroorsprong, is volledig eensydig.
Daar is reëls vir wanneer ’n mens jasse en skoene moet aanhou en uittrek. Meer as een keer vra ’n Nederlander effens spottend hoekom ek my jas aanhet. En skoene. Dis weer ’n heel ander storie. Ek kry toenemend die indruk dat om nie te weet hoe om met jasse en skoene binnenshuis om te gaan nie, op ’n manier ’n gebrek aan beskaafdheid verklap. Elke keer wanneer ek oor ’n pad stap terwyl die voetgangerlig nog rooi is, kan ek sien hoe my Nederlandse vriende onthou dat ek van “Afrika” is waar ons ’n byna primitiewe geringskatting het van belangrike reëls wat orde in die samelewing verseker.
Ons is te fisiek, ons manier van mense drukkies gee en aanraak in gesprekke, is ongemaklik vir die Nederlanders, wat hulself as individualisties en “rasioneel” beskou op ’n manier wat hulle van ’n sekere soort liggaamlikheid weerhou. Ons benadering tot tyd is ’n verdere teken van ons “suidelikheid” – hoe ons ure lank om ’n etenstafel kan sit en eet en gesels, impliseer ’n luiheid, gebrek aan ambisie en ’n skandelike soort doelloosheid, wat ons wel met die Italianers deel (nog ’n nasie wat as ’n bietjie “onbeskaafd” beskou word in Noord-Europa).
Nederlanders is besig, haastig, werk volgens ’n skedule en het geen tyd vir ginnegaap nie. As jy ’n afspraak het met ’n Nederlander om drankies te drink van halfvyf die middag tot kwart-voor-sewe in die aand, staan die Nederlander kwart-voor-sewe van die tafel af op en vertrek na sy volgende afspraak. Al die afsprake netjies aangeteken in ’n “agenda” (die dagboek, ’n objek wat sentraal tot die Nederlandse identiteit en selfverstaan is). Ons praat te hard, ons drink te veel, ons lag te maklik en ons wil onsself net ’n bietjie te veel geniet. Ons is nét nie “wit” genoeg nie.
Wanneer ek op ons klein balkonnetjie staan en kyk hoe die Nederlanders hul gang gaan in die Sarphatistraat – groepe studente wat klas toe loop, jong ouers wat behendig met bakfietse vol kinders skool toe ry, stylvolle huisvrouens wat inkopies gaan doen in die Albert Heijn af in die straat – voel ek wêrelde verwyderd van hierdie selfversekerde nasie wat op hul stil en ordelike manier so volledig die misterieuse ideaal van kontinentale sofistikasie beliggaam.
Nederland genees my spoedig van enige illusies oor my eie Europeesheid. Op grond waarvan dié eksistensiële verbintenis met hierdie vreemde plek? Hierdie heimlike, duidelik onbeantwoorde identifikasie met ’n ander kontinent?
By verdere nadenke besef ek dis niks minder as kulturele kondisionering nie. In Suid-Afrika is die wit vel van die Afrikaner, en die taal wat ons praat, dinge wat ons voorhou as “bewyse” van ’n Europese herkoms en pedigree. Ons oë is verlangend op die Weste gerig. Ons luister oor die algemeen na Westerse musiek, lees Westerse boeke, en as ons met vakansie gaan, dan reis ons graag na Europa, eerder as in Afrika. Ons doen kursusse om Frans te leer praat, eerder as isiXhosa of isiZulu. As ons politici foute maak of as nog ’n korrupsieskandaal oopgekrap word, dan spreek wit Suid-Afrikaners hul kommer uit dat Suid-Afrika nou ook die “pad van Afrika” gaan loop.
Onder ons heers daar ’n konsensus (wat dikwels onuitgesproke tussen die reëls hang, maar vele male ook eksplisiet geartikuleer word, afhangende van die geselskap) dat dit wat Europees is, beter of meer gevorderd is as dit van Afrika. Hierdie idee word herhaaldelik bevestig in die populêre kultuur, media, filosofiese denke, en literatuur. Die geskiedskrywing getuig van Westerlinge wat hul bes probeer om lig en vrede na die donker kontinent te bring, maar ongelukkig bewys Afrika sigself herhaaldelik verlore, onherstelbaar en irrasioneel.
Die aanspraak dat wit mense in Suid-Afrika meer Europees is as African, word nie net gemaak deur wit Suid-Afrikaners self nie. Dit word ook téén wit Suid-Afrikaners gebruik in die politieke diskoers. Ons hoor dit in uitsprake van politieke leiers wanneer hulle na wit Suid-Afrikaners as koloniste verwys wat nie meer geregtig is daarop om grond te besit in Suid-Afrika nie, en moet teruggaan Europa toe as hulle ’n probleem daarmee het.
Daar is natuurlik ’n paar wit Suid-Afrikaners wat geen illusies oor ’n Europese herkoms koester nie, en aan hulself dink as van Afrika. Hierteen word daar soms oortuigende politieke beswaar aangeteken. In Suid-Afrika, waar wit mense hulself tot baie onlangs amptelik as etnies “Europees” geklassifiseer het en hierdie “status” gebruik het om swart Suid-Afrikaners te onderdruk, lyk die skielike behoefte van sommige wit Suid-Afrikaners om hulself as Afrikane te bestempel, eenvoudig soos opportunistiese manteldraaiery. Noudat daar nie meer soveel voordele daaraan verbonde is om Europeër te wees in Suid-Afrika nie, wil ons skielik verwelkom word as Afrikane. En, as ’n mens in ag neem dat die meeste wit Suid-Afrikaners steeds