In my vel. Azille Coetzee

Читать онлайн.
Название In my vel
Автор произведения Azille Coetzee
Жанр Биографии и Мемуары
Серия
Издательство Биографии и Мемуары
Год выпуска 0
isbn 9780624087304



Скачать книгу

in op die tweede vloer van een van die mooi geboue in hierdie straat. Die woonstel is gemeubileerd, maar net met die basiese. In Nederland, waar middelklas die norm is en die meeste tweedehandse dinge geen waarde het nie, sit mense die meubels wat hulle nie meer wil hê nie soggens saam met die vullis uit. Vroegoggend op vullisdae gaan stap ons deur die buurt en binne ’n paar weke het ons ’n rusbank en ’n paar stoele, ’n wasgoedrak, ’n potplant of twee, ’n vollengte spieël en ’n lessenaar bymekaargemaak. C tel ’n ou deur op en maak daarvan vir ons ’n groot eetkamertafel, waar tot twaalf mense kan sit en eet.

      Ons woonstel is ’n klipgooi van een van die beste Amsterdamse klubs van daardie jaar: Trouw. Die klub is in die gebou waar die koerant Trouw voorheen gedruk is. Die koerant is oorspronklik gedurende die Tweede Wêreldoorlog begin deur ’n groep ortodokse protestante as deel van die weerstandsbeweging teen die Nazi-besetting van Nederland.

      Trouw, die klub, gaan kreatief en ironies met hierdie geskiedenis om. ’n Soort huldeblyk aan die Berlynse ondergrondse klubs, soos Berghain, en ’n goddelose viering van vleeslike plesier en oorgawe, dae en nagte lank aaneen. Honderde dansende mooi lang, jong blonde Amsterdammers. Wanneer ons vriende uit Suid-Afrika kom kuier, neem ons hulle soontoe.

      Een van die kampusse van die Universiteit van Amsterdam sit ook hier in die Sarphatistraat, en op enige dag is die straat vol studente wat in groepe of twee-twee na hul klasse loop. Om die draai is die Kriterion, ’n pragtige klein universiteitsbioskoop met ’n kroeg en ’n sitkamer met rooi fluweelgordyne en ou leerbanke waar studente en inwoners van die buurt ure lank vertoef voor en ná ’n kunsfliek.

      Soggens as dit nie reën nie, gaan draf ons langs die statige Amstelrivier wat digby die Sarphatistraat deur die stad loop tot heel noord by die IJ, wat dan aansluit by die Noordsee. Daar is ’n klein daggawinkeltjie reg oorkant ons woonstel en ’n bekende bakkery met vars brood en goeie koffie ’n paar tree verder.

      Die enigste voortdurende frustrasie van ons woonstel is die bed. Eerder as ’n dubbelbed het ons twee enkelbeddens wat teen mekaar geskuif is, en weg van mekaar skuif wanneer ons te na aan mekaar probeer slaap. Die eienaar van die woonstel is nie bereid om vir ons ’n dubbelbed aan te skaf nie omdat hulle ’n hyskraan nodig sal hê om dit in die woonstel te kry. C koop vir ons ’n bolaagmatrassie, juis ontwerp om die skynbaar algemene Nederlandse probleem van die “vervelende naat” aan te spreek.

      Maar dit help nie veel nie, en waar ons altyd styf teen mekaar geslaap het, rol ons nou die meeste nagte albei terug tot op ons eie aparte enkelbed voor ons aan die slaap raak.

      Daar is meer as ’n vervelende naat tussen ons daardie jaar in die Sarphatistraat. Ek is gevul met ’n rustelose onbehae. My Suid-Afrikaansheid kleef aan my. In hierdie verhouding sleep ek my herkoms met my saam.

      C ry fiets soos ’n Bloemfonteiner, en ek soos ’n kind. Ons Nederlands is vrot van die Afrikaans. Ons estetiek is verkeerd – teen die minimalistiese, androgene styl en kleurlose monotonie van die Nederlanders lyk ek soos ’n tannie en C lyk net grof en ’n bietjie arm.

      Ek wil uit, ek wil aan die kontoere van my vorige lewe ontsnap. Daar is ’n nuwe self wat vir my wag in hierdie stad, in hierdie Noord-Europese land.

      Ons maak vinnig ’n nuwe vriendekring bymekaar. In die variëteit en onkonvensionaliteit daarvan lyk dit baie soos ons Suid-Afrikaanse vriendekringe.

      Daar is Melle, ’n Nederlandse kunstenaar wat bedags in ’n supermark werk, en wie se emosionaliteit en ongekunsteldheid hom ’n bietjie van ’n buitestander in Nederlandse kringe maak, maar ’n onmiddellike treffer by C. Hy bou groot wiskundige papierstrukture met gevoude papiervorms. Melle meet, knip, vou en plak sorgvuldig en pynlik presies totdat iets gestalte kry volgens die onfeilbare reëls van geometrie.

      Daar is Myriam, ’n Franse argitek, en Camillo, ’n energieke Colombiaan. Ons is vriende met Italianers, ’n nasie wat net soos Suid-Afrikaners te hard praat, te veel eet en drink en nie te ver vooruit planne maak nie. Giovanni is ’n aantreklike PhD-kandidaat in wiskunde, wat honderde vroue verlei. Antonio is ’n aspirantskrywer en ’n kommunis. Een laatnag by ’n dinnerpartytjie in ons woonstel spring hy op ’n stoel en demonstreer hoe ’n Italiaanse kommunistiese betoging daar uitsien: “Compagni!” Ná sy passievolle toespraak in kragtige Italiaans kry almal ’n beurt om luidkeels die kapitalisme te verdoem onder toejuiging van die groep. Ure lank. Net soos in Napels, sê Antonio.

      Maar hierdie is nie my herinnering nie, dis C s’n. Soos baie ander aande is ek elders, uit in die stad, op soek na god weet wat.

      Behalwe al hierdie interessante en kleurryke Europeërs, het ons natuurlik ook ’n paar Suid-Afrikaanse vriende in Amsterdam.

      Daar is baie soorte Suid-Afrikaners in Nederland, maar ek ken veral drie tipes. Daar is die ouditeurs. In grosse word hulle oorgeplaas van Deloitte of PWC in Kaapstad of Johannesburg na Amsterdam, waar hulle dan ongestoord hul Suid-Afrikaanse lewe voortsit. Naweke braai hulle saam, stream die rugby en drink brandewyn wat hulle van Suid-Afrika af bring. Hulle verdien baie geld en die naweke wanneer hulle nie braai nie, toer hulle. Hulle leer nie Nederlands nie, want hulle werk in Engels en praat Afrikaans onder mekaar. Hulle verlang na Suid-Afrika, maar verkies Amsterdam waar hulle vry kan wees van die las van die misdaad, armoede en identiteitspolitiek van Suid-Afrika. Wanneer hulle uitgaan, gaan hulle Coco’s Outback toe agter die Rembrandtplein, ’n Australiese bar wat al die rugbywedstryde uitsaai en wat op Saterdae in ’n ekstragroot Tollies of Nubar ontaard. Ek ken een of twee sulke groepe Suid-Afrikaanse ouditeurs, saam met wie ek soms brandewyn, of tequila shots by Coco’s gaan drink.

      C, wat geen aptyt het vir nostalgie of ’n Afrikaanse laertrekkery nie, vermy hulle meestal.

      Daar is ook Suid-Afrikaners in Nederland wat die teenoorgestelde doen as die ouditeurs, Suid-Afrikaners wat hulself volledig inleef in die Nederlandse taal en kultuur en deel word van die samelewing. Hierdie Suid-Afrikaners praat perfekte Nederlands en kyk nie terug nie. Hul (Suid-)Afrikaansheid is ’n bygedagte – iets wat hulle nie belemmer of te veel besig hou nie, iets waaroor hulle nie wroeg en treur nie. Ek dink met tyd sou C een van hierdie soort Suid-Afrikaners in Nederland kon geword het, as hy ’n groter verbintenis met die Nederlandse kultuur en samelewing gevoel het en die landskap meer tot hom gespreek het.

      En dan is daar die hunkerende Suid-Afrikaners wat hulself ordentlik in Nederland gevestig het, deur hul loopbaan of ’n huwelik, of blote wilskrag, maar wat nie die gevoel van tydelikheid kan afskud nie. Wat aanhou voel dat hulle besig is om ’n ideale lewe op te voer, terwyl hul regte lewens êrens anders vir hulle wag. Op ’n ander kontinent, in ’n ander land, ’n plek met meer sonskyn, of terug in Suid-Afrika miskien.

      Hierdie Suid-Afrikaners het ’n eensaamheid wat rondom hulle hang, ’n vae aura van melankoliese onbestendigheid. My en C se Suid-Afrikaanse vriende in Amsterdam is meestal van hierdie soort, interessant en aantreklik as gevolg van die emosionele onbeskikbaarheid en kreatiwiteit wat vloei uit so ’n chroniese verlange na niks spesifieks nie.

      Elke keer nes ek dink dat ek nou min of meer ’n basiese houvas het op hoe dinge in Nederland werk, dan vang iets my onkant. By die eerste middageteseminaar by my fakulteit moet ek twee keer kyk toe die middagete uitgepak word.

      Saam met hul brood en kaas sit die klomp belangrike professors en melk drink. ’n Mens kan kies tussen dikmelk, volroom of laevet. Die departementshoof neem ’n boksie volroom, skeur dit oop en vat ’n lang sluk. Dis so ’n private gebaar, asof ek hom aantref in sy onderbroek.

      Selfs die Nederlandse honde is anders. Op my en C se oggenddraffies langs die rivier kom ons altyd baie honde teë wat saam met hul eienaars wandel. Ek maak net twee keer die fout om ’n hond se kop te probeer vryf. Eienaar en hond lyk ewe ongemaklik wanneer ek nader loop met ’n uitgesteekte hand. Albei kyk benoud weg en draai so half van die paadjie af.

      Ek kry die boodskap. Ná ses maande in Nederland kom ek en C agter dat ons nog nie een keer ’n hond hoor blaf het nie.

      “Dink