Helena Hugo Tweede Keur. Helena Hugo

Читать онлайн.
Название Helena Hugo Tweede Keur
Автор произведения Helena Hugo
Жанр Эротическая литература
Серия
Издательство Эротическая литература
Год выпуска 0
isbn 9780624088004



Скачать книгу

      “Ons sal, maar jy moet nou eers rus.”

      Besoektyd is verby. Magriet glimlag floutjies vir haar ma en pa, vir Johan en Carol. Walter lyk afgehaal. Sy glimlag vir hom ook. Weg is hulle.

      Die nagsuster bring tee en beskuit en pille, tandeborsels en waslappe. Magriet is so moeg, dit voel of sy dwarsdeur die matras kan sak. Voor sy aan die slaap raak, verbeel sy haar hy buk oor haar, haar engel.

      Sal sy hom weer sien?

      3

      Dis nog nag toe die ligte aangeskakel word en die pasiënte wakker geskud word. Verpleegsters dra komme waswater aan.

      Magriet se arms voel vanoggend lammer as haar bene. Sy doen alles vreeslik stadig. Daar is gesigroom in haar grimeertassie en sy smeer meer as gewoonlik aan, want haar vel is omtrent uitgedroog. Haar ma het onthou om die regte hareborsel in te pak. Sy borsel rus-rus totdat al die koeke uit is. Môre moet dit beslis gewas word, en hoe gaan sy by die wasbak uitkom?

      “Mag ek opstaan?” vra sy vir die verpleegster wat haar bloeddruk kom meet.

      “Dokter moet eers sê, en fisio sal kom help.”

      “Dit ook nog!”

      Die verpleegster lag. “Jy sal dit geniet.”

      Magriet lig die laken en loer na haar bene. Albei is toegedraai in verbande, dikwit. Sy sug en laat sak die laken weer. Dekselse trampolien!

      ’n Helper in ’n kraakskoon oorjassie bring tee en ’n beskuitjie. Die beskuitjie smaak nie sleg nie, maar een is gans te min. Magriet het immers vroeg gistermiddag laas geëet en sy is ’n meisie met ’n gesonde aptyt. Hopelik kom ontbyt teen seweuur. Sy kry ’n hele bekertjie vol pille om af te sluk en die verpleegster trek die gordyne om haar bed oop.

      Daar is nog vyf beddens in die saal. Die pasiënte groet mekaar stywerig. Die vrou oorkant Magriet se hande is albei verbind, maar sy sukkel nie met die selfoon teen haar oor nie. Die ouer vrou langs haar lê bleek en vaal na die plafon en staar. In die hoek is ’n leë bed. Links van Magriet sit ’n oumatjie met haar bene oor die kant van die bed. Sy wieg vorentoe en agtertoe, ’n gepynigde uitdrukking op haar gesig. Die regterkantse bed is omgekrap en leeg. Iemand kan self loop, gelukkige vrou!

      Magriet het nie lus vir geselskap nie. Sy slaap weer totdat ontbyt arriveer. Dokters kom en gaan. Haar ortopeed verduidelik wat sy gebreek het en wat hy gedoen het.

      “Drie dae op die minste by ons en fisio,” sê hy. “Ons skuif jou vandag ortopedies toe.”

      “Hulle gaan jou moor daar,” sê die vrou met die verbande om haar hande. “Ek moes maande se fisio kry toe ek laas van my perd afgeval het.”

      Die keer het sy glo haar broer se hond gekeer toe hy haar geliefde perd wou byt. Sy kan nie wag om hom terug te kry nie.

      “Broers is nie maklik nie,” sê die oumatjie, wat blykbaar beter voel nadat sy geëet het.

      “Myne is nie te erg nie,” sê Magriet.

      “Is dit hulle wat jou bene gebreek het?”

      “Ek het my eie bene gebreek op my broer se stokou trampolien. Dit het geskeur, toe val ek deur.”

      “Jou broer moes beter gekyk het, gewaarsku het as die ding vrot is.”

      “Eintlik het hy.” Carol het die arme Johan reeds goed genoeg beskuldig, laat Magriet hom maar liewer verdedig, ook al is hy nie hier nie.

      Die kombuispersoneel onderbreek hul gesprek en kom neem die skinkborde met ontbytoorblyfsels weg. ’n Verpleegster wat op hul hakke volg, kondig aan dat Magriet verskuif moet word.

      Magriet wuif vir haar kortstondige kamermaats. Die verpleegster stoot die bed uit, by die verpleegsterstoonbank verby, en parkeer haar in ’n privaatkamer. Salig! Nou kan sy rus, sy is so moeg. Maar sy het skaars haar oë toegemaak of daar is stemme by die deur. Een man en twee vroue is besig om haar te bespreek.

      “Mejuffrou Margarita Vlok. Een splinterfraktuur, een draaifraktuur.”

      “Dokter het gesê ons kan vandag begin.”

      Met wat, wonder Magriet en waag dit nie om deur se kant toe te kyk nie. Die groepie is duidelik aan die nader beweeg. Sal hulle haar uitlos as sy maak asof sy slaap?

      O nee, dit help nie. ’n Sagte hand val op haar skouer.

      “Juffrou Vlok, ek is suster Diedericks.” Die suster probeer moederlik klink. “Jou fisioterapeut is hier.”

      Ag nee, alreeds reg vir die marteling, en al wat Magriet vandag wil doen, is slaap, slaap, slaap.

      “Suster, lyk vir my die pasiënt slaap nog.” Die man klink haastig.

      Is dit … kry sy die geur van daardie heerlike cologne wat Carol laas vir Johan vir sy verjaardag gegee het? Wat was dit nou weer, iets soos Desire?

      “Juffrou Vlok?” Hoe simpatiek klink hy skielik!

      Maar sy laat haar nie bluf nie. Sy het ondervinding van die Kees van Klapwyk-terapie wat sy ’n slag moes verduur toe sy op skool na hom is met ’n sportbesering. Fisioterapeute is mense wat jou net wil seer maak. Sy hou haar oë bot toe.

      “Gee kans. Ek help eers langsaan, dan sien ek haar oor twintig minute.”

      Papiere ritsel en hulle gaan weer uit. Het sy haar verbeel, of was dit regtig daardie spesifieke sexy mansparfuum? Sy maak haar oë oop en sien ’n flitsbeweging by die deur, kompleet soos ’n gespierde arm, of was dit dalk ’n vlerk? In die kamer langsaan lag almal hartlik, iemand giggel, die manstem paai. Die saalsuster en ’n verpleegster loop by haar deur verby sonder om in te loer.

      Magriet het die nare gevoel dat sy iets goeds gemis het. Maar sy sal haar nie onverhoeds laat betrap nie. Sy spuit asemverfrisser in haar mond, kam haar hare, pluk haar slaapklere reg en wag in spanning terwyl sy die duiwe op die vensterbank dophou.

      Hulle pronk en koer en loop vol selfvertroue op die dun lysie rond. Sy hou nie van hulle nie. Hulle is vet en uitgevreet en lyk meer soos valke as duiwe. Magriet wag en wag.

      Haar ma-hulle het vir haar ’n Sarie in haar oornagsak gepak. Sy tel dit op en haar blik gly oor opskrifte, glanspersoonlikhede, kunsfoto’s van handwerk en resepte. Toevallig sien sy die datum onderaan die blad raak. Wag … dis vandag die hoeveelste Januarie?

      Sy klap die tydskrif toe. Haar ma het gister verjaar. Dit was mos gister? Ja, sy het nog net een nag in die hospitaal geslaap. En haar ma verjaar die vierde Januarie. Die skool begin die elfde en die onderwysers moet hulle reeds op die negende aanmeld. Dít kan sy dalk nog mis, maar die eerste skooldag is te belangrik vir die graadeentjies.

      Sy sal moet gaan – al is dit op krukke. Magriet roer haar tone as proeflopie. Sy het nie tans pyn nie en sy besluit om die fisioterapeut haar volle samewerking te gee, kalm te wees en haar oefeninge getrou te doen.

      Met dié maak sy die Sarie weer oop en wil Nataniël se rubriek begin lees toe iemand saggies aan die deur klop.

      “Kan ek inkom?”

      Sy kyk op.

      Dis hy! Die engel. Hy’s hier!

      Vra hulle dan of hulle mag inkom? Wat sê jy vir ’n engel soos dié? Ek voel beter vanoggend, jy kan huis toe gaan, maar as jy wil, kan ons eers ’n rukkie gesels?

      Hy laat nie op hom wag nie en stap flink na binne – ’n engel in slenterdrag, die sonstrepe in sy hare ’n ligkrans. Langs haar bed steek hy sy hand uit.

      “Pierre de Meyer, jou fisioterapeut. Juffrou Vlok?”

      Waar maak hulle sulke mans? Sy het sewe broers en haar vriendinne sê hulle is aantreklik. Magriet dink self hulle is nie te lelik nie, veral noudat hulle groot is en haar nie meer so aanhoudend pes nie. Walter is ook nie sleg nie, al is hy kort en so harig soos Esau.

      Maar hier staan hý, haar ideale man. Hy lyk sowaar soos ’n engel, ’n