Название | Selma en Louise |
---|---|
Автор произведения | Susan Coetzer |
Жанр | Контркультура |
Серия | |
Издательство | Контркультура |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780798176576 |
Selma klik op ’n nuwe foto in die galery. Die see is glad soos ’n Olimpiese ysskaatsbaan. Sy duik in die lou turkoois water naby Millionaire’s Island net duskant Stone Town.
Duik het een van haar maniere geword om te cope. Sy’t geleer om ritmies te sweef saam met haar asemhaling wat gekoppel is aan die suurstoftenk, haar gedagtes gefokus op die fantasiewêreld van die betowerende blomtuine en vislewe van die oseaan. Vir daardie ruk onder water is sy vry – totaal verlos van haar verlede. Sodra sy weer terug op land is, is die pyn in haar bors terug. Soos nou. ’n Pyn van diep verlange na die skat wat sy nie eens op die bodem van die oseaan kon terugvind nie.
“Ek cope,” sê Selma en verskuif haar aandag na ’n foto van ’n pylstert.
“Ek worry oor jou.”
“Ek is okay.”
“Laat weet my wanneer jy weer Kaap toe kom, okay?”
“Okay . . .”
Sy sit nog ’n rukkie na die foto’s en staar en maak dan weer haar kinderfoto’s oop. Daar is soveel mooi momente om te onthou. By Louise het sy baie jare gelede geleer om na ’n fantasiewêreld te ontvlug wanneer die realiteit te donker word.
Daar waar jy droom jy is, daar is jy.
MAART 1976: MOORREESBURG
“Selma!” skree Louise en waai met haar hand deur die vyeboom se blare. Dis byna vyfuur en die son raak reeds aan die koppies.
“My ma gaan my velle aftrek,” sê Selma met ’n bewende lip. Haar voete is vol blase van die tien kilometer se stap plaas toe.
Louise druk ’n koue Mirinda Orange in haar hand. “Sorry, Pieter het weer al die Cream Soda uitgesuip.” Sy help Selma om haar kostuum aan te trek en haar vlerke reguit te stryk.
“Onthou, daar waar jy droom jy is, daar is jy. As jy heeltyd droom jou ma trek jou velle af, gaan ons niks fun hê nie. Kom, ek wil jou ’n nuwe geheime plek gaan wys!”
Louise hardloop voor haar uit na die groot, hoë silo waarin die graan geberg word. Sy klim kaalvoet teen die dun sporte van die staalleertjie op. Selma kyk hoe sy kleiner en kleiner word. “Kom!” roep Louise van bo af. Haar stem klink ver, asof sy van ’n ster af roep.
“Ek is bang vir hoogtes!” skree Selma met ’n flou stemmetjie.
“Kom! Moet net nie afkyk nie – kyk net na een sportjie op ’n slag. Dis die trick!”
Selma klim stadig, treetjie vir treetjie, teen die leertjie op. Haar hande sweet teen die koue staal. Ver onder haar hoor sy die skaaphonde blaf en tjank. Sy wil oor haar skouer loer, maar hou haar oë vasgenael op die sportjie voor haar. Uiteindelik is sy bo. Sy sak in die lafenis van die droë graan neer.
“Kom ons swem resies!” skree Louise. Sy beweeg haar arms en seil vorentoe deur die koring. Die graan girts onder haar feetjierok. Selma gaan lê op haar maag en probeer ook swem. Die korrels voel koel teen haar vel.
“Kyk wat het ek vir ons.” Louise bring ’n bruin kardoessak te voorskyn. Sy gee vir Selma ’n plastieksakkie met pienk spookasem en haal vir haarself ’n blou een uit. Louise skeur die sakkie met haar voortande oop en sit ’n stukkie spookasem op haar tong.
“Kyk, nog voor ek dit kou, is dit weg. My ouma wat dood is, wie se plaas dié eers was, het gesê die lewe is soos spookasem. Nog voor jy behoorlik proe, is dit op.” Sy steek haar blou tong vir Selma uit. “Wys my jou tong.”
Selma steek haar pienk tong uit.
“Dis al wat die lewe is, het my ouma gesê. Ons is almal maar net spookasem op die Here se tong. As jy weer kyk, is jy op.”
“So vinnig?” vra Selma. Die gedagte dat sy spookasem op iemand se tong is, laat haar triestig voel.
“Ja, so vinnig. Dis hoekom ons al die lekker dinge moet doen. Voor die tyd op is. Kom ons gaan voer die varke van die spookasem.” Sy kreukel haar neus. “Ek wonder wat hulle gaan doen as die suiker so vinnig in hulle bekke verdwyn.” Sy gryp die kardoessakkie en klouter vinnig teen die staalleertjie af. “Kom, Selma!” skree sy.
Selma loer oor die rand van die silo. Die honde is klein miniatuur-speelgoedhondjies onder op die grond. Sy voel haar mond droog word en ’n naarheid stoot op in haar keel. Haar knieë voel soos jellie wat nog nie lank genoeg in die yskas gestol het nie.
Die son sak al vinniger. In die namiddaglig lyk die pad ondertoe vreesaanjaend ver, baie verder as van die hoogste piek van Tafelberg af.
“Selma, jy moet afklim, voor dit donker raak!” skree Louise.
Sy kyk weer oor die silo se rand. “Nee!” Haar kop draai. “Ek kom nooit weer af nie, Louise. Ek gaan hier bly tot ek net ’n spookasemvlekkie op die Here se tong is!”
“Johanna!” skree Louise. Sy hardloop saam met die honde na die plaashuis toe. “Johannaa! Johannaaaa! Iemand, kom help my om Selma van die silo af te kry, voor die son sak!” Louise se stem is ’n skril netbalfluitjie.
Selma gaan lê op haar rug en begrawe haar lyf in die koel graan. In die verte hoor sy ’n motor se enjin op die plaaspad dreun. Dit klink soos haar ma se blou Opel Kadett. ’n Traan rol oor haar wang en maak ’n nat kolletjie op die kantkragie van die feetjierok. Eendag, oor baie jare, sal haar ouers haar hier kry. Hulle sal haar afdra en in haar pienk feetjierok begrawe, met ’n pienk spookasemtong.
“Kom, Selma!” gil Louise, uitasem van die hardloop. “My pa is hier om jou te help.”
Selma kom orent en loer met skrefiesoë oor die rand van die afgrond. ’n Miniatuur-Tiny Vermaak wuif vir haar. “Kom af, ounooi,” nooi hy met sy basstem.
“Nee!” skree Selma. “Ek gaan hier bly tot ek ’n geraamte is.” Sy gaan grawe haarself weer onder die graan in.
“Jou ma en ouma het aangekom!” skree Louise. “Kom af, Selma!”
Twee kardeure slaan hard toe. “Wat maak my dogter op julle plaas?” hoor sy haar ma se vibratostem. “En wat soek sy daar bo in die hoë silo?!”
“Selmaa!” sing haar ma vir die silo. “Kom af, my kind. Ons was bitter, bitter bekommerd oor jou.”
“Selmaaaa!” sing haar ouma ’n oktaaf hoër. “Klim af, meidjie, dan vat ons jou huis toe.” Haar ouma se vals tande klink of hulle uit haar mond wil val.
“Nee! Ek bly net hier tot ek doodgaan.” Sy loer oor die rand na die groepie wat onder vergader het. Johanna en van die ander werkers staan op ’n afstand en toekyk.
Selma kyk na die groepie mensies ver onder haar. Dit lyk of hulle met mekaar praat, maar sy kan nie hoor wat hulle sê nie. Dan sien sy hoe Louise vir haar waai. Sy waai terug.
“Kan ek jou kom afdra, ounooi?” roep Tiny. “Voor dit te donker word.”
“Ek dink ek sal eerder self probeer afklim, as oom net tot bo kan kom en agter my sal staan.”
“Natuurlik, ounooi.” Hy klim vinnig teen die leertjie op.
“Een tree op ’n slag, Selmatjie. Net een tree op ’n slag,” sê hy toe hy by haar kom. “Moenie afkyk nie. Jy sal nie val nie. Ek is reg agter jou om jou te keer as jou voet gly.”
“Dankie, oom,” sê Selma. Sy begin die lang aftog met Tiny Vermaak as beskermengel agter haar rug.
“Baie, baie dankie, Tiny,” sê haar ma toe sy weer veilig terug is op moederaarde. “Jy was ’n regte held.”
“Net ’n plesier, Lucille.”
“Dankie, Tiny,” sê haar ouma en druk sy hand.
“Plesier, mevrou.”
“Noem my asseblief tannie Ralie.”
“Dit was ’n voorreg, tannie Ralie.” Hy flits weer die perdegebit. “As