Elsa Winckler Eerste Keur. Elsa Winckler

Читать онлайн.
Название Elsa Winckler Eerste Keur
Автор произведения Elsa Winckler
Жанр Эротическая литература
Серия
Издательство Эротическая литература
Год выпуска 0
isbn 9780624084853



Скачать книгу

Toe sy hom sien, breek ’n skitterwit glimlag oor haar gesig en die laaste bietjie suurstof word uit sy liggaam gepers.

      Sy is beeldskoon. Hy swem stadig nader, met net een gedagte. Hy gaan haar in sy arms hê, haar teen –

      “Cilla!” roep Imke en wuif.

      Cilla kyk nog een keer na hom en swem dan weg na Imke toe.

      Reynecke draai omgekrap om en duik onder die volgende brander in. Wat de hel gaan met hom aan? Hy kan letterlik nie sy hande van die vrou afhou nie. Toe sy kop weer bokant die branders uitkom, kyk hy dadelik weer waar sy is. Hy hoor haar lag en sien hoe sy en Imke saam uithardloop teen die strandhelling uit.

      Sy oë volg haar al die pad teen die trappies op tot waar sy op die gras buk en haar handdoek optel. Hierdie vroumens gaan maak dat hy kop verloor. Heeltemal kop verloor. Hy moet so ver as moontlik van haar af wegbly. Sy is te sexy, te aanloklik … té. Saaityd is gelukkig om die draai; hy gaan so besig en moeg wees dat hy nie tyd sal hê om oor langbeenmeisiekinders met groen oë te droom nie.

      “En as jy so uitasem is van die paar trappies?” lag Imke terwyl hulle afdroog.

      Cilla maak of sy nie hoor nie en droog haar hare sorgvuldig af. Van die ander kom nou ook aangestap en gelukkig hoef sy nie te antwoord nie. Hoe vertel sy vir Imke dat haar uitasemgeid niks met die trappe te doen het nie, maar dat sy vir ’n hele tydjie in die water totaal en al suurstofloos was?

      Sy kyk af en sien Reynecke uit die see gestap kom. Sy breë skouers glim in die son en die spiere oor sy borskas bult toe hy sy arm opsteek om ’n bal weg te slaan. Sjoe. Hy kyk op na haar en sy kyk vinnig weg. Sy is glad nie seker wat in die water gebeur het nie; sy weet net dat sy vir een onbesonne oomblik gewens het hulle kon net daar bly, diep onder die water.

      Dit was vir haar so bekend, so natuurlik toe sy hande om haar middel sluit. Sy het nie dadelik gedink om weg te beweeg nie. Dis so asof dit so moet wees, asof sy sy aanraking ken, dit van nature verwelkom. Haar hartklop het gejaag, haar mond was kurkdroog. En ook dít was bekend, so asof sy dit al voorheen ervaar het.

      Sy verstaan nie wat met haar aangaan nie. Ja, die ou is aantreklik, sexy. Maar sy ken ander oulike, sexy ouens. Hoekom sou sy nou so reageer? Hoekom sukkel sy so om aan enigiets anders te dink? Haar kop is gewoonlik by haar skoolwerk, by diere, maar vandat dié man in haar lewe gekom het, verdring hy eenvoudig elke ander gedagte.

      Sy vryf driftig met die handdoek oor haar bene, haar arms. Sy moet die man uit haar kop kry! Sy is in elk geval te besig, daar is nie nog tyd vir komplikasies in haar lewe nie. En die man ís ’n komplikasie, daarvan is sy baie seker.

      Sy kyk weer af na die klein strandjie, maar hy is nie meer daar nie.

      4

      Cilla trek haar skootrekenaar nader. Sy het nog so baie nasienwerk, maar sy wil eers haar e-pos lees. Sy kry nog gereeld e-pos van vriende wat sy in Amerika gemaak het, en van die ander dierekommunikeerders wat sy daar leer ken het, is nou Facebook-vriende.

      Die voordeur vlieg oop en Imke kom ingewarrel.

      “Raai wat? Toe, raai, raai!” Sy draai al in die rondte en kom eers teenaan die tafel waar Cilla sit tot stilstand.

      “Jy het nie merkwerk nie?” vra Cilla afsydig terwyl haar oë oor haar inboks rol.

      “Wel, behalwe dit. Dis mos net julle arme taalonderwysers wat so ure sit en nasien. Cilla, jy luister nie!”

      Cilla se oë het verstar op e-pos wat van Facebook gekom het. Dis ’n friend request en die “vriend” is … Reynecke. Daar is ’n gesuis in haar ore en sy kyk eers op toe Imke haar arm gryp.

      “Cilla, waar’s jy tog? Ek probeer jou iets vertel!”

      Cilla kom stadig terug aarde toe en druk vinnig die skootrekenaar se deksel toe. Sy kyk op na Imke en probeer glimlag.

      “Ek luister, wat het gebeur waaroor jy so opgewonde is?”

      “Hy’t gebel,” sing Imke.

      “Wie’t gebel?” Cilla frons. Sy het nie geweet daar is ’n nuwe man in Imke se lewe nie. “Wanneer het dit gebeur? Wie werk jou so op, hoekom weet ek van niks?”

      “Wel, as jy nie ’n maand gelede so besig was om skaapogies vir sy broer te maak nie, sou jy gesien het dat ek … dat daar iets tussen my en Philip gebeur het.”

      Cilla rek haar oë verbaas. “Wat?”

      “Ja! Terwyl jy so onder die branders verdwyn het, het hy vreeslik met my geflirt. Wel, om eerlik te wees, ons het van die eerste keer wat ons mekaar gesien het al geflirt. Die laaste paar weke het ek gereeld ’n WhatsApp gekry, of ’n Facebook-boodskap. En toe bel hy vanoggend … hy kom haal my vanaand om by hom te kom eet!”

      Cilla hap in die lug. Sy het dit glad nie … of wag. Sy staan op terwyl sy probeer terugdink aan die Sondag toe sy en Imke op die plaas was. “Hy het dadelik jou hande vasgegryp. Toe jy uit die motor klim, die eerste keer wat hy jou sien, toe gryp hy jou hande.”

      Imke knik met ’n breë glimlag.

      “En jy wat gewoonlik koes vir enige man, jy was baie, baie vriendelik. Ek onthou nou.”

      Imke lag. “Ek weet, is dit nie wonderlik nie? En die Sondag by Voëlklip, toe jy so onder die water doenig was, het hy my gesoen. Sommer so oop en bloot voor almal. Almal behalwe jy en Reynecke het gesien. Wat hét julle heeltyd so onder die water in gefoeter?”

      Cilla waai met haar hande in die lug. “Ag toe nou. Jy terg my nou al weke lank oor wat ek kwansuis onder die branders gedoen het. Ek het nog niks weer van die man gehoor nie. ’n Duidelike bewys dat niks gebeur het nie. Dit was net die branders.”

      Dan gluur sy kamma kwaai na Imke. “Ek kan nie glo jy flirt nou al ’n maand lank en sê my niks nie. Ek dog ek is jou beste vriendin.”

      Imke slaan haar arms styf om haar lyf, haar glimlag nog breër. “Ek het nie gedink daar is iets om te sê nie, ek het gedink dis sommer maar net. Ek het vanoggend ’n boodskap van hom gekry soos wat ek nog elke dag gekry het, en toe die skool uitkom, toe lui my foon. En toe’s dit hy.”

      Cilla sit haar hand op Imke se arm. “Jy’s nie te haastig nie? Jy ken die man nie regtig nie.”

      Imke lag. “Ons gaan mos nie trou nie, ons gaan uiteet. En al wat ek weet, is dat hy my knieë lam maak, my kortasem maak, my … gelukkig maak. Wat meer wil jy hê?”

      Cilla glimlag vir die eerste keer. “Dan’s ek baie bly vir jou. Hy kom jou haal en bring jou terug? Al die pad van Hermanus af, op ’n Maandagaand?”

      Imke knik bly. “Dis al aand wat sy restaurant toe is.”

      “Die man het duidelik die skoot hoog deur. Wat gaan jy dra?”

      “Ek weet nie, kom help kyk! Ek het gedink die stywe jeans van my en dalk daai ligblou …”

      Cilla loop agter Imke aan. Sy kan eintlik nie wag om op Facebook te kom nie. Maar nou moet sy eers vir Imke help, dis wat vriendinne doen.

      “’n Man wat kan kos maak, klink vir my hemels,” sug sy.

      “Ek weet! Veral as ’n mens, soos ek, niks kan kook nie.” Imke maak haar kas oop en kyk dan skerp na Cilla. “Wanneer gaan jý ’n slag ja sê en uitgaan met een van die hordes ouens wat jou so knaend uitvra? Jy sit aand ná aand by die huis.”

      Cilla ignoreer haar, haal ’n sexy toppie uit die kas. “Hierdie een. Die arme ou gaan nie weet wat hom getref het nie.” Sy gee die toppie aan, sug. “Man, Imke, ek is besig. En ek is nié aand ná aand by die huis nie.”

      “Plaas toe gaan na jou ouers toe is nie uitgaan nie, Cilla.”

      Cilla lag liewer net. “Op die oomblik is dit vir my genoeg. Kom, los nou vir my, ons moet jou mooimaak.”

      Die oomblik toe die deur agter Imke en Philip toegaan, storm Cilla op haar skootrekenaar af. Sy ignoreer al die ander e-pos en haar oë land dadelik