Bet-El. Helena Hugo

Читать онлайн.
Название Bet-El
Автор произведения Helena Hugo
Жанр Религия: прочее
Серия
Издательство Религия: прочее
Год выпуска 0
isbn 9780796320537



Скачать книгу

wat hom opgelê is, ’n taak waarvoor hy glad geen krag of moed het nie. Sy het hom verseker dat sy hom sal bystaan, maar hulle kon nog nie weer daaroor praat nie. Met dié dat hy ’n uur ná middagete eers opgedaag het om haar en die kinders terug te neem kamp toe, was daar skaars tyd om gereed te maak vir die nagmaal, wat nog te sê, hom uitvra. Eers in die kerk het sy agtergekom hoe gespanne hy is, rusteloos aan die rondskuif langs haar, sy hande natgesweet, sy asemhaling vlak.

      Ná kerk was hy ook nie juis geesdriftig oor die vooruitsig nie, al het oom Barend hom verseker dat hulle twee saam ’n gedugte span sal uitmaak.

      Tant Adriana het uitgesien na die versterking van hul vriendskapsbande. “Dan het Jakkie tog maatjies as Adrie weer kom kuier.”

      Tant Hester het in haar koffie gestik. “Gee kans. Dié enetjie is nog nie gebore nie.”

      “Het jy al ’n datum?” het tant Adriana toe eers gevra.

      “Oktobermaand, Tante,” het Anna Catharina haar belowe. Tante mag maar die maande tel, wou sy byvoeg, maar dit liewer gelos.

      Tant Adriana het haar aangekyk asof sy nie mooi gehoor het nie. “Jy sê Oktober?”

      “Ja, Tante. Oktober.”

      “O, maar dan is hy al amper drie maande teen Desember en hulle kom nou eers weer Kersfees, Adrie het laat weet. Dis jammer sy was Januarie toe sy sonder Jacques hier gekuier het, so siek sy kon nie julle troue bywoon nie, heeltyd aan die huil gewees. Ek was te bekommerd om haar alleen te los, toe wil Barend ook nie sonder my nie. Ek dink sy verwag weer, miskien ’n maand of twee voor jou. Haai, julle kan saam doop.”

      “Wensdinkery, vrou,” het oom Barend gekeer.

      “’n Moeder weet sulke dinge. Die brief moet nog kom, maar ek weet.”

      “Nie dat die Bolanders hier sal wil doop nie,” het oom Barend gebrom. “Vergelyk alewig Newton-kerk met die Groote Kerk, asof ’n toring jou nader aan die hemel bring.”

      “Miskien besluit hulle hierdie keer anders,” het oom Neels getroos. “Die Groote Kerk? Staan dit in Stellenbosch of in die Kaap?”

      Hy wou dalk die onderwerp verander, maar tant Hester het hom doodgepraat. “Adriana, jy is nog nie seker of sy in die ander tyd is nie en jy beplan al die doop.”

      “Ek wens net, Hester. Wens jy nie ook partykeer nie?”

      “Die beste vir my kinders, ja. Miskien is jy reg. Ons moet vooruitkyk.”

      Ma Susanna het in die donker gesit. Sy het nie deelgeneem aan die gesprek nie.

      Anna Catharina het langs haar gaan sit en haar hand gevat. Tant Hester wat geweet het van hul teetafelrusie het, tot haar eer, nie ’n woord gerep nie. Oom Neels het sy vraag oor die Groote Kerk herhaal en oom Barend het iets gesê van die Kaap en die Moederkerk. Sy het haar kans waargeneem om eenkant met haar ma te praat.

      “Ek gaan oormôreoggend vroeg breipatrone haal by tant Georgina,” het sy gesê. “Wil Mamma saamkom?”

      “Nee wat, ek glo nie.” Dit het gelyk asof sy glad nie belangstel nie, maar sy het haar bedink. “Tensy jy agterna wil winkels toe gaan?

      “Dit sal gaaf wees. Ek het raad nodig.”

      “Nie dat ek jou beter raad as Georgina kan gee nie.”

      “Daniël moet bank toe. Sal Mamma my elfuur kom oplaai?”

      Haar ma het geknik. “Elfuur is goed, maar Saterdag. Môre is Goeie Vrydag. Julle moenie vergeet van ons middagete nie. Kok maak kerrievis.”

      Só is die vrede tussen hulle herstel en kon hulle uitsien na die res van die Paasnaweek. Pa Jan Adriaan het belowe om vir Klein-Willem-hulle ten minste twee krieketkolwe te maak, nie op Goeie Vrydag nie. Hulle het afgespreek dat Daniël die seuns Saterdagoggend by hom in Belgravia aflaai. Die spannetjie is goed gemaan om gehoorsaam te wees. Nie dat dit nodig was nie. Pa Jan Adriaan was heeltemal geneë.

      “Hulle gaan my help en agterna speel ons ons eie wedstryd en toets sommer die kolwe.”

      Klein-Willem, Neelsie, Hercules, George en Ntumka het op en af gespring en gebrul van vreugde.

      Toe het ma Susanna lewe gekry. “Agter die huis, nié voor in my tuin nie en nié naby ’n venster nie.”

      Tipies haar ma. Ook maar goed sy woon op Elim en haar skoonma hou haar eenkant op Mispa. Het sy in Kimberley gewoon, sou haar ma haar nie in vrede laat nie. Sy sou elke dag kom kuier het: meubels rondskuif, gordyne verander, in die kospotte loer, haar na elke teepartytjie op die kalender saamsleep en van elke molshoop ’n berg maak.

      Saterdag se inkopies lê voor, maar dit sal seker nie so moeilik wees om saam te stem oor babagoed nie. Pienk en blou wol vir baadjies, die fynste flennie vir nagrokkies, jaartse fynkatoen om lakens en kussingslopies van te maak, borduurgaring, kant vir versiering. Laaste maar nie die minste nie, sagte handdoekstof om doeke van te sny. Teen Kersfees doop hulle, sy en Adrie maak vriende, Daniël spog met sy seun en kyk by Adrie verby na haar, die moeder van sy kinders. ’n Groot gesin wat soos jong olyfboomplante om hul tafel groei en bloei. Sy trots, haar liefde.

      Hoe het tant Hester gesê, tant Hester en tant Adriana: Ek wens net, Hester. Wens jy nie ook partykeer nie?

      En as iemand nie nou haar waswater bring nie, gaan haal sy dit self.

      Toe sy regop kom, voel sy duiselig. Sy staan tot die gevoel bedaar, hang toe haar tjalie om, druk die tentflap oop en skreef haar oë in die rigting van die vuur waar daar nog beweging is. Flou lig skyn van binne af teen die watent waar die meisies slaap. Katryn neurie ’n oeroue liedjie met woorde wat net sy en haar mense verstaan, en miskien Cara. In die seunstent woel dit. Sy kan Daniël se skaduwee uitmaak, gebukkend, amper grotesk afgeteken, besig om komberse reg te druk.

      “Julle slaap nou of julle gaan nie Saterdag Belgravia toe nie.”

      Sy spits haar ore. “Lutz, blaas dood jou kers.”

      “Hy willie.”

      “Los my uit!”

      “Nog een geluid uit een van julle kêrels en hy proe my plathand.”

      Iemand wat sy nie kan plaas nie, praat terug.

      “Ek wil niks meer hoor nie.” Hy tel sy lantern op, dit swaai in sy hand. “Slaap nou. Geen speletjies nie. Ek sal kom kyk.”

      Sy hou hom dop tot hy met sy agterkant eerste by die tent uitkom.

      Hulle is sy boeties, maar hy is soos ’n pa vir hulle – van die vorige droogte af toe pa Willem gedwing is om Vrystaat toe te trek met die vee en Clarabelle gebore is. Pa Willem het ’n stryd gehad, maar hy is weer terug op Mispa, die hoof van ’n groot gesin. Buiten Daniël nog vyf seuns, Klein-Willem, Hercules, George, die halfbloed Ntumka en die Duitser Lutz. Twee dogters, Maria en Cara. Maria is sy oogappel, aan Cara steur hy hom nie. Anna Catharina verstaan nie sy ongeërgdheid nie, sy verstaan nie hoe ouers kan kies tussen kinders nie, en Cara is mooi, die pragtigste dogtertjie. Ma Caroline se weggooikind, Katryn se optelkind? Sy wil nog altyd vir Daniël vra of hy nie wil beswaar maak nie. Cara kan nie so vas aan Katryn bly grootword nie. Nie vanaand nie. Hy het vanaand genoeg van sy eie bekommernis, pynlik skeef trek sy skaduwee. Die lantern swaai soos hy hink, tot by haar.

      “Anna, as jy so staan?”

      “Ek wil gaan kyk wat word van my waswater.”

      “Bly hier, ek sal.”

      “Jy hoef nie.” Meester Elie, van alle mense, kom met die emmer aangestap.

      “Maar Meester …” wil Daniël keer.

      “Die water het op die vuur gestaan en borrel en Doelie-hulle is besig met kombuisgoed. Daar is nog genoeg vir jou ook.”

      “Ek was in Anna se water. Wat van Meester?”

      “Ek sal later.”

      Hy sit die emmer tussen hulle neer. Daniël buk om dit op te tel, maar kom eers weer orent.