Bet-El. Helena Hugo

Читать онлайн.
Название Bet-El
Автор произведения Helena Hugo
Жанр Религия: прочее
Серия
Издательство Религия: прочее
Год выпуска 0
isbn 9780796320537



Скачать книгу

van antieke Joodse geskrifte. Hy het die Tora geken, die geskiedenis van die Jode op die punte van sy vingers, maar hy het nie toegelaat dat dit hom bind nie. Christus Jesus se lewe, sy uitsprake, sy kruisdood het Vader so gefassineer dat hy hom losgemaak van die ou godsdiens. Hy was ’n bekeerde Jood, ’n innig oortuigde Christen.”

      “Meester se ma?”

      “Moeder het vasgeklou aan die tradisie, met die gevolg dat ons nog al die Joodse gebruike gehandhaaf het. Ek het eerstehandse ervaring van hoe wette en seremonies jou bind, hoe voorskriftelik dit kan wees. Jesus het twee seremonies ingestel: die sakramente van die doop en die nagmaal.”

      Meester Elie vou sy arms op die tafel voor hom, oorweeg blykbaar sy woorde. Hy het die houding van leermeester aangeneem en Daniël durf hom nie in die rede val nie. “Die nagmaalsformulier,” sê hy, “is myns insiens te lank en omslagtig, maar steeds Skrifgefundeer. As jy vanaand stip daarna geluister het en nie tussendeur aan die slaap geraak het nie, sou jy gehoor het dat Jesus nie van ons verwag om perfekte mense te wees nie, ons kan nie. Nie een van ons kan ons saligheid verdien nie. Maar Hy roep ons tot geloof in Hom, én tot diens. Ek verseker jou, Daniël, dien Hom voluit, dan sal jy sterk staan teen enige versoeking, ook teen hierdie vrou wat jou liefde nie werd is nie. Verstaan jy dit?”

      Die kamp het tot rus gekom, die paddas en krieke nie. Motte en ander vlieënde goggas dans in die lig van die lantern, sommige na hul gewisse einde toe.

      Dien God voluit en jy sal sterker staan teen enige versoeking.

      Dat die antwoord so eenvoudig is, het Daniël bly hoop en hier kry hy dit van iemand wat alles verloor het en dit regkry om die familie wat hom aangeneem het, onselfsugtig lief te hê, ook die vrou wat sy hart gesteel het.

      “Meester, dankie. Ek wou dit ook só uitwerk, ek bedoel, dat niemand perfek kan wees nie, maar Meester het my verder gevat. Ek het die antwoord, ek sal die Here met my hele lewe dien, ek en my huis.”

      Meester Elie strek oor die tafel, hou sy hande na Daniël toe uit. “Die Here weet, as ek maar ’n seun kon hê, soos jy,” sê hy en daar is trane in sy oë.

      Hoofstuk 5

      Die baba wat in die wiegie lê, is die gaafste ou seuntjie. Hy kraai van plesier, skop met sy voetjies, maal met sy armpies. Myne, my baba! Anna Catharina buk om sy kombersie reg te trek. Ma Susanna, ma Caroline, tant Georgina, tant Hester, aunty Meredith, al die tantes en Elsje staan in ’n kring om die wiegie. Te mooi, die ou seuntjie, haar en Daniël se eersteling. Ma Susanna en ma Caroline stry oor wie hom eerste mag optel. Tant Hester stoot almal weg, sy lig die kombersie. Die hele wiegie is vol van Daniël se voete, skeef misvormd, seer. Die vloek, die vloek, die vloek, koorsing al die tantes. Almal het swart rokke aan. Annatjie lê in haar kissie, sy kyk vir hulle met die baba se ogies, praat reg uit die Bybel: De Heere doet my nederliggen; hy voert my sachtkens door de dal der schaduwe des doots. Annatjie huppel deur ’n lenteveld van wit blommetjies. Die seuntjie klouter oor die rand van sy wiegie. Die tweetjies vat hande en hardloop reg deur die muur. Sy wil hulle agternasit. Haar voete is in die grond geplant, sy kan nie roer nie, sy is bang en skreeu: Help my, help!

      Die volgende oomblik draai die seuntjie om. Sy mond gaan oop, hy praat met ’n harde fluisterstem: “Wat? Wat is dit? Anna, is jy wakker?”

      Iemand hang oor haar, ’n donker homp in die grys lig. Ruik na Daniël, maar sy stoot hom weg. Moet asem kry, lug skep. Sit toe vervaard regop, besef sy het gedroom en druk haar hande teen haar gesig, voel verlig dat sy wel ’n gesig het, ’n kop, ’n lyf en arms, bene wat kan hardloop.

      Dankie, Jesus. Dis net ’n droom.

      “Wat makeer? Anna?” Sy stem kom nog deur droomnewels na haar toe aangedreun. “Jy’s rusteloos.”

      “Sommer ’n nagmerrie.”

      “Jy praat in jou slaap.”

      “Wat het ek gesê?”

      “Niks, ek kon nie hoor nie.”

      “Waar is ons?”

      “In Kimberley. Dis Paasfees. Ons kampeer op die kerk se meent.”

      “Skies, ek is deur die slaap.” Sy leun terug. Buite begin die eerste voëltjie tjilp. “Oggend?”

      “Amper. Wil jy nog na die vroeë biduur toe?”

      “Het ek so gesê?”

      “Gisteraand.”

      “Dan gaan ons.”

      Sy kan hul klere wat Daniël aan ’n staander opgehang het, net-net uitmaak.

      “Lyk soos afkopmense.”

      “Wat?”

      “Ons klere, soos mense sonder koppe.”

      Daniël kyk na haar. Sy dink hy frons.

      “Moet ek die kers opsteek?” vra hy.

      “Nog nie.”

      “Wat is dit, Anna? Wat het jy gedroom?”

      Sy onthou, maar wil nie daaroor praat nie. “Ek het vergeet.”

      “Is dit die uitkamp? Is dit vermoeiend?”

      “Nee.”

      “As die naweek te lank word, dan pak ons.”

      “Dis nie nodig nie, en ons is nou hier.”

      “Ja, ons is.”

      Hy stoot die beddegoed af, swaai sy bene oor die kant van die bedjie, rek hom uit.

      Sy rug is breed, sy skouers gespierd. Soos hy nou daar sit, sal sy nie sê hy is gebreklik nie. Sy het hom liefgekry ten spyte van sy voete en vandat hulle getroud is, sien sy hoeveel pyn hy verduur. Dis in die familie. Tant Hester het dieselfde probleem. Sy loop deesdae met ’n kierie en het al op haar gevoellose manier laat blyk dat Daniël dit gerus ook kan probeer. Hy weier. Weier ook dat sy vrou sy voete elke aand vir hom met olie invryf, die krampe uitvryf.

      Liewe Here Jesus, ek het hom lief, maar ek sien wat dit aan hom doen. Wat maak ek as my nagmerrie waar word?

      Sy wil haar arms om hom slaan, met haar kop teen sy skouer leun en by hom huil, maar hy het opgestaan en soek sy klere om aan te trek.

      “Wens ons is terug by die huis,” brom hy, “die bedjie moor my. Nie ’n wonder jy kry nagmerries nie.”

      Sy wil die droom uit haar kop sit. “As ons betyds wil wees moet ek seker ook op,” sê sy.

      “Ek bring jou waswater.”

      “Voor jy gaan, sê eers. Het jy besluit?”

      “Ek sal aanneem.”

      “Nou is ek trots op jou.”

      ’n Uur later loop hulle soos hulle gewoonlik loop as hulle haastig is, nie ingehaak nie, agtermekaar.

      Die paadjie tussen die tente deur is nou en Daniël se regtervoet swaai so wyd uit, sy is bang hy pootjie haar. Hulle is in elk geval net betyds vir die diens en moet suutjies in die kerkgang afsukkel tot by hul bank waar Meester reeds vir hulle wag. Hy glimlag moeg. Dit lyk asof hy ook nie goed geslaap het nie. Dominee De Vaal lees ’n gedeelte uit Lukas waar Jesus vir sy dissipels vra wat die mense oor Hom sê. Johannes die Doper, Elia, een van die ou profete wat opgestaan het, so glo die bygelowige volk, maar Petrus bely dat Jesus die Gesalfde van God is. Dit is dieselfde Petrus wat Hom later verloën en ontken dat hy Hom ken. Dominee maan sy gemeente om as gelowiges by hul oortuigings te bly en God te eer. Jesus waarsku juis dat Hy Hom op die oordeelsdag sal skaam vir dié wat hulle vir Hom geskaam het tydens hul lewe op aarde.

      Daar is geleentheid vir gebed. Hartroerend bid die ouderlinge en leiers van die gemeente. Die grysaards bid, terwyl die ander luister en sekerlik in hul harte saam belowe dat hulle God getrou sal dien. Dominee De Vaal sluit die gebede af en kondig die slotsang aan. Anna Catharina het die behoefte om Daniël se hand te vat en sy doen dit ook. Hy kyk na haar, sy oë onverwags sag. Die son wat intussen