Название | Kleur kom nooit alleen nie |
---|---|
Автор произведения | Antjie Krog |
Жанр | Зарубежные стихи |
Серия | |
Издательство | Зарубежные стихи |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780795707797 |
ANTJIE KROG
Kleur kom nooit alleen nie
KWELA BOEKE
Die uitleg van gedigte in hierdie digitale uitgawe van Kleur kom nooit alleen nie mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die gedigte.
vir JOHN
wat ’n man is
van sy woord
For our past is covered by the currents of action,
But the torment of others remains an experience
Unqualified, unworn by subsequent attrition.
People change, and smile: but the agony abides.
Time the destroyer is time the preserver,
Like the river with its cargo of dead negroes, cows and chicken coops,
The bitter apple and the bite in the apple.
T S Eliot: Dry Salvages, Four Quartets
Wondherstel is die herstel van die integriteit van beseerde weefsel.
J W Schneider: Inflammasie, Herstel en Immuniteit
I
MONDWEEFSEL
1. die Groot Gariep
toe was die pole nie ys nie –
die see ’n stadig sirkulerende werweling van loue
water rondom Gondwana
– tot met die skeuring
die kontinent wikkel haarself saggies los
van ander
en sien hoe’t wegdryf as horisonne
dis die geboorte van die Groot Rivier
die Oer-Oranje
‘ons noem hom nie Gariep nie,’ sê oom Jakobus de Wet
‘ons noem hom die Oranje
maar ientlik vir ons is hy: Die Rivier’
los van ander skiet suider-Afrika die lug in
bibberend van losse vryheid
mere en seë dreineer die opgetilte landskap langs
afgeplat weggevreet
die oerrivier stroomroof deur trôe
gletsergleuwe lemme van kwartsiet
die rivier tel spoed op skuim verby Gloriegat se knakpunt
en roei uiteindelik met sliksagte fluweelafsettings
op die oewers af see toe
‘die eentlike reddende ding is die mis,’
beweer Dawid Links
‘dis hy wat ons as Namas: Huries noem
hy stoot uit die koue trogte van die Benguela
aan wal gewaai deur wind, en begint veldoor sleep hientoe
die koppe onderskep dit
so jy weet: bossies, klippe – ammil drink dou
maar te veel Huries maakie veld blou
daarom verkies ons landsweer – so vir die vlotter natmaakslag’
Dwyka-ys is ’n naam in my taal
en graniet van die Vioolsdrifsuite!
die slang
(sjuut! moet sy naam nie noem nie
hy figure fyn uit wie’t jy is)
en as hy jou eers gehou en gehad het
kom jy nimmernooit los
moet jy terug
dieselle tyd, dieselle plek, elke jaar dring jy water toe terug
bak staan of bo leef
trug sal jy trug
soos die ander vrou
bak sy brood
sit sy kerk
as sy hom hoor fluit
staan sy op ’n loop
slaap-loop sy rivier toe
’n verskriklike krag is dit as die slang jou vat
soos dwing soos droom
daarna onthou jy niks
net die diamant op die voorkop
en dat hy snags uitkom om te wei
party sê hy krul in die Wondergat
waarvan niemand nog die bodem gekry het nie
(dis nou behalwe die man van Kubus
wat afgegaan en nog dieper afgegaan het
toe’t opkom was sy hare spierewit
en sy stem weg
tot sy dood weet niemand wat hy’t sien nie)
2. narratief van ou nomadiese trekpatrone
in die winter trek Paulshoek se mense na Moedverloor, Boggel, Goeiemanskuil, Slootjies, Damme, Een Wilger en Kuile. Rooifontein se mense maak staning by Matjiesgoedkloof, Kammassies, Dikkopskraal en Draai. Vanaf Klein Nourivier lê die trekpad deur Besitwater, Khiribes, Bobbejaanshoek, Hosabes en Rooihoog. Afhangende van die reën trek Spoegrivier om die beurt na Skêrberg, Koringhoog en Patrysvlei. Klipfontein trek na Nuwekloof, Vaaldraai, Gowwermentsputs. Tweerivier na Golfkraal en Haasrivier. Oom Jakobus trek van Ochta na Pokkiespram en later na Oena. Links lê Ploegberg en Grootderm; regs Windwaai en Kabies.
This pattern was completely overturned by the establishment of economic [identifiable] units.
Lala Steyn & Henry Krohne: Land Use in Namaqualand
3. narratief buite die park
Susara Domroch van Kubus
‘nee Oupa Mandela vir hom stem ek
hoekom is om Nama te wees vandag om iets te wees?
omdat ons nou ons eie woord is
onder die ou regerings was ons hulle woord
oor jarre is ons uitgedryf na die bar plekke
Kleurling Reserves
ons was niks
maar vandag is ons iets
en dis hy, daai Ouman Mandela, dis hy
nee Mandela-goed het my stem gekry’
Kubus se kerk staan wit teen die kwartsietlug
en stoot stem teen die rante uit
‘o God blaas en bloei u liefde oor ons,’
sê oom Adam
hand op die hart sing die gemeente
‘ja Jessus is ’n rots
in ’n dorr-stigge land
’n dorr-stigge land
’n dorr-stigge land’
‘U is soos wasem vir my