Название | Ena Murray Keur 15 |
---|---|
Автор произведения | Ena Murray |
Жанр | Эротическая литература |
Серия | |
Издательство | Эротическая литература |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624083474 |
Sy frons nou. “Wat?”
“Ons.”
“Ons?”
“Ja, ons! Ons twee!”
“Wat … van ons twee?”
Sy vingers gryp hare stywer vas en sy kan die onderdrukte ergernis in sy stem hoor. “Verduiwels, Karina, moenie jou doelbewus onnosel hou nie. Ek is nou moeg van hierdie speletjie.”
Haar frons verskerp. “Van watter speletjie praat jy? Ek is nie bewus …”
“O ja, jy is, en jy hoef jou nie so onskuldig te hou nie.” Hy trek sy asem diep in. “Ek is jammer. Ek wou nie so bars geklink het nie, maar magtie, jy maak ’n mens se senuwees gedaan …”
“In daardie geval is daar niks wat jou keer om weg te gaan van ons af nie, is daar?”
Hy onderdruk net betyds ’n kragwoord. “Sien! Daar begin jy al weer! Ek moet honderd keer dink voordat ek dit waag om my mond oop te maak, en dan neem jy my nóg verkeerd op! Ek moet hoeveel keer dink voordat ek iets vir jou doen, uit vrees dit sal net die verkeerde uitwerking hê. Ons is vrééslik beleef teenoor mekaar – soos vreemdelinge, ja! Kan ons nie in hemelsnaam net vriende wees nie? Is ek so ’n vreeslike stuk mens dat jy my glad nie kan verduur nie?”
“De Waal! Ek weet nie waar jy aan daardie storie kom nie! Dis nie …”
“Ja, dis waar, Karina. Die een oomblik voel dit vir my ons is vriende, en dan klap jy meteens toe soos ’n skulp!”
Sy kyk weg en ruk haar hand uit syne los. Hoe kan sy hom vertel dat sy haarself gedurig daaraan moet herinner dat hy ’n verloofde man is? Oom Isak het weliswaar gesê dat sy haar nie moet onttrek nie, maar hy het sekerlik nie bedoel dat sy met sy dogter se verloofde moet lol nie! En verder … al sê oom Isak ook wat, sy ís blind en verlam. ’n Man soos De Waal verdien ’n gesonde, normale vrou.
“Ek is geen verduidelikings aan jou verskuldig nie.” Haar stem is bot en onvriendelik.
De Waal verbleek. Hoe durf sy so ’n houding teenoor hom aanneem! Hy byt op sy tande en kyk af grond toe. Dan sug hy en sy stem is bitter toe hy praat: “Ek sien. Jy het kleintyd ’n afkeer jeens my ontwikkel en jy het dit nou nog nie ontgroei nie. Wat is daar in my wat jy nie kan veel nie, Karina?” Sy swyg omdat sy nie haar eie stem kan vertrou nie, en sy stem verdiep verder: “Dink jy nog altyd ek wil jou lewe reël en baasspeel? Jy is verkeerd. Ek wil nie. Ek wil net help, maar jy neem dit verkeerd op. Ek doen dit veral ook vir tant Miemie.”
Dan bly hy maar stil, want vir hom lyk dit asof sy woorde haar nie bereik nie. Karina, weer, voer ’n hewige stryd teen die ontsteltenis in haar en sy moet op haar tande byt om nie in trane uit te bars nie.
Nou weet sy. Alles wat hy tot dusver gedoen het, was net ter wille van haar ma. Nou weet sy verseker dat sy soms in sy teer gebare meer gelees het as wat hy werklik bedoel het. Maar sy sal haar moet regruk. De Waal kan op ’n dag miskien snuf in die neus kry hoekom sy so onstabiel is wat haar houding jeens hom betref, en dit mag nooit gebeur nie.
Sy glimlag in sy rigting. “Ek is jammer. Ek is regtig jammer, De Waal. Ek weet ek is soms … e … onmoontlik, maar … dis nie altyd maklik nie, weet jy?”
Sy stem verander en hy neem weer haar hand wat na hom uitgehou word. “Ek weet, en ek is ook jammer dat ek so hard gepraat het. Dit was nie nodig …”
“O ja, dit was,” en tot sy verbasing druk sy sy hand. “Ek mag baie ondankbaar voorkom, maar ek is nie, De Waal. Dis maar net soms moeilik om te aanvaar … en te berus, dis al.”
“Maar jy moet nie so volkome aanvaar en berus nie, Karina,” ploeg hy met oom Isak se kalwers. “Jy gaan tog weer sien en loop! Ons móét dit glo. Asseblief!”
“Is dit … is dit vir jou baie belangrik dat ek weer moet kan sien en loop?”
“Natuurlik is dit! Jy móét weer volkome herstel, Karina.”
Sy knik, ’n hartseer glimlaggie om haar mondhoeke – ’n glimlaggie wat hy heeltemal verkeerd interpreteer. Ja, sy kan glo dat dit ’n baie belangrike saak vir hom is, want sodra sy weer normaal is, sal hy vry wees van die verpligting wat hy jeens haar voel. Dan sal hy weer met sy normale lewe kan voortgaan in die wete dat hy hulle bygestaan het toe hulle hom nodig gehad het. Hy skuld hulle niks nie.
Sy knik dapper. “Ja. Ja, ek moet weer kan sien en loop.”
Hy gee haar hand ’n drukkie. “Professor Keuler het vanmiddag gebel.”
“Ja?”
“Hy sê jy moet hom oor veertien dae kom spreek.”
Sy knik stom van vrees. Oor veertien dae sal die finale oordeel oor haar gevel word! “Dis goed, De Waal.”
Hy aarsel, sy oë pleitend, maar sy kan dit nie sien nie. “En is ons nou werklik weer maats, Karina?”
Sy glimlag. “Natuurlik, De Waal. Ons is … maats. Dankie, my maat.”
Vreemd dat hy, terwyl hy dié versekering uit haar mond kry, nog steeds frons. Hy staan op en gee haar ’n soentjie op die punt van haar neus.
Sy glimlag vir hom en wonder waar sy die gawe om só toneel te speel vandaan kry. Skielik gryp haar hande sy gesig vas, haar stem ’n bietjie onvas. “Jy is ’n dierbare ouboet, De Waal! Mag ek voel hoe jy lyk?”
Hy voel die sagte palms om sy wange en sê: “Natuurlik.”
Haar vingerpunte gaan tastend en strelend oor sy gelaat en hy sluit sy oë. Die geur wat hy al met haar begin assosieer het, slaan in sy neusgate op. Die nabyheid van haar vroulike rondings is byna ’n fisieke skok.
“Dit voel vir my ek het sommer ’n oulike ouboet,” lag die rooi lippe en sy voel die gelaatstrekke onder haar hande verstrak. Stadig, Karina, maan sy haarself. Moet dit nie te veel aandik nie.
“En ek het ’n pragtige kleinsus,” sê hy en neem haar hande vinnig van sy gesig weg. “Goed. Ons verstaan mekaar van nou af en ek wil geen onvriendelikheid meer van jou hê nie, hoor? Anders sal jy pak kry!”
Sy lag vrolik na hom op. “Dis ’n ouboet se voorreg, nie waar nie? Kom ons gaan kyk waar Mamma met die koffie bly.”
Tant Miemie het deur die venster die ernstige geselsery gesien en gewonder wat aan die gang is. Sy het wyslik gewag met die koffie, maar toe hulle binnekom, is op albei se gesigte breë glimlagte. Net te breed om waar te wees, dink tant Miemie, maar sy sê niks nie.
7
In die veertien dae wat volg, voel almal hoe die spanning al hoër oplaai, hoewel hulle hul bes doen om dit nie te laat blyk nie.
Karina is buitengewoon vrolik en lighartig, maar sy draai niemand ’n rat voor die oë nie. Hulle speel egter saam, en in hierdie dae groei almal se respek vir die sterk jong meisie.
Op ’n wonderlike manier is dit sý wat hulle dra; sy wat weier om ernstig of morbied te word; sy wat hulle bemoedig met ’n geloof in ’n Hoër Wil wat dié om haar hul hoofde in skaamte laat sak.
“Wat sal wees, sal wees, Mamma,” sê sy op ’n dag toe tant Miemie haar kommer en kleingeloof nie so duidelik weggesteek kry nie. Sy is en bly ten slotte ’n mens en in hierdie geval ’n moeder. Selfs vir die sterkes kom daar die oomblikke van struikeling. Ook tant Miemie vind in hierdie dae dat sy met alle mag moet stry teen ’n kleingelowigheid wat sy nie vroeër geken het nie. Karina se stem is baie stil: “Ek het die afgelope drie maande baie dinge geleer, Mamma. Die belangrikste is dat God die mens se enigste anker is. Hy bly, ten spyte van alles wat ons klein mensies wil en nie wil nie, Opperheer, en Hy hou ons nog steeds in die holte van sy hand. So sal dit ook in die toekoms wees. Daardie wete laat my wonderlik veilig en gerus voel, Mamma. Dit maak nie saak wat gebeur nie. Wat sy Wil is, is reg, die beste. Dit het ek die afgelope maande leer glo en dit sal ek bly glo, ook as daar besluit word om te opereer, en ook wanneer hulle die verbande afhaal en die oomblik