Ena Murray Keur 15. Ena Murray

Читать онлайн.
Название Ena Murray Keur 15
Автор произведения Ena Murray
Жанр Эротическая литература
Серия
Издательство Эротическая литература
Год выпуска 0
isbn 9780624083474



Скачать книгу

      ENA MURRAY

      KEUR 15

      Die pad terug huis toe • ’n Vrou soos Salome • Die vrou in die spieël

      Jasmyn

Die pad terug huis toe

      1

      De Waal Venter neem behaaglik in die leunstoel plaas en tel sy koerant op.

      Vlugtig dwaal sy blik oor die hoofopskrifte. Dit sak af na die linkerhoek, en dan, soos altyd wanneer hy ’n foto van haar sien, sit hy regop. Maar sy blik rus nie lank op die beeldskone gesig en volmaakte liggaam nie. Die vet, swart letters onderaan die foto skok hom. Topmodel in ongeluk. Drie dood.

      Hy is oorbluf. Dit kan nie wees nie … Maar dit is. Karina Oosthuizen en ’n vriend, die bekende fotograaf Helmut Neethling, se motor het teen ’n vragmotor gebots. Motor en vragmotor is die afgrond af. Twee van die drie mans in die vragmotor is op slag dood, en ook haar vriend. Die ander man in die vragmotor, asook die bekende Karina Oosthuizen, lê bedenklik in die hospitaal. Juffrou Oosthuizen het ernstige kop- en rugbeserings opgedoen.

      Hy sit asof versteen. Dis asof sy verstand weier om te funksioneer. Hy stap werktuiglik na die telefoon, besef dan dat dit nodeloos is. Tant Miemie het mos nie ’n telefoon nie. Dis ’n luukse wat sy nog nooit kon bekostig nie.

      Hy swaai in sy spore om en stap vinnig na buite, trek weer sy motor uit die motorhuis. Dit neem hom enkele minute om die skakelhuisie te bereik, maar in daardie paar minute kan hy sy geskokte gedagtes steeds nie georden kry nie. Karina … Kop- en rugbeserings … Hoe ernstig? Die koerant sê bedenklik.

      Tant Miemie se skakelhuisie is in donkerte gehul. Hy stap om en klop langsaan aan.

      “Tant Miemie … Ek soek na tant Miemie Oosthuizen …”

      Die vrou moet eers die skreeuende kleintjie op die vloer optel om stilte te kry. Hy sien alles, al die armoede, in een oogopslag raak, en sy hart trek saam. Dis so pynlik bekend – die binnekant van hierdie skakelhuisies.

      “Ekskuus tog, meneer. Wat sê u? Die kind skreeu so …”

      “Ek soek na tant Miemie wat hier langsaan woon. Weet u miskien waar sy is?”

      “O, tant Miemie! Sy’s vanoggend in hospitaal toe. Haar hart, u weet …? Sy het glo tyding gekry haar dogter het verongeluk … verlede nag glo … en haar hart is mos nie sterk nie …”

      “Ja, ek weet. Dankie, mevrou. Goeienag.”

      Op pad hospitaal toe voel hy opnuut skuldig. Hy was baie lank laas by tant Miemie. Te lank laas, voel hy nou. Hy was so besig die afgelope tyd. Maar dis geen verskoning nie, bestraf hy homself ontevrede. Al was hy hóé besig, hy kon maar ’n paar minute afgeknyp het net om te kom hoor hoe dit gaan. Dit sou hom niks gekos het nie, en hy weet hoeveel dit vir die ou dame sou beteken het. Sy het seker al gedink hy het haar vergeet. En hy het, om die waarheid te sê. Nie letterlik vergeet nie, maar byna asof hy haar wóú vergeet, want tant Miemie is een van die bande wat hom aan die verlede bind, en dis bande wat hy liewer wil verbreek. ’n Mens kan nie aan gister bly vasklou nie, het hy op ’n dag besluit. Daarom het sy besoekies aan tant Miemie al minder en minder geword, en naderhand het hy glad nie meer gekom nie.

      Maar vanaand laat sy gewete hom nie toe om hierdie ou dame te ignoreer nie. Tant Miemie was ’n belangrike persoon in sy lewe. Die herinneringe aan haar wek ’n deernis in hom wat sy skuldgevoel net verder verskerp. Hy moes haar nie so verwaarloos het nie. Hy moes onthou het …

      Hy dink aan die gisters van sy lewe toe hy in die lang hospitaalgang afstap. Dis gisters wat reeds byna dertig jaar lank al verby is, maar tog is dit ook maar op hierdie oomblik net gister. Hoe gou vergeet ’n mens tog!

      “Net ’n minuut of twee, meneer. Tant Miemie is baie ontsteld. Sy moet baie rus kry en kalm gehou word.”

      “Ek sal haar nie ontstel nie, suster. Baie dankie.”

      Hy buk oor haar, en die ou oë gaan moeg oop.

      “Tant Miemie, dis ek … De Waal. Hoe voel tante?”

      “De Waal? Is dit regtig jy, my seun?” Sy lek oor haar droë lippe, effens kortasem. “Goed … onder omstandighede. Dis net die ou hart … De Waal, Karina …”

      “Ek weet, tante. Ek het dit so pas in die koerant gelees. Tante moes my onmiddellik laat weet het.” Terwyl hy die woorde uitspreek, voel hy weer skuldig. Sy sou dit gedoen het as hy beter kontak met haar behou het.

      “Jy … is ook maar baie besig, my kind. Ek wil nie lastig wees nie …”

      “Tante!” Hy neem haar hande tussen syne. “Ek is jammer. Ek is werklik jammer dat ek tante die afgelope tyd so verwaarloos het. ’n Mens besef nie hoe vinnig die tyd verbygaan nie. Ek was lank laas by tante, maar tante moes my laat weet het. Het tante al weer iets gehoor?”

      “Nee. Hulle is nog besig met toetse. Ek het die dokter gevra om te bel. Hulle sal laat weet sodra hulle seker is.” Die ou oë kyk pleitend, hulpsoekend op. “De Waal, my … my pragtige kind …”

      Hy sluit sy oë, verstewig sy greep om die bewende hande. “Alles sal regkom, tante. Sy sal gesond word. Ons moet dit glo.”

      “Maar hulle sê daar is ernstige kop- en rugbeserings. Hulle sê …”

      “Dis nog te gou vir enigiemand om iets definitiefs te sê, tante. Ons moet nou in die geloof wag vir die uitslag.” Hy skud sy kop, sy oë teer en innig. “Wie was dit wat altyd vir my geloof voorgehou het? Was dit dan nie u nie, tant Miemie? Onthou tante nie? Toe ek so moedeloos was, so plat op die grond, so in die stof … toe was dit tante wat my geleer het om te glo in môre.” Hy glimlag teer. “Onthou tante?”

      Die lippe bewe. “Ja my seun, ek onthou. Ek het nog nooit vergeet nie. Ek onthou elke dag daarvan. Dit was swaar jare, maar … ook goeie jare. Toe was julle klein. ’n Mens het geweet waar julle was, wat julle doen. Maar nou …”

      Daar is ’n beweging by die deur, en De Waal knik.

      “Ek sal weer kom, tante. Ek sal ook in verbinding bly met die hospitaal en sodra daar nuus is, vir tante kom sê. Asseblief, moenie so bekommerd wees nie. Belowe my.”

      Sy knik net effens, die ou oë blink. “Dankie … dankie dat jy gekom het … dat jy nie heeltemal vergeet het nie …”

      “Hoe sal ek ooit kan vergeet, tant Miemie? Nee. Ek onthou. Ek sal weer kom.” Hy buk af, druk sag ’n soen op die gerimpelde voorkop. “Slaap nou.”

      Buite in die gang praat hy met die suster. “As enigiets met tant Miemie gebeur, moet julle my onmiddellik laat weet. Wat is die jongste nuus oor haar dogter, of weet u nie?”

      “Sy is baie ernstig. Ons weerhou maar voorlopig die feite van tant Miemie, want daar word gevrees dat Karina se oë en bene …”

      Sy swyg toe sy sien hoe geskok hy is.

      “Jy bedoel …?”

      Sy knik. “Dis nog nie heeltemal seker nie, maar dit is moontlik dat sy dalk die gebruik van haar oë en bene verloor het. Ons sê maar liewer nog niks vir tant Miemie nie – nie voordat ons finaal weet nie.”

      Dis ’n oomblik lank baie stil in die wit hospitaalgang. Dan knik hy, en toe hy praat, is sy stem grof. “Dankie, suster. En onthou, skakel my asseblief as daar iets gebeur of tant Miemie enigiets nodig het. Goeienag.”

      Sy kyk hom agterna. Sy het nie geweet De Waal Venter ken tant Miemie nie. Sy wonder wat die verbintenis is. Seker maar die dogter. Al wat man is, is gaande oor haar. Sy het haar nog net op foto’s gesien, maar selfs sý moet erken dat Karina Oosthuizen ’n pragtige meisie is. En nou lê sy in die hospitaal … miskien verlam en blind vir die res van haar lewe. Sy sidder liggies. ’n Mens moet liewer nie daaraan dink nie.

      Vir ’n tweede keer het De Waal se verstand tot stilstand geskok. Vir ’n tweede keer weier sy verstand om die feite te aanvaar. Dit is tog nie moontlik nie. Sy verstand is bereid om te aanvaar dat Karina in ’n ongeluk getrokke was, selfs dat sy in ’n baie ernstige toestand verkeer. Maar sy verstand weier om te aanvaar dat sy miskien blind en verlam gaan wees. Dit kan nie, dit mág nie wees nie. Daardie pragtige oë … blind?