Название | Debora gaan huis toe |
---|---|
Автор произведения | Helene de Kock |
Жанр | Историческая литература |
Серия | |
Издательство | Историческая литература |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780798176149 |
Debora kry vir haar nog groenboontjies. “Ek dag dié Tristan kom net rondkyk om te sien hoe die Vrystaat lyk.”
Haar pa sluk ’n mondvol weg en beduie: “En ek dag jy het gisteraand al gehoor hy is ’n werkesel?” En toe sy verleë swyg: “Kyk, Debora, daar’s nou vir jou ’n goeie dokter. En nie net klinies gesproke nie. Hy is goed met mense. Toe ek al oom Claassen se nek wou omdraai, het hy die hele prosedure van die operasie vir hom so rustig verduidelik dat die oom gedink het hy is self deel van die oplossing pleks van die probleem.”
Margot begin lag en Debora ook. Maar nie so heelhartig nie. Dat sy wonderlike dinge oor Tristan hoor, maak haar bang. Sê nou net dis waar. Want as dit is, gaan sy probleme hê. Dis ’n wete wat intuïtief in haar vasknoop.
Toe sy wil saam spreekkamer toe, kry sy ’n kwaai kyk. “Jy rus vandag of jy kan vergeet van ’n vennootskap.”
“Goed, Pappie,” terg sy in ’n klein stemmetjie en soengroet hom voordat hy uitstap. “Nou, Mamma, ek gaan my kamer bietjie regpak en nes dit vyfuur is, gaan ek maar oorkant toe. Dan het Ouma al seker klaar ’n middagslapie gevang.”
“Ek kom by jou sit, Debora. Dan gesels ons.”
Sy leun oor om haar ma te klapsoen. “Dit sal heerlik wees. Ek het na ons geselsies verlang.”
In haar kamer pak Debora haar hangkas netjies reg soos sy dit graag wil hê. Sy en haar ma bekyk haar klere met ’n kritiese oog. Sy sal miskien ’n paar nuwe goed moet kry. Die knap tannie Richter wat straataf woon, beduie Margot, sal moet help. Sy kan self die crimplene by die rolle materiaal in Debora en Seuns gaan uitkies want sy wil nie iets hê wat gestryk moet word nie. Wanneer haar werk eers in alle erns begin, sal die crimplene sorg dat sy ten minste onder die wit jas kreukelvry bly, sê haar ma.
Debora lag. Stem saam. Later sug Margot diep. “Liefkind, ek gaan jou nou eers hier los en by tant Sina Pienaar in die ouetehuis inloer. Sy is siekerig. Maar ek sal voor ete terug wees, hoor.”
“Natuurlik, Mams, sê groete.”
Debora se gedagtes dwaal na haar aankoms gister. Iets bly haar pla. Klein Santie van tant Trudie se toestand het beslis versleg sedert sy haar een naweek in Julie gesien het toe sy vir ’n blitsbesoek kom kuier het. Sy begin vermoed dat tant Trudie nie so gereeld as wat sy moet die kind se voorgeskrewe medisyne gee nie. En asma is nie kinderspeletjies nie. Trudie Tredoux is ’n koppige vrou. Sy het eenkeer voor Margot Schlagerfeldt en Debora gesê die ding dat kinders heeldag pille en goed moet drink, is nonsens. Haar oudste dogter het dan nooit so gesukkel nie. Santie sal dié asmastorie ontgroei. Toe het dit Debora vaagweg geamuseer. Maar sy moes al geleer het. Mense doen met oorgawe die mees afbrekende en gevaarlike dinge. Soos om nie hul kinders se medisyne volgens voorskrif te gee nie omdat hulle kwansuis van beter weet.
Toe die gedagte eers posgevat het, kan Debora dit nie hou nie. Sy klap die hangkasdeur toe. Stoot haar leë tas diep onder die bed in. Sy is eintlik nes haar pa. As daar iets is wat haar terstond ontstel, is dit mense wat hulle nie uit hulself kan verlos nie. En tant Trudie is by uitstek nie daartoe in staat om haar eie warse idees te laat vaar nie.
Sy kan nie langer wonder of Santie gereeld haar medisyne kry nie en sal die situasie later vanaand met haar pa bespreek. Dis nou as hy vroeg genoeg terugkom en die etery oorkant die straat verby is.
Die dag trek al ver en sy besluit om vir vanaand se ete by oom Erik-hulle klaar te maak. So ’n tuiskoms word oudergewoonte heel eerste saam met ouma Debora en oom Erik-hulle in die Victoriaanse huis gevier. En met tant Rebekka ook by kan dit net lekker wees. Sy vang haar onderlip vas want sy onthou oom Heinrich, tant Rebekka se oorlede man, goed al was sy maar dertien toe hy oorlede is. Laggende oom Heinrich wat maar net nie sy halfgebroke liggaam heeltemal uit die oorlog kon kry nie. So sê ouma Debora altyd. Hy het net daardie een winter griep gekry wat hom weggevat het soos wat vloedwater ’n droë tak vat. Die Joodse tant Rebekka met haar donker oë is sedertdien alleen.
Debora bekyk haarself in die lang spieël teen die muur. Besluit om deftiger aan te trek. Dit is per slot van rekening ’n familieviering met dié dat sy nou tuis is. Sy kies ’n appelkoospienk rok met ’n fleurige romp, borsel haar dik hare tot dit swartblink om haar skouers hang. Sit ook perskepienk lipstiffie aan en lilablou oogskadu. Sal sy nog parfuum aantik? Sy het haar ma se passie vir lekkerruikgoed. Laas toe hulle in wyle mevrou Shavinski se huis in Londen was, het sy en haar ma en Wena juis Harrods toe gegaan om parfuum te koop.
Haar gedagtes draai loom om Londen. Sy ken die plek immers van babatyd af. Toe die bomme val, was sy saam met haar ma en mevrou Shavinski en later haar pa in die Morrison-skuiling in die sitkamer van die skakelhuis in Lisson Grove. Sy onthou dit met ’n ontstellende klaarheid.
Maar sy moet ophou om aan daardie huis as mevrou Shavinski s’n te dink. Die plek is aan háár nagelaat deur dié Joodse dame by wie haar ma tydens die oorlog gebly het. Vreemd. Sy wat Debora Schlagerfeldt is, besit ’n smal drieverdiepinghuis in Londen. Die gedagte laat ’n handvol herinneringe los. Vandag moet sy aan lekker dinge dink. Goed wat suiwer genot bied. Soos parfuum koop in Harrods. ’n Bietjie hedonisties, sou haar pa wel spot. Maar iets wat veral sy en haar ma uit hul hart geniet.
Dis juis tydens een van hul Julievakansies in Engeland dat sy onherroeplik verlief geraak het op die parfumeur Dana se Tabu. Die stylvolle vrou agter die toonbank het haar met haar destydse poniestert op en af gekyk en so ewe laat val: “This, young lady, is an avant-garde perfume for the independent and unpredictable woman.”
“Wel, ék hou daarvan,” het Debora op Afrikaans laat val, die vroulike, vars geur ingeadem en toe neus in die lug laat hoor: “A woman who doesn’t wear perfume has no future. Coco Chanel said that.”
Dit was een van vele onvergeetlike vakansies wat hulle oorsee gevlieg het. Soos baie ander Britse somervakansies was hulle as gesin saam in mevrou Shavinski se huis. Dit was ’n ongewoon warm somer en hulle almal, tot haar ernstige pa, was vrolik. Hulle het ’n paar maal probeer om ’n wintervakansie daar deur te bring maar Wena en Ewert het so gekerm oor die nattigheid en die koue dat haar pa summier besluit het nie gou weer nie. Van toe af het hulle sommige Juliemaande soontoe gegaan.
Verlede jaar was sy wel vir ’n korte week in Londen maar Wena en Ewert het verpligtinge gehad wat hul vakansie in Engeland in die wiele gery het. Sy skat dit sal moontlik van nou af beter gaan want sy kan immers sorg dat sy Juliemaande verlof kry.
Die Londense huis word al jare deur die bure opgepas. Teen ’n fooi, natuurlik. Gawe meneer en mevrou Dunworthy en hul enigste seun Freddy, wat aan Cambridge sielkunde studeer.
Eintlik wens Debora dat sy ’n slaggie alleen soontoe kan gaan. Haar huis vertrek vir vertrek kan verken sodat sy haar stempel daarop kan afdruk. Sy onthou die ou Joodse dame wat dit aan haar nagelaat het, mevrou Shavinski, so goed. Sy weet sy was die kind wat die oumens nooit gehad het nie. Vandat sy heel klein was, ken sy die Shavinski-huis, soos wat hulle gesin die plek daar in Lisson Grove steeds noem. Tydens die Tweede Wêreldoorlog en daarna het sy dikwels saam met haar ouers daar gekom. Veral toe sy piepklein was, moes sy en haar ma noodgedwonge daar woon want haar pa was toe nog in Frankryk as Britse agent besig om die Franse Résistance te help. Hy praat nou nog nie maklik oor daardie tyd nie. Sy weet hy het tydens een van sy missies vermis geraak, was voortvlugtend en is in ’n skermutseling met die vyand gewond. Baie maande het verloop voordat hy per boot vanuit Le Havre na Portsmouth kon ontvlug om vir die eerste maal sy dogter te sien.
Debora onthou ook die oorlog helder, want teen die tyd dat dit opgehou het, was sy al ’n opgeskote dogtertjie. Sy sien dit in los beelde, soos in swart-en-wit films met ’n klankbaan wat so werklik is dat sy soms ril daarvan. Ook ander prente wat haar verbeelding seker uit haar geheue laat loskom. Byna soos ’n voorprent wat net flitse van ’n storie wys. Sy onthou die gehuil van die sirenes, die gefluit van die bomme, die benoud kleine Morrison-skuiling in hul beknopte woonstel naby Guy’s Hospital nadat haar pa van die oorlogswond herstel het en sy werk as dokter kon voortsit. Dan was daar mevrou Shavinski se Morrison-skuiling waarin hulle meermale tydens ’n kuier moes koes as die sirenes begin skree.
Genadiglik