Elf dae in Parys. Elizabeth Wasserman

Читать онлайн.
Название Elf dae in Parys
Автор произведения Elizabeth Wasserman
Жанр Детская фантастика
Серия
Издательство Детская фантастика
Год выпуска 0
isbn 9780624077459



Скачать книгу

rapsodieë?

      Ouma Hebs luister gewoonlik na klassieke musiek in haar motor, en die rapsodieë is ’n gunsteling. “Klassieke musiek is nie net kerkmusiek nie, Emma!” sê sy gewoonlik voor sy die volume opdraai totdat die binnekant van haar motortjie wil bars van al die onstuimige klanke.

      Die rapsodieë is oorspronklik geskryf vir klavier, maar nou word die deuntjie gespeel op ’n enkele viool, en dit kom van iewers agter ’n groep omstanders aan die voet van die Pont des Artes. Hulle loop nader. Emma moet op haar tone staan om oor die koppe te sien.

      Die vioolspeler is ’n meisie. Sy sit kruisbeen, kiertsregop, met haar gesig gekantel na die son. Sy dra ’n kimono van grys sy, geborduur met rooi drake. Haar oë is toe. Haar blinkswart hare is in ’n rol op haar kop gestapel, met ’n paar slierte wat langs haar wang af hang. Sy wieg liggies op maat van die musiek en die strykstok in haar regterhand blits soos ’n hommelby oor die snare.

      Skielik maak sy haar oë oop en kyk reguit na Emma. Vir ’n oomblik voel dit vir Emma asof sy ’n paar sentimeter bo haar skoene gelig word om bo die sypaadjie te sweef. Is dit net die effek van die musiek op ’n Sondagmiddag in Parys, of is daar ’n vreemde betowering in die vioolspeler se donker oë? wonder sy verward.

      Die meisie hou op speel en laat sak haar kop. Die oomblik is verbreek. Die klein skare klap entoesiasties hande. Die hopie munte in die vioolkassie voor haar op die sypaadjie groei vinnig.

      Kevin trek aan Emma se mou. “Kom, ons raak agter!”

      Die vioolspeler begin met ’n nuwe deuntjie wat Emma nie herken nie. Sy sukkel om haar los te maak van die betowering van die musiek. Kevin het ook ’n salige uitdrukking op sy gesig, asof ’n stukkie van die hemel vir hom gewys is.

      Die deuntjie volg hulle soos hulle agter meneer Thompson en Tombi aan stap.

      Die Musée d’Orsay

      Die Musée d’Orsay troon bo die linkeroewer van die rivier uit, ’n manjifieke klipgebou vol tierlantyntjies, met boogvensters wat oor die Seine uitkyk en twee yslike horlosies in die gewels. Die ingang is vanaf ’n plein aan die sykant naaste aan die Eiffeltoring, en ’n lang tou mense ryg tussen standbeelde deur om toegangskaartjies te koop.

      Meneer Thompson het reeds vir hom ’n kaartjie op die internet gekoop en toegang is gratis vir skoliere, dus hoef hulle nie in die ry te staan nie. Hulle stap deur ’n dubbele glasdeur en sluit aan by die ry wat deur sekuriteit beweeg: ’n metaalverklikkerhek en ’n wag wat almal se handsakke en rugsakke deursoek.

      “Hou asseblief dié vir my, net vir ’n rukkie,” fluister Tombi.

      Emma voel hoe die ritssluiter van haar rugsak oopgetrek en iets ingedruk word. “Wat is dit?” vra sy vies, maar dan is sy by die sekuriteitswag.

      “Votre sac au dos, mademoiselle. Your backpack, please!”

      Sy haal haar rugsak af en hou dit na hom toe uit. Hy beduie sy moet dit voor hom op die tafel oopmaak. Sy sidder. Wat het Tombi daarin gestop? ’n Sak dwelms? ’n Masjiengeweer? ’n Kannetjie spuitverf om een van die beroemde kunswerke mee te verrinneweer?

      Maar al wat sy kan sien, is haar reënbaadjie, haar beursie en haar sambreel. Die wag waai haar met ’n verveelde gebaar deur die elektroniese hek.

      Tombi het niks by haar gehad nie, en sy het reeds agter Emma se rug deur sekuriteit geglip. Nou is daar geen teken van haar nie.

      Meneer Thompson wink Emma nader. “Ek het reeds vir die ander gesê dis die beste dat elkeen maar sy eie koers inslaan, hier’s soveel om te sien. Dis nou amper halfvier en die museum maak toe om sesuur. Kom ons kry mekaar vyfuur hier in die voorportaal, dan is daar nog tyd om vir mekaar ons hoogtepunte te wys. Hier is heeltemal te veel werke om alles op een slag in te neem.”

      Hy druk ’n kaart van die museum in haar hande. “Die belangrikste items is hierop gelys. Kies jou gunstelinge en vind hulle. Of volg jou neus en dwaal sommer net rond.”

      Met ’n wuif kry hy koers tussen die mense deur. Emma is skielik alleen in die skare. Sy kyk rond of sy Tombi en Kevin gewaar, maar verniet.

      Haar rugsak voel effens swaarder. Wat sou Tombi daarin versteek het? Sy maak dit oop en voel daarin. Haar vingers vind iets kouds. Sy lig dit uit die voue van haar baadjie: ’n glaspot vol heuning.

      Iets ritsel naby haar. Sy voel ’n kriewelrigheid langs haar ruggraat afgly. Hou iemand haar dop? Maar om haar bondel net toeriste wat hulle nie aan haar steur nie, elkeen besig met sy eie ding.

      Sy bekyk die fles. Dis doodgewone heuning soos wat jy by ’n supermark of plaasstalletjie sou koop. Die etiket lees: Ratel-vriendelik/Protect the African Honey Badger.

      Sy glip dit terug in haar sak en trek die ritssluiter toe. Wat op aarde maak Tombi met ’n pot heuning in Parys? En hoekom dit in háár rugsak wegsteek?

      Nog ’n keer voel sy ’n roering agter haar en sy swaai om. Sy kry die reuk van iets wat nie in ’n museum hoort nie, iets wat haar herinner aan mos, klam woude en verrottende blare. Maar sy sien niks vreemds nie.

      Sy skud haar skouers vererg en val agter die mense in wat koers kry na die binneruim van die museum. Die gebou was oorspronklik ’n treinstasie, het meneer Thompson vertel, en die oorspronklike ontwerp is nog sigbaar. Die yslike sentrale saal is omring deur vyf vlakke, nou gevul met van die wêreld se belangrikste kunswerke. Duisende mense besoek daagliks die beroemde museum en bring saam met hul warm asems ook stof van die strate af, walms parfuum, kathare in hul serpe, kieme en dalk selfs ’n paar vlooie … maar die geur van bos? Dit moes haar verbeelding gewees het.

      Sy stap deur groot glasdeure en bevind haar in die sentrale saal. ’n Breë loopgang word omsoom deur ’n uitstalling van marmerbeelde. Sy kyk op na die glaskoepel hoog bo haar kop. Dit omsluit die binneruimte van die museum in ’n wêreld van sy eie. Waar sou die twee horlosies wees? Van die straat af kon sy mense agter die enorme glasgesigte sien beweeg. Sy besluit om later na die boonste verdieping te gaan vir ’n uitsig oor die Seine en die besige strate van Parys.

      In die eerste sysaal is ’n uitstalling van ou olieverfskilderye. Sy dwaal van een na die ander en geleidelik begin tyd vir haar stadiger tik, totdat sy heeltemal vergeet van die stad daar buite. Die kunstenaars het deur die eeue die hele spektrum van menslike ervaring vasgevang. Daar is ’n troppie skape wat in die somer teen die helling van ’n heuwel wei; daar is skepe wat aankom in vreemde lande; mense wat fees vier; desperate ridders wat in onherbergsame landskappe verdwaal.

      Sy het nooit geweet kuns kan só wees nie! Van die skilderye is vol simboliek: slange en kastele en kaal kindertjies, ander is abstrakte pogings om vorm te gee aan diep emosies. Dit voel vir haar of al haar sintuie verskerp, of haar hart swel totdat dit vlak onder haar vel klop.

      Die mense om haar praat fluisterend en beweeg van kunswerk tot kunswerk asof hulle op wolke trap. Sy verwonder haar aan die Franse kultuur – die mense hier neem kuns sowaar ernstig op. ’n Groepie kinders sit plat op die vloer en luister na hul onderwyser wat die betekenis van ’n skildery verduidelik, hul verwonderde gesigte so anders as dié van kinders wat sit en televisie kyk. Aan die oorkant van die saal sit ’n meisie wat ’n standbeeld skets, seker ’n kunsstudent.

      Emma dwaal voort, van een sysaal na die volgende. Sy lees die kort beskrywings langs elke skildery: eers in Engels, dan in Frans. Sy is mos hier om haar Frans te verbeter.

      Dis toe sy weer die museum se hoofgang kruis dat sy hom sien. Hy sit met sy rug na haar, sy kop geboë oor ’n sketsboek. Sy het hom net vlugtig ontmoet, maar die regop houding, die effens te lang hare, daardie sterk profiel … is dit Luc van Chez Flaubert?

      Ontmoeting met ’n sater

      Sy