Elf dae in Parys. Elizabeth Wasserman

Читать онлайн.
Название Elf dae in Parys
Автор произведения Elizabeth Wasserman
Жанр Детская фантастика
Серия
Издательство Детская фантастика
Год выпуска 0
isbn 9780624077459



Скачать книгу

wat meer as tweehonderd jaar gelede na die Kaap gevlug het. Haar ouma se nooiensvan was Viljoen (Villion in Frans) en haar ma se nooiensvan was Labuschagne, ook van Franse oorsprong. Tog is Europa vir haar vreemd, sy voel geen verbintenis met die kontinent nie.

      Haar bloed is eintlik Europees, en dis blote toeval dat sy in Afrika gebore is. As haar voorsate nie hier weggedryf is deur oorloë nie, kon sy daardie meisie in die donkergrys Renault skuins voor hulle gewees het, die een wat nou haar laaste stukkie huiswerk voor skool sit en doen.

      “Ja, die diaspora. Ons al twee kom van ver af …” sug Tombi.

      Juffrou Lategan se volgende lesing onderbreek hulle gesprek.

      “Frankryk is een van die mees burokratiese lande in Europa, tog laat die Franse hulle nie maklik deur enige reël bind nie. Daar is byvoorbeeld nie ’n enkele parkeermeter in Parys nie, en ook geen spoedbeperking nie. Jy kan teen honderd kilometer ’n uur in die Champs-Elysées af jaag, solank jy net nie ’n ongeluk maak nie.”

      “Vryheid, gelykheid en broederskap!” roep Kevin.

      Hy kry ’n Lategan-glimlag vol pienk tandvleis vir sy slimheid, en Emma moet ’n geïrriteerde kreun onderdruk.

      Chez Flaubert

      Geleidelik begin die stad vorm aanneem om hulle. Die woonstelblokke van beton verander in ’n landskap wat Emma herken as die Parys van foto’s en tydskrifte: spits dakke met stomp nokke en uitgeboude venstertjies. Die kleur van die geboue smelt saam tot dowwer skakerings en hulle word ouer, mooier. Die groenigheid raak meer: sy sien ’n laning hoë bome in ’n straat wat na links uitdraai, en baldadige pienk malvas op die vensterbanke van ’n gebou met balkonrelings van gekrulde yster.

      Sy kyk nuuskierig na die voetgangers op die sypaadjies. Hoe is hulle anders as die mense by die huis?

      “Daar’s die Eiffeltoring!” roep iemand uit.

      Almal krink hulle nekke om beter te sien. Vir Emma lyk dit kleiner en verder weg as wat sy verwag het.

      Hul gastehuis is op die linkeroewer van die Seine, skuins agter die Notre Dame, in die buurt van die Sorbonne Universiteit. Die straatjies word al nouer, en eenrigtingverkeer maak dat die bus al in die rondte moet ry voordat die bestuurder die regte plek vind.

      Hulle bondel uit terwyl die onderwysers links en regs instruksies gee. Tasse word op die sypaadjie neergeplak, tot konsternasie van die voetgangers.

      “Pardon! Pardon! Excusez-moi, monsieur!” piep juffrou Lategan toe sy ’n man in ’n donker jas met een van haar hoëhakskoentjies pootjie.

      “Madame, vous êtes folle!” sê hy vererg, maar struikel oor Clarissa se neongroen grimeertassie.

      “Kyk waar jy loop!” snou sy hom in goeie Afrikaans toe en gryp die kosbare tassie onder sy voete uit.

      Die harwar op die sypaadjie spoel uit in die straat en verkeer begin ophoop. Toeters blaas. ’n Rooi verniste deur gaan oop in die gebou langsaan.

      “Bonjour, tout le monde!” roep ’n vrolike stem. “Hierdie kant toe! Kom binne!”

      ’n Aantreklike blonde vrou hou die deur oop en waai almal met groot gebare by die gebou in. “Tout de suite!” por sy.

      “Dit beteken maak gou,” vertaal die rugbyspeler en glimlag sy een-mondhoek-glimlag vir Emma.

      “Ek weet. Ek leer ook Frans,” brom sy terug.

      Sy naam is Hein, sien sy op sy naamkaartjie. Hein-gee-my-’n-pyn, dink sy en lag vir haar eie gedagte. Hy dink sy lag vir hom en knipoog koketterig terug.

      Dit kos stamp en stoot om almal in die klein voorportaal in te pas. Meneer Thompson tel die koppe. “Is almal in? Ons moet een-en-twintig wees. Staan stil! Ons kort ’n kop!”

      “Hy’t vergeet om homself te tel,” fluister Tombi vir Emma.

      Emma giggel.

      Die vrou loer uit om seker te maak al die bagasie is binne, dan maak sy die deur agter hulle toe. Die straat se lawaai word afgesny, maar die groep maal en rumoer steeds wanordelik.

      “Silence!” bulder sy met ’n verbasend harde stem.

      Almal bly stil. Net voete en bagasie skuif nog op die klipvloer rond.

      “Ek is madame Flaubert,” sê die vrou in vlot Afrikaans, gekleur met ’n sweem van ’n Franse aksent. “Julle is twee-twee in kamers ingedeel. Ek gaan die name aflees en die sleutels aan julle oorhandig. Neem dan die trappe en gaan bêre alle bagasie in julle kamers.”

      Meneer Thompson hou sy hand op. “Ons gee julle so ’n halfuur om julleself uit te sorteer. Dan ontmoet ons weer in die voorportaal presies om twaalfuur. Ons eet middagete hier by Chez Flaubert en daarna sal ons die middag se program aankondig.”

      Emma het gemengde gevoelens toe haar naam saam met Tombi s’n gelees word. Maar eerder Tombi as kamermaat as Clarissa. Hulle kamer is op die vyfde vloer.

      Sy bekyk die nou trap wat na bo wentel, en die hysbak omtrent so groot soos ’n doodkis wat op sy kant staan, en begin haar tas teen die trap op sleep. Gelukkig het sy lig gepak: ’n ekstra paar jeans, twee kortbroeke, ’n stapeltjie hemde en ligte rokkies. Sy het ’n weerapp op haar foon afgelaai: hoë temperature en humiditeit word vir die volgende week in Parys voorspel.

      Tombi se groot, outydse tas stamp swaar teen die houttrap.

      “Wat het jy in jou tas?” vra Emma oor haar skouer.

      “Dis nie ’n tas nie, dis ’n koffer. En dis vol … boeke.”

      “Vir wat?”

      “Ek hou van lees.”

      “Het jy nog nie van e-boeke gehoor nie?” vra Emma.

      Sy is dadelik spyt dat sy so bitsig klink. Tombi kan mos in haar koffer pak wat sy wil. Teen die derde vloer is sy ver agter, en toe Emma aankom by die ingangsportaal wat na die vyfde vloer lei, parkeer sy haar tas en draai terug om te gaan help. Haar asem hyg self van die steil trappe.

      Die hysbak se skag is in die middel van die wenteltrap en sy kan stemme daarin hoor soos wat dit opstyg boontoe. “Ek’s jammer, maar hierdie hysbak is so knap!” giggel ’n vrou.

      Emma wil lag. Dis sowaar die Lategan wat haarself saam met meneer Thompson in die hysbak ingedruk het! Toe sy die uitdrukking op Tombi se gesig sien, bars hulle al twee uit van die lag.

      “Sjjtt,” beduie Tombi. “Hulle kan ons hoor.”

      Emma vat die swaar koffer by haar. “Dit gaan ’n baie interessante vakansie wees.”

      “Dis vir seker!” Tombi hyg asof sy enige oomblik aan asma gaan beswyk. “Ons gaan nog allerhande drama beleef.”

      Hulle kamer is nie te sleg nie. Daar is twee enkelbeddens met donsige duvets, en tipiese Franse vensters wat oopmaak op ’n piepklein balkonnetjie. Hulle stap dadelik uit om die uitsig te bewonder. Die straat lê nou ver onder hulle. Effens verder af is ’n kruidenier, met die helder kleure van lemoene en tamaties wat uitspoel na die sypaadjie.

      Tombi leun oor die balkon se ysterreling om beter te kan sien. “Die dakke is die mooiste.”

      Emma knik. Dit is waar: die dakke van Parys is pragtig. Dit vorm ’n digte landskap van skuins grys staalplate met rye skoorsteenpotte en spatsels kleur waar malvas op vensterbanke groei. Wasgoed wapper op ’n balkon. ’n Daktuintjie loer skuins onder hulle uit, ’n onverwagte groen oase teen die staalgrys lug.

      Sy sug van verwondering. “Die plek is sowaar ’n prentjie.”

      Tombi glimlag net. Haar oë blink by die gedagte aan nadere kennismaking met die strate van Parys.

      Emma