Elf dae in Parys. Elizabeth Wasserman

Читать онлайн.
Название Elf dae in Parys
Автор произведения Elizabeth Wasserman
Жанр Детская фантастика
Серия
Издательство Детская фантастика
Год выпуска 0
isbn 9780624077459



Скачать книгу

is in twintig arrondissements, oftewel administratiewe buurte, opgedeel,” verduidelik meneer Thompson en druk met sy vinger op die kaart. “Ons bly in die vyfde arrondissement, wat ’n goeie keuse is omdat dit so sentraal is. Dit word ook die Latynse Kwartier genoem. Met die Sorbonne hier is dit ’n lewendige distrik vol studente.”

      “Wat is dit daai?” Emma wys na ’n ivoorkleurige koepel wat bo die bome en geboue uittroon.

      “Dis die Panthéon,” sê meneer Thompson. “Ons moet tog ’n tydjie afknyp om dit te besoek.”

      “Is die Panthéon nie in Griekeland nie?”

      “Die ou gebou in Athene waaraan jy seker dink, word die Parthenon genoem. Daar is ook ’n Pantheon in Rome. Die naam kom uit Grieks: ‘pan’ beteken ‘alles’ of ‘almal’, en ‘theon’ verwys breedweg na gode of sleutelfigure van ’n sekere groep. Dit word dus nie aan ’n spesifieke geloof gekoppel nie.”

      Emma luister net met ’n halwe oor na sy lesing, daar’s te veel interessante dinge om haar. Die strate is vol lewe. Die hele buurt wemel van toeriste, studente en boekwinkels.

      “Die Panthéon hier in Parys is meer modern,” gaan meneer Thompson voort, “dis eers in die agtiende eeu gebou. Daar hang ’n groot pendulum vanuit die koepel wat die aarde se rotasie aantoon. Victor Hugo, madame Curie, Voltaire en ook Jean-Jacques Rousseau is in die kelder begrawe.”

      Emma frons. Grafte? Nee dankie!

      Sy wil-wil vashaak by ’n sypaadjieuitstalling van spotgoedkoop tweedehandse boeke, maar meneer Thompson protesteer: “Nie nou nie, Emma!”

      Dan, skielik, is die Seine voor hulle. Die rivier vloei vol en breed. Verkeer en voetgangers stroom oor die breë brûe wat die oewers verbind. Bote met troppe toeriste vaar op en af, en ’n vragskuit vol skeepshouers blaas sy mishoring voor dit onder ’n brug deur verdwyn.

      “Ek het nooit besef alles in Parys is so groot nie,” sê Tombi. “Kyk, daar’s die Notre Dame!”

      Die beroemde kerk met sy twee vierkantige torings verrys oorkant die rivier. Hulle stop en kry ’n staanplek langs die besige sypaadjie om eers mooi daarna te kyk.

      “Wat ’n manjifieke voorbeeld van Frans-Gotiese argitektuur,” sê meneer Thompson.

      Emma sug innerlik. “Ek weet, ek het die fliek gesien.”

      “Jy bedoel die Walt Disney-suikerklontjie waarin Esmeralda op die ou end haar prins kry?” sê Tombi verontwaardig. “Dis glad nie soos Victor Hugo die verhaal geskryf het nie.”

      Emma steek haar verbasing weg. Het Tombi sowaar die oorspronklike weergawes van al die klassieke Franse boeke gelees?

      “In die ware The Hunchback of Notre Dame,” verduidelik Tombi, “verraai Esmeralda se eie ma haar, darem per ongeluk. Sy word tereggestel en die soldaat op wie sy verlief was, word doodgeskiet.”

      “En die bokkie?”

      “O, hy ontmoet seker ’n mooi prinses-bokkie en leef lank en gelukkig,” spot Kevin.

      “Dis letterkunde, Kevin,” raas Tombi, “nie sprokies nie.”

      “Kom, kom,” onderbreek meneer Thompson hulle. “Die museum is nog ver en daar’s baie te sien.”

      Emma loop onwillig agterna. Sy wil kort-kort by een van die straatverkopers vassteek om na die fantastiese versamelings ou boeke, foto’s en poskaarte van Parys te kyk. Die stalletjie-eienaars sit en speel skaak onder die bome of gesels oor klein koppies swart koffie. By feitlik elkeen se voete lê ’n hond opgekrul en slaap. Dit laat haar aan Willem dink en sy verlang sommer na hom.

      Aan die lamppale is kleurvolle plakkate wat die Festival de l’Inspiration des Arts adverteer. Sal hulle darem iets van die fees te siene kry? wonder sy. Eensklaps rol die towerspel van hierdie tydlose stad soos ’n onsigbare wasem vanuit die Seine op haar af en voel sy baie bly dat sy gekom het.

      “Net om hier te wees!” roep Tombi uit asof sy Emma se gedagtes kan lees. Sy strek haar arms wyd, lig haar gesig na die warm somerson wat tussen die wolke uitloer en draai ekstaties in die rondte.

      Emma lag. Ja, mens kan verdrink in die blote … Parysheid van die plek.

      “Die bome,” sê sy. “Dis sover vir my die heel mooiste van alles hier. Ek het nooit kon droom dat daar sulke hoë bome langs die strate staan nie.”

      “In die herfs word die stad ’n fees van oranje en geel,” sê meneer Thompson dromerig. “Ek het hier gewoon vir twee fantastiese jare voordat …” Maar hy maak nie sy sin klaar nie, draai net die ring aan sy linkerhand stadig in die rondte, sy blik ver weg op die rivier.

      Sy gebaar herinner Emma aan haar ma. Hoe sou dit met haar gaan? wonder sy. Sal haar ouers tyd maak om met mekaar te praat terwyl sy weg is?

      Sy trek haar skouers op. Almal by die huis moet maar vir eers hulle gang gaan. Sy is nou hier, in hierdie wonderlike stad, en dit voel reg. Asof hier iets is wat sy moet vind. Of wat sy moet doen.

      Almal se oumas is nie eenders nie

      Emma se selfoon biep.

      Die Orsay is die beste, Hebsodemmatjie. Moenie Van Gogh se La Nuit Étoilée mis nie, dis op die vyfde vloer.

      Ouma Hebs se boodskap laat haar glimlag. Vir ’n ouma is sy sowaar koel. En dis net haar ouma wat die verkleinwoord van haar hele, verskriklike doopnaam gebruik – Emma is immers na haar vernoem.

      Dan tref iets haar: Hoe weet ouma Hebs dat sy op pad is na die Musée d’Orsay? Is daardie Van Gogh werklik in die museum, of is dit net ’n raaiskoot?

      Sy draai na meneer Thompson. “Meneer, die werke van Van Gogh …”

      “O, daar’s verskeie in die Orsay,” val hy haar in die rede. “Die mooiste vir my is sy ‘Nag onder die sterre’. Die manier hoe daardie man met verf gewerk het!”

      Dan is dit so, dink Emma, die skildery is daar. Dit beteken afstand beïnvloed nie ouma Hebs se buitengewone vermoë om altyd te weet wat in haar lewe aangaan nie, asof haar ouma haar gedurig op een of ander magiese radarskerm dophou.

      Of dalk is dit geen geheime krag nie, bloot moderne tegnologie? Haar foon is altyd ingeskakel op ’n satellietdiens waarmee sy opgespoor kan word in ’n noodgeval – haar pa dring daarop aan. Maar sy twyfel of ouma Hebs eens daarvan sal weet. Dis nou nie asof haar ouma al die “foefies”, soos sy dit noem, op ’n slimfoon goed verstaan nie.

      Sy kyk na die instellings op haar foon. Die location tracking is inderdaad af; sy het dit nog nie weer aangeskakel nadat hulle in Parys geland het nie. Dit voel nog so onwerklik om hier te wees. Ag wat, sy sal haar anderdag weer verwonder aan ouma Hebs se vreemde talente. Sy prop die foon terug in haar rugsak.

      Iets tussen die sypaadjie se keistene trek haar aandag en sy steek vas. Dis ’n ysterdeksel soos dié wat gebruik word om ’n mangat toe te maak. Sy herken dadelik die patroon daarop: dit lyk nes Luc Flaubert se lapelwapen. Wat sal ’n lapelwapen nou met ’n mangatdeksel te doen hê? wonder sy.

      Dan sien sy die ander is reeds ver voor haar. Sy sal moet draf om hulle in te haal. Parys laat nie op haar wag nie!

      Die vioolspeler op die brug

      ’n Effense trilling in die lug, asof ’n wolk elektrisiteit in haar rigting sweef. Emma voel die musiek nog voor sy die note kan uitken. Kevin steek ook vas en draai sy kop skeef, soos ’n hond wat sy baas in die verte hoor fluit.

      Die suiwer vioolklanke ryg deur die kombers van lawaai wat die stad oordek.