Kruispad. Deon Opperman

Читать онлайн.
Название Kruispad
Автор произведения Deon Opperman
Жанр Контркультура
Серия
Издательство Контркультура
Год выпуска 0
isbn 9780624071433



Скачать книгу

hy vreemde dinge met sy kontrole vind, dit hom niks sou help om dit uit te wys nie.

      Andries het ’n lekker ritme ontwikkel met die afdruk van die stempels en is effens geïrriteerd wanneer een van sy kollegas, Hugo, skielik by die kantoor instap en op die stoel voor Andries se lessenaar gaan sit.

      “Hoe lyk ’it, Dries, het jy al besluit?”

      “Wat besluit?”

      “Gaan jy ry of gaan jy bly?”

      “Ek bly net hier waar ek is.”

      “Drie manne in my divisie het reeds pakkette gevat – en ek is een van hulle.”

      Andries kyk op na Hugo. Dit is stil in die vertrek, met net Andries se stempeldrukkery wat onverpoosd voortgaan.

      “Jy maak ’n fout,” sê Andries ná ’n ruk.

      “Nee, jy maak ’n fout. Dis nou of nooit. Die golden handshakes gaan nie vir ewig aanhou nie. Vat wat jy kan terwyl jy nog kan.”

      “En as jy daardie pakket geblaas het … wat gaan jy dan maak?”

      “Ek en George gaan ’n partnership begin – presies wat ons nou doen, en dan lewer ons dieselfde diens aan die munisipaliteit, maar vir privaat geld.”

      “So maklik soos dit.”

      “Jy kry nie ’n diploma of ’n graad net omdat jy kan stem nie. Jy hoef net slim genoeg te wees om ’n kruisie te kan trek. Om ons jobs te doen, moet jy kan lees en skryf, en ’n bietjie expertise in jou gatsak hê. En dit gaan hulle altyd nodig hê. Ons gaan dit teen premium aan hulle verkoop. Wil jy ons join?”

      “Dankie vir die aanbod, Hugo, maar ek gaan nêrens nie.”

      “Jy maak ’n fout.” Hugo probeer sy teleurstelling verberg, maar weet hy praat met ’n muur.

      “Ek wens julle die beste toe. As jy my soek, sal jy weet waar om my te kry.”

      Hugo staan op.

      “Die aanbod staan tot die einde van die maand.”

      “Dankie, maar nee dankie.”

      “Moenie sê ek het jou nie gewaarsku nie.”

      Andries maak ’n klein gebaar met die hand, ’n soort oorgee van sy boedel. Dis in elk geval hoe Hugo die gebaar interpreteer, en hy stap uit.

      Andries bly agter, die stempel en tenderdokumente vir eers vergete. Hugo se woorde begin by hom insink. Hy vryf stadig aan sy ken. Hy wat Andries is, sal hulle wys.

      Frik se kantoor is in die middestad van Pretoria. Die gebou is in die jare sewentig opgerig deur ’n konsortium wat baie goeie verbintenisse met ’n verskeidenheid van staatsdepartemente gehad het. Huurders soos Frik en sy maatskappy was gerieflik byderhand wanneer netelige kwessies bespreek moes word. ’n Verskeidenheid van restaurants in die omgewing het die sosiale omgang met ’n DG of twee asook ’n hele klomp senior amptenare baie maklik gemaak. Die beroemde Belgiese restaurant La Madeleine was gerieflik naby – die heel beste manier waarop ooreenkomste beklink kon word.

      Maar daardie geil dae is vir Frik net ’n aangename herinnering wanneer Albert hom vir die soveelste keer op kantoor kom spreek oor die pad vorentoe. Albert is al lank in die land – ’n finansiële raadgewer en ouditeur met meer aktuariële ondervinding as wat die meeste van sy eweknieë het – en boonop het hy sy oor goed op die grond. Wat hy die afgelope weke hoor, het maar net die dinge bevestig waarteen hy Frik al voor 27 April gewaarsku het. Hy is vandag hier om Frik te verwittig van ’n tender wat hulle verloor het. “Dis waarvoor ek bang was,” sê hy, sy neus in die dokumente op Frik se tafel.

      Frik is kriewelrig. Ongemaklik oor die nuus. Hy het van sy gebruiklike pos agter die skip van ’n lessenaar opgestaan en staan nou soos ’n gekruisigde met sy arms teen een van die groot venster uitgestrek. “My magtag, Albert, dis nie die eerste tender wat ons nié wen nie en dit sal ook nie die laaste wees nie.”

      “Maak die som, Frik: Die ouens met wie ons in die verlede by hierdie departement gewerk het, het almal pakkette gevat. Ons werk met nuwe mense daar en die eerste tender wat ons vir hulle indien, verloor ons.”

      “Een gebeurtenis is nie ’n patroon nie. Jy weet genoeg van statistiek om dit te weet.” Hy staan steeds teen die ruit, staar uit oor die stad wat hy so goed ken maar volgens Albert nou ’n vreemde plek vir hom word.

      “Daarmee stem ek saam,” sê Albert, “maar ingeval dit wel ’n aanduiding is van hoe dinge in die toekoms gaan wees, stel ek voor ons dank nou een of twee van die werkspanne af voor ons oorhoofse koste begin dra waarvoor ons nie inkomste het nie.”

      Frik draai om. Hy laat sak sy arms. Sy werkspanne is sy krag. “Buite die kwessie,” sê hy. “Daar is mense in daardie spanne wat al jare lank vir my werk … wit en swart. Ons kan hulle nie wegstuur net omdat ons een tender verloor het nie.”

      “Gaaf. Dis jou besluit. Miskien is jy reg; miskien is dit net ’n toeval. Maar ek wil jou dit sê: Al wat ek hoor in elke gang waar ek stap, is affirmative action.”

      “Dis wat hulle móét sê om die gepeupel gelukkig te hou.”

      Albert kyk na die dokumente voor hom. Hy sug diep. Agter hom het Frik weer omgedraai, die netjiese wit hemp en sydas wat hy altyd dra helder kaatsend in die ruit, en strek sy arms weer omhoog sodat hy hom gerieflik teen die glas kan stut.

      In Oktober 1994 bestaan die pakt wat FG en Henk jare sal bind nog nie. Hulle is bloedneefs, maar nie voëls van eenderse vere nie. Henk het die jaar meer tyd agter sy boeke deurgebring as wat hy gedink het ooit moontlik sou wees – en geen tyd op die rugbyveld nie. Die onderwysers het geknor, maar hy was horende doof. Henk dink aan sy toekoms, soos nou – op die Saterdag – weer die geval is, twee weke voor hy sy matriekeksamen moet skryf. Dit is agter sy lessenaar, handboeke voor hom oopgevlek en ’n skryfblok vol aantekeninge daarnaas, dat FG en Riaan hom aantref.

      FG slaan die boek toe waaruit Henk werk. “Genoeg, swaer, genoeg! Jy los nou hierdie boeke en kom saam met ons.” Kaatjie van die baan.

      “Sorrie, boys, maar ek kan nie.” Henk lyk bedroef. “Wat soek julle hier anyway? Oor twee weke begin ons skryf.”

      “Jy kan nie twaalf uur ’n dag swot nie, veral nie op ’n Saterdag nie.” Riaan praat met die sekerheid van ’n bioloog. “Ná ses uur is jou brein in elk geval muf.”

      “Wat jy waar hoor?”

      “Iewers gelees.”

      Die manier waarop hy dit sê, laat Henk sy neus optrek asof hy iets stinks geruik het. Hierdie manne is lus vir leeglê, dit weet hy. Hy bars uit van die lag.

      FG haal ’n kar se sleutel uit sy sak en swaai dit tussen sy vingers voor Henk se neus. “My ma se kar. Ons gaan by die dam braai en jy kom saam. Riaan het die bier gescore en ek het die vleis. ’n Klomp van die ander ouens gaan ook daar wees.”

      “Ek sou graag wil, maar ek kan nie.” Henk klink nie eens vir homself oortuig van sy saak nie.

      “Dis ’n noodgeval,” sê FG aan Riaan. Hulle is op ’n mission. “Ons gaan hom moet help. Kom my nerd-neef, dis party time.”

      Hulle gryp Henk aan albei sy arms en lig hom uit die stoel. Henk protesteer, maar dis tevergeefs. Hulle marsjeer hom uit die kamer uit, motor toe, pret-en-plesier toe.

      Die matrieks het gehoor van die plek, so tien kilo’s oos van Die Wilgers, waarheen vorige jare se matrieks ook uitgewyk het om hulle geestelik te gaan voorberei op die eksamen wat op hande is – met braai, jolyt en ’n bietjie drank. ’n Bietjie baie drank. ’n Soort inisiasie in die grootmenslewe – nog voor die eksamen in alle erns aangepak word. En soos met vorige jare, is daar braaiers en daar is skinkers. Henk wil nie hard drink nie en hou hom besig met die vuurtjies en braai. FG en Riaan gee die pas aan onder die skinkers.

      Die eerste sarsie wors en tjops is al afgehandel toe Henk uit die hoek van sy oog sien hoe FG en Riaan koers kies na Sophia se duur Duitse sportmotor. Hy haal hulle in wanneer