Abel se dogters. Helene de Kock

Читать онлайн.
Название Abel se dogters
Автор произведения Helene de Kock
Жанр Контркультура
Серия
Издательство Контркультура
Год выпуска 0
isbn 9780798168090



Скачать книгу

en niemand dink jy probeer glibberig familiêr wees nie!”

      “Ek … goed, Roald. Want ek het juis ’n punt waaroor ek ernstig voel.”

      “Christelle, natuurlik,” sê hy en vou sy hande rustig voor hom op die lessenaar. Sy staar gefassineer na die skraal, sterk vingers, die goedversorgde, kortgeknipte naels.

      “Natuurlik,” beaam sy gou-gou. “En ek dink jy weet dat dit nie oor haar skoolwerk gaan nie.”

      “Nee, dié is besonder goed. Wat my wel opgeval het, Adelien, is dat Christelle in die laaste tyd besonder emosioneel is. Sy vererg haar gou, huil oor kleinigheidjies …”

      “En swymel oor gedigte,” keer Adelien hom kortweg. “Sy raak bewoë van bewondering as sy die versreël voorlees wat jy vir haar gegee het.” Sy maak plegtig keel skoon. “Roald … sy is hoegenaamd nie opgewasse teen …”

      “Het sy dit al voltooi?” vra hy met rustige belangstelling.

      “Wat?” vra Adelien uit die veld geslaan.

      “Die versreël,” sê hy. “Ek het aan elkeen van die graad twaalfs ’n versreël uit ’n bekende digter se werk gegee. Die opdrag was om die volgende reël te probeer skryf. Sommer net ’n manier om hulle te laat dink. Veral diegene wat nie ooghare vir die poësie het nie. Hulle sing ’n ander deuntjie as hulle eers besef hoe ’n fyn en verhewe kuns dit is. Dis nie sommer vir inspring en …”

      “Roald,” onderbreek sy hom uitasem, “die versreël wat jy vir haar gegee het … ek dink sy neem dit te persoonlik op.”

      “Wat was dit dan?” vra hy met ’n ligte frons. “Ek het net die papiere met die versreëls op uitgedeel. Nie tyd gehad om te sien wie kry wat nie.”

      Adelien se mond word droog. Sy was gek … Sy moes net met Christelle gepraat het. Hierdie man weet van g’n sout of water nie. Hy is nié die soort wat sal vermoed dat skooldogters hul hart op hom verloor nie. Hy dink nie eens aan sulke dinge nie. Sy teug na asem, kry dit reg om skeefweg te glimlag. “Ag toemaar wat, dis nou ook nie so belangrik nie.”

      “Maar dit is,” antwoord hy sag en die donker oë pen haar vas. “As dit jou so gepla het dat jy skool toe gekom het, is dit baie belangrik.”

      Hemel tog, dink sy, sluk swaar. “Wel … dis uit ’n gedig van Jacques Perk. Iets in verband met ’n jong siel wat van haar eie sagtheid onbewus is …”

      “O, dis uit ‘De Bede in ’t Woud’ …” Sy blik vernou skielik. “En jy dink sy …?”

      Adelien knik net, voel haar hart se verleë gefladder teen haar borsbeen. Hy sit opeens agteroor in sy stoel en sy hande vat die armleunings vas. Sy fronsende blik skeer oor die vertrek voordat dit priemend op haar gesig kom rus. Toe sê hy: “Sy is hipersensitief, Adelien. Sy smag na liefde en aandag. Ek weet dit lankal, sien dit lankal, maar het juis die uitnodigings plaas toe aanvaar omdat ek my wou vergewis van wat by die huis aangaan.”

      “Daar gaan niks aan nie!” keer Adelien geraak.

      Roald staan op en loop om die lessenaar voor haar en gaan sit op die punt daarvan. “Jy reageer nou soos ’n moeder,” sê hy saggies. “Dink soos die sielkundige wat jy is. Jou sussie ontbeer al lank die liefde van ’n ouer vrou. Jy woon te ver van haar af om dit te voorsien.”

      Adelien hap na asem. “Wat stel jy voor?” wil sy skerp weet.

      “Niks,” antwoord hy kalm, “ek skets vir jou die situasie.”

      “Ek ken die situasie baie beter as jy!”

      “Natuurlik,” antwoord hy bedaard. “Dan weet jy seker ook van haar teleurstelling met Frans Junior?”

      Adelien staar na hom. “Die Mahlers van Mahlersdrif se seun?”

      “Einste. Sy was blykbaar erg oor hom, maar toe het iets tussen hulle gebeur. Wat dit ookal was …”

      “En … presies wat beteken dit in dié geval?”

      “Haar verwagtinge was miskien nie realisties nie. Christelle het ’n dominerende persoonlikheid en Frans is glo ook nie ’n ou wat hom laat voorsê nie. So beweer ou mevrou Fourie wat langs my woon. Liewe dame, maar sy weet … gewoonlik als.”

      “Ek sien …” adem Adelien stadig. En toe half moedeloos: “Wat nou?”

      “Nou,” glimlag Roald Henning, “moet ek en jy ’n haas uit ’n hoed haal. Christelle is jonk genoeg om te glo wat sy dink sy sien!”

      Hoofstuk 3

      Adelien laai vir Nomsa by die koshuis af, beloof om een aand saam met haar te gaan fliek en sug van verligting toe sy eindelik haar woonsteldeur agter haar toetrek. Sy is by kapot verby. Die rit terug Pretoria toe was lank en die pad besig en vol swaar voertuie. Daarby was die afgelope dae ’n senutoets soos min. Sy en Roald Henning het inderdaad die een spreekwoordelike haas ná die ander uit die hoed gehaal. Maar vir iemand wat nie aan die toorkuns gewoond is nie, was dit nogal moeilik. Om enigeen om die bos te lei, al is die bedoeling hoe rein, was nog altyd vir Adelien haas onmoontlik. Maar dit moes net, troos sy haarself. Al wat sy nou kan hoop, is dat die nuus nie sal trek nie. Dit sal chaos afgee as Henk moet weet wat sy en Roald probeer doen het. Alhoewel Roald juis ewe koeltjies voorgestel het dat sy dié gelukkige man, soos hy na Henk verwys het, deeglik inlig …

      “Kyk die saak staan so,” het Roald daardie dag in sy kantoor aan haar probeer verduidelik, “ek vermoed dat Christelle in haar hart der harte steeds smoorverlief is op Frans Mahler. Dink mooi: sy ken hom mos haar lewe lank. Hy was ’n ruk gelede mos hoofseun, sportman van faam, redenaar par excellence, en so meer. Aan die firmament van hierdie skool was hy ’n groot ster en nou swot hy nog medies ook.”

      “Kom tot die punt,” het sy hom kortaf in die rede geval, maar goed besef waarheen hy stuur. Daarby was sy ergerlik dat hy haar goed vertel wat sy eintlik eerder moes gesnap het.

      “Die punt,” het hy onverstoord voortgegaan,” is dat Christelle haar … e … aangetrokkenheid tot Frans nou op my geprojekteer het. Ek is iemand na wie sy opsien en ek is uit die aard van die saak gedurig in haar nabyheid.”

      Adelien het hom met ’n nadenkende fronsie betrag. “Jy bedoel sy ervaar die verwerping so intens dat sy dit nie eens aan haarself wil erken nie en dus vinnig ’n geskikte plaasvervanger gesoek het?”

      “Een op wie sy haar romantiese hart kan uitstort. Dis so eenvoudig soos dit, Adelien. En dis nie ’n onoplosbare probleem nie. Christelle is eintlik ’n verstandige kind. Op die oomblik ry haar gesonde verstand wel saam met haar hart skoppelmaai, maar as sy eers gedink het oor die saak, sal haar kop weer begin regeer.”

      “En waar pas die haas in?”

      “Wel … die onmoontlike moet gebeur, sien. Tog is dit eintlik maklik. Ek kom môreaand op die plaas aan met ’n bos rooi rose. Vir jou, natuurlik.”

      “Vir my?!” Sy was heel onthuts.

      “Ja. Op die oog af sal ek in jou geïnteresseerd wees. Sommer baie ook. Ek neem jou uit vir ete, ek kuier tot die kaggel se kooltjies pers word en les bes, ek kyk na jou met leepoë.”

      “Ek begryp nie,” het sy moedswillig gekeer.

      “Natuurlik begryp jy, Adelien. Dis dwingend noodsaaklik dat Christelle die boodskap kry dat ’n onderwyser in ’n ander wentelbaan as ’n leerder is. Sy weet dit eintlik, want sy’s reg grootgemaak. Maar sy moet dit sien ook.”

      “Ek weet dit, maar wat jy voorstel is … is nie moontlik nie,” het Adelien floutjies gekeer. “Ek … het ’n verhouding. Wel, op ’n manier …”

      “Ek weet dit ook. Nomsa het vir Anna vertel en Anna het dit suutjies weer aan my huishulp, Maria, oorgedra. Hulle is mos kleinniggies.”

      Adelien het stom gesit, toe onverhoeds begin lag. Juis op die oomblik dat tant Geertjie tee ingebring het. Die vroutjie is bloesend van opwinding daar uit, barstens toe vol