Название | Ena Murray Keur 2 |
---|---|
Автор произведения | Ena Murray |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624068198 |
Sy is totaal onbewus daarvan dat daar minstens een blik is wat nie gefassineer op die swaaiende gestaltes voor hulle rus nie, maar op haar gesig, die oë effens nougetrek, terwyl hy elke ekstatiese gesigsuitdrukking van haar met tevredenheid beskou.
“Hou u daarvan, mevrou?”
Pauli sukkel om haar blik weg te skeur en na haar gasheer op te kyk.
“O, dis … onbeskryflik! Wat sing hulle?”
“Dis die eiland se tradisionele lied, of, soos die groter wêreld dit sal noem, die volkslied. Hulle sing van Hotu Matua, hul aartsvader, en hoe hy eeue gelede van ’n ver land gekom het en op hierdie eiland uitgespoel is en toe ’n eie beskawing begin het.”
’n Oomblik later verskoon hy en professor Islinger hulself en gaan die huis binne om die formaliteite af te handel, terwyl die ander drie agterbly om na die dansers te kyk en na die lied te luister. “O hoi! Te kere te vake te Hotu Matua!” kom dit uit baie kele.
Meteens begin die ritme verander, raak vinniger, hoewel die dralende noot nog hoorbaar bly. En dan staan die dansers soos standbeelde verstom. Toe begin hulle stadig na agter wyk, uit die ligkring van die vure. ’n Oomblik lank wonder die gaste wat aangaan … en dan sien hulle haar …
Soos ’n nimf uit ’n vreemde, onaardse wêreld verskyn sy in die ligkring, haar bewegings soepel, die rooi gloed spelend oor haar volmaakte liggaam, die rooi hare soos lewende rooi drade in die vuurgloed. Dan skeur die tromme se diep, misterieuse slae weer deur die aandstilte terwyl die beeldskone vrou haar arms soos kronkelende slange omhoog bring.
Die drie gaste sit verslae en kyk na die kronkelende liggaam voor hulle, na die donker blik wat onafgebroke op Louw vasgenael is … en dis of daar meteens iets sinisters in die atmosfeer ingesluip het.
4
Pauli voel die vreemde spanning, byna ’n angs, in haar soos wanneer ’n mens in die teenwoordigheid van iets kom wat jy voel bonatuurlik en onverstaanbaar is. Sy staar verruk na die kronkelende, volmaakte liggaam in die vuurgloed voor haar, die tradisionele grasromp en blommekrans om die nek die enigste bekleding van ’n beeldskoon gevormde vroueliggaam; na die dansende skaduwees oor die ontblote borste en dybene, die vonke wat die vuurgloed uit die rooi hare tower, die soepel bewegings van spier en vel, die swaaiende vingers en arms … na alles, alles wat op hierdie oomblik so ver verwyder is van dit waaraan sy haar lewe lank gewoond was. So onwerklik is alles dat sy, soos die res, net in verstomming en met ’n vreemde teësin bly sit en staar. Haar gemoed is vol gemengde gevoelens – enersyds volslae bewondering, andersyds ’n soort afsku, ’n onheilige vrees.
Selfs sy, ’n leek waar dit Polinesië en sy vreemde gewoontes aangaan, kan nie die suggestie in daardie donker oë en die verleidelike bewegings voor Louw misverstaan nie. Hierdie vrou dans vir Louw en vir Louw alleen. Die boodskap van haar kronkelende liggaam en winkende hande is onmiskenbaar. Eindelik kan Pauli haar blik van die hipnotiese mag voor haar wegskeur en sy kyk na Zelia waar sy aan die oorkant sit.
Afkeer lê oop en bloot op die wetenskaplike se gesig, vir almal om te lees. En dan, toe Pauli skerper kyk, kan sy ook iets in haar oë lees wat, ja, werklik, iets soos jaloesie kan wees … Weer voel Pauli geamuseer. Arme Zelia! Sy het baie strawwer mededinging uit ’n heel onverwagte oord gekry! Dit behoort nogal interessant te wees om te sien wie Louw se guns gaan wen …
Steeds geamuseer flits Pauli se blik na haar man langs haar. ’n Rukkie beskou sy sy reaksie as buitestander, heeltemal onpersoonlik. Sy is nuuskierig om te sien wat die besadigde Louw Hattingh met hierdie onverwagte en openlike stukkie uitdaging gaan doen.
Maar soos die tromme die ritme opstoot, die bewegings al dringender word, begin haar geamuseerdheid wyk, en kan sy, soos Zelia aan die oorkant, nie haar blik van Louw wegskeur nie.
Sy reaksie is allermins wat sy verwag het. Ook Zelia se frons word dieper, haar oë skerper.
Louw sit doodstil, soos die res van hulle, maar in die dansende vuurlig kan ’n mens baie duidelik sien dat hy hierdie onverwagte toegif van die gode terdeë geniet! Eers is Pauli verdwaas, totaal verstom. Sy het verwag dat sy reaksie min of meer soos dié van Zelia sou wees – onbeïndruk, verveeld, miskien selfs ontevrede.
Dis nie die soort ding waarmee ’n wetenskaplike van Louw se formaat hom behoort op te hou nie. Sy hoë intellek sal hom nie toelaat om hierdie primitiewe uitbeelding van vleeslike behoeftes te verstaan of, nog minder, te geniet nie.
Maar tot haar grootste skok en verdwasing sit hy daar, sy oë op die dansende vrou gerig, en dis baie duidelik dat hy beïndruk is. Hy lyk ontspanne, en tog kan Pauli ’n spanning in hom aanvoel, so asof hy sy bes doen om ongeërg voor te kom. Pauli frons ook nou. Miskien is dit maar die spel van die vuurlig op sy gesig, maar sy kan sweer dat hy een keer ’n vae knik na die meisie gegee het, so asof hy haar wil laat verstaan dat hy haar boodskap ontvang en begryp het.
So stadigaan begin daar iets soos woede in Pauli opwel. Hy is ’n mooi een om openlik te suggereer dat sy rondflankeer wanneer hy op ekspedisies is! Die skoen pas blykbaar aan die ander voet. Wat doen hý wanneer hy maande lank op vreemde eilande en plekke ronddwaal? Wat sou hy gedoen het as hy vanaand hier sonder sy vrou was? Weliswaar is sy nie regtig sy vrou nie, maar hulle is darem tog wettig getroud. Hy behoort hom te skaam! Sy verkwalik nie juis die danseres nie. Sy weet darem al teen hierdie tyd dat die Polinesiërs nie inhibisies het waar dit die verhouding tussen die twee geslagte aangaan nie, maar Louw!
Sy voel eerlik geskok en vererg. Kastig so intellektueel, altyd met sy kop tussen ’n klomp geleerde boeke of doenig met die een of ander wetenskaplike ontdekking, maar …
Haar blik rus koel op hom. Ook maar net ’n man! dink Pauli vererg, en voel lus om die glimlaggie van sy lippe af te klap. Hy hoef nie so openlik te wys hoe hy die spektakel hier voor hom geniet nie! Hemel, húlle is ten minste darem beskaaf! Wat meer is, hy is getroud, al is dit net op papier. En al gaan hulle skei, is dit darem sy vrou wat hier langs hom sit en moet toekyk hoe hy ’n gek van hom maak voor die hele eiland se mense!
Haar blik dwaal agterdogtig oor hom en sy wil net ewe katterig wonder wat die Polinesiese skoonheid nou juis in professor Louw Hattingh sien, toe nog ’n skok haar tref. Want skielik weet sy hoekom die keuse op hom geval het. Dis oop en bloot daar voor haar oë om te sien – die groot, fors liggaam waarvan die manlikheid nog verder beklemtoon word deur sy growwe kakieklere, die sterk gesig, die goed geboogde wenkbroue onderkant ’n breë, oop voorkop, die reguit neus, die vol maar ferm lippe, die sterk kakebeen en die sonbruin vel van sy oop hals.
Louw is ’n uiters aantreklike man – en die Polinesiese meisie het dit gou raakgesien! Die eerste keer kyk Pauli na haar man deur ’n ander vrou se oë. Sy het nooit besef Louw is só aantreklik nie! Natuurlik het sy geweet hy is aantreklik, soos ’n mens weet jou broer of jou pa is aantreklik. Dit was net ’n vae begrip in haar agterkop, niks meer nie.
Maar vanaand sien sy hom skielik soos ander vroue hom seker sien. Pauli besef dat hierdie dansende Jesebel beslis nie die eerste kan wees wat dit raakgesien het nie. Ook Zelia … Nog altyd het sy gedink dis omdat hulle dieselfde taal praat dat Zelia tot hom aangetrokke voel. Maar nou … Zelia is immers ook net ’n vrou, geleerd of nie. Ook sy moet Louw al met oë soos dié van die danseres bekyk het …
Daar is meteens ’n onsekerheid in Pauli wat sy nie ken nie, ’n onrus wat sy nie kan verklaar nie. Wat kan dit haar skeel hoe ander vroumense na Louw kyk? Hulle staan op die punt van ’n egskeiding. Dit kan haar nie traak hoe aantreklik watter vroumens van watter nasie ook al hom vind nie! Nog minder hoe aantreklik hy húlle vind! vertel sy haarself.
Meteens verstil die tromme in die aandstilte, en die danseres ruk tot stilstand, haar arms