Название | Ena Murray Keur 2 |
---|---|
Автор произведения | Ena Murray |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624068198 |
“Dan is dit goed. As daar enigiets anders is waarmee ek kan help of tot u gerief bydra, moet u net praat.” Sy blik rus op Pauli en sy glimlag terug.
“Baie dankie, dokter, ook vir ’n baie aangename aand. Kom loer gerus soms wat in ons kamp aangaan. Die ander sal seker baie besig wees, maar ek sal u darem altyd ’n koppie tee of koffie kan aanbied.”
“Baie dankie, mevrou. Ek sal beslis van u uitnodiging gebruik maak.”
Op pad terug is dit stil in die jeep. By die kamp aangekom, sê Pauli sommer dadelik nag aan almal en stap reguit na haar tent. Sy het egter skaars die lamp opgesteek of die tentklap lig weer op en Louw se groot gestalte vul die opening. Sy kyk hom fronsend aan. Sy voel moeg en eienaardig ontsteld en wil gaan lê.
“Ek kon nie anders as om agterna te kom nie, want dit sal vreemd lyk as my vrou sommer in die algemeen nagsê en in haar tent verdwyn sonder om haar man skaars aan te kyk. Pauli, ek het jou reeds voorheen gesê dat ons ’n mate van skyn moet handhaaf op hierdie ekspedisie. Wat jou gevoelens ook al teenoor my is, jy bly my vrou – ten minste vir die duur van hierdie ekspedisie. Ek wil nie weer met jou hieroor praat nie.”
“Nou werklik, nè? Dat jy dit darem weer onthou het.” Sy ruk haar kop op, haar blik openlik vyandig.
“Wat bedoel jy?” Sy frons verdiep onheilspellend.
“Net maar dat jy nou weer skielik onthou jy het ’n vrou. Vroeër vanaand het dit nie so gelyk nie. Inteendeel!”
“Hou in hemelsnaam op om in raaisels te praat. Ek het nog nooit vergeet dat jy my vrou is nie.”
“Nou toe nou! Dat die grote professor Louw Hattingh ook kan kluitjies bak! Nie dat ek jou kwalik neem nie, hoor! Sy is pragtig en … interessant. Só ’n meisie sal selfs ’n wetenskaplike van sy werk laat vergeet en … jy is ook maar ’n man nes al die ander.”
“Ek hou beslis nie van die aantyging in jou woorde nie, Pauli. Wat moes ek gedoen het? Opstaan en wegloop?”
“Nee, natuurlik nie. Maar was dit nodig om haar so met jou oë te verslind?”
Pauli weet sy praat te veel, maar dis of die woorde sommer vanself uitborrel. Wat sal hy hier kom voorgee dat hulle ’n skyn moet bewaar, terwyl hy self by die eerste geleentheid net oë vir ’n ander vroumens het?
“Jy is besete, Pauli! As ek daardie meisie so danig met my oë verslind het, wonder ek wat het dokter Inaki met jou gedoen …”
“Los vir dokter Inaki doodstil uit. Hy is die enigste heer, afgesien miskien van professor Islinger, hier op die eiland.”
Louw Hattingh se lippe sluit ’n oomblik styf op mekaar. Dan laat hy sag en dreigend hoor: “Praat asseblief sagter. Die hele kamp hoef nie te hoor hoe belaglik jy is nie. En verder, al het ek jou vroeër jou gang laat gaan, waarsku ek jou nou vanaand: bly weg van dokter Inaki af. Jy het ook geen reg gehad om daardie man na die kamp te nooi nie. Dit berus by professor Islinger. Dis vir hom om so ’n uitnodiging te rig.”
Sy kyk woedend toe hoe hy omdraai en dan weer terugdraai by die tentklap.
“Ek is meer van ’n heer as wat jy dink, my vrou. Iemand minder as ’n heer sou nie sy geduld so lank met jou behou het nie, veral nie aangesien ek, soos jy eindelik agtergekom het, ook maar net ’n man is nie.”
Die tentklap val agter hom toe en sy hoor hoe hy na die tent langsaan stap. Sy sak op die bed neer. Wat het haar besiel om só te kere te gaan? Louw kan dalk onder die wanindruk kom dat sy jaloers is. Hemel, dit is sy tog nie! Hoekom sal sy jaloers wees op die man van wie sy nie kan wag om geskei te kom nie? Dis belaglik!
Toe sy in die bed lê, moet Pauli in alle redelikheid erken dat Louw meer regverdiging vir sy woede gehad het as sy.
Selfs sý moes vanaand agterkom dat dokter Inaki se blik te dikwels op haar gerus het. Hy het ook uit sy pad gegaan om haar uit te sonder en het skaars aandag aan Zelia gegee. En miskien was sy voorbarig met haar uitnodiging. Sy kan duidelik sien dat Louw niks van die man hou nie. Sy, daarenteen, geniet die dokter se beskaafde geselskap, al is daar tog iets in hom wat haar hinder.
Dat dokter Inaki ook maar sy geheime in hom ronddra, het vanaand baie duidelik uit sy vreemde opmerkings geblyk. Dat daar iets misterieus aan hierdie man kleef, kan enige aap sien.
Maar sy kan regtig nie verstaan hoekom Louw summier ’n doodgewone vriendskap tussen haar en die goewerneur afkeur nie. Van haar kant af is daar beslis nie meer as blote belangstelling en vriendskap nie.
Dit sal tog iemand wees om mee te gesels in die lang dae waarin sy ledig sal wees, terwyl Louw en die res van die ekspedisie werk. Sy aantyging dat sy die man aanmoedig en meer as gewone belangstelling in hom toon, is beledigend. Louw verkeer blykbaar onder die indruk dat sy ’n regte klein flerrie is.
Pauli lê nog lank wakker, te ontsteld om te slaap.
In die tent langsaan lê Louw Hattingh ook met oop oë. Soos die res, kon hy ook agterkom dat dokter Inaki nie die waarheid praat toe hy voorgegee het dat hy nie weet wie die geheimsinnige danseres is nie.
Duisend mense klink baie, maar as almal saamgehok is op een dorpie op ’n eilandjie, sal jy almal ken, veral as jy goewerneur is. Daar is nóg iets wat Louw opgeval het en wat hom bly hinder. Daar was naakte vrees in die Polinesiese meisie se oë toe sy dokter Inaki gewaar en hy haar skerp aangespreek het. En daar was iets soos ’n desperate roep om hulp in haar oë toe sy na hom, Louw, gekyk het voordat sy in die nag verdwyn het.
Louw Hattingh is beslis nie beïndruk deur die man se gladde maniertjies nie. Sy lagie beskawing sit maar bloot uiterlik. Iets in daardie berekenende blou oë vertel hom dat die dokter in sy wese nog net soveel van ’n barbaar as sy voorvaders is – voorvaders wat tot glad nie so lank gelede nie nog kannibale was.
Hy mag wel dokter voor sy naam skryf en in alle opsigte ’n herskepte produk van die twintigste-eeuse beskawing wees, maar in wese is hy nog deel van hierdie afgesonderde eiland, praat hy nog maar dieselfde taal wat hy nou voorgee hy verleer het. Êrens in hom het hy die primitiewe aan bande gelê, maar net gedeeltelik. Enige gebeurlikheid kan daardie bande laat breek … en dis hierdie man wat Pauli wetend of onwetend besig is om aan te moedig.
Ook het dit nie een van die wetenskaplikes ontgaan dat die goewerneur van die eiland nie baie behulpsaam is nie. Op die oog af kom hy vriendelik en tegemoetkomend voor, maar hulle weet dat hulle geen hulp van watter aard van dokter Inaki moet verwag in die opsporing van die ana nie.
Hy is glad nie gretig dat hulle suksesvol moet wees nie. Hoekom nie? Was die rede wat hy aangevoer het die werklike een, of skuil daar meer agter die feit dat hy nie wil hê dat te veel vreemdelinge op die eiland ronddwaal nie?
Watter omstandighede hou hom teen sy sin hier op die uithoek van die aardbol vas? Soos Pauli langsaan, kan Louw tot geen ander slotsom kom as dat dokter Inaki ’n man met geheime is nie. Maar anders as Pauli, wat dié besef van haar afwerp met die wete dat dit niks met haar te doen het nie, is daar groeiende kommer in Louw. Iets vertel hom dat hierdie ekspedisie anders gaan wees as al die voriges …
Louw se kommer sou nog verder verdiep het as hy op hierdie oomblik die goewerneur se gesig kon sien terwyl hy op die pragtige meisie voor hom afkyk. Daar is ’n vasberade, genadelose trek om sy mond en weer krimp die meisie voor die uitdrukking in sy oë weg.
“As jy dit ooit weer doen, Analola, ooit weer, sal jy – en hy – jammer wees. Moenie dink ek sien nie deur jou plan nie. Hy is ’n getroude man. Die blonde vrou wat langs hom gesit het, is sy vrou. En dit maak saak in die Weste. Daar is dit anders. Ek het jou dit al honderd keer gesê. Vergeet van daardie plan. Dit sal nie slaag nie.”
“Maar wie sê dit sal nie? Dis net jy – en jy …”
“Ek weet waarvan ek praat. Hy sal jou net gebruik solank hy hier is, maar die dag wanneer hy vertrek, sal hy jou nie saamneem nie. Luister