Название | Ena Murray Keur 2 |
---|---|
Автор произведения | Ena Murray |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624068198 |
Ook Pauli lê nog ’n lang ruk wakker, en haar gedagtes sirkel min of meer in dieselfde baan as dié van professor Islinger. Die vae vermoedens wat sy voor die vertrek reeds gevoel het in verband met Zelia Meyer, het gedurende die seereis voldonge feite vir haar geword. Zelia Meyer is nie net ’n briljante wetenskaplike nie, maar ook ’n vrou … ’n vrou met aspirasies, daarvan is Pauli nou baie seker.
Hoewel sy te trots is om die ander vrou te laat agterkom dat sy wéét dat dié haar bes doen om die wig nog dieper tussen haar en haar man in te dryf, hou sy hulle fyn dop – en sy sien alles raak, selfs meer nog as die leier van die ekspedisie. Nie dat dit haar juis ontstel nie. Eintlik amuseer dit haar ’n bietjie om die geleerde dame se pogings te aanskou! Dis ’n verspilling van goeie energie, maar dit weet Zelia nie.
Louw het haar blykbaar nie vertel dat hy en sy vrou gaan skei sodra hulle terug is van hierdie ekspedisie nie. Daaroor is Pauli nogal bly. Sy weet dat dit net sy trots is wat hom daarvan weerhou om dit wêreldkundig te maak dat sy huwelik op die rotse is. Louw Hattingh is nie ’n man vir mislukkings nie, en dit moet swaar wees vir hom om te weet dat hy in dié opsig gefaal het. Hoewel dit haar nie juis skeel of hierdie mense weet dat haar en Louw se huwelik gedoem is nie, is daar tog iets in haar wat dié inligting van Zelia weerhou wil hê. Hoekom kan sy nie sê nie, behalwe miskien dat sy dan ’n nog groter gek sal voel. Louw se redes hoekom hy haar hierheen saamgesleep het, is nog steeds vir haar duister en sy optrede belaglik, en as Zelia die waarheid moes weet en haar openlik uitlag, sou sy haar nie kwalik kon neem nie.
Pauli sug en draai op haar ander sy. Wel, laat Zelia maar voortgaan met haar pogings om Louw Hattingh van sy vrou te probeer steel. Sy weet nie hoe belaglik sý is nie, dink Pauli met wrang humor. ’n Mens kan mos nie iets probeer steel wat daar oop en bloot lê net vir vat nie!
In die kajuit langsaan lê Louw Hattingh die een sigaret na die ander en rook. Soos sy hoof, dink ook hy vannag aan allerlei onwetenskaplike kwessies. Dat sy gedagtes nie aangenaam is nie, is duidelik te sien aan die diep frons op sy voorkop en die harde lig in sy oë.
Miskien sou Pauli nie so maklik alles van haar kon afskuif en rustig aan die slaap raak as sy die gedetermineerde trek om haar man se lippe kon sien nie. Wat Pauli nie weet nie – sy ken haar man nog nie so goed nie – is dat Louw Hattingh, afgesien daarvan dat hy ’n wetenskaplike van formaat is en ’n man wat nie hou van mislukkings nie, ook ’n hardkoppige streek in hom het waarvan sy nog maar net ’n glimp gesien het toe hy sy ultimatum aan haar gestel het.
En verder af in die smal gangetjie lê ook Zelia Meyer in haar kajuit voor haar en uitstaar. Professor Islinger se kommer sou verdiep het as hy die uitdrukking in haar oë kon sien. Hy sou dan geweet het dat sy voorgevoel nie verkeerd was nie. Inteendeel, selfs Louw Hattingh sou kwalik sy kollega op hierdie oomblik herken het. Net Pauli sou miskien nie so verbaas gewees het nie. Sy sou besef het dat haar vroulike intuïsie reg was, dat daar meer agter doktor Meyer se koel, wetenskaplike houding sit as wat met die oog sigbaar is.
Want soos Zelia Meyer nou daar lê, het sy die wetenskaplike saam met die swartraambril en besadigde klere eenkant neergesit. Sy is volkome vrou met ’n berekenende lig in haar oë. Die stywe bolla van die dag is losgemaak en haar donker hare val oor haar wit skouers. En daar is iets in die deining van haar bors onder die laken wat die frustrasies en begeertes van ’n onbevredigde vrou verraai. Die oë vertel duidelik dat sy nie haar lot as oujongnooi sonder meer aanvaar nie. Tewens, na die glimlag om haar lippe te oordeel, lyk dit asof sy ’n rooskleurige toekoms voor haar sien …
Toe die geselskap die volgende oggend op die dek staan, word hulle begroet deur ’n kleurryke en vreemde gesig. Die see om die boot wemel behoorlik van kano’s van verskillende groottes, elkeen volgeprop met glimlaggende eilandbewoners.
Iemand moes die vreemde boot aan die ander kant van die eiland gewaar en die nuus na die dorpie oorgedra het. Aangesien hulle net een keer per jaar die rantsoenboot te siene kry, is die aankoms van ’n vreemde boot ’n groot geleentheid. Almal wat moontlik kon, is vanoggend hier om die vreemdelinge te verwelkom. Uit vorige ervaring weet hulle dat ’n vreemde boot net een ding kan beteken – ’n ekspedisie wat van êrens agter die waterkim van ’n ver land kom om na hul voorvaders se moai en rongo-rongo te kom kyk. Dat vreemdelinge hierdie voorvaderlike erfenisse so interessant vind, pas hulle goed, want dit beteken dat die vreemdelinge bereid is om goed te betaal vir inligting en ontdekkings; en as hulle eers hul betaling het, pla dit hulle min dat hul inligting vals en hul ontdekkings tuisgemaak is.
’n Vreemde boot beteken dus onverwagte luukse, want die bewoners van Paaseiland is gewoond om net met die eenvoudigste en noodsaaklikste klaar te kom. Inligting en arbeid en ontdekkings word nie vir geld verkoop nie, want wat sal ’n mens met geld op hierdie uithoekie van die aardbol maak? Nee. Dalk is hierdie vreemde boot se ruim ook volgelaai met rolle materiaal wat vir die vroue onweerstaanbaar is en duisende vishoeke, die mees gesogte artikel by die mans.
Dit is wel die geval, buiten die lekkers, oorbelle, halsbande en ander dinge. Professor Islinger het uit ervaring van vorige ekspedisies geleer om die regte betaalmiddele saam te bring!
Wat eers na ’n haas onbegonne taak gelyk het vir die ekspedisielede, word nou baie vergemaklik deur die talle gewillige hande wat help aflaai. Weliswaar moet daar ’n streng wakende oog gehou word oor elke kano wat volgelaai en dan behendig strand toe geroei word.
De Afrikaansche Galei kan dit nie waag om te na aan die rotsagtige kus te kom nie, maar nog voordat die Suidsee-son reg bokant hulle staan, is die belangrikste reeds aan land gebring. Ten aanskoue van baie omstanders word die tente opgeslaan: slaaptente, ’n groot tent wat sal dien as eettent en algemene bymekaarkomplek, en dan nog ’n groot tent wat as ’n soort kantoor vir die wetenskaplikes ingerig word.
Teen laatmiddag is alles in orde en geskied die betaling vir die vriendelike hulp. Dis ’n plesierige klomp wat met breë glimlagge, uitgelate soos kinders, net so vinnig verdwyn as wat hulle onverwags verskyn het. Elke man het ’n kosbare pakkie sigarette en ’n hand vol vishoeke; die vroue is hoogs in hul skik met die nuwe rolle bont materiaal en die kinders verdwyn al kouende aan die lekkers van die vreemde wêreld anderkant die horison. Van môre af sal hulle tot vervelens toe kom vra of hulle nie met iets behulpsaam kan wees nie.
Pauli wil net omdraai om haar eie tent in orde te bring vir die nag, toe ’n eensame ruiter meteens sy verskyning op die naaste groen heuwel maak. Iets in sy houding laat haar tot stilstand kom. Hý is beslis nie net nog ’n nuuskierige besoeker nie. Hy ry reg op die kamp af en ook die res van die geselskap los alles waarmee hulle besig is en wag die man in.
Hy ry, soos al die eilandbewoners, sonder saal en sit op die perd asof hy daarop gebore is. Paaseiland het meer perde as mense, want dis die enigste vervoermiddel op die eiland en die enigste manier om oor die weg te kom. Die kinders is nog skaars in staat om alleen te sit, of hulle begin saam met hul ouers perdry.
Hy bring sy perd voor hulle tot stilstand en kyk hulle eers skerp deur. Pauli voel ’n vreemde spanning in die atmosfeer insluip. Dat hierdie man nie net ’n gewone eilandbewoner is nie, is baie duidelik. Sy klere is nie net veel netjieser en meer modieus as die res s’n nie, maar hy dra die stempel van ’n leier. Hierdie man is ook baie duidelik van gemengde afkoms, want hoewel hy nog die blas vel van die Polinesiër het, is die gesig fynbesnede en kom dit min ooreen met die ietwat growwer gelaatstrekke van die gemiddelde Polinesiër. Ook die blou oë wat verrassend in die donker gesig vertoon, verraai dat hy, soos baie van sy mede-eilandbewoners, nie meer op suiwer bloed aanspraak kan maak nie.
Toe hy eindelik praat, is sy stem beskaaf en sag, maar met ’n ondertoon van gesag daarin.
“Ia-o-rana