Nuwe hoop vir ADHD by kinders en volwassenes. Helena Bester

Читать онлайн.
Название Nuwe hoop vir ADHD by kinders en volwassenes
Автор произведения Helena Bester
Жанр Личностный рост
Серия
Издательство Личностный рост
Год выпуска 0
isbn 9780624063872



Скачать книгу

      

      NUWE HOOP VIR

      ADHD

      by kinders en

       volwassenes:

       ’n Praktiese gids

      Helena Bester

      Tafelberg

      Ons kan weet

      Verby die graafvermoë van woorde weet

      Maar eers moet ons in stilte

      Alle kognitiewe waarheid vergeet

      “Liefde, en liefde alleen, gee alles betekenis.”

       – Teresa van Ávila

      Hierdie boek is opgedra aan jou, die leser.

      Voorwoord

      Helena Bester se jongste boek, Nuwe hoop vir ADHD by kinders en volwassenes, is ’n maklik verstaanbare, praktiese gids met kundige advies vir ouers, onderwysers, terapeute en enigeen wat die simptome van ADHD ervaar. Sy bied aan lesers antwoorde op hulle vrae oor die diagnose, verwante toestande, medikasie, dieet, neuroterugvoer-terapie en ander behandelingsmetodes, tesame met hanteringswenke en oefeninge wat daagliks gedoen kan word. Die hoofstuk oor neuroterugvoer is bygewerk met die bevindinge van die geweldig baie studies wat die afgelope dekade oor die onderwerp onderneem is. Die leser word as ’t ware aan die hand geneem en maak die skrywer se kliniese reis oor baie jare se ervaring van werk in die veld mee. Dit is duidelik dat sy ’n passie het om mense met ADHD te help, net soos sy ook die mense in die lyer se lewe wil bystaan. Of jy self ADHD het of ’n ouer, onderwyser of terapeut is wat met ADHD-individue werk, beveel ek hierdie boek met die grootste vrymoedigheid aan.

      Roger deBeus, Ph.D.

      Gelisensieerde sielkundige

      Lid van die ISNR (International Society for Neurofeedback and Research)

      Assistent-navorsingsprofessor

      Universiteit van Noord-Carolina, Asheville, VSA

      Inleiding

      Vir dekades het ek byna uitsluitlik met kinders met ADHD asook hulle ouers gewerk. ADHD (attention deficit hyperactivity disorder), oftewel aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom of aandagafleibaarheid, word deur een of meer van die volgende hoofsimptome gekenmerk: onaandagtigheid, hiperaktiwiteit en impulsiwiteit. Ek het uitgebreid navorsing gedoen om alternatiewe te probeer vind vir die hoofstroombehandeling, wat hoofsaaklik voorgeskrewe stimulantmedikasie behels.

      Moontlik ontwikkel ’n mens met verloop van tyd ’n sesde sintuig oor die onderwerp waaraan jy jou lewe wy. ’n Veearts-vriendin wat al duisende sterilisasies op diere uitgevoer het, het eenkeer vir my gesê ’n mens vervolmaak eers iets nadat jy dit tienduisend keer herhaal het. Ek glo nie ek het al tienduisend ADHD-gevalle geëvalueer nie, maar wel baie oor baie jare. En ja, van die eerste oomblik dat iemand wat om hulp kom aanklop voor my sit, begin my brein voorbewustelik my uitgebreide databasis van opgegaarde feite skandeer vir enige van die subtiele, dikwels onmeetbare “tekens” waarmee ADHD verbind word. As dit ’n kind is wat vir evaluering kom, eien ek soms reeds iets hiervan in een of albei van die ouers in die onderhoud wat ek voor die tyd met hulle voer.

      Die gediggie voor in hierdie boek gaan oor daardie iets – tussen die feite, verby die feite en verby die kognitiewe, meetbare realiteit lê elke mens se waarheid. Al veralgemeen ek baie in hierdie boek, besef ek met my hele hart, siel en verstand dat jy en jou kind uniek is. Ek reduseer niemand waarmee ek werk tot die betrokke toestand wat die persoon na my toe bring nie. Maar meetbaar of andersins, moet ons die tekens, simptome en neigings duidelik kan identifiseer om die probleem doeltreffend te takel, veral indien die persoon se funksionering daardeur beperk word.

      Lesers wat moontlik van my vorige boeke gelees het of na van my toesprake of radiopraatjies geluister het, sal weet dat ek graag die lof van mense met ADHD besing. Hulle is meestal baie eerlik; hulle reken die kwaad nie toe nie; hulle ken die kuns van oorgawe; en die hiperaktiewe groep verskaf die energie wat vooruitgang dryf. Waarom is dit dus nodig om mense van ADHD te “genees”? Het dit nie mode geword om elke tweede mens met aandagafleibaarheid – met of sonder hiperaktiwiteit – te diagnoseer en behandel nie? Is die fokus op hierdie toestand nie oordrewe sodat dit noodwendig tot oordiagnosering lei nie? Moet ons nie liefs aanvaar dat mense verskil sonder om etikette om hulle nek te hang nie? Laat ons nie met ons diagnoses en terapieë mense konformeer tot die veilige bekende nie? Dit is van die geldige vrae wat in hierdie boek onder die loep geneem word.

      Een van die nuwe alternatiewe behandelings wat in diepte bespreek word, is neuroterugvoer-terapie. Dit word vir alle vorms van ADHD ingespan, en alhoewel minder algemeen, word dit ook met groot welslae in die behandeling van onder meer angssteurnisse, slaaploosheid, depressie, epilepsie, breinbeserings, outisme, opponerend-opstandige versteuring en verslawing gebruik. Die terapie is trouens in Oktober 2012 deur die American Academy of Pediatrics as ’n vlak-1-behandeling (dit wil sê, ’n voorkeuropsie in die voorgestelde behandelingsprotokol) en die beste ondersteunende terapie vir aandagverwante probleme aangedui. Ons kom later hierna terug.

      Vandat neuroterapie in my praktyk as aanvullende terapie aangebied word, fokus ek nie langer uitsluitlik op die behandeling van aandagverwante probleme nie, maar ook op dié van die toestande wat hierbo genoem word. Die verskil wat hierdie terapie in mense se lewe maak, is iets wat ek bevoorreg is om te aanskou en een van die redes waarom hierdie boek gebore is. Ek sluit regdeur die boek aanhalings van hierdie mense in – of hulle sélf of hulle kind die terapie ontvang het.

      Vroeër is geglo dat ADHD ontgroei word. Ons weet nou dat dit meestal nie die geval is nie. Sommige mense ontwikkel wel die vermoë om die simptome beter te bestuur, maar dit geld nie almal nie. ADHD met of sonder hiperaktiwiteit by volwassenes, nog ’n fokuspunt in hierdie boek, het ’n groot uitwerking op jou prestasie en verhoudings. Die meeste lyers bo dertig jaar is nooit gediagnoseer nie. Twintig jaar gelede is die simptome wat onderwysers en ouers deesdae as dié van ADHD herken, anders geïnterpreteer. Die kind is as stout of lui of moedswillig afgemaak. Dikwels is dit eers jare later, wanneer die persoon se eie kind met ADHD gediagnoseer word, dat hy besef dat hy dieselfde probleem het.

      Die bestuur van die simptome wat met ADHD verbind word, of dit nou as volwassene of kind is, is agt jaar ná my vorige boek steeds ’n bron van kommer. Ongeag watter terapie gevolg word, moet die lyer vaardighede aanleer om te verhoed dat die simptome sy lewe oorneem. Terselfdertyd moet die ouer vaardighede aanleer om die kind te ondersteun en die onderwyser om die nodige aanpassings in die leeromgewing te maak. Wenke in hierdie verband word in hierdie boek gegee.

      Ek glo steeds, net soos wat ek in die inleiding van my vorige boek geskryf het, dat ons nie deur ander mense se oordele gedefinieer word nie en dus ook nie deur ’n diagnose nie. Ons eie vrese is ons enigste beperking. Ek weet ook dat wanneer ons ons vrese die hoof bied, die verskrikking van daardie vrese verdwyn. Miskien probeer jy al jare die simptome van aandagafleibaarheid of ’n ander probleem wegsteek of onderdruk. Ek nooi jou om oopkop saam met my die pad na ’n moontlike oplossing te stap.

      Die gevalle waarna in hierdie boek verwys word, is gebaseer op werklike gevalle. Die name en besonderhede is egter verander of gevalle saamgevoeg ter wille van vertroulikheid.

      1

      Agtergrondgeskiedenis van ’n tipiese geval

      ’n Tipiese beeld: Walter se storie

      Ek ontmoet byna net soveel pa’s met ADHD as wat ek kinders met ADHD ontmoet. Natuurlik is daar ook baie ma’s met ADHD, maar drie maal meer seuns as meisies word met aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom gediagnoseer.

      Talle ouers, veral pa’s, kom met hulle eie storie vorendag wanneer hulle besef dat hulle ’n hele leeftyd met dieselfde probleme geworstel het as wat nou by hulle kind geïdentifiseer of gediagnoseer is. Vir van hulle gaan daar ’n lig op wanneer hulle besef dat hulle self ADHD het en hulle voel verlig dat die monster wat hulle wêreld so deurmekaar krap, uiteindelik ’n naam het. Maar daar is ook diegene wat baie ongeduldig is met hulle kind omdat