Maryna se liefdeslied. Schalkie van Wyk

Читать онлайн.
Название Maryna se liefdeslied
Автор произведения Schalkie van Wyk
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624067955



Скачать книгу

      “Sjoe …Ek kan dit nie glo nie. My ouers – my bloedeie ouers – wil my Durban toe stuur om my seniele oupa op te pas nadat ek vier jaar lank bloed gesweet het om ’n verpleegsuster te word. Ek weier volstrek, Mamma, en ek is tot in my …e …diepste wese teleurgesteld in my selfsugtige ouers. As my oupa versorging nodig het, laat die ou heks dit doen,” vaar Maryna uit.

      “Maryna, asseblief …! Jy hoef nie weke in Durban deur te bring nie. Ek het vir jou ’n suite bespreek in die hotel waar jou oupa tuisgaan. Ek twyfel of hy jou sal herken, want my ma sê sy het lanklaas vir hom ’n foto van jou gewys. Jy hoef nie direk met hom te praat nie, maar hou hom en die ou heks dop en probeer om hulle gesprekke af te luister. Dalk kan jy met hom ’n geselsie aanknoop wanneer die ou heks nie by hom is nie, net om agter te kom of hy normaal klink.”

      “Mamma bedoel ek moet op my eie oupa spioeneer?” vra Maryna oorbluf.

      “Jy is gelukkig,” kom dit afgunstig van Leonie. “Verblyf in ’n duur hotel en hope sakgeld, amper soos ’n Russiese spioen. Ek wens ek was jy.”

      “Leonie, vergeet nou van die Russe,” versoek Sandra met ’n suggie en wend haar pleitend tot Maryna. “Maryna­tjie, doen dit ter wille van jou pa se gemoedsrus. As jou oupa normaal optree, sal ons almal gewoonweg kan voortgaan met die lewe. Ek wil net verhoed dat ’n hulpelose, seniele man in die kloue van ’n gewetenlose heks beland.”

      “As dit werklik so belangrik is vir Pappa …” Maryna sug oordrewe om haar ma bewus te maak van haar opoffering. “Ek sal dit ter wille van Pappa doen, maar wat van Leonie? Gaan sy saam met my?”

      Sandra merk die hoopvolle uitdrukking op Leonie se gesig en sê verskonend: “As jy nie te gretig is om Jeffreys­baai toe te gaan nie, Leonie …Jy kan saam met my en Maryna Durban toe ry en …”

      “Mamma! Ek is oud genoeg om alleen helder oordag Durban toe te ry,” maak Maryna onthuts kapsie.

      “Dis jou pa se opdrag, kindjie. Ek kon jou met my motor Durban toe geneem en daar vir jou ’n motor gehuur het, andersins ry ek en Leonie saam met jou en vlieg ons van Durban af terug Johannesburg toe.” Sandra lyk verleë: “Om die waarheid te sê het ek klaar vir my en Leonie kaartjies vir die laatnagvlug Johannesburg toe bespreek, want ek het sommer geweet jy sal met jou eie motor wil ry. Kom jy saam met ons, Leonie?” vra Sandra hoopvol.

      “Ek kan nie wag nie, tannie Sandra. My broers sal groen wees van jaloesie, want ek is die eerste Redelinghuys wat in ’n vliegtuig gaan vlieg,” jubel Leonie en voer ’n paar spontane danspassies uit.

      “Jy praat altyd asof julle Redelinghuyse brandarm is, maar jou pa het ’n yslike winkel en ’n slaghuis. Ek wed hy rol in die geld,” sê Maryna knorrig, vies omdat Leonie so gretig is om Sandra se aanbod te aanvaar.

      “En hy het drie kinders op universiteit – wel, nou net twee. My pa karwei my in sy motor rond. Daar is nie geld vir vliegkaartjies nie,” antwoord Leonie en glimlag weer stralend toe sy na Sandra kyk. “Baie dankie, tannie. Wanneer ry ons?”

      Sandra blik vraend na Maryna wat na die muurhorlosie kyk. “Oor ’n halfuur. Ek gaan vinnig stort en vir my ekstra klere vir die strand inpak. Ek hoop net ek kan my gemene oupa Leander Fourie herken.”

      “Jy sal. Hy is ’n ouer weergawe van jou pa. En jy kan altyd by die ontvangstoonbank navraag doen,” sê Sandra gerusstellend, staan op en gee Maryna ’n waarderende drukkie. “Dankie, my kindlief. Jy behoort binne ’n paar dae te weet wat jou oupa se toestand is en dan kan jy en Leonie tot na Nuwejaar vakansie hou. Ek en jou pa sal vir julle ekstra sakgeld sorg.”

      “Dankie, Mamma, maar wat nou van die heks? Wie is sy? Hoe lyk sy?”

      “Dis wat ek ook die hele tyd wonder,” sê Leonie en staan nader aan Sandra.

      “Ek is jammer, Maryna, maar toe ek en jou pa die dag getroud is, het ek my voorgeneem om nooit weer die ou heks se naam oor my lippe te laat kom nie. Ek het byna van haar bestaan vergeet totdat my ma my sowat ses maande gelede van haar man se dood vertel het. Dit was vir my ’n onbelangrike brokkie nuus, maar toe bel my ma gisteraand …Ek hoop al die jare dat jou pa en oupa Leander versoen sal raak, maar trou hy met háár …” Sandra sug en glimlag gedwonge. “Gaan maak nou klaar, Marynatjie. Ek en Leonie sal solank tee drink.”

      “Goed, Mamma,” antwoord Maryna ongewoon gedwee en loop die vertrek uit.

      Sy is ineens so hartseer dat sy kan huil, want …want sy wil nie in Durban of op Jeffreysbaai gaan vakansie hou nie, dink Maryna terwyl sy in die gang af stap. Sy wil op Neckershoogte by Christiaan wees. Of net alleen wees en aan hom dink. Sy wens sy kan haar ma of Leonie vertel van die wonderlike Christiaan de Necker wat haar al die pad Bultfontein toe op sy motorfiets gevolg het. Hy is ’n unieke, bedagsame man wat ter wille van haar veiligheid sy tyd en sy brandstof gemors het. Toe sy by die Redelinghuyse se erf indraai, het hy verbygery, gewuif …en uit haar lewe verdwyn. En nou wil sy huil. Moontlik is sy besig om griep of iets te kry, want net ’n ylende meisie sal oor ’n onbekende man huil. Christiaan behoort aan ’n droomwêreld wat nooit weer deel van haar lewe sal wees nie, maan sy haarself streng, maar wens vuriglik dis ’n leuen.

      Sandra kyk besorg na Maryna wat oorkant haar aan ’n tafeltjie in ’n restaurant sit en troosteloos voor haar uitstaar, haar mes en vurk roerloos in haar hande. “Is jy oormoeg, kindjie? Hoekom eet jy nie? Die visgereg is werklik smaaklik. Of sal ek iets anders vir jou bestel?” vra sy bekommerd.

      Sy kan nie eens aan Christiaan dink sonder dat haar ma snuf in die neus kry nie, dink Maryna wrang, en antwoord kamma ongeërg: “Ja, Mamma, dit was ’n lang dag. Ek hoop nie Mamma verwag ek moet vanaand al op oupa Leander spioeneer nie.”

      “Ek dink jy het ’n virus of ’n kiem onder lede,” sê Leonie in haar professionele stemtoon. “Jy was op pad van Johannesburg af al onnatuurlik stil en jou gelaatskleur laat veel te wense oor. As jy my toelaat om jou pols te …”

      “Raak net aan my, Leonie, en ek trap jou tone met my hak plat,” dreig Maryna bloeddorstig, oneindig verlig dat sy met Leonie kan rusie maak en tydelik van Christiaan kan vergeet.

      “Dis haar koors wat so praat,” lig Leonie vir Sandra in. “Maryna is altyd aggressief wanneer sy koors het, want sy haat dit om siek te wees. Dalk moet ek hier bly en haar versorg, tannie Sandra.”

      “Baie dankie vir jou groothartige aanbod, Leonie,” sê Sandra taktvol, “maar Maryna kry gloede van ergernis, daarom hoef jy jou nie langer oor haar gelaatskleur te kwel nie. Dit was vir ons almal ’n lang dag. Sodra ons koffie gedrink het, sal ek ’n taxi kry om ons lughawe toe te neem, terwyl Maryna na haar hotel ry.”

      “Miskien moet ons Maryna in ons taxi volg, net om seker te maak sy kom veilig by haar hotel uit.” Leonie glimlag opgewonde. “Dan kan ons ook soos spioene voel, tannie Sandra.”

      “Mamma, ek gaan ry voordat ek my beste vriendin met my vurk aanrand,” sê Maryna en klad haar lippe met haar servet. “Ek is net gespanne omdat ek bang is oupa Leander kom skielik by die restaurant ingestap. Ons is nie eens twee blokke van sy hotel af nie. Leonie, hou op dokter-dokter speel voordat jy my ma tot raserny dryf. En kuier asseblief by my ma totdat ek terugkom.” Maryna staan op en soengroet Sandra en Leonie.

      “Moenie met vreemde mans praat nie, Maryna,” waar­sku Sandra, byt op haar onderlip en glimlag verskonend. “Ek kan nie ophou kloek nie, al weet ek jy is lankal groot. Ek hoop jy kan binnekort terugkom huis toe, my kindlief. Ek en Pappa sal jou mis.”

      “Onthou ons gaan nie trou voor ons vyf-en-twintig is nie,” fluister Leonie. “Dis te sê, as ek ’n man kan kry wat van plankdun rooikoppe hou. Sien jou, Maryna.”

      Vreemd, sy het haar hotelsuite van hoek tot kant bekyk, haar klere sorgvuldig uitgepak, en nou is sy skielik helder wakker en flou van die honger, besef Maryna. In die breë ingang van die dofverligte hotelrestaurant bly sy staan, gedeeltelik verskuil agter ’n waaierpalm. Haar oë soek oor die talle tafeltjies en steek vas by ’n bejaarde paartjie. Dit kan net haar bloedeie oupa Leander wees, want hy lyk soos haar pa, behalwe dat sy hare spierwit is; en haar pa