Maryna se liefdeslied. Schalkie van Wyk

Читать онлайн.
Название Maryna se liefdeslied
Автор произведения Schalkie van Wyk
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624067955



Скачать книгу

van vars lug,” skerts hy. “Ek kan verstaan waarom jy nie tant Etresia se klere dra nie. Jy is slanker. Ek hou van my hemp wat jy om jou heupe vasgeknoop het.”

      “Dis wat my ma doen: dra my pa se ou hemde wanneer sy tyd kry om in die tuin te werk. Is dit my bord? Ek is te honger om te wag totdat ek die sny brood gerooster het. Die brood is warm genoeg om die botter te laat smelt.”

      “Jou arme ding,” sê hy met oordrewe simpatie. “Vat jy dié sny. Heuning of smeerkaas?”

      “Net botter, dankie. Mmm. Dis hemels,” kreun sy van genot en eet die roosterbrood tydsaam. Sy gebruik ’n papierservet om haar lippe te klad en kyk vraend na Chris­tiaan wat haar dophou asof hy elke happie saam met haar geniet. “Hoekom kyk jy so na my? Is daar broodkrummels of botter op my wang?”

      “Nee. Ek verstom my aan jou goeie maniere: jy sterf van die honger, maar jy prop die sny brood nie in jou mond en kou dat die krummels spat nie. Ek doen dit natuurlik, maar darem net wanneer ek alleen is. En jy het die mooiste oë wat ek nog gesien het. Jý is mooi – mooier as mooi. Wanneer jy eendag mondig is, sal ek jou vra om saam met my uit te gaan. En ek sal vir jou blomme koop. Dalk nog eendag ’n ring ook. Sal jy my onthou wanneer jy die dag mondig is, mooie Maryna?”

      Sy lag guitig agter haar hand, glimlag in sy oë en skud haar kop. “Ek is twee-en-twintig, Christiaan. Ek lyk seker net jonger omdat ek nie grimering dra nie.”

      “Twee-en-twintig? Wat ’n verligting. Jy is nie dalk getroud nie?”

      Sy skud haar kop ontkennend. “Ek en Leonie Redelinghuys, my beste vriendin vir die afgelope vier jaar, het saam ons graad in Verpleegkunde in Bloemfontein verwerf en gister ons jaar van gemeenskapsdiens voltooi. Ek en sy gaan saam met haar ouers en haar twee broers vakansie hou in hulle vakansiehuis op Jeffreysbaai.” Sy byt spytig op haar onderlip. “Ek het vergeet om Leonie te bel. Ek het beloof ek sal môre by haar wees sodat ons saam Jeffreysbaai toe kan ry.”

      “Ek verstaan nie. As jou ouers in Bloemfontein woon, waarom was jy op pad noorde toe?”

      “Ons is Johannesburgers. My ma is ’n gebore Vrystater en Kovsies is haar en my ouma Ryna se alma mater, daarom het ek in Bloemfontein gestudeer. Ons bou ’n tradisie,” vertel sy terwyl sy ongemerk na sy eweredige, wit tande kyk. Sy hou van sy reguit neus en die sonbrons kleur van sy vel. Sy kan haar verkyk aan sy lang, donker wimpers, sy raafswart hare en die beduidenis van ’n kuiltjie in sy vierkantige ken. Weet hy hoe aantreklik hy is? Is dit waarom hy beloof het om haar uit te neem? Is hy gewoond dat meisies gretig is om deur hom uitgeneem te word?

      “Tradisie kan ’n pyn wees,” sê hy met onverwagse bitter­heid, merk haar verbasing en glimlag traag. “Ek verwys na my eie lewe. Tradisie kan van ’n mens ’n slaaf maak. Ek wil vry wees om my eie keuses te maak.”

      “Wie kies vir jou?” vra sy ongelowig, seker dat hy nie maklik sy wil aan andere sal onderwerp nie.

      “Tradisie,” antwoord hy ontwykend. “Maar wat nou van ek en jy? Is jy verlief of verloof? Het jy trouplanne, of mag ek vir jou ’n ruiker stuur en jou uitnooi vir ete? Toe, meisiekind, sê ja en eet nog ’n sny brood, anders voel ek gulsig. ”

      “Jy is snaaks, Christiaan,” lag sy. “Ek en jy ken mekaar glad nie. Ek weet net jy is ’n boer en jy jaag op ’n peperduur motorfiets rond. Dis jou beurt …”

      “Ja, dis my beurt om koffie te maak,” val hy haar haastig in die rede en kom orent juis toe sy selfoon wat op die koffietafeltjie lê, begin lui. Hy kyk na die naam en nommer op sy foon en vra dringend: “Kan jy soos ’n hooghartige huishoudster klink?”

      “Ek kan soos my ma se ma, my ouma Le Grange, praat,” antwoord sy glimlaggend.

      Hy tel die luiende foon op en hou dit na haar uit. “Jy is my tante se nuwe huishoudster en jy weet net ek is na ontbyt weg. Asseblief, Maryna, ek wil Neckershoogte erf.”

      2

      Maryna lees die naam “Isabel” op Christiaan se foon, wonder hoe die onbekende Isabel kan verhoed dat hy die plaas erf, en bring die foon na haar oor. Sy druk die ontvangsknoppie en boots die hooghartige, bejaarde stem van haar ouma na toe sy praat: “Goeiedag. Neckershoogte hier.”

      ’n Oomblik van stilte volg op haar woorde en dan vra ’n ongeduldige vrouestem: “Wie praat? Waar is Christiaan? Hoekom antwoord jy sy foon?”

      “Ek is mevrou Le Grange, die nuwe huishoudster op Neckershoogte,” antwoord Maryna formeel, sien Christiaan voor die deur staan, met skouers wat skud van die lag, en gluur hom aan voordat sy styf vervolg: “Meneer De Necker is reeds ná ontbyt weg. Hy het ongelukkig sy selfoon tuis vergeet. Is daar ’n boodskap vir hom?”

      “Nee. Ja. Hy moes al ure gelede hier gewees het. Wanneer verwag jy hom terug?” vra Isabel ergerlik.

      “Moontlik môre, want die rivier kom af. Ek sal meneer De Necker vra om u te bel. Tot siens,” groet Maryna, sny die oproep af en kyk verwytend na Christiaan. “Agge nee, Christiaan. Hoe kan jy verwag dat ek ernstig bly terwyl jy huil van die lag?”

      “Jy is ’n ster, mooie Maryna. Klink jou ouma Le Grange werklik so hooghartig?” vra hy.

      “Net wanneer sy haar bloedig vererg,” antwoord sy en vra onseker: “Was jy ernstig? Kan Isabel verhoed dat jy Neckershoogte erf?”

      Sy uitdrukking is skielik sober. “Ek weet nie. My tante is ’n knoeier en Isabel is haar boesemvriendin. Enigiets is moontlik.” Hy kyk in haar oë en glimlag met ’n warmte wat vuurtjies van geluk diep in haar binneste aansteek. “Maar ons gaan nie aan wispelturige vroue dink nie. Neckershoogte is ons vesting en solank as wat die rivier afkom, is ons die enigste twee mense in die wêreld.”

      “Maar …ek kan nie hier slaap nie,” protesteer sy ongemaklik.

      “Omdat jy my nie vertrou nie?” vra hy beskuldigend.

      “Nee, maar my ouers …”

      “Vertrou jou nie?” val hy haar in die rede.

      “Aag, bly stil, Christiaan. Mense soos jou Isabel …Ek wed sy sal jou tannie uitvra oor haar nuwe huishoudster, en wat dan?”

      “Dan sê ek ek was nie tuis nie en ek weet niks van die nuwe huishoudster nie,” antwoord hy ongesteurd. “Is jou klere droog? Kom, ons gaan vir ons aandete maak. Biefstuk, slaai en aartappelskyfies. Lekker. Roer jou litte, mooie Maryna.”

      “Maar ons het roosterbrood geëet,” protesteer sy toe hy haar hand in syne neem. So ’n groot hand – maar sonder eelte. En sy naels is goed versorg. Iets rym nie …Nie dat sy kan dink terwyl hy haar hand vashou nie, want sy ferm greep stuur ’n prikkeling van genot oor haar vel.

      “Dit was netnou, en jy het net een snytjie geëet. Ons gaan gesels en koffie drink en kos maak en saam-saam op die rusbank voor die kaggel sit en aanhou gesels totdat die son opkom. As ons die hele nag wakker bly, kan niemand sê jy het in die ou opstal geslaap nie …Reg, Maryna?”

      Sy glimlag en knik instemmend, bang om te praat, ingeval hy hoor sy snak na haar asem omdat hy haar hand so styf vashou.

      Maryna voel haar wang teen ’n arm skuur, weet sy is nie behoorlik wakker nie, maar weet terselfdertyd dis nie haar arm nie. Sy beweeg haar wang hoër op en ruik die reuk van naskeermiddel en die geur van ’n man se vel. Dis so snoesig en warm hier dat sy nie wakker wil word nie. Die sagte geknetter van die kaggelvuur bring haar genadeloos terug na die werklikheid. Haar oë gaan oop.

      Christiaan. Sy het met haar kop teen Christiaan se skouer aan die slaap geraak, besef sy, kyk in sy oë en ervaar ’n intense bewustheid wat haar bloed soos vuur deur haar are laat vloei.

      “Ek is so jammer …Ek het aan die slaap geraak. Ek is rêrig jammer,” maak sy verskoning, voel haar ore en wange gloei van verleentheid en skuif haastig weg van hom.

      “Goeiemôre, mooie Maryna. Ons het al twee geslaap. Ek was net gelukkig om eerste wakker te skrik sodat ek jou stilweg kon dophou. Jou wimpers is lank en donker, selfs al is jou hare