Sushi en sjampanje. Kristel Loots

Читать онлайн.
Название Sushi en sjampanje
Автор произведения Kristel Loots
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624063995



Скачать книгу

oopgemaak nie. Ek storm daar in en gaan buk oor die wasbak, so naar soos ’n landrot op die oop see. Ek draai die kraan volstoom oop, spat die water oor my gesig, bo by my borste in, my nek, skouers, alles wat aan die gloei is wat ek kan bykom. Maar die water is nie koud genoeg om my te laaf nie, dit stoom van my gesig af soos van ’n warm plaat. Ek wil my kop in die toiletbak gaan steek, ek wil in die bad klim, ek wil saam met die water deur die gorrelgat in die riool afspoel.

      Maar niks daarvan gebeur nie. Dit voel of ek elke minuut groter raak, of daar horings op my kop groei, of ek ’n plakkaat om die nek dra wat in groot rooi letters vir die wêreld vertel wat ek aangevang het. Wat gaan ek doen as Gary genoeg belangstel om te begin somme maak en by die regte antwoord uitkom? Hoe verduidelik ek my stuitigheid aan hom? En ag hemel tog! Hoe gaan ek Harry ooit weer in die oë kyk? Onnosele aap. Hoekom sít hy net daar? Hoekom doen hy nie iets nie? Hoekom sê hy nie iets nie?

      Wat? Wat moes hy sê? Verskoon my, Jacki, ek dink jou voet het op die verkeerde skoot beland. Ek gee nie om nie, maar ek voel dis my plig om jou daarop te wys. Behalwe as jy my dalk onweerstaanbaar vind en my onder die tafel deur wil plesier.

      Dis Pulani wat my kom haal met my skoen in haar hand. “Is jy oukei?” wil sy weet.

      Ek skud my kop. “Nee, nie regtig nie.”

      “Waddehel het daar aangegaan?” Sy gee die skoen vir my aan. “Hoekom is jou skoen van jou voet af? Jy en Gary het tog seker nie voetjie-voetjie gespeel nie?”

      Ek bloos van voor af. “Moenie vir jou laf hou nie, Pulani. Natuurlik nie.”

      Sien, soms praat ek tog die waarheid, die reine waarheid, al klink dit nie so nie.

      “Jy’s bleek. Is jy naar?” Sy frons. “Moenie vir my sê jy’s pregnant nie.”

      “Ek is nié pregnant nie, Pulani, ek belowe jou.”

      Ek kan nie pregnant wees nie, behalwe as ’n mens dit met ’n ge-voetjie-voetjie-spelery met Harry kan opdoen. Oombliklike bevrugting. Amper iets soos spontaneous combustion!

      Gelukkig is al twee die mans doenig met iets toe ek genoeg moed het om my gesig en die res van my by die deur uit te steek. Gary is oor sy rekenaar gebuk en dit lyk nie juis asof hy onraad of onkuisheid vermoed nie. Ek gluur Harry aan. Dis ’n if-looks-could-kill-kyk. “Sê iets!” spel daardie kyk vir hom uit. “Sê net iets en ek trap jou tjank vir jou af. Onthou, ek slaap by die baas.”

      Die res van die dag hang daar ’n vreemde, gevaarlike atmosfeer in Die Boekhoek en niemand weet waar dit vandaan kom nie. Behalwe ek en Harry, en Harry sal nie praat nie. “Ek is ’n lover, nie ’n fighter nie,” verkondig hy graag. My voete bly in my skoene en geen ander deel van my anatomie oorskry enige grense nie.

      Maar daar sit ’n stuk doringbos in my borskas vas. Ek skaam my. Waddehel makeer my? Hoekom kon ek nie my tone in toom hou nie? Dis . . . dis omdat ek ’n magic moment wil hê, ’n simpele spesiale iets wat ek en Gary deel. Oë wat ’n oomblik lank connect, miskien ’n gesteelde soentjie so in die verbygaan. Daar hoef nie tonge by betrokke te wees nie, sommer net ’n piksoentjie, al land dit ook op my neus of oor.

      Net iets, sodat ek kan weet my flippen verloofde weet nog van my. Gary, jou swernoot! Ek verwag nie veel van jou nie, jy hoef nie my klere van my lyf af te skeur of my van liefde op te vreet nie. Ek wil nie spesia­le gunste van jou hê nie, net . . . wel, my magtig, man, net ’n bietjie erkenning daarvoor dat ek soms soos Eva voor jou staan. Sonder haar vyeblaar.

      O, ek vind gewoonlik ’n hele kwota verskonings vir Gary se afsydigheid. Hy is nie demonstratief nie, terughoudend van geaardheid.

      “Met ander woorde hy’s ’n koue vis,” was Pulani se reaksie toe ek dit so vir haar probeer verduidelik het.

      Gelukkig gryp Gary sy baadjie en sy laptop hier teen twaalfuur en staan deur se kant toe. “ ’n Vergadering,” mompel hy in my rigting. “Sal seker tot laat toe besig wees.”

      Ek is verlig. Na my droogmakery huiwer ek om hom in die oë te kyk. Nou voel ek soos Eno’s wat te lank op die rak gelê het; ek het my fizz verloor.

      Ek sweer daar was al ’n paar sangomas in Pulani se familie, want dit lyk my sy ruik ’n rot op ’n afstand, al probeer jy hom as ’n skadelose konyntjie verbloem.

      “Waarnatoe is Gary?” vra sy.

      Ek haal my skouers op. “Seker maar ’n meeting of ’n ding. Hy’t nie gesê nie.” Die vrek weet, deesdae word baie sondes onder die dekmantel van meetings gepleeg.

      “Dis ’n dark horse, daai een.”

      “Dis sy werk, Pulani. Ek en jy weet nie van al Gary se wheelings en dealings nie. Hy hoef nie sy whereabouts aan ons te verduidelik nie. Dis hy wat die skip aan die seil moet hou.”

      Maar Pulani is agterdogtig gebore. “Mmm. Dis wat ek sê: ’n dark horse. Ek vertrou hom nie. Sy ogies sit te na aan mekaar.”

      Dit ís darem van my verloofde wat sy praat. Ek het die ring om dit te bewys. Nou nie juis ’n knewel van ’n diamant nie. Of ’n erfstuk wat geslagte lank al in die familie is nie. Maar darem ook nie ’n blink ding wat by ’n Nigeriër op die straathoek gekoop is nie. Wel, nie sover ek weet nie . . .

      “Wanneer nooi jy my om by jou en Gary te kom koffie drink?” karring Pulani aan my. “Jy het elke keer ’n verskoning as ek wil kom.”

      “Man, jy weet hoe is hy.”

      “Ek weet, ja. Otherwise. Waarvoor is hy bang? Dat die bure sal praat? Dat ek die eetgerei sal steel? Dat die honde vir my sal blaf?”

      “Gary het nie honde nie,” is die beste verweer waarmee ek vorendag kan kom.

      My ma kerm net so om my ore om te kom kuier, maar Gary skiet dit elke keer af. “Ek sal kyk dat sy niks rondskuif nie. Of jou kaste begin regpak nie,” verseker ek hom dan.

      “My kaste ís reggepak. Dis jou kamer wat soos ’n muisnes lyk.”

      My kamer, sy kamer . . . Sien, dis die tipe ding wat ons geheim wil hou.

      Die idee wanneer ’n ou jou nooi om by hom in te trek, is tog tradisioneel juis om jou byderhand te hê die oomblik wat hy jou wil hê.

      “Sulke ouens gebruik vroue,” het Pulani in haar gedaante as doemprofetes my probeer waarsku toe sy hoor ek gaan by Gary intrek. “En gooi hulle dan eenkant toe.” Ek wou nie met haar stry nie, ek was te haastig om my tasse te gaan pak. Die winter was in aantog en ek wou iemand hê om te cuddle. Die res was white noise.

      Ek wóú daar wees vir Gary. Langs hom. Byderhand.

      Maar ek het ’n eensame enkelbedjie van my eie, en ’n kamer van my eie in Gary se huis. Verstaan mooi – ’n kamer van my eie, so ’n gróót kamer van my eie is ’n luukse, meer as wat ek by Ma-hulle gehad het. Of in die oorvol universiteitskoshuis, of in die woonstel wat ek met vier ander meisies gedeel het in my two-minute-noodle-dae toe ek net begin werk het.

      Gary se huis is ruim en luuks genoeg. Met ’n sitkamer­stel van egte leer en ’n televisie wat amper een hele halwe muur vol staan. Wat meer kan ’n vrou vra? Om in die master’s bedroom te slaap? Ja! Behalwe dat die master verkies om snags alleen daar te slaap.

      “Ons ís nie getroud nie, pop,” het Gary my herinner toe hy my die eerste aand van my nuwe lewe saam met hom ná ons katelkaskenades vriendelik dog ferm uit sy bed jaag. Ek het soos ’n straatkat gevoel, maar dit gedwee aanvaar. Hy hét my darem pop genoem en om iemand se pop te wees is nie al wat meisie is beskore nie.

      Maar Pulani met haar gifbek sal beslis iets hieroor te sê hê. Van taktvol wees, leer hulle blykbaar nie in die Noord-Kaap nie. Dis beter om Gary se privaatheid as rede voor te hou sodat sy – en Ma – nie van ons sleeping arrangements sal weet nie. “Gary verkies om sy professionele en persoonlike lewe apart te hou,” verklaar ek.

      “Apartheid het nog nooit vir my gewerk nie.” Pulani frons, nog steeds die ene agterdog. Met daardie skerp tong sal sy nie uitgepraat raak oor die tipe apartheid wat ek en Gary toepas nie.