Satyn Omnibus 3. Helena Hugo

Читать онлайн.
Название Satyn Omnibus 3
Автор произведения Helena Hugo
Жанр Контркультура
Серия
Издательство Контркультура
Год выпуска 0
isbn 9780624065555



Скачать книгу

die reg om sulke aantygings te maak sonder dat jy na my kant van die storie geluister het nie.”

      “Ek het jou kant van die storie met my eie oë gesien!”

      “Jy het net gesien wat jy wóú sien. Ek het jou gesê die vroumens was gekletter en het sélf haar klere uitgetrek. Dink jy ek sal so ’n kans vat, op die vooraand van ons troue?”

      “Ja,” antwoord Cecilia en druk die foon dood. Sy is moeg en het nie krag vir ’n uitgerekte stryery nie.

      Dit lui onmiddellik weer en sy raap dit op. “Ja, jy sál!” herhaal sy. “Dis presies wat jy sal doen, want jy is ’n kansvatter. Kry die boodskap: Ek wil nie met jou praat nie! Nie nou nie, nie môre nie, nie oor ’n honderd jaar nie.”

      Daar is ’n stilte aan die ander kant, dan ’n verskonende kug. “Is jy kwaad omdat ek jou vir die casino verruil het? Ek kon nie anders nie, die skelm was besig om Mlala bankrot te steel.”

      Cecilia is so geskok, sy kan nie ’n woord uitkry nie.

      “Of oor die koffie wat ek belowe het en toe nie gemaak het nie? Jy’t niks gemis nie. Dis sommer kitspoeier en koue melk.”

      Sy sluk droog. “Meneer Meiring, ek is jammer. Ek het nie bedoel om jou . . . jou sommer van ’n kant af in te vlieg nie.”

      “Ek sal nooit weer bel nie, ek belowe, behalwe in ’n absolute krisis. Ongelukkig sal jy soms noodgedwonge met my móét praat, tensy jy verkies dat ek notas op jou lessenaar laat.”

      Sy weet nie of hy ernstig is nie. “Ek het gedink dis . . . iemand anders wat gebel het.”

      Melt se warm lag klink in haar oor. “Ek weet, ja. Wie is dit wat sulke wilde kanse vat? Joe?”

      “Nee, dis nie Joe nie.”

      “Die ou wat pas tevore gebel het, toe jou foon beset vas?” raai hy.

      “Dis nie belangrik nie,” sê sy ontwykend. “Ek glo nie hy sal weer van hom laat hoor nie. Is die probleem by die casino opgelos?”

      “Opgelos en opgesluit in ’n oornagsel by die polisiestasie. Ek het net gebel om te hoor of jou chalet skoon is en die yskas en geyser werk?”

      “Alles werk, dankie. Die chalet is blinkskoon en baie gerieflik.”

      “Geen mambas of knopiespinnekoppe in jou bed nie?”

      “Nee.”

      “Gaaf. Lekker slaap, en sien jou môre. Is agtuur te vroeg?”

      “Glad nie.”

      “Agtuur by die Eland, vir ontbyt?”

      Sy huiwer. Rooi ligte flikker. Sy wil nie, moenie, mág nie betrokke raak nie. Dis seerkry soek – uit die pan in die vuur spring. Sy wou Noordpool toe wegvlug. Die Laeveld is minder ekstreem, maar moet dieselfde doel dien: om haar weer heel te maak. Om haar te laat besef sy is nie ’n rankplant nie en kan sonder ’n stut funksioneer. Sonder ’n man wat haar in die rug steek sodra sy vir hom lief geraak het . . .

      Melt Meiring is nie die antwoord nie. Hy is té gaaf, té sjarmant, en sy het met die eerste ontmoeting té maklik vir hom geswig. Dit alleen moet haar agterdogtig en versigtig maak. Hy gaan nie pleisters opplak nie, net nuwe wonde veroorsaak. Sy moet van hom wegbly en die verhouding tussen hulle op ’n suiwer professionele vlak hou. Dis goed hy het nie vanmiddag vir haar koffie gemaak nie, en goed ook dat sy sterk genoeg gaan wees om nee te sê vir ontbyt saam met hom. Vera sal trots wees op haar . . .

      “Die Eland maak wonderlike cappuccino,” lok Melt. “En die lekkerste seekosomelette suid van die Sahara.”

      “Dankie, dit klink heerlik,” antwoord Cecilia en haat haarself omdat sy ’n swakkeling en ’n masochis is. As sy in die cappuccino stik of ’n visgraat in haar keel kry, sal dit haar verdiende loon wees.

      Hoekom swig sy altyd vir die verkeerde mans? Hy gaan ’n tweede Steve wees. Of erger: ’n getroude man met ’n vrou en kinders. Ouens met Melt Meiring se persoonlikheid en voorkoms loop nie los rond nie, tensy daar ’n skroef los is of hy ’n geraamte in sy kas het.

      Sy sug, staan op en loop badkamer toe. Nou het sy ’n warm skuimbad nodig.

      Die grootste luukse van die chalet is die groot geyser en die feit dat die badkamer hare alleen is. In die woonstel het sy altyd skuldig gevoel oor die warm water en as sy te lank of te dikwels gebad het. Sý kan in die hardloop lipstiffie en maskara aansit, haar hare jel en met haar vingers stileer, maar Vera en Melanie het spieëls en tyd nodig.

      Die hawermoutkleur van die teëls herinner haar aan Steve se badkamer, maar sy laat nie toe dat dit haar ontstig nie. Daardie seer bêre sy in ’n diep laai – saam met ’n ruiker wit lelies, ’n diamantring met ’n kring granaatstene en ’n wasige trourok weggepak in ’n boks.

      Sy steek ’n kers aan, lê agteroor in die bad en strek haar behaaglik uit. Pretoria voel ver weg. Waterval-Boven, Montrose en Nelspruit flits deur haar kop, toeters en motors en swaarvoertuie wat op die snelweg verbydreun. Meubelwaens en suikerlorries . . . en tussenin ’n diep, warm stem: Ek het nie bybedoelings gehad nie . . .

      Toe sy later onder die kerspitdeken inkruip, raak sy vir die eerste keer in weke rustig aan die slaap, sonder ’n natgehuilde kussing.

      9

      “Proe!” nooi Melt.

      Cecilia tel die erde-koffiebeker op, amper soos ’n outydse sopkommetjie met ’n oor, en neem ’n sluk van haar eerste Mlala-cappuccino. Dis alles wat hy belowe het, beter as Rome en die Hotel Fiori s’n. Haar oë kry ’n dromerige uitdrukking. “Hemels!”

      Toe Melt lag, vergeet sy haar bedenkinge en voorbehoud. Niemand met so ’n mooi mond en sulke blink oë kan ’n ontroue mens wees nie. Sy was bevooroordeeld. Die ontbytuitnodiging was om haar welkom te heet en te laat tuis voel.

      Sy neem nog ’n sluk en bieg dan: “Ek het gejok.”

      “Ek weet, ja.” Hy lig ’n wenkbrou. “Waaroor?”

      Sy bloos. “Dit klink asof ek ’n gewoonte daarvan maak om leuens te vertel.”

      “Nee, want anders sou jy dit beter kon doen. Waaroor? Oom Lotz?” raai hy.

      “Ja. Maar dit was nie omdat ek bang was jy krap aan my kar nie.”

      “Dis te hope!”

      “Dis omdat ek nie wou hê jy moes sien die enjin lyk soos ’n olie-toffie nie, omdat ek skaam was, want ek wou ’n goeie indruk maak.”

      “Jy het reeds, met die heel eerste kyk. Dis hoekom ek jou aangestel het en jou vir ontbyt genooi het.”

      Netnou se speelsheid is weg en sy oë wat hare gevange hou, is ernstig.

      Cecilia byt op haar onderlip. Sy soek na die teelepel en roer haar cappuccino energiek om en om.

      Sy hand vou om hare. “Jy mors in die piering en roer al die skuim weg.”

      Die uitwerking wat sy aanraking op haar het, is hewiger as gister toe hy haar ’n handdruk gegee het. Hoeveel volt kan deur ’n mens skok sonder dat jy doodgaan? wonder sy. Haar hart gaan tekere soos ’n tromspeler in ’n poporkes.

      “Moet ons nie die . . . e . . .” Sy kan met die beste wil nie die woord “omelet” onthou nie. “. . . geklitste eiers by die toonbank gaan haal nie? Ons het al ’n halfuur gelede bestel en dis seker al koud.”

      Toe sy mik om op te staan, hou hy haar teë. “Vyf minute gelede. Die kelner sal dit bring wanneer dit reg is. Cecilia . . .”

       Hy aarsel ’n paar oomblikke. “Ek weet dis gou en ons ken mekaar skaars – vanaf die dag in die foyer is hierdie maar ons vyfde ontmoeting . . . Ek is nie ’n halsoorkopmens nie en ek het daarteen gestry. Dit ontleed en probeer keer . . . Maar jy kan dit tog sekerlik ook aanvoel?”

      Sy kán, van die heel eerste oomblik af, en sy kan ook intuï­tief aanvoel wat hy wil sê.