Название | Ena Murray Omnibus 39 |
---|---|
Автор произведения | Ena Murray |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | Ena Murray-omnibus |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624065289 |
Heimlik is ’n hele klompie ook bly dat sy keuse dus nie Estelle Huizeman is nie. Dit wou al die afgelope tyd so begin lyk het, en hoewel hulle niks teen haar kon sê nie, het baie gevoel dat sy nie die regte vrou vir Henk sal wees nie. Hy is altyd so nederig, sonder enige aansit, en Estelle Huizeman is ’n dame, het hulle gevind, wat maar soms haar neus goed in die lug kon hou. Nee, een en almal wat die nuus verneem, is bly om te hoor dat Henk Beukes eindelik ’n keuse gedoen het en dat dit volgens sy dogters sommer ’n agtermekaar een is.
Toe hulle die vorige aand terug huis toe gestap het met die arms vol asters, het nie een van die twee so ver gedink dat wat hulle in groot nood kwytgeraak het, soos ’n veldbrand deur die dorp sou versprei nie. Nie dat hulle eintlik, as hulle moes weet hoe daar bespiegel word oor die jongste nuus van die dorp, veel sou omgegee het nie. By hulle is dit mos al lankal ’n uitgemaakte saak dat hul pa en tannie Lara wel sal gaan trou. Al wat van hul planne nog afgehandel moet word, is die bymekaarbring van dié twee. En dit is reeds in wording. Daar kom die trein om die draai. Tannie Lara is reeds hier, hier op Jagershoek. Oor nou al minder as tien dae sal Pa van die jagtog af terugkom en dan ... wel, dan is die saak afgehandel.
Die trein kom tot stilstand en twee paar gretige, sterreblinkende blou oë staar gretig, angstig soekend met die waens langs af. Elke oomblik nou ...
“Daar’s sy! Daar’s sy! Daar is tannie Lara!”
8
Die tweeling storm vorentoe en kom dan voor die vrou tot stilstand waar sy hulle glimlaggend staan en inwag.
Hulle kyk na mekaar – die twee paar kinderoë vas en reguit, en Lara besef dat sy op hierdie oomblik aan die strengste toets onderwerp word. Sy word geweeg.
Sy, op haar beurt, kyk na die twee eenderse gesiggies hier voor haar, en dit krimp binne-in haar saam. Baie vlugtig verskyn daar twee ander eenderse gesiggies voor haar ... Dan is dit of daar iets binne-in haar wyd oopmaak, en sy glimlag stralend.
Met kort gille van grenslose vreugde storm hulle in haar uitgestrekte arms in en sy druk die twee skraal lyfies teen haar vas, ’n arm om elkeen.
“O, tannie! Tannie!”
“O, tannie het gekom!”
“Stadig! Stadig! Julle verwurg my!” Sy maak haar laggend van die klouende arms los. “Ons moet eers my bagasie kry. Dan kan ons gesels.”
“Ons sal dit neem, tannie. Oom Dries kan die ligter goedjies dra. Hy is al oud.”
“Oom Dries?”
“Dis die oom met die taxi. Daar’s hy. Hier, oom Dries! Hier’s ons!”
Toe die ou oom hom by hulle aansluit, kyk hy nuuskierig na die mooi jong dame voor hom. Mag, maar sy is ’n beeld van ’n mens! “Dis tannie Lara, oom. En dis oom Dries, tannie.”
Lara glimlag vriendelik. “Aangename kennis, oom Dries. Ek het darem nie te baie goed nie. Net twee koffers en nog een kleintjie.”
Die tweeling gryp elkeen ’n groot koffer en oom Dries tel die kleiner een op. Toe hulle by die taxi kom, druk hulle Lara agterin en spring weerskante van haar in. Spontaan en kinderlik nestel hulle teen haar vas, en haar arms gaan werktuiglik om hulle.
Binne-in Lara Kirsten word dit vir die eerste keer werklik weer stil en rustig.
Vir die eerste keer voel sy weer dis die moeite werd om te lewe; besef sy dat daar tog nog baie mooi dinge in die lewe vir haar oorgebly het, ondanks haar groot verlies. Sy glimlag af in die bewonderende oë.
“Ek sien die klere pas toe darem,” merk sy op en hulle glimlag ingenome.
“Ons het dit spesiaal vandag aangetrek! O, dis die mooiste, mooiste klere wat ons nog gehad het! Dankie, tannie!”
“Ja, baie dankie, tannie,” beaam Bokkie ook en hulle druk van weerskante af op elke wang ’n soen.
“Ek is bly julle hou daarvan. Ek het toe vir my presies net so een gekoop.”
Hul oë rek verras. “Tannie bedoel tannie het vir tannie self ook so ’n langbroek en hemp gekoop?”
“O ja! Dis mos nou hoog in die mode! En dis lekker klere as ’n mens sommer net wil ontspan.”
Bokkie kry amper die piep van ingenomenheid. ’n Ma wat saam met hulle klinknaelbroeke gaan dra! O, heerlik! Heerlik! Waar is ou Snuffelpot nou? Sy trek mos haar neus vir daardie soort kleredrag op. Sê mos dames dra nie sulke klere nie. Haar blik keer terug na die deftige vrou hier langs haar. Dit wys jou maar net. Sy weet net mooi niks. Tannie Lara lyk ’n groter dame as wat sy ooit kan hoop om te wees, en tannie Lara het vir haarself ook sulke klere gekoop soos wat sy vir hulle present gestuur het.
“Tannie, daar is net een ding voordat ons by die huis kom ...” begin Tokkie half onseker.
“Wat is dit?”
Tokkie leun nader. Oom Dries is nou wel al meer as halfpad doof, maar darem. Baie geheimsinnig fluister sy hier teen Lara se oor: “Tannie, Pa het gesê ons moet vir tannie sê tannie moenie ... moenie die mense vertel hoe ... Pa en tannie mekaar leer ken het nie. Tannie weet mos – deur daardie hoekie-ding.”
“So?” Lara kyk op haar af. “Hoekom nie?”
Bokkie luister van die ander kant af. “Hulle hoef nie te weet nie. Tannie moet nie eens vir tant An vertel nie, hoor, tannie? Ons het haar vertel tannie en Pa het mekaar by vriende ontmoet.”
Lara knik en kan die geamuseerde glimlag nie keer nie. Sy glo goed dat die skoolhoof dit nie bekend sal wil hê dat hy ook eenkeer van daardie “hoekie-ding” gebruik gemaak het nie! “Goed. Ek sal niemand sê nie. Ek belowe,” sê sy plegtig, en die tweeling slaak elkeen ’n onhoorbare sug van verligting. Nou is alles veilig.
“Hier is ons, tannie. Daar staan tant An op die stoep.”
Soos oom Dries, sê tant An stilswyend aan haarself toe die tweeling, so trots soos twee poue aan weerskante van Lara, die stoeptrap opstap en haar voorstel: Mag, maar Henk het vir hom ’n mooi vrou uitgesoek!
“Ek is so jammer Henk is nie nou hier nie, mevrou. Hy sal tog ...”
“O, dis alles reg, tante. Ek gee glad nie om nie. Ek en die tweeling gaan hierdie tydjie baie geniet.” Sy glimlag gerusstellend. “Noem my sommer Lara, tante. Ek hoop u gee nie om dat ek u sommer dadelik tant An noem nie.”
“Natuurlik nie, me ... Lara. Ons is mos so te sê familie,” lag die ou tante en Lara frons liggies, ontspan dan weer. Dis waar. Sy het tant An al so goed leer ken deur die tweeling se briewe dat hulle wel so goed soos familie is.
Dis die tweeling se voorreg om Lara haar kamer te gaan wys, en hulle lag bly toe sy dadelik die pragtige bos asters raaksien. “O, waar kry julle dit? Dis pragtig!”
“Ons het dit spesiaal vir tannie se kamer gaan st ... e ... gekry. Dis tannie Babes wat sulke mooi blomme het. Sy het ons sommer ’n arm vol gegee. Sy het gesê ons moet vir tannie bring om by haar tee te drink,” verduidelik Bokkie.
Tokkie voeg by: “Ons moet gou daar gaan tee drink, hoor, tannie? Sy bak die lekkerste koeksisters van al Jagershoek se baasbaksters.”
Lara lag en daar waar dit so lank koud en dood was, is dit meteens weer warm en polsend en lewendig. “Dan sal ons regtig moet gaan!” Sy draai na hulle. “Maar sê nou eers vir my wie is Tokkie en wie is Bokkie.”
Hulle lag. “Ek is Tokkie en dis Bokkie, maar tannie sal nie onthou nie. Selfs tant An raak nog soms met ons deurmekaar en sy het ons so te sê grootgemaak.”
Lara skud haar kop. “O nee. Ek sal onthou. Ek is gewoond daaraan om eenderse dogters uit mekaar te ken. Ek het mos self twee gehad.” Weer voel Lara ’n verwondering in haar opstoot. Dit het nog altyd so intens seergemaak wanneer sy van haar kinders gepraat het. Maar nou ... Dis nog seer, nog baie teer, maar ... daardie verblindende, verterende pyn wat elke keer deur haar geskeur het, is hierdie keer nie daar nie. Sy kan selfs