Ena Murray Omnibus 37. Ena Murray

Читать онлайн.
Название Ena Murray Omnibus 37
Автор произведения Ena Murray
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624057376



Скачать книгу

het, maar daarna sal sy moet sorg dat sy uit Horst Buchner se pad bly.

      Die partytjie in die kinderafdeling is ’n reuse-sukses. As dit nie heeltemal so volmaak is as wat dit kon wees nie, weet die klein pasiëntjies en die personeel dit nie. Niemand het darem verwag dat dokter Horst ’n kinderpartytjie sal bywoon nie!

      Eindelik is alles weer opgeruim en lê die klomp blinkgeëte en blinkgedrinkte kinders – die trolliejoggie se beskrywing – elkeen in sy of haar bedjie, salig uitgeput ná die ongewone aktiwiteite en opwinding. Daar is geen rede vir die trolliejoggie om langer te draal nie en sy wuif maar later tot siens. Ongeërg dwaal haar blik rond op pad terug restaurant toe. Hy sou darem seker graag wou weet hoe alles toe afgeloop het . . . Maar nêrens is die lang gestalte sigbaar nie en ’n eindelose Saterdagmiddag en -aand en ’n ewe eindelose Sondag strek voor haar uit. Sy is skielik spyt daar word nie op Sondae trolliediens gedoen nie.

      Dis laat daardie aand dat dokter Horst sy verskyning in die kinderafdeling maak.

      “Alles reg hier, suster?”

      “Ja, dokter. Dankie. Alles rustig.”

      “Ek wou maar net seker maak of daar nie nagevolge van die partytjie is nie,” glimlag hy.

      Sy glimlag terug. “Niks, dokter. Hierdie klomp is so gedaan partytjie gehou, hulle slaap soos klippe. Kinderafdeling was nog nooit só rustig nie!”

      “Dan was die partytjie ’n sukses? Dis gaaf. Ons moet meermale partytjie hou, suster!” knik hy goedkeurend en stap weg. Suster Meyer se gedagtegang is min of meer op dieselfde golflengte as iemand anders s’n: Hy is regtig gaaf! Wat sou hy tog in die suurknol van ’n dokter Julene sien?

      Sondag breek troosteloos aan. Die Boland is skielik weer in sy reënjas gehul en die huis se mure begin vir Elke al nader aan mekaar skuif. “Mamma, sal Ma my vanoggend verskoon van kerk toe gaan? Ek voel lus en gaan ry sommer ’n ent.”

      “Goed, my kind. Ek dink ek sal vanoggend ’n paar briewe skryf.” Sy kyk haar dogter ondersoekend aan. “Alles reg, Elke?” Haar kind lyk vir haar deesdae soms so somber, so asof hierdie ding haar begin onderkry. Sy word nie mislei deur die breë glimlag en vinnige antwoord nie.

      “Natuurlik, Mamma! Wat kan dan nou verkeerd wees? Sien jou later. Moenie iets maak vir middagete nie. Ek kry sommer vir ons iets op pad terug.”

      Marlene begin nie dadelik met haar korrespondensie nie. Sy voel regtig bekommerd oor Elke. Haar kind is alleen. Kleintyd was sy ’n alleenkind, later as student so aangedryf deur haar ambisie en die Meissner-droom, dat sy toe ook maar grootliks ’n alleenloper was. Nou is sy afgestudeer en éérs alleen. Marlene sug diep. As haar kind maar nie so slim was nie . . . As sy maar net ’n doodgemiddelde kind was, sou sy seker teen hierdie tyd getroud gewees het met ’n doodgemiddelde man en sou sy dalk al een of twee doodgemiddelde kinders gehad het. Ai. Dis ook nie altyd ’n vreugde om ’n slim kind te hê nie. Want ’n slim mens mik hoog . . . en miskien is haar kind se visier te hoog gestel. Miskien is dit op ’n onbereikbare ster gestel . . .

      Sy lyk aangenaam verras toe sy later die voordeur op ’n klop oopmaak. Horst Buchner staan voor haar, nat druppels in sy hare en geklee in ’n netjiese pak wat hom amper vreemd laat vertoon.

      “Ek hoop nie ek steur nie? Ek is op pad terug van die kerk af en toe het ek gedink . . . e . . .”

      Hy lyk meteens so verleë soos ’n seuntjie. Marlene nooi hom gul binne. “En toe dink jy op so ’n dag kort ’n man ’n egte koppie boerekoffie! Natuurlik! Ek sekondeer! Kom binne.” Vergete is haar dogter se waarskuwing dat hy nie hier hans gemaak moet word nie. Watter kwaad kan nou uit ’n koppie koffie kom?

      ’n Rukkie later kom die vraag: “Slaap Elke nog?”

      “O nee. Sy het gery. Ek verwag haar so teen middagete terug.”

      “O.” Hy bestudeer haar. “U lyk bekommerd. Kan ek miskien help?”

      Marlene sug, kyk op. Elke het net gesê daar mag niks van háár probleem vertel word nie. Daar is geen melding gemaak van haar, Marlene, se probleme nie.

      “Ek is bekommerd oor Elke.”

      Hy frons vinnig. “Hoekom? Wat is verkeerd?”

      “Sy is so alleen, Horst. Ek kan jou seker maar so noem?”

      “Maar natuurlik! Hoe bedoel u alleen? Het sy dan nie stringe kêrels nie?”

      “Nee, natuurlik nie!”

      Sy frons verdiep. “Natuurlik nie? Op haar ouderdom het oulike meisies soos Elke gewoonlik ’n string kêrels op sleeptou.”

      “My kind was nog nooit manmal nie, Horst! Trouens, sy het nie eens een kêrel met wie sy gereeld uitgaan nie.”

      Hy frons nou skerp. “Dis nie natuurlik nie. Ek kan my goed voorstel dat daar oorgenoeg aspirante sal wees. Wat is die fout met haar? Is sy baie vol fiemies?” is die reguit vraag.

      Marlene frons. Kritiek op ’n dierbare kind staan geen moeder aan nie. Maar dan . . . Toe sy in Horst se oë opkyk, moet sy eerlik wees. “Miskien. Ek is eintlik dankbaar daarvoor, Horst. Elke sal nie sommer kop verloor nie.” Sy swyg. Die volle waarheid is dat Elke nog nooit tyd gevind het vir vaste vriendskappe nie omdat sy behep is met ’n ideaal. Dit kan sy hom tog nie vertel nie. Elke sal haar iets aandoen!

      “Hmm.” Dit klink maar skepties – asof dit hom regtig swaar geval om so ’n rabbedoe as verstandig te beskou. Alle tienermeisies is manmal; dis tog deel van die grootwordproses. As sy dan nog nie in daardie stadium is nie, sal sy binne­kort daarin beland. “Wel, al wat u kan doen, is om haar aan te moedig om vriende huis toe te bring. Ek sou my egter nie baie daaroor bekommer nie. Die een of ander tyd gaan die hormone begin werk en die vrypuisies verskyn!” glimlag hy en staan op om te vertrek.

      Toe Elke later terugkom, verraai die tweede koppie in die wasbak dat haar ma ’n gas gehad het.

      “Wie was hier?” wil sy dadelik weet.

      “O . . . e . . . jou dokter Horst.”

      Sy frons vies. Daardie man is deesdae ook oral. In die kliniek, al onder haar voete; in haar gedagtes, tydig en ontydig en nou ook nog daagliks in hul huis. “Hy is g’n my dokter Horst nie! Wat het hy hier kom soek?”

      Haar ma kyk haar verbaas aan. Elke is regtig in ’n slegte bui vandag. “Hy was op pad terug van die kerk af en het toe lus gekry vir ’n koppie koffie . . .”

      “Mamma, ek het Ma al gesê. Hy moenie hier hans gemaak word nie. Hy moet sy luste by dokter Julene loop bevredig!”

      “Elke! Jou taal! Wat gaan deesdae met jou aan? Al wat onbeskofte tiener is, sal by jou kan kom leer hoe om nog meer ongepoets te wees! A nee a!”

      Maar die oë bly parmantig en ontevrede. “Waaroor het julle gesels?”

      “O, oor dit en dat.”

      “Was ek ook een van die datte?”

      Marlene moet op die een of ander manier haar skuldgevoel wegsteek, en die beste manier van verdediging was nog altyd aanval. “Jy weet, my kind, jy is ongetwyfeld ’n Meissner. Julle dink baie van julleself. Hoekom sou ons nou juis oor jóú gesels het?” Sy aarsel effens toe haar dogter se blik steeds skepties bly. Wel, sy is klaar aan’t lieg. “Hy het nie eens na jou gevra nie, om die waarheid te sê.”

      “O.”

      Later in haar kamer staan en kyk sy na haar beeld in die spieël. Haar hare hang sag om die klein gesiggie – soos sy dit altyd gedra het voordat sy ’n trolliejoggie geword het. Maar as dié man skielik ’n onversadigbare lus vir haar ma se koffie ontwikkel het en tydig en ontydig hier gaan opdaag, moet sy nou maar pal boksterte dra en haar hoëhakskoene en mooi rokke wegbêre vir later. Wanneer later is, wonder sy self.

      Maar toe sy Maandagoggend haar trollie se voorraad aanvul, het sy vaste, vasberade voornemens betreffende Horst Buchner. Dié man moet nou op die regte plek gesit word. Hy is in die eerste plek – en vergeet jy