Название | Skynglans van geluk |
---|---|
Автор произведения | Christine le Roux |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780798157858 |
Sy breek afgetrokke ’n paar dooie blomkoppe af en wens Henri wil bel sodat sy kan begin inpak en plek bespreek op die vliegtuig. Haar ouers is dood net voordat sy Amerika toe sou kom, en die verblyf hier in die vreemde het gehelp om die gemis te versag. Dis nou net sy en Nanette oor, en sy verlang na haar suster en die heerlike, giggelende gesprekke van hulle jeug.
Toe sy die voordeur oopsluit, hoor sy die telefoon lui. Sy skop haar sandale uit en hardloop kaalvoet die gang af.
“Hallo,” sê sy effens uitasem.
“Elize,” sê Henri, en sy kan hoor sy stem is vol lag, “jy is wonderlik. Geluk. Ons begin oor drie weke skiet as dit jou pas.”
“Ag nee,” sê sy en gaan sit sommer plat op die vloer met die instrument op haar skoot. “Spot jy net?”
“Nee. Ek spot glad nie. Ek het nou net die toets gesien en jy is fantasties, presies wat ek wil hê, presies soos ek geweet het jy sal wees.”
“Ag, nee,” sê sy weer. “Ek het so gehoop dis ’n mislukking.”
Hy lag hard en lekker. “Weet jy dat daar duisende meisies is wat hulle lewe sal gee om in ’n rolprent te speel? En al wat jy kan doen, is om te sug!”
“Maar ek is nie ’n aktríse nie,” sê sy vir die hoeveelste keer. “Ek is ’n skryfster. Waarom het jy nie een van daardie duisende meisies gekies nie? Waarom pik jy op my? Buitendien hou ek niks van Robert Ryan nie en ek weet nie hoe ons ooit saam kan werk nie en –”
“Wag,” keer hy. “Wag nou eers ’n bietjie. Een ding op ’n slag. Ons gaan die prent nie hier skiet nie, ek soek ’n kleiner dorp.” Hy noem die naam van die plekkie en sy is bly, want sy was al daar en dis ’n mooi, boomryke dorp, ’n plek waarvan sy hou. “Ek bel jou weer, maar ons begin oor drie weke. Kry maar jou dinge in orde. Terloops, het jy ’n agent?”
“Moenie laf wees nie,” sê sy vies. “Wat moet ek met een maak?”
“Alle aktrises of akteurs het agente,” antwoord hy.
“Ek is nié ’n aktrise nie!” sê sy kwaad.
Hy lag weer, belowe om haar gou weer te bel en lui af.
Sy bly net daar op die mat sit. Noag kom lek simpatiek aan haar skouer en gaan lê dan steunend langs haar. Sy kyk na die gehoorstuk in haar hand en ’n oomblik lank is sy lus om Henri dadelik weer te skakel en vir hom te sê dis buite die kwessie, hy moet iemand anders kry, sy wil dit nie doen nie. Maar sy weet dat dit onmoontlik is. In die eerste plek het sy die volste vertroue in Henri se oordeelsvermoë. As hy om een of ander rare rede dink sy sal goed wees in sy nuwe prent, moet sy haar daarby berus. In die tweede plek is sy baie aan hom verskuldig.
Toe sy drie jaar gelede hier aangekom het, was sy vreemd en verwilderd en baie naïef. Sy het nie geweet wat om te verwag nie, en sy het niks verstaan omtrent die ingewikkelde proses van rolprente maak van boeke nie. Toe sy dit eers behoorlik verstaan het, was sy bly dat haar eie boek vergete geraak het. Maar teen daardie tyd was sy betrek, of sy nou daarvan gehou het of nie. Een van Henri se vriende en die man wat met haar boek sou werk, het haar gevra om te help met ’n draaiboek aangesien hy dink sy kan haar dialoog goed hanteer. Dit was ’n uitdaging, en sy het hard gewerk en ’n sukses daarvan gemaak.
Toe het sy vir Lucy en Henri ontmoet en dadelik tuis gevoel by hulle. Hulle was sulke goeie, liewe mense en glad nie soos sy haar ’n beroemde regisseur en sy vrou voorgestel het nie. Hulle het haar gehelp om die huisie in die hande te kry en sy was so dankbaar om uit die hotel weg te kom. Hulle het haar onder hulle beskermende vleuels geneem. Sy het naweke saam met hulle weggegaan wanneer Los Angeles vir hulle te veel geword het. Hulle het in die berge kampeer en om kampvure gesit en mekaar leer ken. Sy is soos ’n eie kind in hulle huis verwelkom en daarom voel sy dat sy iets aan Henri verskuldig is.
Elize staan sugtend op en sit die telefoon neer. Toe loop sy kombuis toe, maak vir haar ’n beker koffie en gaan sit opgekrul op die rusbank met die draaiboek in haar hand. Sy sal dit maar weer ’n keer deurlees sodat sy reg is wanneer Henri wil begin repeteer. Hy is ’n perfeksionis, dit weet sy. Hy sal weke aan een toneel werk en nie tevrede wees voordat dit heeltemal reg is nie. Sy wens daar was meer spelers, maar feitlik die hele draaiboek draai net om haar en Robert.
Sy kners weer op haar tande. Hoe op aarde gaan sy liefdestonele speel met so ’n wysneusige, afsydige mansmens? Sy het nog altyd gewonder hoe aktrises dit regkry; sy het maar aangeneem dat hulle opgelei en geoefen is om dié soort van ding te doen. Maar sy is glad nie opgelei nie. Sy weet van die hele spulletjie niks nie!
Henri hou daarvan om met onopgeleide mense te werk, dink sy suur. Sy onthou hoe hy eenkeer vir haar verduidelik het dat mense soos ongevormde klei moet wees sodat hy hulle kan vorm en lei. Hy hou nie van akteurs wat hulle eie koppe wil volg nie. En sy kan vaagweg begryp waarom hy dink sy is die aangewese mens om die rol van die afsydige, verbitterde Anne te speel.
Sy sug en dwing haar gedagtes weg van Charles en hulle liefde vir mekaar wat so wreed beëindig is deur die motorongeluk. As sy en Charles getroud was, wás sy nou ’n weduwee. En sy hét daarna nooit weer in mans belang gestel nie. Die wonde is nou genees, soos die wonde na haar ouers se dood ook genees het, maar die hartseer sal altyd bly en sy voel nou, twee jaar na Charles se dood, nog nie gereed om weer haar gevoelens bloot te stel aan ’n ander man nie. Sy het haar werk en dit is genoeg.
Charles het niks met die rolprentbedryf te make gehad nie en daarvan het sy gehou. Hy was ’n doodgemiddelde prokureur met ’n liefde vir vinnige motors; ’n liewe, spontane soort mens. En hy het die wonderlikste sin vir humor gehad. Niks in die rolprentstad het hom beïndruk nie. Miskien het hulle juis daarom so goed klaargekom. Hy was nie ’n veeleisende mens nie, hy was nooit nukkerig nie, hy was eerlik en opreg. Sy het daarna uitgesien om hom Suid-Afrika toe te nooi en aan Nanette voor te stel. Gerrit sou ook van hom gehou het, daarvan is sy seker. Gerrit hou nie van kapokhaantjies of aanstellerige mans nie.
Toe die oproep gekom het om haar die tyding van sy dood te bring, was sy kalm. Sy kon dit net eenvoudig nie glo nie. Charles doen nooit dramatiese dinge nie. Dis seker ’n grap, het sy bly glo. Hy sal netnou bel en vra: “Het ek jou laat skrik?”
Maar dit was waar. Sy het langs die graf gestaan en die soet, amper sieklike reuk van blomme ingeasem en gekyk hoe die kis in die aarde verdwyn. Charles was weg. Hy was regtig dood. Toe het die werklikheid tot haar deurgedring en weer eens was dit Henri en Lucy wat by was met hulle breë, simpatieke skouers waarop sy kon huil.
“Huil,” het Henri haar aangemoedig. “Dis goed vir jou. Huil en kry al die hartseer uit. Moenie opkrop nie.”
Maar sy kon dit nie doen nie. Sy was nog nooit iemand wat maklik haar gevoelens kon wys nie. Vandat sy klein was, bewaar sy ’n diep gevoel asof dit ’n kleinood is wat slegs in privaatheid uitgehaal en hanteer mag word. Sy huil nie voor ander mense nie; sy vertel hulle nie hoe sy voel nie.
Om haar hartseer oor Charles te verwerk, het sy lang ente langs die strand gaan stap – sy en Noag. Sy het gewonder waarom hy dood is, waarom haar ouers moes sterf. Wat is die doel van alles? Waarom raak ’n mens lief vir ’n man net om hom te verloor?
Sy was nog altyd uit pas met haar tydgenote en die drie jaar in Amerika het dit selfs sterker hy haar tuisgebring. Sy was nog nooit deel van die nuwe, permissiewe gemeenskap nie. Sy het haar eie idees gehad, haar eie morele kode en sy het net gedoen wat vir haarself aanvaarbaar was. Dit maak nie saak wat die ander