Sarah du Pisanie Omnibus 6. Sarah du Pisanie

Читать онлайн.
Название Sarah du Pisanie Omnibus 6
Автор произведения Sarah du Pisanie
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624052579



Скачать книгу

haar en Hermaans met genoegdoening aankyk en sy sal haar voortande gee om te weet wat hy vir hulle gesê het.

      Die Herero’s drink net koffie en maak daarna die vuur dood. Elsa sluk nog ’n beker vol weg voordat sy die ketel leegmaak en dit weer aan die wa haak.

      Sy trek haar hoed diep oor haar oë en stap na die osse toe. “Ek sal hier oorvat, jy kan maar in die wa klim.”

      “Dis nie nodig nie, ek sal regkom, dankie!”

      “Moenie weer moeilikheid soek nie. Ek weet wat ek doen. Gaan klim in die wa.” Hy kners die laaste paar woorde uit en stap by haar verby.

      Dankbaar klim Elsa in haar wa en gaan lê op die smal bedjie.

      Ai! Kurt, waar is jy tog? Die versugting kom diep uit haar moeë liggaam. As ek net eers by jou kom, sal al my probleme opgelos wees, dink sy.

      Kort voor lank is sy vas aan die slaap van die wa se geskommel en gewieg. Dit voel vir haar of sy nou net gaan lê het toe sy Hermaans se bulderende stem hoor en die waens tot stilstand kom.

      Sy spring uit, heeltemal gewillig om haar deel van die uitspanpligte waar te neem.

      Sy staan verstom stil. Hulle uitspanplek vanaand is die mooiste wat sy nog gesien het. Groot bome vorm ’n dak oor ’n gladde, skoon stuk veld op die rivier se wal. ’n Entjie hoër op in die droë rivier sien sy die blink van water in ’n diep kuil.

      Nadat die osse uitgespan is, verdwyn Hermaans met die geweer oor sy skouer.

      Elsa pak haar wa ’n bietjie reg, want dit is nog te vroeg om met die kos te begin. Sy hoop dat Hermaans iets in die hande sal kry sodat hulle vars vleis het vir vanaand. Gewoonlik deel hulle die vleis met die Herero’s, want dit bly nie lank behoue in hierdie hitte nie.

      Sy stap uit onder die groot koeltebome en loop af na die kuil, wat haar blinkend en lokkend nader roep. Die pragtige stuk blink water is vir haar sprokiesmooi, asof dit allerhande geheimenisse inhou.

      Agter die rots sien sy die rede vir die skoon, helder water. ’n Fonteintjie stoot oor in die kuil en vloei verder af in ’n smal stroompie weg.

      Vinnig stap sy terug wa toe. Nou gaan sy bad, kom wat wil! Hermaans sal nie weer onverwags op haar afkom nie. Hy weet mos darem sy is daar. Sy sal haar handdoek oor die bos hang sodat hy dit van ver af kan sien.

      Sy was haar hare en staan lank in die heerlike koel water. Haar gesig is warm van die son en die koel water is soos lawende olie op haar seer vel.

      Sy trek ’n ligte pienk rokkie met fyn, wit blommetjies aan en gaan sit op die rots om haar hare te borsel. Die donkerbruin hare glim sag in die laatmiddagson en weerkaats rooi strepe toe dit begin droog word.

      Sy tel haar handdoek op en terwyl sy na haar wa toe terugstap, neurie sy ’n deuntjie. Die sagte materiaal van die rokkie vertroetel en streel haar vel na die harde, skurwe kakieklere wat sy die afgelope ruk moes dra.

      Sy smeer ’n bietjie room aan haar gesig en bind haar hare met ’n pienk strik agter haar nek vas.

      Kurt kon altyd haar hare so liefkoos. Hy het haar keer op keer laat belowe dat sy dit nooit sal afsny nie. Sy dink dit is ook maar die groot rede hoekom Herr Schultz haar so maklik kon oorreed om dit nie te doen nie.

      O, Kurt, ek het jou so lief. Ek wens ons is al bymekaar ... maar waar in hierdie grote land gaan ek begin soek na jou?

      Saggies praat sy met die foto wat sy uit haar trommel gehaal het en nou styf teen haar bors vasdruk.

      Hermaans se geroep na die Herero’s klink hard buite op, nog voordat die perdepote se geluid stil geword het.

      Sy loer by die wa uit en sien hoe hy ’n springbok aan Simon oorhandig om af te slag.

      Elsa besluit om vanaand weer vir hulle lewer en niertjies gaar te maak, maar hierdie keer met ’n suursous. Sy het gesien daar is asyn in die wakis waar die kos gebêre word.

      Uit haar trommel diep sy ’n groot, wit voorskoot op en bind dit om haar dun middeltjie. Toe wip sy uit die wa en stap nader om te gaan vuurmaak.

      Hermaans beskou haar verwonderd toe sy nader kom. Iets so mooi en vroulik het hy in sy hele agt en twintig jaar nog nie gesien nie. Dit lyk of die pienk rokkie die blos op haar wange weerkaats en haar hare blink soos gepoetste koper in die laat sonnetjie.

      Hy sluk ongemaklik en skud sy kop effens, asof hy dinge meer in perspektief probeer kry.

      Elsa sê niks, maak net stilweg grassies bymekaar en pak fyn houtjies op om dit aan die brand te steek.

      Toe kyk sy verleë na hom. “Ek het nie vuurhoutjies nie. Kan ek nie maar ’n dosie kry om by my te hou nie?”

      Hy buk by die houtjies en steek dit aan die brand voordat hy die dosie stil na haar uithou.

      “Baie dankie.”

      Sy sleep van die groot stompe aan en pak dit oor die vuurtjie. Hermaans draai steeds verdwaas om en stap na sy wa.

      Simon, wat vir Hermaans iets wou kom vra, kom nader en help haar om die stompe op die vuur te pak.

      Hy en Filemon praat albei goed Afrikaans en hy gesels dus glimlaggend met haar. “Ai! Meneer Hermaans het vir hom ’n mooi vrou gevat!”

      Hy skud sy kop half ongelowig. “Ons dink al die tyd juffrou is ’n seun ... Meneer Hermaans is baie slim.”

      Elsa kyk hom eers onbegrypend aan en glimlag toe. “Hoekom sê jy so, Simon?”

      “As die mense ons aanval, sal hulle nie dink juffrou is ’n vrou nie. Hulle sal dink juffrou is ’n seun en hulle sal juffrou uitlos.”

      “Simon ... Kao het nog nie teruggekom nie, het hy?”

      “Nee, juffrou! Maar hy is snaaks, daardie ene. Meneer Hermaans sê Kao dink juffrou is ’n spook van die voorvaders.”

      “Ek het nie gedink hy sal skrik nie, Simon. Nou gaan meneer Hermaans swaarkry sonder Kao. My hart is baie seer omdat ek so baie moeilikheid gemaak het.”

      “Nee, juffrou, dit is nie so ’n groot moeilikheid nie. Ek sal mooi kyk in die pad. Ek dink Kao sal terugkom daar by Otjimbingwe. Hy het baie oë – hy sal self sien juffrou is nie ’n spook nie.”

      “Ek hoop so, Simon. Ek wil nie graag vir meneer Hermaans so baie moeilikheid gee nie.”

      “Nee wat! Hy sal nie omgee nie.” Simon lag. “Meneer Hermaans ... juffrou maak sy hart bly, want juffrou is ’n vrou.”

      Elsa kyk liewer anderpad. As Simon moet weet hoe woedend sy Hermaans maak, en glad nie bly nie, sal hy nie so vriendelik met haar wees nie.

      Sy gaan sit op haar stoeltjie onder die boom en wag vir die water om te kook sodat sy koffie kan maak.

      Elsa sien hoe Simon iets aan Hermaans beduie. Hermaans se gesig is stil en geslote toe hy ’n geweer agter uit die wa haal en aan Simon gee.

      Die koue skrik kom slaan om Elsa se hart vas. Sou Simon dalk vandag vyandige stamme of bendes opgemerk het? Hermaans stap met sy handdoek by haar verby op pad na die waterkuil en kom eers na omtrent ’n halfuur terug. Hy het skoon klere aan en lyk vars en manlik. Elsa wens hy wil die nare swart baard afskeer. Sy dink hy sal jare jonger lyk. Nuuskierig wonder sy hoe oud hy sou wees. Hy is so massief dat ’n mens beswaarlik sy ouderdom kan skat.

      Die reuk van gebraaide uie hang swaar in die lug. Elsa braai eers die lewer en niertjies ’n bietjie saam met die uie voordat sy ’n deksel op die pot sit om dit te stowe. Sy maak ’n pot pap daarby. Sy het al opgemerk dat Hermaans besonder lief is vir mieliepap saam met vleis.

      Hy kom sit stil op die omgevalle boomstomp ’n entjie van die vuur af. Hy rook ingedagte sy pyp en hou haar onderlangs dop.

      Sou sy nou regtig aan Kurt Strassen verloof wees? Kurt moet in elk geval liewer vermis bly voordat hy hom in die hande kry.

      Hy het gehoop ’n leeu het hom al opgevreet. Dit lyk egter nie so nie, volgens haar storie. Sy het blykbaar drie