Название | Tryna du Toit-omnibus 3 |
---|---|
Автор произведения | Tryna du Toit |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780798158862 |
“Ek het darem die middag af, Dokter, dan kan ek gaan slaap,” antwoord sy ewe opgewek.
Karin en dokter Roux was net besig om vir die matrone tot siens te sê toe dokter Slabbert ook daar aankom. Hy het ’n liggrys pak aan en Karin kry die indruk dat hy pas onder ’n koue stort uitgekom het. Van gisteraand se vermoeienis is daar vanoggend geen teken te bespeur nie.
Hy stap reguit na hulle toe.
“Goeiemôre, Matrone. Goeiemôre,” groet hy saaklik. Die koel bruin oë rus ’n sekonde lank op Karin asof hy wil vasstel watter uitwerking die nag se wedervaringe op haar gehad het, dan draai hy na dokter Roux. “Ek is bly ek kry jou nog hier, Isak. Daar is iets wat ek met jou wil bespreek voor ons spreekkamers toe gaan.”
“Ek sal in die motor gaan wag,” bied Karin aan. “Dan kan Matrone ook met haar werk aangaan.”
Karin stap buitentoe en die matrone gaan terug na haar kantoor toe. Maar Ralie Vermeulen se gedagtes is nie by haar werk nie. Die beeld van ’n meisie met swart, glansende hare en oë so blou soos koringblomme bly voor haar oë en sy voel vreemd ontsteld. Die hospitaal is haar heiligdom en sy is jaloers op enigiets of enigiemand wat inbreuk maak op haar manier van dinge doen. En sy het ’n gevoel dat die jong dokter se koms na Doringlaagte dalk op subtiele wyse ’n hele paar lewens kan raak, ook haar eie.
Sy bewonder Hugo Slabbert al van die eerste dag dat sy hom ontmoet het. Hy is nie net ’n bekwame dokter nie, hy is net so nougelet en presies soos sy en hulle kom baie goed oor die weg. Hulle verhouding was bloot vriendskaplik, maar solank sy hom daagliks by die hospitaal gesien het en saam met hom kon werk, en die gerusstelling gehad het dat hy nie in ’n ander vrou belangstel nie, was sy tevrede om sake daar te laat. Maar Karin de Wet se koms maak haar onrustig en sy erken dat sy diep in haar hart nog altyd gehoop het die dag sal aanbreek dat Hugo Slabbert meer as net vriendskap van haar wil hê.
Toe hy ’n paar minute later by haar kantoor inkom, is daar egter geen teken van ontsteltenis by haar te bespeur nie. Sy kyk heeltemal kalm van haar werk af op en lê haar pen op die lessenaar neer, dadelik gereed om hospitaalsake met hom te bespreek.
Hugo is vanoggend haastig en nadat hulle vinnig gepraat het oor ’n pasiënt wat die middag van ’n buurdorp vir behandeling en ’n moontlike operasie sou kom, staan sy op om hom op sy rondte deur die hospitaal te vergesel.
“En ek was toe vannag met al die opgewondenheid afwesig,” sê sy glimlaggend toe hulle die trap opstap.
“Alles het gelukkig goed afgeloop.”
“Hoe het dit dan gekom dat dokter De Wet ook by was? Sy het tog seker laat gistermiddag eers hier aangeland.”
Haar stem is kalm, met net genoeg belangstelling om natuurlik te klink, en gee geen teken van die nuuskierigheid wat haar verteer vandat sy vanoggend aan diens gekom en van die nag se gebeure gehoor het nie.
“Ek het dokter Roux gaan vra om narkose toe te dien en sy was ook toevallig daar. Sy wou net kom kyk, maar was later verplig om hand by te sit.” Sy onpersoonlike stem verraai niks van sy gevoelens nie.
“Sy lyk baie jonk,” gaan die matrone kalm voort, maar dokter Slabbert antwoord nie en sy besluit dis beter om ook stil te bly.
Dokter Slabbert besoek eerste die vrou wat hom die vorige nag van soveel slaap beroof het. Die oomblik toe hy by haar kamer inkom, sien hy dat alles nie pluis is nie. ’n Verpleegster staan oor die pasiënt gebuk, haar vingers op die vrou se pols, en duidelike ontsteltenis is op haar gesig te lees. Sy kyk verlig op toe hulle inkom.
“Ek wou Matrone nou net gaan roep,” sê sy benoud. “Ek … ek was net ’n minuut uit die kamer …”
Met een tree is Hugo Slabbert langs die vrou se bed.
Sy lê met geslote oë, haar gesig so wit soos die kussing waarteen dit rus, haar lippe blou. Besorg buk hy oor haar. Haar polsslag is baie flou en onreëlmatig en hy skud net sy kop vir die angstige vraag wat hy in die oë van die man aan die oorkant van die bed lees.
“Dit lyk nie goed nie,” sê hy onderlangs vir die matrone. “Ek wil dadelik ’n bloedoortapping gee.”
Stom en verslae bly die man daar langs sy vrou se bed sit totdat dokter Slabbert aan hom raak en hom vra om saam met hom uit te gaan. Blindelings strompel die man die gang af en dokter Slabbert sit sy hand op sy arm en lei hom na ’n klein wagkamertjie daar naby.
“Wag so ’n bietjie hier,” sê hy. “Jy kan oor ’n rukkie weer na haar toe gaan.”
Dis of die man eers nie begryp wat hy sê nie.
“Gaan sy sterf, Dokter?” vra hy smekend.
“Nee,” sê dokter Slabbert beslis. “Sy is baie swak van al die bloedverlies, maar ons gaan haar dadelik ’n bloedoortapping gee.”
“Dokter,” pleit die man, “doen asseblief jou bes. Dis of ek nou eers besef wat sy al die jare vir my beteken het.”
“Ek sal my bes doen.” Hugo Slabbert se stem is kortaf. Hy is haastig om terug te kom by sy pasiënt. “Jy durf nie nou moed verloor nie. Onthou, jy moet vir haar part ook sterk wees.”
Sonder om te wag om die uitwerking van sy woorde op die man te sien, draai hy om en stap vinnig weg. Hy kom Kitty Erasmus in die gang teë en keer haar voor.
“Net ’n oomblik, Kitty. Vra asseblief die telefonis om spreekkamers toe te bel en te sê dat ek vertraag is.”
Dawid du Plooy bly alleen in die wagkamer agter. Met onsiende oë staar hy by die venster uit, sy gedagtes by sy vrou wat so bleek en uitgeput teen die kussings lê. Vrees dreig om hom te oorweldig. Wat sal van hom en die kinders word as Elsie moet sterf?
Stadig, pynlik stadig, kruip die sekondes en die minute verby en dit voel vir hom of ’n ewigheid verbygegaan het toe hy die dokter oplaas voor hom sien staan.
“Dit gaan beter,” sê dokter Slabbert. “Gaan na haar toe, maar moenie gesels nie. Sy is nog baie swak.”
Dawid du Plooy kyk dankbaar op in die dokter se gesig, maar die woorde sit vas in sy keel. Liggies, begrypend rus Hugo Slabbert se hand ’n oomblik op sy skouer, dan stoot hy hom saggies maar beslis in die rigting van die deur.
“Gaan nou,” herhaal hy. “Sy wag vir jou.”
“Dankie, Dokter,” sê Dawid du Plooy en die woorde kom uit die diepte van sy hart.
’n Paar oomblikke bly Hugo alleen in die kamertjie staan. Hy is gewoond om trane te sien, om woorde van dank en waardering te hoor. Dit is deel van ’n dokter se werk. Maar die man se opregte liefde vir sy vrou het hom getref, hom opnuut laat besef dat daar ’n leemte in sy lewe is wat sy werk, hoe bevredigend dit ook al mag wees, nie kan vul nie.
Dan draai hy om en stap uit.
In die kamer langs die kombuis kry hy vir Kitty besig om teekoppies reg te sit.
“Sal jy asseblief vir meneer Du Plooy ’n koppie koffie neem, Kitty?” vra hy.
“Seker, Dokter,” antwoord sy dadelik. “Dit was my plan.”
“Koffie, nie tee nie,” herhaal hy en Kitty bloos skuldig.
“Ek sal dadelik koffie gaan maak, Dokter,” belowe sy en hy grinnik effens. Dit gee haar die moed om te vra: “Kan ek vir Dokter ook ’n koppie bring?”
“Nee dankie, ek is haastig. Daar wag nog pasiënte by die spreekkamer.”
Hoofstuk 6
Toe Karin en Isak Roux by die spreekkamers aankom, het daar reeds ’n hele aantal pasiënte op hulle gewag.
Oom Japie het die vreemde rooi tweesitplekmotor agterdogtig van die stoep af gade geslaan en ongemaklik op die harde bankie rondgeskuif. Hy voel vanmôre kriewelrig. Sy bors was vannag baie benoud en hy het maar sleg geslaap. Alie se smeergoed was ook op en hy was toe verplig om weer spreekkamers toe te kom. En terwyl