Название | Tryna du Toit-omnibus 2 |
---|---|
Автор произведения | Tryna du Toit |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780798157674 |
Paul bekyk vlugtig die uithangborde. Daar is dit: Huwelike. Die deur is oop en hulle gaan die kantoortjie binne. ’n Ouerige man met ’n groot voorkop en yl grys hare kyk effens op van die registers waarmee hy werk en loer bo-oor sy bril na hulle. Sy oë is helderblou – amper soos Paul s’n, dink Debbie – maar waterig. Die rande van sy ooglede is rooi. Sy hele houding is onpersoonlik en saaklik.
“Goeiemôre, Meneer,” sê Paul.
“Goeiemôre,” kom die antwoord half meganies en hy skryf gou eers ’n paar woorde in die register.
Debbie het ook ’n flou “goeiemôre” geuiter.
Die amptenaar voltooi ’n vel in die register, klad sy skryfwerk versigtig, vergelyk dit vlugtig met die vorm, sit sy pen neer en skuif die vorm met ’n kykie bo-oor die bril in ’n vakkie in. Debbie sien dat sy swart kantoorbaadjie by die elmboë deurgeslyt is. Hy plaas die vingerpunte van albei hande op die toonbank. “Ja, Meneer?” vra hy vir Paul.
“Ons wil graag vanoggend trou, Meneer.”
Paul is ook senuweeagtig, sien Debbie, en dis of sy skielik sterk en sekerder voel. Sy het Paul lief, sy wil met hom trou. Dis maar net dat dit so anders is as wat sy haar dit altyd voorgestel het.
Die ou man draai stadig na Debbie en kyk haar aan asof hy by haar ook bevestiging wil kry. Voor sy kan dink, antwoord sy op sy onuitgesproke vraag: “Ja, Meneer.”
Hy kyk weer na Paul. “Spesiale lisensie,” sê hy asof hy vir Paul iets voorsê.
“Ja, Meneer.”
“Is julle ouers of familie hier?”
“Nee, Meneer.”
“Weet julle ouers van julle voorneme? Het julle ’n toestemmingsbrief van die dame se ouers?”
Paul kry effens kleur. “Ons ouers weet niks van ons planne nie. Ons is albei mondig.”
Die amptenaar trek ’n laai onder die toonbank oop, vroetel tussen dokumente en bring ’n paar vorms te voorskyn wat hy noukeurig deur sy bril betrag.
“Julle sal hierdie verklaring moet voltooi.”
Hy sit die vorms voor hom neer en reik na sy pen. Nou kom dit, dink Debbie. Hy sal seker eerste vir Paul vra. Paul het tog al die praatwerk gedoen. Dan sal sy ook al haar antwoorde reg hê.
Skielik kyk die waterige blou oë haar stip aan. Hulle is effens vergroot deur die bril. “Waar woon jou ouers, Juffrou?”
Die vraag beteken eers niks vir Debbie nie. Waar woon haar ouers? Waarom vra hy dit nou? Wil hy met hulle in verbinding tree? Sê nou hy ken hulle? Hy moet mos haar name vra. En haar ouderdom. Negentien elf, nie negentien veertien nie.
Sy word bewus van die pouse. Sy klem haar handsakkie onder die toonbank styf vas sodat haar hande nie moet bewe nie.
“Op Sandspruit, Meneer.” Dis of iemand anders praat.
“Ken jy die juffrou se ouers?” Dis nou weer Paul se beurt.
Paul is ook nie op sy gemak nie. “Ons is albei studente – van Pretoria. Ons het mekaar daar leer ken.”
Paul bly stil en wag vir ’n verdere vraag.
Maar daar kom geen verdere vraag nie. Die twee ou blou oë wag dat hy moet aangaan. Paul weet hy moet stilbly en wag vir verdere vrae. Hy sê onnodig te veel. Maar die blou oë wag dat hy aangaan.
“Ons het besluit om te trou voordat ons huis toe gaan.” Paul voel hoe lamlendig sy antwoord, sy ongevraagde verduideliking, klink. Hy kan mos nie vir die nuuskierige ou vent sê hy trou met Debbie omdat hy haar liefhet, omdat hy haar wil beskerm, omdat hy moet nie. Hy kan ook nie vir hom sê dit gaan hom nie aan waarom hulle trou nie. Hy het ook nie eens gevra nie. Dis maar net die oë wat vra.
“Wanneer is jy gebore, Juffrou?”
Vinnig kyk Debbie op. Sy was die vraag nie te wagte nie. Nie nou al nie. Sy het gespanne gestaan en wag vir wat Paul sou sê. Dan sê sy vinnig: “Negentienhonderd en elf.” Haar stem het net so effens gebreek voor die “elf”, maar sy voel skuldig. Sy voel hoe sy bloos. Sy weet die ou man agter die toonbank lees die leuen in haar oë en sy kyk weg.
Die man se lang, maer vingers beweeg asof hy drie, vier note oor en oor op die toetse van ’n klavier herhaal. Hy staan ’n oomblik ingedagte.
“Wag net ’n oomblikkie, asseblief,” sê hy en hy stap na ’n sydeur, klop en gaan die vertrek binne. Hy maak die deur saggies toe.
Paul en Debbie kyk na mekaar, maar hulle praat nie. Die onrus wat hy in haar oë lees, vul sy hart ook, maar hy kan dit beter wegsteek as sy. Hy sit ’n oomblik sy hand gerusstellend op hare en glimlag. Gespanne wag hulle.
Debbie skrik toe die deur weer oopgaan. Die ou man kom uit, maar voor hy die deur toetrek, wissel hy eers nog ’n paar woorde met iemand in die ander vertrek. Hulle hoor die stemme, maar kan nie uitmaak wat gesê word nie. Toe kom hy terug na die toonbank en sê: “Die landdros het nou ’n afspraak. Hy sal nie voor halfeen beskikbaar wees nie. Hy voel dat hy julle by afwesigheid van julle ouers, of hulle skriftelike toestemming, moet vra om julle geboortesertifikate voor te lê. Het julle dit dalk by julle?”
Paul voel hoedat ’n woedebui dreig om hom te oorweldig. So ’n vervelige, bemoeisieke vent! Kan hy nie sy werk doen en hulle in vrede laat gaan nie? Met moeite bedwing hy hom en sê: “Nee, Meneer. Ek het nie gedink dis nodig nie.”
“Die landdros wil dit graag hê. Julle kan dit by die Uniegebou kry, by die Registrateur van Geboortes.”
“U bedoel ek moet teruggaan Pretoria toe?” vra Paul ongelowig.
“Dit sal nodig wees.”
Paul voel hoe sy hande van ontsteltenis bewe. Hy durf nie na Debbie kyk nie. Hy probeer nog een maal. Nog een verdere vernedering.
“Meneer, asseblief. Dis vir ons heeltemal onmoontlik om nou weer terug te gaan Pretoria toe. Juffrou Malan . . . ons . . . gaan vanaand huis toe.”
Hy praat nie verder nie, want hy sien dit help nie.
“Ek is jammer, Meneer, maar as die landdros dit vereis, is daar niks aan te doen nie.”
’n Oomblik staan hulle oorbluf voor hom. Dit het hulle nie verwag nie. Dit sal ook niks help om verder te redekawel nie, dit sal net lyk of hulle iets het om weg te steek. Die landdros is seker binne sy reg om ’n bewys van geboorte te vra, anders sou hy dit nie gedoen het nie. Die versoek is ook nie onredelik nie. Dis net dat hy wat Paul is so vreeslik graag wou regmaak wat hy verbrou het en nou ontneem hulle hom die kans. Hy voel goedkoop en verneder . . . en hy het Debbie ook nog dié verdere vernedering aangedoen.
Dit lyk vir hom of daar in die waterige blou oë begrip vir hulle verleentheid is, of die man weet wat hulle hierheen gebring het. Skielik kan hy dit nie meer hier in die kamertjie uithou nie.
“Dankie, Meneer. Tot siens.”
Hulle is terug in die helder daglig en die son brand warm op hulle. Hulle kyk nie na mekaar nie. Albei voel verneder en goedkoop, ’n vreemde ervaring vir Paul Hugo.
Hy neem Debbie aan die arm. Tussen die haastige menigte op straat kan hulle nie praat nie. By die eerste kafee neem hy haar binne. Hulle gaan sit regoor mekaar en ná ’n rukkie waag sy dit om na Paul te kyk. Hy is bleek en daar tril ’n spiertjie in sy wang. Dis die eerste maal dat Debbie hom so ontsteld, so onseker, sien. Sy vergeet haar eie vernedering en ’n diep, grenslose liefde vir Paul wel in haar op. Sy wil hom troos en paai, vir hom sê dit maak nie saak nie.
Hy neem ’n sigaret, steek dit op en neem ’n paar diep trekke voordat hy na haar kyk. Daar is ’n skewe glimlaggie om sy mond, maar die blou oë lag nie.
“Ek het toe ’n pragtige gemors daarvan gemaak, nè, Debbie?”
“Dis nie jou skuld nie,” sê sy vinnig.
“Dis alles my skuld.”