Название | Tryna du Toit-omnibus 2 |
---|---|
Автор произведения | Tryna du Toit |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780798157674 |
“Trudie, sowaar, ek skaam my dood. Ek het nie regtig geslaap nie, het ek?” sê Bennie so tussen die hardloop en inpak deur.
Trudie lag. “Diep en rustig, broer. Ek hoop jy sal baat vind daarby.”
Haastig help die ander om alles ingepak te kry en Debbie maak hygend verskoning: “Ek is jammer, Trudie. Ons het gesels en regtig nie die storm sien aankom nie.”
“Dis gevaarlike simptome, sussie,” waarsku Bennie. “Ek dink jy moet ’n dokter sien.”
“Dis net wat sy gedoen het,” spot Raoul, “al hang sy naamplaat nog nie!”
Maar hulle kan nie verder gesels nie. Die storm is op hulle. Nog ’n dreigende gerammel en die eerste groot druppels begin val. Voor hulle halfpad huis toe is, bars die storm in al sy woede los. Dit lyk of die weerligstrale die hemel oopskeur, die aarde bewe onder die krag en geweld van die donderslae, en die reën stort neer. Die sterk wind ruk en pluk sigbaar aan die reëngordyn en dryf die water vlaag op vlaag voor hom uit. Onder die aanhoudende gedreun van die weer deur bruis daar in hul ore die geluid van water wat val en loop. Met inspanning hou Paul die motor stadig aan die beweeg, maar dan gee hy die stryd gewonne en hou onder die naaste en grootste boom stil om te wag dat die storm bedaar. Soos ’n rivier spoel die water die straat af tot teen die motor.
“’n Wolkbreuk. Kyk net die strome water wat daar val!”
“Ons liewe, dierbare vaderland,” skree Bennie bo die geraas uit. “Nou verspoel alles weer wat nie omgekom het in die droogte of wat die sprinkane nie opgevreet het nie!”
Die meisies praat nie. Dis ’n vreemde, skouspelagtige nag, vol dreigende onheil. Die gietende reën, die weerlig wat so aanhoudend in die wolke speel, die skerp, harde blitse wat so onrusbarend naby neerslaan, die rammelende donderslae. Die stormwind buig die swaar belaaide jakarandas, ruk hulle weer orent, en verward los die bloeisels hul houvas en spat uitmekaar. Die gedruis is so sterk dat hulle vir mekaar moet skree om gehoor te word.
Raoul se motor kom uit die donker nag te voorskyn en trek dig teen hulle aan. Debbie maak die venster oop om met hulle te praat, maar die wind en reën is te erg.
“Debbie! Maak toe!”
Paul leun oor haar en draai die ruit vinnig toe. Dan slaan hy sy arms om haar en trek haar teen hom aan sodat haar skouers vas teen hom is.
“Jy is papnat. Kom weg daar.”
Debbie is skaam vir die ander twee en probeer regop sit, maar Paul steur hom nie aan haar nie en ná so ’n rukkie bly sy maar so teen hom sit. Met sy arms so sterk om haar voel sy warm en veilig.
“Gaan dit dan nooit weer ophou nie?” vra Debbie onrustig. “Dit lyk of die wêreld wegspoel.”
“Veertig dae en veertig nagte,” spot Bennie luid met ’n diep stem vol onheil. “En ons is reg in die loop van die Apiesrivier.”
“Wat ’n paslike einde vir jou!” werp Debbie skerp teë. Paul en Trudie lag.
“Is jy regtig bang, Debbie?” hoor sy Paul in haar oor sê en die liefkosing in sy stem laat haar ten spyte van haar onrus week en weerloos voel. Hy sit sy hand teen haar bors, teer en onpersoonlik, en voel die harde, vinnige hamerslae van haar hart. “Ek kan jou hart voel klop, Debbie. Vinnig en hard en onrustig.”
Sy praat nie. Dis nie net die storm daar buite wat haar hart so vinnig en onrustig laat klop nie. Sy sit haar hand oor Paul s’n om dit van haar bors af weg te neem, maar dis ’n halfhartige poging, haar vingers is kragteloos en flou. Dit is haar verstand, nie haar hart nie, wat waarsku. En Paul weet dit. Teer, byna eerbiedig, raak sy sterk, gevoelige vingers aan die sagte ronding van haar ferm jong borste. Dit is die eerste maal dat hy dit doen en sy aanraking vul haar met ’n ongekende ekstase, maar bewus van die twee agter in die motor – hoewel hulle in die storm niks kan hoor of sien nie – stoot sy meteens sy arms weg en sit regop, weg van hom af.
“Dis ’n verskriklike storm,” sê sy onrustig en ’n koue rilling gaan deur haar.
Die volgende oomblik hoor hulle ’n nuwe geluid, ’n swaar dreuning soos duisende voëls in vlug.
“O magtig! Hael!” sê Paul en Bennie tegelyk, en hulle sit albei penorent. “Hoe sal Raoul vaar?”
Die eerste haelkorrels val, hier en daar een, groot en swaar, en toe sak die haelstorm verpletterend en oorverdowend oor hulle uit. Die haelkorrels word groter en nou is hulle almal werklik onrustig. Raoul se klein DKW sal nooit bestand wees teen die haelstene nie. Paul sit die ligte in die motor aan in ’n poging om te sien hoe dit met Raoul gaan, maar nou kyk hulle teen die ruite vas. Skielik word ’n agterdeur van buite oopgeruk en Daphne val snikkend in die motor. Sy is half histeries en klou beangs aan Bennie. “O, ons gaan vanaand dood,” snik sy en druk haar kop styf teen Bennie se skouer vas.
Die volgende oomblik is Anne-Marie voor by hulle in die motor met ’n kombers oor haar kop om haar teen die haelstene te beskerm. Met groot, verskrikte oë kyk hulle mekaar aan. Dis of die oordeelsdag aangebreek het.
“Raoul?” skree Paul, maar Anne-Marie skud haar kop.
“Hulle hou die reisdekens oor hulle,” roep sy en vee die water van haar arms en bene af.
Daphne snik onbedaarlik in Bennie se arms met ’n reisdeken oor haar kop. Tevergeefs probeer hulle haar troos.
Kort ná Anne-Marie bestorm Raoul en Tobie ook Paul se motor vir skuiling. Die reisdekens was skrale beskutting teen die hael. Al agt is nou in die motor geprop, almal teen hierdie tyd omtrent ewe nat.
Byna ’n halfuur lank woed die storm onafgebroke voort met verblindende weerligstrale, hael, reën en wind wat ruk en stoot aan die motor. Dis warm en benoud in die motor, maar as hulle ’n venster probeer oopmaak, stroom wind en water na binne. Dis die benoudste halfuur wat Debbie nog ooit deurgemaak het. Blare, bloeisels en takke vlieg deur die lug tot teen die motor. Met tye dink sy hulle oorleef nooit die storm nie. Paul se motor word aan flenters geslaan, dink sy benoud toe ’n groot haelsteen teen een van die vensterruite klap en dit laat kraak. Gou druk Paul ’n kussing daarteen ingeval die hael die gekraakte ruit stukkend slaan.
Maar wat word van die arme Raoul se motor?
En net so skielik soos dit gekom het, is die storm verby. Die een oomblik nog het die hael en reën op hulle neergestort, die volgende oomblik is dit verby en hoor hulle bo die gedruis van die waterstrome hoe die haelstorm oor die stad trek, wegsterf en verdwyn met so ’n paar laaste gedempte dreunings. Kil en koud is die nag. Om hulle tap die druppels van die kaal boomtakke en die dakke af.
Raoul se motor is so beskadig dat hulle verplig is om dit net daar te los. Paul neem eers vir Anne-Marie en die nog hewig ontstelde Daphne huis toe. Hulle moet Daphne feitlik by die huis indra. Sy is verwese en stom.
“Dank die Vader dis verby,” sê Bennie toe hy weer langs Trudie inklim. “En nou gaan ék histeries word!” en hy val met sy kop teen Trudie se skouer.
“Probeer dit net,” sê Trudie driftig en stoot hom weg. “Ek klap jou dat jy sterre sien!”
Dis of die hewige spanning van die afgelope uur eensklaps verslap en hulle begin almal onbedaarlik lag. Hulle lag tot die trane uit hul oë loop.
Tuis tref hulle ’n onrustige mevrou Rabie op die verligte voorstoep aan. “Kinders! Waar was julle? Ons het ’n verskriklike storm gehad. Haelstene soos hoendereiers. Ek dink nie daar is ’n groen blaar in die tuin oor nie!”
Die twee meisies is laat nog te opgewonde om te gaan slaap. Trudie sit met gekruiste bene bo-op haar bed. Haar sproetgesiggie is blink en skoon en twee netjiese vlegsels hang oor haar skouers. Sy kyk hoe Debbie haar glansende swart hare met lang, sterk hale terugborsel. “’n Avontuurlike aandjie,” sê sy nadenkend.
Deborah glimlag. “Heeltemal te avontuurlik na my sin. Dit was ’n verskriklike storm. ’n Mens voel darem so magteloos en hulpeloos, nè? Arme Daphne.”
“Ja, dit was nie aansit nie. Een maal in haar