Tryna du Toit-omnibus 2. Tryna du Toit

Читать онлайн.
Название Tryna du Toit-omnibus 2
Автор произведения Tryna du Toit
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780798157674



Скачать книгу

werk nie.” Trudie is klaar jammer dat sy ’n woord van enigiets gerep het. Wanneer sal sy tog leer om haar sproetneus uit ander se sake te hou? “Debbie het baie hard gewerk en daar is nie die minste twyfel dat sy sal slaag nie. Dis net dat Debbie so ernstig is oor hulle verhouding.”

      “As ’n mens jonk is, is jy altyd ernstig. Dis eers as ’n mens ouer word dat jy leer om meer besadig te wees . . . en dan is die helfte van die plesier van die lewe daarmee heen.”

      “’n Mens kry so maklik seer as jy jonk is.”

      “En jy vergeet ook weer soveel gouer.”

      “Nie alle mense nie. Nie Debbie se soort nie. Maar ek praat te veel. Mevrou sal miskien dink ek is net jaloers op Debbie.”

      Mevrou Rabie glimlag.

      “Nee, dit dink ek nie. Maar ek dink jy is onnodig bekommerd. Sy is jonk en verlief en sy geniet maar net die lewe. Een van die dae, soos jy self sê, is Paul Hugo ’n duisend myl ver weg en sal sy alleen hier moet sit of weer vir haar ’n ander kêrel moet aanskaf.”

      Trudie praat nie verder nie. Sy het reeds te veel gesê. Toe sy in die kamer kom, kry sy Debbie in die skemerdonker voor die venster aan die droom.

      “Hallo, Trudie,” groet sy haar saggies. “Kom kyk net hier.” Toe Trudie langs haar staan, wys sy met haar vinger na die groot boom wat nou teen die aandhemel afgeteken staan.

      “Waarna moet ek kyk?”

      “Kyk na die boom. Kan jy sien hoe geswel is sy toppe al?”

      Trudie kyk en ja, waarlik, dis nie meer die dun, skraal takkies wat oorgebly het nadat die wind al hulle blare afgestroop het nie. Die takkies is rond en geswel – die bloeisels is nou nie meer ver nie.

      “Ek sien,” sê sy sag. “Hulle sal nou gou kom. Lekker tennis gespeel?”

      “H’m. Salig.”

      Vir Debbie het die weke te vinnig verbygegaan.

      So ongemerk het die lente plek gemaak vir die somer. Waar die jasmyn en kanferfoelie, die koraalboom, die katjiepiering en die sering eers hoogty gevier het, is die jakarandas nou aan die beurt. In die begin was die bloeisels die sagste, teerste blou, maar elke dag word die bome ’n bietjie voller en die kleur ’n bietjie dieper en donkerder totdat die stad in ’n pers mantel getooi is.

      Deborah is verruk oor al die skoonheid. Vir iemand wat net die vlaktes en koppies van die Wes-Transvaal ken, is die blou van die jakarandas soos ’n kykie in die hemel. Sy kon nie genoeg van hulle kry nie. Langs die huis was daar veral een boom wat mooier was as al die ander, ’n reus van ’n boom. Sy blomme was ’n dieper, donkerder blou, die blomtapyt aan sy voet wyer en digter. Dikwels het sy met haar boek en potlood buitentoe gegaan om in sy pers skaduwee hersiening te doen, maar dit het nie betaal nie. Telkemale moes sy opkyk om seker te maak dat dit werklik so mooi is as wat sy haar verbeel het, en dan is dit maar altyd weer mooier. So ’n blou is daar seker nêrens anders op die aarde nie. Jy moet dit met jou eie oë aanskou om dit te glo. Nou eers kry Leipoldt se versreëls “Teen die blou van die jakarandas is die blou van die lug maar bleek” werklik vir haar betekenis, en die hele dag deur maal die reëls deur haar kop. Streng probeer sy haar gedagtes by haar werk bepaal, maar as sy haar weer kom kry, dwaal haar oë – en haar gedagtes – opnuut. Ja, as sy dit net wil toelaat, sal haar hart in dié dae maar altyd bly droom.

      Hier in die lieflike vroeë môre, terwyl haar werk wag, droom sy al weer.

      Sy voel deesdae die hele tyd gespanne. Dis natuurlik vrees vir die komende eksamen . . . en die komende afskeid van Paul. Waarom, o waarom moet daar altyd afskeid kom? Paul voel dit ook. Sy kan dit sien. Dit is of hy haar saans nie kan laat gaan nie, of hy bang is dat as sy gaan, hy haar nooit weer terug sal vind nie. Sy weet hy kom te dikwels daar, sy weet hulle bly saans te laat uit, maar sy kan haar nie so ver bring om verstandiger te wees nie. Elke aand is dit net ’n halfuurtjie, gaan hulle net so ’n klein entjie ry om te ontspan ná ’n veeleisende dag voor die boeke, en dan bly dit nooit by die halfuurtjie nie. Maar ag, daar is net so ’n klein ou rukkie vir hulle oor. Wanneer sien sy dan ooit weer vir Paul? Sal sy ooit?

      Sy is bang, bang vir die jare van skeiding wat voorlê, bang vir die gevaar dat meisies soos Anne-Marie, mooi en begaaf en ryk, intussen haar plek in Paul se hart sal inneem, moontlik vir goed. Wanneer sien sy weer vir Paul? Eendag as die jare verbygerol het en daar niks meer oor is om voor te leef nie, as haar jeug en haar drome verby is? Waarom voel sy so swartgallig oor die toekoms? Paul het haar lief en die jare van skeiding sal niks daaraan verander nie. Sy weet dit. Maar dit is dié vrees, dié onrustigheid, wat haar Paul by haar laat hou wanneer sy hom saans lankal huis toe moes gestuur het. Sy dink aan die stille verwyt wat sy in Trudie se blik lees, die onrus in Trudie se mooi bruin oë. Trudie is teleurgesteld in haar, maar sy kan dit nie verhelp nie. Trudie het nog nooit liefgehad nie, daarom kan sy so koel redeneer, daarom kan sy nie verstaan nie.

      Een van die dae gaan hulle huis toe. Paul gaan eers huis toe, dan gaan hy saam met sy ouers see toe. En dan gaan Paul Kaap toe. Paul se pa is ’n dokter en Paul wil in sy pa se voetspore volg. Die begaafde Paul met sy innemende persoonlikheid is uitgeknip daarvoor om ’n dokter te wees. Al sy vrouepasiënte en al die verpleegsters wat saam met hom werk, sal op hom verlief wees, dink sy in ’n vlaag van jaloesie. Mistroostig maak sy haar boek toe, sluit haar oë en leun moeg met haar kop agteroor teen die bankie. Wat het met haar gebeur? Waar is al haar ideale, haar ambisie? Sy het so lank gedroom, so hartstogtelik uitgesien na die jare wat sy aan die universiteit sou deurbring; sy het sulke groot toekomsplanne gehad. En wanneer sy haar kursus voltooi het en ’n pos êrens het as onderwyseres – liefs in tale of geskiedenis – wou sy vir Doortjie en Poppie ook help om verder te studeer, en haar ma en pa help om ’n bietjie makliker en lekkerder te lewe. Maar sy sal weer regkom. Sy sal nog baie jare vir Paul moet wag. Paul sê hulle kan nou nie eens daaraan dink om verloof te raak nie. Sy ouers sal bitter teleurgesteld wees. En sy verstaan sy gevoelens baie goed. Hulle is nog so jonk. Sy sou graag haar pa se gesig wou sien as sy vir hom kom vertel sy wil verloof raak! Maar sy en Paul voel dieselfde en sy sal vir hom wag, al is dit ook hoe lank.

      Paul het haar die middag laat kom haal om saam met hom te gaan ry. Die jakarandas is nou op hulle mooiste, elke boom ’n blou wolk met ’n blou tapyt soos ’n sagte weerspieëling aan sy voet. Stadig ry hulle met die strate langs terwyl Paul vir haar die stad se mooiste bome wys, maar nêrens is daar een wat mooier of digter of ’n dieper blou is as haar eie boom nie. By die Uniegebou vertoef hulle ’n rukkie en in die lae strale van die son word die blou nou ’n sagte persblou. Dis soos ligpers wolke wat oor die stad hang en die aandskemering self word ligpers.

      Stadig stap Debbie en Paul met die trappe by die terrasse af. Die tuin is ’n massa kleure. Dis al byna sesuur, maar nog drukkend warm en bedompig. Die wêreld hier smag na reën, maar dit kan seker nie meer ver wees nie – elke dag bring die verlangde reën ’n bietjie nader. Maar die droë, uitmergelende hitte maak almal kort van draad. Sy en Trudie het vanmiddag byna rusie gemaak, en dit oor ’n beuselagtigheid. Hier in die groen koelte van die tuin, saam met Paul, voel sy weer rustig en kalmer.

      “Kom ons sit ’n rukkie op die gras,” stel Paul voor toe hulle onder kom.

      Die gras is droog en Debbie lê plat op haar rug, haar hande langs haar sye, en dis of die aanraking met die aarde geleidelik die spanning uit haar liggaam laat wegvloei. Sonder om te praat lê hulle daar, maar dit is ’n genoeglike stilte. Ná ’n rukkie sit Paul sy hand oor hare en sy aanraking is soos ’n ligte skok wat deur haar liggaam gaan. Sy lê roerloos, haar hand in syne. Wat ’n voorreg is dit om iemand soos Paul te hê wat jou liefhet, dink sy. Dis nie net fisiek nie – sy bewonder sy wakker verstand, al die eienskappe van liggaam en gees wat hom maak wat hy is. En Paul is lief vir haar, ’n eenvoudige eerstejaarstudentjie sonder geld of agtergrond. Wat sal sy doen as Paul volgende jaar weg is? Die eensaamheid en verlange sal ondraaglik wees, die dae oneindig lank en leeg. Sy sal maar leer, leer, leer sodat die maande en die jare kan verbyvlieg en die dag van hul saamwees gou kan kom.

      “Ek wens ek kon jou saam met my Kaap toe neem, Debbie,” sê Paul sag.

      “Dit sou wonderlik wees,” fluister sy.