Helene De Kock Omnibus 10. Helene de Kock

Читать онлайн.
Название Helene De Kock Omnibus 10
Автор произведения Helene de Kock
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780798153188



Скачать книгу

met Peet uit te waai het nie, ’n skerp verlange na Lilette se bekende en vertroostende warmte, opstandige verset om die meisie wat hy pas ontmoet het, se onthalwe …

      Toe hoor hulle voetstappe en die hol kas word tjierend oor die swart-en-wit teëls eenkant toe geskuif.

      In die opening staan Peet. Hy was duidelik aan die studeer, want sy digte swart krulhare staan orent en sy dikraambril sit op die punt van sy neus. Met ’n vinnige handbeweging druk hy dit terug, en toe hy sien wie voor hom staan, trek hy sy asem skerp in en tree so vinnig vorentoe dat hy wankelend op die bopunt van die trap bly staan.

      “Gene!” roep hy gedemp. “My hemel, Gene!”

      Sylvie het teruggetree, en sonder dat die ander twee dit sien, gaan sy na onder.

      Die twee mans, met Eugene ’n paar trappe laer as Peet, staan na mekaar en kyk. Hulle lees in mekaar se oë wat onlangs met hulle gebeur het, dat hulle albei ’n vader verloor het. Die een sien die ander se leed asof dit vir hom geskryf staan. Toe trek Peet se gesig en Eugene spring die drie trappies na bo om hom aan die skouers te gryp.

      Hulle bly lank só staan met hul hande op mekaar se skouers, sonder dat een ’n woord durf sê.

      “Kom in,” sê Peet naderhand hees, “maar moenie te veel praat nie, want ek huil nie graag voor my vrou nie!”

      Toe bars al twee hard uit van die lag, en Eugene klop Peet op die skouer dat hy hik.

      En toe weet Eugene met dank wat hom wil laat duisel: tussen hulle gaan alles weer reg wees. Ten spyte van Elsje, of dalk juis as gevolg van haar, het hulle mekaar werklik gevind. Want intuïtief voel hy ook dat sy geen rol meer in sy lewe het nie, behalwe dié van ’n geliefde suster. Hy is dubbel dankbaar dat hy dit besef voordat hy haar gaan dagsê …

      4

      Eugene se intuïsie het hom nie in die steek gelaat nie. Dit het hom deels vertel wat hy graag wou weet – dat hy nie meer vir Elsje omgee soos eers nie – maar verder as dit het daar ’n sluier oor sy gevoelens gehang. Hy weet net een ding, toe hy saam met Peet hul klein woonvertrek binnestap en Elsje in ’n groot stoel sien sit, en dit is dat geen besondere gevoel by die aanskoue van haar blonde skoonheid gewek word nie.

      “Eugene …” sê sy verstom, haar groot blou oë wyd van verbasing en blydskap. Sy wil dadelik orent kom, maar voordat sy op haar voete is, pak ’n hoesbui haar wat haar hele liggaam laat ruk.

      “Nee, bly sit, skat,” sê Peet en druk haar terug, hou haar ’n oomblik koesterend vas.

      Eugene buk by haar, neem ’n hand in albei syne en soen dit.

      “Hallo, jong!” sê hy met ’n glimlag, maar sy oë tas bekommerd oor haar maer gesiggie met die blou skadu’s onder die oë.

      “Hallo …” sê sy moeg, en toe vertrek haar gesig en trane pers onder haar ooglede uit. “Jou pa …” sê sy net.

      Eugene knik net, sy gemoed meteens vol om die onthalwe van die twee mense wat so na aan hom is. Dat die lewe hulle in ’n stywe greep beet het, is vir hom met ’n oogopslag duidelik. Nou is hy werklik dankbaar dat hy gekom het, al is dit om heel ander redes as wat hom aanvanklik gemotiveer het. Want hy weet, hy weet dat hy en Peet mekaar in die bestek van ’n paar oomblikke gevind het soos nog nooit tevore nie. Maar noudat hy hier is, besef hy dat hulle hom nodig het.

      “Ek … is so bly jy is hier,” sê Elsje toe haar hartseer bedaar, en sy glimlag bewerig met hom. “Ek sal nou vir ons koffie maak.”

      “Nooit,” sê Eugene beslis. “Noudat ek hier is, maak ék die koffie. Jy en Peet kan net daar sit en mekaar bewonder.”

      Hy sê dit so gemaklik dat hy eintlik daarmee alles sê, en die ander twee glimlag verlig en bly met mekaar, dankbaar dat hulle hom behou het, al moes hy soveel om hulle onthalwe aflê. Daarom laat hulle hom begaan. Hulle sit rustig en kyk hoe hy eers die warmplaat raaksien, die elektriese ketel, die blikkies tee en koffie en suiker op ’n rytjie, die piepklein yskassie en die vier bont koppies wat aan hulle ore aan hakies hang.

      “Dis ’n paleis,” verklaar Eugene met ’n dramatiese armgebaar, “want dit huisves júlle mos. Mensig, dit was alleen sonder julle!”

      Hulle glimlag weer. Hulle alleen weet dat dit Eugene baie moet kos om met hierdie byna onkarakteristieke storiewoorde aan hulle te sê dat gramskap gaan lê het, dat seer genees het en dat hulle mekaar nodig het soos net mense wat mekaar al jare lank ken, mekaar kán nodig kry.

      Met ’n bietjie glimlaggende raad van Elsje en ’n paar raak opmerkings van Peet kry Eugene dit reg om binne ’n paar minute drie stomende koppies koffie gereed te hê. En toe begin die groot gesels. Hulle praat gedrewe, bly oomblikke lank oorstelp stil en praat weer, sit mekaar verwonderd en bestudeer. Hulle open hul gemoedere sodat woord en blik suiwerend werk en Eugene hom vir die eerste maal sedert sy pa se dood, en veel vroeër as dit, uitpraat en ’n groot deel van sy onstuimige gemoed tot bedaring kom. Dis asof daar ’n kalmte in hom oopkol, ’n stilte wat sussend werk sodat hy tot ruste kom.

      Toe hulle koppies al koud geword het en Elsje vaak teen Peet aanleun, staan Eugene op.

      “Nou ja, nou moet ons gaan inkruip. Ek kom môre weer.”

      “Kom eet môre by ons,” nooi Elsje loom, en begin weer skud van die hoes. Peet gee water aan en gaan haal naderhand ’n bottel bruin hoesgoed van die kombuisrak af, meet vir haar ’n teelepel af en gee dit in.

      Eugene skud egter sy kop.

      “Nee, julle kom môre saam met my eet. Ons moet darem my koms vier, of hoe?”

      Maar Peet kyk verby Eugene se donker kop, beweeg sy een skouer in ’n teken van frustrasie.

      “Ek wil graag, Gene. Maar oormôre moet ek ’n werkstuk inhandig wat oor my tesis gaan. Ek sê jou wat, neem vir Elsje. Sy sal bly wees om uit te kom.”

      “Graag.”

      Maar Elsje lyk of sy twyfel en kyk onseker van Eugene na Peet.

      “Neem dan vir Sylvie saam,” sê Peet kortweg, maar met ’n glimlag, “maar julle sal my moet verskoon.”

      “Sy sal dit baie waardeer, sy’s ook maar heeldag alleen,” sê Elsje.

      “Dan maak ons so,” sê Eugene en tik Peet op die skouer. “Ek begryp heeltemal!”

      “Dankie, man. Ek waardeer dit baie dat jy jou oor Elsje wil ontferm.”

      Hulle sê nag en Eugene sê Peet aan om liewer by Elsje te bly; hy sal met gemak weer sy verblyfplek kry.

      Toe hy uit is, is daar ’n lang stilte tussen Peet en Elsje, toe sug sy en sê: “Eugene het soveel liefde om aan ander te gee.”

      Peet knik.

      “Dalk eis die liefde self nog elke ons van wat hy kan gee.”

      “Wat laat jou só dink?”

      “Ek weet nie juis nie. Ek kry net die gevoel dat hy nie hier is net om ons onthalwe nie. Het jy opgelet dat hy maar weinig oor Lilette te sê gehad het?”

      “Ja, net dat sy vir hom wag.”

      “Hm … Ons moet hom maar die morele steun gee wat hy nodig het. Meer kan ons nie.”

      Toe loop hulle om in hul klein soldervertrekkie te gaan slaap.

      Daardie nag lê Eugene lank wakker, en die gesprek van die aand vloei woord vir woord deur hom, bring opnuut ’n gevoel van geborgenheid omdat hy Peet en Elsje op so ’n heel nuwe vlak kon vind. Alles wat hy gevrees het, was ongegrond. Peet is nog Peet, en ook Elsje is waarlik nou sy suster. Dis tog verbasend dat hy werklik niks van die ou gevoel vir haar ervaar het toe hy haar vanaand weer gesien het nie. Maar hy is bekommerd oor haar. Peet het sekerlik veel van Elsje se siekte verswyg. Sy is brandmaer en asbleek. En daardie hoes. Dit kom so diep uit haar longe.

      Sy gedagtes vervloei tot ’n vae onrus en breek skielik weer helder deur