Maal. Nicole Strauss

Читать онлайн.
Название Maal
Автор произведения Nicole Strauss
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780795800184



Скачать книгу

het ’n taxi nader geroep vir sy ma, die deur vir haar oopgehou. Die ou dame het in die donker binnekant van die motor verdwyn, en soos ’n koningin deur die venster gewuif. Mathilde het hom ook op albei wange gesoen, en hy is daar weg, in die rigting waaruit ons almal gekom het. Sy, aan die ander kant, het in die teenoorgestelde rigting geloop.

      Ek het in die dikker wordende skemer agter haar aangeglip, die reuk van koffie aanloklik in die lug toe eers sy en daarna ek verby die oop deur van ’n koffiehuis stap. Sy het voor die deur gehuiwer en ek het gewonder of sy dit oorweeg om in te gaan. Ek het net angstig begin word oor wat ek sou doen as sy te lank voor die deur draal en ek die paar meter tussen ons opvang, toe sy omdraai, my in die oë kyk en vanuit ’n plek binne haar wat ek nooit sou vermoed het nie, op die sypaadjie spuug dat ek dit meters ver kon hoor. Ek het die blerts op die keisteen sien spat. Sy het omgedraai en die aand in gestap, haar handsak onder haar arm geklem.

      Ek het nader gegaan en wydsbeen oor die speeksel gaan staan – om seker te maak niemand trap dit plat nie. Die geriffelde patroon van die slym op die sypaadjie was vir my mooi. Ek het opgekyk en haar om ’n hoek sien verdwyn. Sy het nie weer teruggedraai nie. Ek het afgebuk, my netjies gestrykte sakdoek uit my sak gehaal, hurkend langs die hopie gaan sit.

      Ek het Mathilde se spoeg stadig en sekuur met my wit sakdoek opgevee, dat daar niks oorbly en aan iemand anders se skoen gaan plak nie. Mense het oor hulle skouers gekyk om te sien wat ek doen; ek het bloot met my taak voortgegaan, die laaste stuk slym van die sypaadjie verwyder. Teen die tyd dat ek klaar was, was daar net ’n klam kol op die keisteen oor.

      Ek hou die sakdoek in die laaitjie langs my bed, saam met die tydskrif en die serp, die program met Mathilde se foto, en my ma se string geel pêreltjies.

      Katinka kook

chapter_thing.jpg

      Teen die hang van die berg staan ’n huis met luike voor die vensters en ’n akkerboom in die tuin. Langs die paadjie wat van die gegote ysterhek af na die voordeur loop, groei laventel en teen die mure rank klimop vir dekades al. Italiaanse kleipotte met bosse kruie en klein geknipte boompies staan in ’n netjiese ry. Reën kom in vlae uit ’n bedekte hemel, en die wind dwing die takke van die akkerboom na die grond. Ver bokant die huis teen die rotswand van die berg is watervalle sigbaar; bo-op die tafeltop maal die weer dik.

      Gelukkig is die gaste laat, anders sou hulle die gasvrou kaalvoet in die kombuis betrap. Katinka Cronjé woon al drie-en-dertig jaar in hierdie huis. Dit dra haar stempel en haar parfuum en in die kraak van die vloerplanke en die steun van die dak lê haar versugting na die onbekende. Saans sit sy op haar stoep met ’n glas wyn in die hand en die ligte van Kaapstad soos ’n skitterende tapisserie aan haar voete. Sy teug aan die stad soos sy teug aan die wyn en die reuk van die soet, wit lemoenbloeisels wat dié tyd van die jaar blom. Oor die jare het dit deel van haar wese geword, nes die huis en die berg waarteen dit staan.

      Soggens sit sy ook op die stoep en dan is die mis oor die see ’n verlange na die jare wat verby is – kinderjare, jeugjare; haar eie en haar kinders s’n. In die oggend is die skepe wat deur die Kaapse hawe voor haar vaar die skimme van die moontlikhede wat daar was, die kanse wat verby is, die keuses wat sy gemaak het, of nie.

      As die tyd reg is en die wind uit die noordweste waai, hoor sy die sanggebede van die moskee onder in die stad.

      Op hierdie windverwaaide, reënerige Sondag kom ses mense aan haar tafel eet. Haar seun (soos sy pa en haar skoonpa en al die ander eersgebore manlike Cronjé’s is hy Frederick gedoop, maar sy noem hom Fred) het vanoggend eers laat weet dat hy kom; hy bring sy kamermaat, Emile. Haar dogter Manon (soos Pagnol wou sy die kind na die karakter uit die opera noem) en ’n nuwe kêrel sal ook hier wees. Haar vriendin Charlotte en Frederick se ma, Elize, voltooi die tafel. En Frederick. Natuurlik.

      Katinka staan gebuk oor ’n bak klein tamatietjies. Sy hoor die voordeur oopgaan. “Oppas, die blomme!” roep haar seun. “Net betyds,” sê Emile. Sy haas haar in die gang af met die skerp getande messie nog in haar tamatierooi hande. Emile staan met die pot blomme. Sy moet dit skuif; as die voordeur oopgaan, kantel die wind die blompot graag. Fred en Emile stap Katinka tegemoet. Sy vat die pot by Emile.

      “Hallo, Ma,” groet haar seun, omhels haar. “Hoe gaan dit?” Sy moet haarself daarvan weerhou om hom nie met die vuil tamatiehand styf teen haar vas te druk en ’n afdruk daarvan op sy netjiese wit hemp te laat nie. Sy ruik hom; sy ruik sy mansreuk en sy Hugo Boss, maar agter dit die klein seuntjie wat vir jare lank elke nag by haar in die bed kom slaap het.

      “Fred, Emile, dit is so goed om julle te sien! Ek is bly julle het vroeg gekom. Kom ons drink eers tee.” Katinka stap voor die twee mans uit kombuis toe. Sy sit die pot blomme – rose – op die kombuistafel neer. Sy spoel haar hande af en kook water. Sy pak ’n skinkbord met koppies, ’n melkbeker en suikerpot terwyl sy luister na Fred en Emile wat praat oor ’n partytjie van die vorige aand.

      “By the way, Ma, ek het ’n aanbod gekry vir articles volgende jaar.” Fred ontwyk haar oë en skink ongeërg vir hulle tee. Hy gooi suiker in syne en roer dit totdat Emile die teelepel by hom neem en dit in sy piering sit. Emile loop uit die kombuis deur die eetkamer na die sitkamer toe. Katinka hoor die pote van die klavierstoeltjie oor die houtvloer skuif.

      “Dis fantasties, Fred. By wie?” Katinka wens hy wil oor die volgende twee jaar sy leerklerkskap in Kaapstad voltooi, sommer hier by hulle in die leë huis kom woon, eerder as dat sy hom aan ’n rugsak en Europa verloor – vir ’n maand of vir altyd, ’n mens weet nooit. Party lang oggende sit sy by die geelhouttafel in haar kombuis en fantaseer oor koekies bak en klei uitrol met ’n string kleinkinders. Van Sondagmiddagetes met klein voetjies wat in haar huis rondtrap. Maar ai, vir Manon het sy geen hoop nie – nie eers om tot trou te kom nie – en as Fred die vreemde in vaar . . . Sy wens sy kon die tyd terugwen.

      Uit die sitkamer kom ’n paar tentatiewe akkoorde, ’n vinnige flirtasie in die deskant en ’n glissando tot niks. Fred haal sy skouers op. “Ag, groot firma, my eerste keuse. As ek hier wil bly, moet ek dit vat.” Hy bring die koppie na sy mond toe, blaas peinsend oor die tee. “Ek weet net nie of ek wil nie.”

      Die toevalligheid waarmee Emile pas die klavier getoets het, verdwyn in die suiwer, seker note van ’n Chopin-nokturne. Hy ken al die klavier soos ’n goeie vriend; dit is asof die twee saam in staat is tot iets wat ander mense nie kan regkry nie. Fred wil verder praat en Katinka wil graag na hom luister, maar albei beweeg onwillekeurig na die melankoliese melodie en die toonskeppende herhaling van die linkerhand. Emile se lang, krullerige kuif hang laag oor sy voorkop en in sy lenige hande hou hy ’n wêreld waarvan Katinka gewoonlik net droom. Sy gaan sit op die puntjie van die klavierstoel langs Emile, Fred leun met sy voorarms op die vleuel, hou die klawers binne die klavier dop wat soos insekte heen en weer skarrel. Emile verdwyn in sy vingers en in die instrument.

      Wanneer die laaste note van die naglied sterf en die wind weer teen die venster stamp, is almal se tee yskoud. Nou tokkel Emile sommer, ’n paar note hier, ’n melodie daar – hy is baie lief vir hierdie vleuel wat Katinka by haar ma geërf het. Sy gaan terug kombuis toe om die tamaties klaar te sny en ’n pot water op die stoof te sit vir pasta. Fred staan nog en leun met sy elmboë op die klavier.

      Die voordeur gaan weer oop en aan die hakke op die houtvloer weet Katinka Manon is hier. Sy kom reguit kombuis toe, haar metgesel agterna.

      “Hallo, liefste Moeder,” koer Manon en gooi haar arms om Katinka. Sy voel haar dogter se maer lyf teen haar eie. Haar kort, donker hare blink, haar bruin oë is swaar opgemaak. Sy dra lang swart stewels, pers sykouse daaronder; ’n kort miniromp. Sy groet vir Fred en Emile wat van die klavier se kant af ingestap kom.

      “Dit is Dale, almal. Hy maak films. Dale, this is my family.” Manon draai haar rug op Dale. Hy groet styf. Sy hare is ook donker en blink, maar dit krul in sy nek. Hy spog met ’n vietse bokbaard, perfek gekap om sy vol teatermond. Hy kyk hulle nie juis in die oë nie, maar Katinka dink sy irisse is groen, miskien met gelerige spikkels hier en daar. ’n Mooi man, maar onsubstansieel, dink sy; skrik dan vir hoe blatant sy hom op sy voorkoms takseer. Manon praat eenstryk deur, omhels