Название | Laduma vir die liefde |
---|---|
Автор произведения | Maretha Maartens |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624058595 |
Oor en weer het sy en Lalla op mekaar bly skiet. Die naaste beskikbare aanvalswapens is nadergepluk: kleinkalibergewere, snelgewere, handkarabyne, dubbellope. Sy en Lalla het negeponders en mortiere gegooi en op mekaar afgeskiet. Hulle het mekaar se landmyne afgetrap.
Ook Pa en Ma het gereeld teenoor mekaar stelling ingeneem.
Hulle was almal verloorders. Hulle het stukke van mekaar weggeskiet: weefsel, onskuld, respek, rooibloedselle, tweelingbloedselle.
Was één verhouding dit werd? Was Hans de Lange dit werd?
3
“Dit voel nou byna soos die ou tyd,” sê Ma vir Hans. “Asof daardie tye ooit kan terugkom. Ai, Hans. Julle drie in die twee kamers aan weerskante van die pastorie se tuinmuur, wie sou nou ooit kon dink dat julle paadjies in soveel verskillende rigtings sou loop? Jy weet dat Lalla weer ’n baba het, nè? Dis weer ’n dogtertjie, gelukkig nie ’n koliekkind soos Claire nie.”
“My ma het vir my van Lalla geskryf,” sê hy. “Geluk met die nuwe kleinkind, Mevrou. Ek moet erken: my kop is vol bos, ek leef mos in die bos. Ek moes op die internet gaan kyk waar Shenzhen is. Ek het nie eens geweet daar bestaan so ’n plek nie. ’n Skande. Geniet Lalla dit daar?”
“Nee,” sê Ma.
Hy wag dat sy moet verduidelik. Hy luister asof hy alles wil hoor, maar die meedoënlose aantrekkingskrag tussen hulle twee is presies dieselfde, weet Paula. Dis soos altyd die hele plek vol.
“Ek dink my kind is verskriklik eensaam,” sê Ma. “En bang. Lalla is nie een vir babas nie. Sy is bang hulle gaan dood, sy glo nie in haarself nie. Walter, weer, is in sy element. Ons skype nie baie nie, maar as ek en hy praat, praat hy net iPods, iMacs, iPhones en ander aai’s. Hy sê Shenzhen wemel van die intellektuele. Dis mos asof doktersgrade daar van die bome afgepluk word. Noudat ek daaraan dink: ís daar ooit bome? Arme Lalla, sy’s heeltemal uit haar diepte. Dis ’n vreemde plek, klink dit vir my. Daar is nie juis ’n middelklas nie. Jy het die handearbeiders, dié wat snags slote grawe en kabels lê, en die intellektuele.”
Magneet en magneet, positiewe pool en negatiewe pool. Ek en Hans de Lange is in mekaar se kragveld, dink Paula. Die magnetiese noordpool van ’n kompas wys na die magnetiese suidpool van die aarde. Die kompasnaald kan nooit na die weste of ooste draai nie.
“Lalla,” sê Ma van waar sy buite die kragveld staan, “hoort iewers waar sy saam met ander middelklasma’s kan wees. Doodgewone sout-van-die-aarde-vroue wat partykeer saam koffie drink, hulle probleme met mekaar bespreek en hulle kinders saam laat speel. Lalla kort ander jong ma’s wat haar kan gerusstel. Nou sit sy driekwart van die tyd honderde meters in die lug in ’n glaskas met haar twee en Walter se twee uit sy vorige huwelik. Sy maak haarself dinge wys – dat Emmatjie nie in haar oë of in haar gesig kyk nie, sulke soort dinge, bid jou aan. En dis nou die reënseisoen daar; dit kan nie maklik vir haar wees nie. Lalla was nog nooit op haar beste as dit reën nie.”
Die dag toe sy en Lalla vrede gemaak het, het dit hard gereën, onthou Paula. Die dak het gelek, soos altyd. Daar was plastiekskottels en leë blikke in die gang: rooies, wittes, groenes en gryses.
“Hierdie huis se plafon val nog in,” het Ma radeloos gesê. “Bel die voorsitter van die eiendomskommissie, Herbert. Nooi hom vir koffie en pannekoek. Maar hy moet nóú kom, dan kan ek ’n emmer waarin die water drup voor hom neersit. Dís hoekom ek voel ons moet ons eie huis kry. Hou jou voete onder die tafel van die kerk en jy sit hiérmee.”
Oorlogswonde en verlies van plasma en rooibloedselle ten spyt, bly tweelingbloed dik, ondraaglik dik. Dit was sý, Paula, wat by Lalla gaan pleit het om weer tot die groot, koue tweelingkamer toegelaat te word. Lalla was nie op haar beste nie, maar dalk was genoeg ook vir haar genoeg.
“Oukei,” het Lalla suur gesê. “Maar jy praat nie een woord met my oor Hans nie. Nie ’n wóórd nie. Jy smirk nie as jy en hy op jou selfoon chat nie. Ek wil niks van hom weet en niks van hom hoor nie. Ek weet nie hoekom ek vir jou ja sê nie.”
Lalla het ’n kop langer gelyk toe sy die deur verder ooptrek, ’n optiese illusie. Die kamerlig was aan, want op bewolkte en reëndae was die tweelingkamer ’n grys spelonk. Lalla se oop skoolsak, skoolklere en kleurbaadjie het in ’n bondel op Paula se bed gelê. Die vloer was vol lêers, papiere en skoene.
Posters wat Paula nog nie tevore gesien het nie, het teen die kamermure gepryk: Dié wat nie in evolusie glo nie, het dit die nodigste. Michael Jackson, King of Pop, London – Michael Jackson as Moonwalker in ’n balk wit lig. Háár posters – die Ons Vader-gebed, Dit het Ek vir jou gedoen, wat doen jy vir My en haar handgemaakte Sometimes God calms the storm, sometimes He lets the storm rage and calms his child – was nie meer teen die kamermure nie.
Sy het niks daaroor gesê nie. Tweelingbloed is ondraaglik dik.
Die tweelingkamer was die vertrek met twee uitsigte. Anderkant die diefwering voor die kamervenster het die oninspirerende deel van die werf gelê: ’n fokuslose plaat grondbedekkers, twee lukwartbome waarop die vlermuise saans toegesak het, ’n roesbruin muur waarteen klimplante uit ’n buurerf voel-voel met doringagtige kloutjies afgekruip het. Wanneer daar soms ’n tennisbal uit die agterste buurerf in die swartgroen blaresee buite die venster beland het, móés hulle eenvoudig om die huis stap om dit oor die muur te gaan gooi. Dit het te geel gegloei.
Toe Hans en Lalla begin uitgaan het, het hulle die klandestiene uitsig ontdek. Voorheen het niemand ooit die luikvenstertjie bo Paula se bed oopgemaak nie. Een kyk boontoe en die rede was duidelik: die suidewind het stof en roet teen die suidemuur van die huis gesmyt sodat die ruit smerig vuil aan die buitekant was. Die trapleer in die garage was te kort en alle pogings om die venstertjie van buite af te was het misluk.
Verliefdheid genereer of ontsluit kreatiwiteit. Hulle het ’n stoel en ’n omgekeerde laai op Paula se bed gepak en Lalla het die stoel as wankelrige steierbok vasgehou. Met die laai as steierplank het Paula die vensterwaswerk gedoen.
Deur dié loergat in die suidemuur van hulle kamer kon hulle ’n gedeelte van die buurtuin, die De Langes se swembad, die hoek van die patio, die hoek van die boonste balkon en twee van die vier slaapkamervensters aan die noordekant van die herewoning sien.
Wanneer Lalla tennisballe teen die oefenmuur aan die ander kant van die heining hoor klap het, het sy in kaartmannetjiestyl op Paula se bed gespring.
“Oe, daai bene,” sou sy swymel. “Hy’t sy tennis-shorts aan.” Of: “Hy oefen sonder sy hemp, sy bolyf is kaal …”
“Dan moet jy afkom daar. Dis obseen om kaal ouens af te loer.”
“Wat is obseen?”
“Slymerig.”
“Jy sê dit nie weer nie. Ek is nie slymerig nie. Jy sê dit nóóit weer nie.”
“Oukei, oukei! Loer soveel jy wil!”
Hans het nooit van die loerdery geweet nie, want die lelike vibracrete-heining tussen die twee huise was te hoog en te oorgroei van plumbago en parasitiese rankplante.
Toe, terwyl Paula in ballingskap in die gastekamer was, kry Faith de Lange ’n span bouers om mure uit te breek, twee nuwe vertrekke aan te bou en die mure van haar huis loodgrys te verf. Hans kry ’n lessenaar waarvoor die moderator van die Algemene Sinode sy voortande sou gee. Faith hou toesig terwyl die afleweringsmense die swaar swarthoutlessenaar by die slaapkamer se buitedeur indra. Sy wys vir hulle waar om dit te plaas. Die middag toe Hans van die skool af by die huis kom, tref hy ’n direkteurslessenaar naby die venster in sy nuwe slaapkamer aan.
“Soos ’n … bus,” het hy die lessenaar die volgende dag aan Paula beskryf. “Ek weet nie hoe my ma se kop werk nie. Hoe kan my pelle in so ’n plek kom chill?”
“Sy wil seker maar vir jou die beste gee, oor jy hulle enigste kind is.”
Sy mondhoeke het net-net geroer.
’n