Название | Ena Murray Omnibus 34 |
---|---|
Автор произведения | Ena Murray |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624054801 |
“Ek . . .” Sy aarsel nog. Die oomblik van beslissing is nou hier. Dis ja of nee . . .
“My liewe kind, waarvoor is jy bang? As dit jou geruster sal laat voel, bring iemand saam. Enigiemand, ’n goeie vriendin miskien. Net nie Japie nie. Jy kom nie met ’n ander man hier aan nie.”
Sy giggel. “Japie is nie meer ter sake nie.”
“Ek is bly om dit te hoor. Wel? Ken jy iemand wat saam met jou sal wil kom? Ek dra natuurlik haar koste ook.”
Erika begin al weer sleg voel. Die man is regtig so gaaf . . . en só vrygewig. Maar sy kan nie toelaat dat hy nog verdere koste aangaan ter wille van haar nie.
“Nee . . . nie eintlik nie. Nee, dis glad nie nodig dat iemand my moet vergesel nie. Dis nie . . . dit nie . . .” Sy swyg onbeholpe.
“Dan kom jy.” Hy sê dit asof hy klaar namens haar besluit het. “Dan kan jy mos maar sommer dadelik kom. Jy kan later weer jou vakansie daar voltooi. Daar is geen rede hoekom jy nie dadelik kan kom nie.”
Nee. Geen rede nie . . .
“Maar ek . . . ek moet sekere dinge in orde kry. Paspoort en . . .”
“ ’n Visum word by jou aankoms hier uitgereik. Dis alles klaar gereël. Al wat jy moet doen, is om dadelik malariatablette te begin neem, lughawe toe te gaan en jou kaartjie te kry en op die eerste vliegtuig hierheen te klim. Dis al.”
Alles is klaar gereël. Die man was baie seker dat sy wel op die Comore sal beland. Sy kan hom dit seker nie kwalik neem nie. Enige arm kantoortiksterjie sal haar seëninge tel in so ’n geval, soos mev. Collins sou sê.
“Ja. Ek kan maar môre teruggaan stad toe. My vakansie hier is in elk geval meer as halfpad verby.”
“Goed.” Die stem is nou saaklik. “Gee my ’n telefoonnommer waar ek jou in die stad kan kontak. En skryf asseblief my nommer hier neer.”
“Ek het nie ’n telefoon in die woonstel nie, maar my buurvrou langsaan het een. Ek sal maar haar nommer gee.”
“Goed. As jy my wil kontak, maak dit ’n kollekteer-oproep hierheen. Ek dink ons moet sommer nou afspreek dat jy my, sodra jy terug is in die stad, dadelik daarvan sal verwittig. Gee my ook jou woon- en werkadres.”
Sy verskaf al die besonderhede en voel ’n opgewondenheid in haar roer. Iets wat eers net ’n vae onwerklikheid was, begin vorm aanneem. ’n Vakansie op ’n veraf droomeilandgroep begin vaste gestalte kry.
“Erika . . .”
“Ja?”
“Jy het my jou woord gegee. Ek vertrou jy sal dit gestand doen en nie kop uittrek nie.”
Daar is ’n kort stilte aan haar kant. Sy kan nie onthou dat sy ooit werklik ’n besliste ja gesê het nie. Maar hierdie Philippe het die vermoë om haar te laat voel sy het dit wel gesê. Maar dit maak nie nou saak nie. Noudat die saak eindelik gefinaliseer is, groei die opgewondenheid in haar by die sekonde aan. “Nee. Ek sal nie kop uittrek nie. Dankie, meneer . . . e . . .”
“Hou op om vir my meneer . . . e . . . te sê. My naam is Philippe. Tot siens, Erika.”
“Tot siens . . . Philippe.”
Sy sit die telefoon neer, staar effens verdwaas daarna asof die werklikheid van wat aan die gebeur is, nie regtig tot haar verstand wil deurdring nie.
En aan die ander kant sit die man ook die foon neer en glimlag skalks.
Die Collinse is baie opgewonde toe hulle verneem dat Erika eindelik besluit het om die aanbod van die goeie Kersvader van die Comore te aanvaar. Hulle voel glad nie sleg dat sy haar vakansie by hulle nou kortknip nie, op voorwaarde dat sy hulle op die hoogte hou.
“Jy skryf ook vir ons van die Comore af, hoor?” laat mev. Collins haar belowe en Erika stem geredelik in. Sy het al klaar weer bedenkinge begin kry. Dit sal goed wees as daar darem iemand in Suid-Afrika is wat weet waarheen sy haar begewe. As daar dalk iets met haar gebeur, kan hulle darem navraag doen. Sy sal darem nie sommer heeltemal van die aardbol af kan verdwyn nie.
Sy lug egter nie weer hierdie onrustige gedagtes nie. Sy voel ook vererg vir haarself, verstaan haarself nie meer nie. Wanneer sy met die man oor die foon praat, voel sy heeltemal gerus. Maar die oomblik wanneer sy alleen is, sit haar verbeelding op loop met haar. Dis sommer onsin, vertel sy haarself. Dis maar net omdat sy tot dusver in so ’n klein, beperkte kringetjie geleef het. Dis tyd dat sy daaruit wegbreek, sommer heeltemal losbreek van hierdie enge grense wat haar lewe tot dusver ingeperk het. Nuwe horisonne wag! Nuwe ervarings! Nuwe uit-dagings! Nuwe vreemde eilande onder ’n tropiese son!
Haar geesdrif en opgewondenheid vir hierdie nuwe horisonne en uitdagings neem sommer met rasse skrede toe toe sy, terug in die stad, die woonstel se deur agter haar toedruk en om haar rondkyk. Hier moet sy padgee, besef sy. Hier lê te veel drome in elke dingetjie geweef. Hier sal sy mal word.
Ook toe sy sommer daardie selfde middag die bekende kantoor binnestap, teen die bekende gesigte vaskyk, besef Erika dat sy nie na haar ou werkkring sal kan terugkeer nie. Die oë, verbaas om haar so gou weer op kantoor te sien, brand haar soos vuur. En natuurlik storm die nuuskierige vrae op haar af: Waar kom jy nou vandaan? Is jy dan nie nog op jou wittebrood nie? Jy het nog ’n hele week oor, wat maak jy nou al hier? Waar is Japie? Hoe gaan dit met hom, met jou, met julle? Hoe was die wittebrood toe, hm? vra hulle met veelseggende blink oë.
“Ek het kom bedank.” Kortaf. Blatant.
“Bedank . . .?” Blikke wat vinnig na mekaar flits en dan onwillekeurig oor die gestalte voor hulle gly en sien wat hulle wil raaksien. Erika het gewig aangesit. Gesonde gewig . . .?
“Ja. Ek is op pad na die Comore.”
Die eilandgroep? Dis so goed sy sê sy is op pad maan toe.
“Ek . . . en Japie het toe besluit ons sal maar eers ’n bietjie wag met die troue. Daar is geen haas nie. Ek sal maar eers sien of ek nog lus voel vir trou ná my oorsese reis.”
Groot gerekte, geskokte oë. “Julle is toe nooit getroud nie? En jy gaan oorsee . . . alléén?”
“Ja, ek gaan alleen. Ek ontmoet natuurlik . . . e . . . mense daar anderkant. Nee, daar was nie ’n troue nie. Ek sal môre julle geskenke terugbring. Julle sal dit seker self beter kan gebruik as ek.” ’n Breë glimlag. “Verskoon my. Ek moet meneer Adendorff gaan spreek.”
Ook in die hoof se kantoor is daar byna stomme verbasing. “U het ’n oorsese reis gewen, juffrou?”
“U kan dit min of meer so noem, ja. In elk geval, al my koste word gedra en u sal verstaan dat ek nie so ’n geleentheid deur my vingers kan laat glip nie.”
“Nee, natuurlik nie, maar . . . sommer u werk bedank en . . .” Hy swyg. En jou aanstaande man in die pad steek, wou hy byvoeg, want dit is soos hy die situasie in sy enigheid opsom. “Vir hoe lank was u van plan om te gaan? Ek kan miskien reël dat u verlengde verlof kry . . .”
“Dankie, meneer, maar ek is glad nie seker hoe lank ek sal weg wees nie. Dit hang af van . . . baie dinge. Ek bedank maar liewer.”
Mnr. Adendorff frons. Ai, die jeug van vandag, wat nie verder dink as wat hul neuse lank is nie! “Juffrou, u moet onthou dat u die een of ander dag sal moet terugkom en seker weer ’n verdienste sal moet hê . . .” probeer hy haar dit aan die verstand bring, maar die koppige jeug van vandag luister mos nie na goeie raad nie.
“O, ek besef dit, meneer, maar die toekoms sal maar moet leer. Op die oomblik is dit nie van belang nie.” Nee, al wat van belang is, is dat sy so vinnig moontlik uit hierdie kantoor moet wegkom. Agter haar rug in die tiksterskantoor gons dit soos ’n byenes.
“Nou ja, juffrou, dis u besluit. Daar is ’n bietjie pensioenbydraes en