Ena Murray Omnibus 34. Ena Murray

Читать онлайн.
Название Ena Murray Omnibus 34
Автор произведения Ena Murray
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624054801



Скачать книгу

sy, soos sy self gehoor het, gesê het sy sal weer daaroor dink. Sy laat nie glip dat daar ’n tweede oproep vanaf die Comore verwag word nie, want sy het nog glad nie besluit of sy môremiddag daardie tyd beskikbaar sal wees nie. Sy het die gevoel hoe minder daar verder tussen haar en Philippe – uitspraak Fieliép, soos sy nou weet – gesê word, hoe beter.

      Maar in die ure wat volg, kry ander dinge nou voorrang in haar gedagtes en word Japie Basson totaal daaruit verdring. Daar is ook ’n ongemak in haar wat nie weg te redeneer is nie. Want dié Philippe het reg. Op die oomblik is die lewe heel draaglik, maar sodra sy terug is in die stad, gaan die prentjie verander. Terug in die woonstel waar soveel drome reeds gedroom is en so naby verwesenliking gekom het, terug in die bekende omgewing waar daar so baie plekke is wat haar aan die tye saam met Japie sal herinner, terug in die bekende milieu van haar werkkring met nuuskierige en simpatieke oë op haar gerig, sal dit ’n ander deuntjie wees. Laat sy dit maar erken! Sy is bang om terug te gaan stad toe.

      En die prentjie wat hy geskilder het van ’n meisietjie wat met hartseer oë na die trourok in haar kas staar, van oë wat snags in haar kussing rooi gehuil word, is ’n prentjie wat werklikheid sal word, al vertel sy haarself ook hoe driftig dat Japie Basson, trouens, geen man op aarde, een traan van haar of van enige ander vrou werd is nie. Want hy het ook in ’n ander opsig gelyk. Sy is op pad om haar voor te neem om ’n verbitterde oujongnooi te word wat geen mansmens ooit weer sal vertrou nie . . . en hierdie prentjie van haar toekoms lyk nog die slegste van almal. Sy gaan maar ’n troostelose en oninteressante toekoms tegemoet. Hoe gaan sy dit ooit oorleef? Sy is maar nog net twintig!

      Maar daar kan ook ’n ander prentjie wees . . . en dié begin al aanlokliker lyk, téén alle redenering van haar gesonde verstand in. Sy kan oor twee weke teruggaan stad toe, koel en kalm haar kantoor instap en summier haar bedanking indien. Dan kan sy op die verbaasde vrae wat natuurlik sal volg, die klomp daar inlig dat sy toe besluit het om nie te trou nie, maar liewer op ’n wêreldtoer te gaan. Ja wat, sy kan dit maar ’n bietjie aandik, en wie weet, sy praat dalk die waarheid. Die Comore is maar haar eerste afspringplek. Wie weet, dalk tel sy daar ook ’n bottel met ’n adres daarin op een van die betowerende palmstrande op en . . . Sy glimlag. Mens weet nooit wat alles nog in die toekoms wag nie. Dink nou maar net wat met haar op hierdie klein strandoordjie aan die Suidkus gebeur. Sy tel ’n bottel op . . . en skielik is veraf, eksotiese tropiese eilande binne haar bereik! Dit kan ewegoed die begin wees van ’n wêreldtoer vir die ou meisietjie wat haar mooiste jare in ’n kantoor agter ’n tikmasjien wou sit en omswoeg en die res van haar dae met dikgehuilde oë in ’n eensame woonstel sit en treur oor ’n ontroue mansmens.

      Erika begin haar wilde verbeeldingsvlug geniet. Nadat sy die klomp verslae meisies, groen van jaloesie, in die kantoor agtergelaat het, sal sy na die woonstel gaan, die wit trourok uit die kas haal en vir die meisietjie in die woonstel langsaan present gee. Sy kan dit maar in motte-gif bêre vir die dag wanneer sý dit miskien wil gebruik. Sy, Erika Hough, het geen nut daarvoor nie.

      Dan bel sy die meubelmense om hul meubels te kom haal, soek die woonstelopsigter en sê hom die woonstel is dadelik vir die volgende huurders beskikbaar – sy weet daar is ’n waglys – gaan pak haar tasse . . . of nee, dit sal nie nodig wees nie. Hulle sal nog klaar gepak staan soos sy van hierdie vakansie teruggekom het. Sy sal hulle net hoef op te tel, ’n taxi te bel om haar na die busterminus in die stad te bring, by die lughawe haar kaartjie kry en dan sit en wag vir die eerste vlug na die ander kant van die wêreld toe . . .

      Dit klink nie sleg nie. Glad nie sleg nie. Sy hou baie meer van hierdie prentjie as van die ander een. As daar net nie ’n mansmens daarby betrokke was nie . . .

      Maar dis hierdie mansmens wat dit moontlik maak, besef sy. Sonder hom – en sy geld – sal hierdie prentjie nie werklikheid kan word nie.

      Sy doen haar bes om van die vae onrus in haar ontslae te raak. Sy is verspot om allerhande duister motiewe agter sy aanbod te soek. Feit bly, die man moet ryk wees. Alle ryk mans raak geholpe – of hulle bakbene het, ’n boepmaag of ’n moesie op hul neus se punt. En sy weet darem al genoeg van die lewe af om te weet dat ’n mens vroumense kry wat heeltemal blind raak wanneer hulle die glans van geld sien. Hierdie Philippe het nie net gespot toe hy haar komkommerkoel meegedeel het dat hy op die Comore geholpe kan raak as hy in daardie soort nood verkeer nie. Hy het bloot ’n feit gekonstateer. ’n Man met soveel geld soos hy blykbaar het, sal beslis nie nodig hê om ’n ou meisietjie van die ander kant van die aardbol af in te voer nie. As daar dan nie een na sy smaak op die Comore te vinde is nie, kan hy self op enige plek op die aardbol vir hom een gaan soek, want hy is nog heeltemal mobiel, te oordeel na sy dreigement om self hierheen te kom en te kom uitvind hoekom sy die vermetelheid het om sy aanbod van die hand te wys.

      Erika begin al meer voel dat mnr. Collins se siening van die saak nog die beste is: Aanvaar hierdie unieke aanbod op gesigswaarde. Moenie omdat een mens jou diep teleurgestel het, dink almal is so nie, vertel sy haarself prekerig. Dit is onregverdig om sommer altyd die slegste van ’n mens te dink. Daar is nog opregte mense op die aarde, al is hulle dun gesaai. Maar hoekom sy, Erika Hough, so gelukkig moet wees dat haar paadjie met een van dié skaars spesie sal kruis, weet sy nie, en begin weer bedenkinge kry.

      Daar begin jy al weer! raas sy met haarself. Is die bedoelinge agter hierdie uitnodiging goed, wag daar ’n wonderlike vakansie op jou. Is dit nie . . . Hy het jou baie hooghartig meegedeel dat dit heeltemal benede hom is om ’n “kind” van twintig te misbruik. Dus moet hy baie jare ouer as jy wees. As . . . ás hy dan bybedoelinge het met hierdie gul uitnodiging van hom, is daar raad mee. Gee met die eerste teken van so iets die ou man ’n taai klap, vat jou tasse en gaan lughawe toe. Selfs op verre tropiese eilande is dit vandag die twintigste eeu. Niks kan met jou op die Comore gebeur wat jy nie wil laat gebeur nie. Lawwe ou mans kan net tot op ’n punt vorder, want as daar nie samewerking is nie, is hul planne gedoem. Jy is jonk en sterk en ná hierdie seevakansie en al die lekker kos van mev. Collins fisiek in staat daartoe om jouself te verdedig. As dit op die herrie kom, het jy ’n stem om mee te gil, voete om mee te skop en naels om mee te krap. Jy kan selfs byt as dit moet.

      Maar dit kan ook blyk ’n gulde geleentheid te wees wat die gode jou skenk om jou trots te red, jou selfrespek uit die stof op te tel en op die koop toe ’n fantastiese vakansie, soos vir min beskore, gratis te ontvang. Hoe het die kinderhuismatrone altyd gesê? Kyk na die sonkant van die lewe. Die donker kant kom vanself.

      Effens bewerig van binne en nog glad nie so seker wat haar antwoord werklik moet wees nie, dwaal Erika die volgende middag in die hotel se ingangsportaal rond toe dit vieruur se kant begin raak. Sy het vergeefs probeer om die tweede oproep vir mev. Collins geheim te hou. Die sentrale het volgens prosedure weer laat weet dat daar ’n persoonlike oproep vir mej. Hough vanaf die Comore sal wees, nuus wat die egpaar met groot belangstelling verneem het.

      “Wat gaan jy vir hom sê?”

      Erika is ontwykend. “Ek weet nie.”

      “Die man is regtig ernstig,” beduie mev. Collins. “Om twee dae ná mekaar van so ver af te bel . . . As hy dit nie opreg bedoel het nie, sou hy nie so aangehou het nie.”

      “Hoe so?” Mev. Collins se logika is soms duister.

      “Wel, ek dink maar . . . jy is mos darem nie al jong meisie op die aarde nie. Daar is mos hope ander wat maar te gretig sal wees om so ’n aanbod te aanvaar. Wat sal hy hom aanhou moeg maak met ’n ondankbare kind wat nie haar seëninge kan tel nie?”

      Erika dink diep toe sy die kantoor binnestap. Mev. Collins kan soms ook baie waar dinge kwytraak . . .

      Vandag gaan dit makliker om met hom te gesels. Hy is nie meer so ’n vreemdeling soos die eerste keer nie. Hy kom ook agter dat sy nie so afsydig en byna aggressief is soos die vorige dag nie, en gesels eers oor die weer, hoe dit op die oomblik op die Comore is.

      “Jy het ’n mooi land, verstaan ek. Ek was nog nooit daar nie. Ek moet tog eendag gaan kyk.”

      “Die mooiste land in die wêreld.” Sy voel effens verleë. “Ek was nog nooit in ’n ander land nie,” erken sy opnuut, “maar ek weet my land is die mooiste.”

      Sy kan aan sy stem hoor dat hy glimlag. “Dis mooi om lojaal te wees,