Schalkie van Wyk Keur 9. Schalkie van Wyk

Читать онлайн.
Название Schalkie van Wyk Keur 9
Автор произведения Schalkie van Wyk
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624054788



Скачать книгу

antwoord Sanet gedweë, maar haar oë vonkel. Sy neem die gehoorstuk by hom en bring dit na haar oor. “Middag, tant …”

      “Sê vir die ou swernoter dat ek gehoor het wat hy sê, Sanet!” skel tant Dassie in haar oor. “Jammer dat ek my verspreek het, maar daar is mense wat dit moeilik maak vir ander om hulle opvoeding en agtergrond te onthou. Sanet, jy besef die rusie gaan oor jou?”

      “Was dit net ’n rusie, tannie? Dankie toggie! Ek dag dis ’n volskaalse oorlog!” antwoord Sanet treiterend.

      “Jy is nes die tweeling, Sanet. Jy het nog nooit werklik respek of ontsag vir my gehad nie … en in Augustus word ek sewentig,” verwyt tant Dassie.

      “En ek word oor elf maande of wat ’n hele ses-en-twintig. Dis baie erger as om sewentig te word, tannie, want almal weet tannie is ’n oujongnooi, maar almal waarsku my dat ek besig is om een te word. Wanneer is ’n mens klaar ’n oujongnooi, tannie? Op vyftig, of is ek té optimisties?” skerts sy en knipoog vir oom Lukas.

      “Dis juis wat ek gaan verhinder, Sanet. Een oujongnooi in die familie is meer as genoeg. Ek het so pas daardie selfsugtige Lukas Grové duidelik laat verstaan wat ek van hom dink om ’n bloedjong kind soos jy as sy slaaf te laat werk. Verbeel jou: ’n huishoudster vir jou oom, terwyl jy nou jonk moet wees en jou lewe moet geniet. Sanet, dit sal nie deug nie, daarom het ek besluit om ….”

      “Maar my liewe tant Dassie, ek het aangebied om oom Lukas se huishoudster te word en hom te help om die tweeling groot te maak. Tannie weet tog Magda kan nie langer die seuns ver-sorg nie, want haar gesondheid en die koms van hulle baba laat dit nie toe nie. Ek het tog alles Kersfees aan tannie verduidelik?” val Sanet haar in die rede.

      “Nee, dis nie die volle waarheid nie,” sê tant Dassie met die streng stem van ’n skoolhoof en laat Sanet onwillekeurig glimlag. “Jy het my alles vertel, behalwe van jou plan om Lukas Grové se huishoudster te word. As jy my tóé daarvan vertel het, sou ek beslis ’n stokkie daarvoor gesteek het.”

      “En dis juis waarom ek niks gesê het nie, want Pappa het my jare gelede vertel tannie dink oom Lukas is ’n verwaande ou mofskaap wat …”

      “Wat sê jy daar, Sanet?” bars oom Lukas bulderend uit. “Noem my ’n mofskaap agter my rug? Die ou aasvoëlwyfie! Gee daardie gehoorstuk hier!”

      “Sy het afgelui, oom Lukas,” jok Sanet en sit die gehoorstuk haastig op die voetstuk neer.

      “Jý het afgelui, nè, kind?” beskuldig hy.

      “Ja, oom, want een van oom-hulle gaan ’n aartjie bars, en ek wil nie die oorsaak wees nie. Ek gaan spoel net gou die koppies uit,” maak sy verskoning en ontsnap uit die studeerkamer.

      Iemand moet oom Lukas waarsku dat dit nie ’n man van vyf-en-sewentig betaam om op ’n vervelige Saterdagmiddag te gaan tennis speel terwyl die tweeling in die bure se swembad baljaar en sy lus voel om te huil omdat sy die enigste vreemdeling op Bothasrus is nie, dink Sanet bedruk terwyl sy op die voorstoep uitstap en die stoeptrap stadig afklim na die tuinpaadjie.

      Sy woon al drie weke lank op die dorp, maar tot dusver ken sy nog net tant Ellie, Elrina, Marie-Louise en Jean-Pierre … en eintlik wil sy net vir Marie-Louise ken, want van Jean-Pierre en sy meisie het sy meer as genoeg gehad. Sy bly langs ’n roosboom in die voortuin staan en buk vooroor om aan ’n roos te ruik.

      “Het jou! En dié keer kom jy nie los nie!” roep ’n stem wat sy meer as ’n week laas gehoor het, en dan sluit Jean-Pierre se arms om haar en hou haar gevange.

      Sy gil verskrik, word rooi van ergernis omdat sy soos ’n bakvissie geskree het, en begin in sy arms spartel. “Los my, Jean-Pierre! Los my, anders skree ek kliphard sodat jou liewe, vet Elrinatjie kan kom kyk wat aangaan!” dreig sy.

      “Soen haar, jongman, want as sy so katterig oor jou ander meisie is, is dit mos ’n duidelike bewys dat sy halfpad verlief is op jou,” sê ’n koel, beskaafde stem en sy hoef nie op te kyk om te weet dat haar tant Dassie de Bruyn ongenooid kom kuier het nie.

      6

      Sanet hou op spartel en staar oorbluf na tant Dassie wat deftig in ’n beige somertabberd en met ’n bypassende beige hoed op haar kop en ’n sambreel in haar hand aangestap kom.

      “ ’n Soen vir my bruid,” skerts Jean-Pierre, wat Sanet nog in sy arms gevange hou. Hy soen haar op haar oor, waarop sy haar kop vinnig wegruk.

      “Moenie stuitig wees nie, meneer Du Pont,” sê sy misnoegd, dankbaar dat sy die malse geklop van haar hart en hierdie vreemde heerlikheid wat sy aanraking in haar binneste laat ontwaak, agter ’n frons van ergerlikheid kan verberg.

      “As jy wil rusie maak, is ek heeltemal bereid om dieselfde te doen,” sê hy, sy stemtoon ineens stroef. Hy neem sy arms weg van haar en verander voor haar oë in ’n grimmige vreemdeling wat haar met koue, afkeurende oë betrag. “Elrina vertel my dat jy my agter my rug met haar bespreek het. Is dit waar, Sanet?” vra hy.

      “Ek? Wie het eerste stories …? Eina!” roep Sanet uit toe tant Dassie haar met die sambreel liggies in die ribbes prik. “Vervlaks, tant Dassie, eendag gaan tannie nog een van my oë met daardie simpel sambreel uitsteek!” bars sy uit, bewus van die dansende lag in Jean-Pierre se oë, asof hy tant Dassie se handeling volkome goedkeur.

      “Soen my dag, Sanet,” beveel tant Dassie ongesteurd en draai haar wang vir Sanet.

      Sanet gehoorsaam en draai haar terug na Jean-Pierre om haar onderbreekte rusie voort te sit, en stik byna van ergernis wanneer sy in sy glimlaggende gesig vaskyk.

      “Ek is bly om te sien jy luister soms na jou meerderes,” treiter hy haar.

      Sanet maak haar mond oop om iets te sê, maar tant Dassie spring haar voor: “Stel jy my nie voor aan die gawe jongman nie, Sanet? As ek nou eers weet wie hy is, kan ons hom vra om my bagasie uit my motor te gaan haal, want ek twyfel of die mankolieke Lukas my swaar tasse sal kan dra.”

      “Sy naam is Jean-Pierre du Pont, Tannie. Meneer Du Pont, dis doktor De Bruyn,” voldoen Sanet aan haar versoek.

      “Almal ken my as tant Dassie, Jean-Pierre, daarom kan jy my ook so noem,” sê tant Dassie terwyl sy sy hand skud, skynbaar blind vir die moorddadige kyk wat Sanet in haar rigting flits. “Hier is my motorsleutels. Jy kan solank my tasse gaan haal, terwyl Sanet my na my kamer toe neem.”

      “Ek maak so, tant Dassie, en bly te kenne,” kom dit met ’n innemende glimlag van Jean-Pierre.

      “Maar oom Lukas …” begin Sanet halfhartig protesteer.

      “Stil, Sanet. Ek wil eers ’n koppie sterk, warm tee drink voordat ek oor daardie ou parasiet praat. Kom, ek wil ’n slaapkamer met ’n noordelike uitsig hê,” beveel tant Dassie en kyk nie om te sien of Sanet haar volg nie, maar stap vooruit na die voordeur.

      “Pas op vir haar sambreel,” waarsku Jean-Pierre op gedempte toon en knipoog vir Sanet toe sy met blitsende oë omswaai na hom. Sy lig haar ken op en stap neus in die lug agter tant Dassie aan die huis binne, maar voel tog soos ’n verloorder, want sy weet dat haar ergerlikheid tant Dassie en Jean-Pierre ewe min imponeer.

      Sy kon dit verwag het, dink Sanet gekrenk wanneer sy tien minute later ’n skinkbord met koek en tee na die sitkamer toe dra. Jean-Pierre het besluit hy kuier en tant Dassie behandel hom reeds soos haar gunstelingnefie.

      “Ek sal die skinkbord neem,” sê Jean-Pierre galant en loop op haar af. “Hmm, die melktert lyk heerlik. Het jy dit gebak?”

      “Nee, die oond het,” antwoord Sanet bot en weet sy is onbeskof , maar geniet dit.

      “Sien jy nou, Jean-Pierre?” vra tant Dassie en lyk stralend gelukkig oor Sanet se swak maniere. “Dis presies wat ek verwag het. Ou Lukas gebruik Sanet as sy bediende, en wat gebeur? Sy verloor haar goeie maniere en vergeet van haar verfynde agtergrond en opvoeding. Hoe verwag die ou man dat ’n kneg nog trots kan oorhou?”

      “Is ek ’n kneg?” vra Sanet oorbluf.