Liefde in die skemering. Lizet Engelbrecht

Читать онлайн.
Название Liefde in die skemering
Автор произведения Lizet Engelbrecht
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624054641



Скачать книгу

dit minstens uitkry.

      “Wie ís ek?” Joseph kry geen antwoord of blyke van lewe van die ou man nie. Nes hy gedink het. Hy sug swaar en wonder vir die soveelste keer wat die verbintenis tussen Matty Olsen en sy ma kan wees. Aanvanklik het hy ’n verhouding oorweeg, maar nadat hy die oom se ouderdom besef het, betwyfel hy daardie moontlikheid sterk.

      “Ek wil net weet wie ek is!” Joseph hoor sy stemtoon onwaardig styg en onthou van Hitler daar buite se dreigemente. Hy voeg heelwat sagter by: “Ek verdien die waarheid. Ek kan nie meer ’n vreemdeling in my eie vel wees nie. My ma het gesê oom kan my help.”

      Joseph sien hoe die grys kop effens beweeg, onrustig, maar die oë bly toe.

      Joseph se passie vir argeologie is juis gebore uit sy strewe om meer oor sy eie verlede uit te vind. In sy soektog na die waarheid het hy bedwelm geraak deur ander se geskiedenis en gebeurtenisse in vervloë tye. Jare lank het hy geglo sy werk is genoeg, dat hy nie meer omgee oor sy eie persoonlike verlede nie. Maar hy was verkeerd. Sy begeerte het net lê en prut, en nou, met sy ma in haar graf en sy enigste familie dus van hom weggeraap, kan hy dit nie meer binnehou nie.

      “Die verpleegster sê oom slaap nie regtig nie. Ek glo haar,” sê hy nou ná die beweging. “Meneer Olsen, oom? Kan ons asseblief gesels?”

      Die gryskop se oë gaan moeisaam oop. Dit lyk of hy sukkel om sy ooglede van mekaar weg te trek. Maar dan kyk Joseph skielik vas in die blouste oë wat hy nog gesien het.

      “Jy kom baie in die son sonder ’n hoed. Laas wat ek jou gesien het, het jy nie sulke sproete op die neus gehad nie. Die son is giftig,” sê die ou man stadig.

      Joseph kyk om om seker te maak niemand staan agter hom nie. Met wie praat die oom? Yl hy dalk?

      “Oom, my naam is Joseph, oom, ons het nog nie ontmoet nie. Joseph Greeff,” sê hy stadig en effens harder as normaal. Die oom moet sekerlik naby honderd wees. Moontlik doof? Seniel? Hoekom het sy ma hom tog hierheen gestuur?

      Onwillekeurig sluit sy vingers oor die sekelmaan-gelukbringer wat hy om sy nek dra. Dit was die laaste geskenk wat sy ma vir hom gegee het – dié antieke sekelmaantjie en ’n poskaart. Hy het dadelik geweet: In hierdie twee objekte lê die waarheid van sy lewe opgesluit. Die poskaart het net ’n paar reëls daarop gehad:

      Indien jy nog die waarheid wil weet, vind vir Matty Olsen. Vergewe my, ek wou jou net beskerm. Lief jou altyd.

      Joseph stap na die voetenent van die hemelbed. Hy lig die hospitaalstyl-inligtingsblad wat daar hang en lees: J. M. Olsen (Matty). ’n Besef stuur hoendervleis oor sy lyf. Matty Olsen is natuurlik die J. M. Olsen wat agterop sy sekelmaantjie gegraveer staan. Hy het dit lanklaas omgedraai en die in-skripsie gelees, maar hy kan homself skop dat hy nie vinniger die konneksie gemaak het nie.

      “Meneer Olsen, ons het ’n afspraak vir vandag. Kan oom nog onthou?”

      “Nou hoekom dink jy dat ek ons afspraak sou vergeet het?” Die stem is krakerig en koel.

      Joseph trap-trap rond. Hy kan nie sake nou beduiwel nie, nie nou nadat die verbintenis tussen die poskaart en die sekelmaantjie so treiterend naby is nie. “Ek het dit nie so bedoel nie, ek –”

      “En moenie so staan en skreeu nie, ek’s nie doof nie. Mens sal sweer ek’s stokoud soos jy tekere gaan.”

      Joseph se mond gaan vinnig oop en weer toe. Opwinding bruis deur sy are, maar dit lyk of hy nie ver gaan kom met hierdie man nie. Hy moet! Hy móét eenvoudig weet.

      “Vir wat skreeu jy so?” vra Monique skerp uit die deur. Sy kyk vinnig na haar pasiënt, maar oom Matty lê taamlik rustig teen die kussing. Dis eerder Joseph wat bleek om die kiewe lyk.

      “Ek het net effens hard gepraat, verskoon my.” Sy kan sien iets is met die man aan die gang, hy flous haar glad nie. Trippel rond asof die eindtye kom. Raak hy tog nie aggressief met oom Matty nie?

      “Vir wat? Oom Matty is nie doof nie,” sê Monique en stap nader. Sy lê haar hand vlugtig op oom Matty se voorkop. “Daardie lastige koors kan enige oomblik terugkeer. Oom, ek gaan nou weer, maar ek wil hê oom moet my roep as oom my nodig het. Ek is net hier buite.” Sy draai na Joseph. “En Joseph, hier hoef jy niemand te beïndruk nie, los maar die ‘meneer Olsen’. Ons praat sommer van oom Matty.”

      Sy wil wegstap, maar oom Matty vat haar aan die elmboog en sê vreemd verskonend: “Monique, hierdie is nou Joseph Greeff, jy weet,” sê hy en druk haar elmboog asof hy ’n geheime boodskap wil oorsein.

      “Ja, oom, ek weet mos.”

      “Joseph, ou seun,” gesels oom Matty nou skielik gemoedelik. “Monique klink net so kwaai, eintlik is sy ’n oulike nooientjie. As ek ’n bietjie jonger was . . .”

      “Ek is seker, oom,” sê Joseph met ’n vreemde uitdrukking op sy gesig.

      “Julle twee kan gerus vanaand by die restaurant hier op die strand –” begin oom Matty, maar Monique val hom blitsig in die rede.

      “Oom, Joseph is hier om iets persoonliks te bespreek. Hy het net veertig minute.” Sy kyk op haar horlosie. “Wel, nou dertig minute, dan gaan hy ry.”

      “Heil Hitler,” sê Joseph saggies en kap sy hakke teen mekaar.

      Monique gee hom ’n moordende kyk en stap vinnig uit. Sy besef oom Matty is gretig dat sy die belofte oor Joseph nakom, maar hy moet nou nie nog verder kom lol nie. Dis ongemaklik genoeg vir haar soos sake staan. Ai tog!

      Joseph kyk die figuurtjie met die vlegsel wat parmantig heen en weer wip agterna. Sy’t in die tien minute wat hy haar ken sy hittemeter meer in die rooi gedryf as enigiemand anders óóit. Sowaar, sy’s ’n geitjie – maar wat ’n geitjie!

      Hy staan nader aan oom Matty, wat intussen weer sy oë toegemaak het. Die opwinding maak hom mal. Joseph het altyd geweet daar steek meer in sy verlede as sy ma se storie dat sy ’n moeilike tiener was wat haar streng ouers wou skok. Sy wat glo een aand uit die huis geglip en alleen na ’n kroeg toe is met die idee om haarself te gaan wangedra. In die kroeg het sy by die toonbank gaan sit, ’n martini bestel, al het sy geen idee gehad hoe ’n martini smaak nie, en die ouer man langs haar uitdagend aangekyk. Hy was nie heeltemal haar pa se ouderdom nie, maar ideaal vir haar doel.

      Dit, volgens sy ma, was die laaste ding wat sy kon onthou. Die volgende oggend het sy in ’n motel wakker geword. Vier weke later het sy uitgevind sy is swanger, en kort daarna het sy boonop haar ouers verloor.

      “Jy’s nog hier,” onderbreek oom Matty se krakerige stem Joseph se gedagtes.

      “Ek gaan nêrens nie,” antwoord Joseph beslis en wonder of hy op die gemakstoel moet gaan sit om sy punt te bewys.

      “As jy hier is, beteken dit jou ma is toe oorlede,” sê oom Matty tam, en Joseph merk verbaas die waterigheid wat in sy oë opdam. Hy antwoord met ’n kopknik, onkant gevang deur die hartseer in die oom se oë. Sou hulle dalk tog ’n verhouding gehad het? Die oom se tranerigheid dreig om hom ook weer emosioneel te maak.

      “Dan is jy Joseph junior. ’n Afstammeling van dié ligtoring.”

      “Van die ligtoring?” Hy het al gevrees dat sy pa baie slegte dinge sou wees, of baie goeie dinge nié sou wees nie, maar hy het vir seker nooit verwag om te hoor dat sy pa ’n ligtoring is nie!

      “Ja, die ligtoring van wraak.”

      Joseph kyk benoud oor sy skouer, deur se kant toe. Die oom yl nou beslis. Miskien moet hy liewer vir Hitler roep.

      “En jy is hier om die storie van jou en die ligtoring te hoor.”

      “Oom sê ek is Joseph junior. Dié mag ek dalk wees, maar van een of ander ligtoring van wraak weet ek niks nie. Oom sal moet verduidelik.” Terwyl Joseph praat, sien hy hoe die verrimpelde lippe op ’n plooi trek asof die ou man probeer om ’n glimlag te onderdruk.

      “Die poskaart wat my ma vir my nagelaat het, sê net dat oom my die waarheid sal vertel.”

      “Watter waarheid?”