Liefde in die skemering. Lizet Engelbrecht

Читать онлайн.
Название Liefde in die skemering
Автор произведения Lizet Engelbrecht
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624054641



Скачать книгу

oom het nie kind of kraai nie, ek weet mos. Maar ek begin al wonder, wat steek oom dalk vir my weg . . .”

      “Hou op! Hou nou asseblief net op, Monique. Laat ons die kontrak teken en klaarkry.”

      “Nee, oom is uitgeput. Ons praat later weer hieroor. Nou is dit baie belangriker dat dokter Hougaard vir oom kom inspuit.”

      “Ek weier.” Hy vou sy arms oor sy bors en druk sy lippe nog harder op mekaar. “Nie voordat jy belowe nie.” Sy stem breek pynlik af en hy knyp sy oë ’n paar oomblikke toe. Dan sê hy weer tam: “Nie voor jy belowe het nie. Agtien maande, of g’n niks meer medisyne in my lyf nie.”

      “Ag hemel, oom Matty! Dis ’n leeftyd. Agtien maande is verskriklik lank, vir my indien nie vir oom nie, en dinge is glad nie so eenvoudig nie. Ek kan nie net alles los en voldoen aan wat oom wil hê nie.”

      “Hoekom nie? Jy het ook geen kind of kraai nie. En jy het mos gesê jy sal nie gou weer ’n man vertrou ná daardie Christof nie, so jy sal goed weet hoe om jouself nie bloot te stel nie.”

      “En wat gebeur as ek wel regtig verlief raak op iemand anders? Hier’s juis so ’n handsome nuwe restauranteienaar op die dorp.” Sy probeer ’n lighartigheid in die gesprek bring met haar opmerking, want sy voel asof sy vassit in ’n web en al hoe meer daarin verstrengel raak met elke woord wat oom Matty sê.

      Sy moes nooit vandag gekom het nie. Oom Matty het haar nie eens verwag nie. Sy het haarself belowe om die af naweek te gebruik en oor oom Matty se bisarre versoek te tob. Dan kon sy met deurdagte verskonings teruggekom het.

      “Ek dog dan jy’s klaar met mans, vir goed.” Oom Matty se stem is neulerig en onaangenaam. Sy moet hier uit!

      “Ek is, oom. Maar wat as, ek bedoel –”

      “Ag, dit sal my eintlik uitstekend pas.”

      “So as ek verlief raak op iemand anders, word hierdie kontrak beëindig? En dit sal oom pas so?”

      “Nee, dis nie wat ek sê nie. Dan lei jy net ’n dubbele lewe. Solank jy net sorg dat Joseph Greeff nie ware liefde vind in die agtien maande nie, gee ek nie om hoeveel liefdes jy self het of nie het nie.”

      Ondanks die goor situasie kan Monique nie ’n giggel onderdruk nie. “Oom Matty,” roep sy met ’n ligte klappie op sy bobeen, “jou stouterd! So dit dra oom se goedkeuring weg dat ek dié Joseph-vent bedags en die sexy restauranteienaar snags op sleeptou hou? Of miskien andersom, hierdie Joseph sal dalk beter afgaan in die nag, wanneer daar nie lig op die onderwerp is nie. Ek het nie geweet oom –”

      Sy breek skielik haar gemaak vrolike gekwetter af toe sy besef die ou man se oë trap haar uit – sonder dat hy ’n woord hoef te sê. Wanneer hy nie siek is en pyn verduur nie, is Matty Olsen ’n formidabele man. Monique sluk die res van haar woorde vinnig in, wikkel haar skouers ongemaklik op en af en sê meer besadig:

      “En wat as hy glad nie van my hou nie? Wie sê ek is enigsins sy tipe? Of dalk is hy nog glad nie oor die groot liefdesteleurstelling wat oom sê hy onlangs gehad het nie. Dan sal hy beslis nie op my of op enigeen verlief raak nie.”

      “Ek het ál daardie goed lankal oordink, kind. Jy sal regkom. Ek sal my laaste asem daarop verwed dat Joseph vir jou sal val.”

      “Hoe kan oom so seker wees? Ek dag oom het hom nog nooit ontmoet nie.”

      “Ek verstaan die bloed wat deur sy are vloei. En ek weet watter tipe vroue maak die bloed in daardie are warm.”

      “Is ek nou veronderstel om gevlei te voel?”

      “Nee, jy is net veronderstel om die Florence Nightingale-belofte na te kom soos ’n goeie verpleegster, verdomp!”

      “O? En na watter deel van die belofte verwys oom nou spesifiek?” Sy voel sleg dat sy oom Matty terg terwyl hy duidelik so sleg voel, maar sy ken hom al lank genoeg om te weet hy buig alle reëls en gelowe sodat dit hom pas. En hierdie verdraaiing pas haar allermins!

      “Die deel waarin jy belowe het om jouself toe te wy aan diegene wat in jou sorg is. Maar nee, jy laat ’n ou man ly.” Hy hyg na asem en probeer homself weer op sy elmboë stut om regopper te kan sit.

      Sy gooi haar hande in die lug. “Ek gee op. Nou laat ék oom ly! Oom manipuleer my, oom weet ek kan dit nie uithou dat oom soveel pyn het nie. En dan weier oom die inspuiting, maar dis ék wat oom laat ly.”

      “Jy kan my help. Jy’s die enigste mens op die hele aarde wat my kan help. Asseblief, doen dit?”

      Monique voel hoe haar weerstand verbrokkel. Hy’t haar getroef met sy knaendheid. Plaas sy nooit gekom het nie!

      “Nou goed dan, genade tog, as dit is wat ek moet doen sodat oom die inspuiting kry, dan doen ek dit. Ek sal probeer doen wat oom vra, solank oom net die verdomde inspuiting vat en besef ek is ’n verpleegster en nie Cupid nie.”

      “Kupido in Afrikaans, kind. En dis goed dat jy ’n verpleegster is en nie hy nie, want dié ou mannetjie en sy pyltjie staan geen kans teen Gaunab nie.”

      “Wie is Gaunab nou? Glo oom dan nie in romanse nie?”

      “Daar was maar min romanse in my lewe, Monique.” Hy begin rustiger lyk en kry makliker asem, maar sy kleur is steeds glad nie goed nie. Monique tas na onderwerpe wat hom dalk gelukkiger sal laat voel.

      “Was Gaunab een van oom se min liefdes?”

      “Moet nou nie verspot wees nie. ’n Liefde beslis nié, maar ’n blywende deel van my lewe, dit wel. Die Khoi-San van ouds het mos geglo in Tsui-Goab en Gaunab, het ek jou nog nie van hulle vertel nie? Tsui-Goab die god van gesondheid en geluk, en Gaunab die bose verwoester. Die god wat geluk en liefde van ’n mens kan neem – van my geneem het.”

      “Oom glo nie regtig daarin nie, nè?” vra sy verstom. “As Christen weet oom mos daar is net een God.”

      Oom Matty waai ergerlik met sy hand deur die lug en Monique kan nie besluit of hy met haar saamstem of stry nie.

      “Ek soek jou woord, Monique,” sê hy beslis. “Solank ek nie jou woord het nie, kan die inspuiting maar bly. En die kontrak tussen ons moet geteken kom. Dis in die laai.” Oom Matty wys na die bedkassie. Sy uitgeteerde arm bewe in die lug en onmiddellik word Monique week. Sy het nou maar eenmaal ’n swak plek vir siek mense. Ná haar pa destyds . . .

      Sy spring vinnig op. Sy gaan nie vandag weer in die verlede dwaal nie. Wat met haar pa gebeur het, was hartverskeurend, maar oom Matty se situasie is heeltemal anders. Vinnig trek sy die bedkassielaai oop, amper asof sy bang is sy verander van plan. ’n Oomblik lank staar sy na die kontrak. Sy’t dit reeds bestudeer, toe sy nog nie oom Matty se stories enigsins ernstig opgevat het nie en hom vreeslik geterg het oor die kontrak. Maar hy’t toenemend meer beslis en opgewerk geraak oor die storie . . .

      Sy tel ’n pen op en begin elke bladsy parafeer sonder om te lees. Sy’s glad nie seker of die kontrak wettig is of deur enige hof afgedwing sal word nie, maar sy gee haar woord en dis belangriker as ’n stuk papier.

      “Nou gaan ek vir dokter Hougaard bel,” sê sy ferm die oomblik toe sy die laaste bladsy voluit onderteken het. En sy gaan vra dat hy sommer ’n lekker dik perdenaald gebruik, voeg sy suur in haar gedagtes by.

      Oom Matty kyk haar tam maar tevrede agterna. Hy was nog nooit ’n dominerende of agteraf mens nie. Dis nie sy styl nie, maar hy is desperaat en in hierdie situasie het hy nie enige ander opsies nie. Sy’s ’n oulike meisie, dis vir seker. Aanloklik ook, en nog so jonk. Maar gaan sy plan slaag soos hy haar verseker het dit sal?

      Vir nóg bloed aan sy hande sien Matty Olsen eenvoudig nie kans nie.

      * * *

      Die ses-en-twintigjarige Joseph Greeff buk by sy ma se graf. Hy tel ’n hand vol klam sand op en laat dit deur sy vingers gly, herhaal diep ingedagte die proses. Om grond onder sy vingers te voel is vir hom ’n vertroude sensasie; dit maak hom rustig, maar hy’s nie nou besig met argeologiese opgrawings nie. Inteendeel, hier het hy onlangs presies die teenoorgestelde