Название | Liefde onder die sterre |
---|---|
Автор произведения | Susan Pienaar |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624054542 |
Tillie kan mos nie uitgepraat raak oor dié wonderlike vriendin van haar nie. Lisa is ’n geoktrooieerde rekenmeester, so weet Kallie, maar vir hom lyk haar loop en staan eerder soos dié van ’n model. En dit laat hom eensklaps aan Christa dink. Dadelik voel hy geïrriteerd en op sy hoede vir Lisa.
Maar nee, hy moet seker probeer regverdig wees, die vrou ’n kans gee. Hy onthou sy vooroordeel teen Tillie – in die eerste maande het hy gedink sy het Nico listig op Boer soek ’n vrou gevang. Stadig maar seker het hy van gedagte verander en kon hy insien hoe ’n liewe mens sy is.
Laat hy liewer die vrou gaan kry dat hulle kan vlieg. Al hierdie nonsensgedagtes …
“Lisa Jordaan? Kallie Duvenhage, aangename kennis.” Hy steek sy hand uit en voel hare klein en koel in syne. Noudat sy direk na hom kyk, sien hy haar amandelvormige oë is nie ’n gewone bruin nie, maar eerder die kleur van warm heuning. Haar vel is melkwit, haar neusie smal. Haar donker wenkbroue boog net effens. Hel, hy staar die vrou soos ’n skoolseun aan, hy moet uitskei! Netnou kry sy die verkeerde idee.
Lisa is skoon van stryk gebring. Kallie is dan ’n beeld van ’n man! Sy het ’n onaansienlike en veel ouer man verwag.
“Aangenaam, meneer Duvenhage.” Sy trek haar hand uit Kallie se groot, ietwat eelterige een, en is verbaas oor sy grysblou oë wat so koel in hare kyk. Is hy nou vies omdat hy haar moes kom haal?
Hy kam met sy vingers deur gitswart hare. “Noem my Kallie.” Hy tel haar tas en skootrekenaarsak op asof dit niks is nie. “Jammer ek’s laat. Sal ons gaan?”
Sy knik en rek haar treë om te probeer byhou – Kallie is veel langer as sy. Sy skouers span breed onder sy blou-en-wit strepieshemp, en sy bene onder die donkerblou kniebroek is gespierd en sonbruin. Nie ’n gram oortollige vet aan die man nie. Hy is gebou soos ’n tennisspeler.
Kallie kyk vlugtig na haar toe sy met moeite langs hom loop. “Wil jy dalk iets kry om te drink voor ons vlieg?”
“Ja, ek is nogal dors.”
Hy sit haar bagasie langs ’n buitetafel van ’n koffiewinkel neer. “Wat kan ek vir jou kry?”
“Water, en koffie ook, asseblief.” Sy rits haar handsak oop en gaan sit ’n geldnoot voor Kallie neer waar hy by die toonbank staan. Toe tel sy ook ’n tydskrif op, gee dit vir hom aan en gaan waak oor haar bagasie.
Kallie kom met ’n skinkbord nader. Toe hy oorkant haar gaan sit, stoot hy haar geld met een vinger tot voor haar op die tafeltjie.
“Luister,” sê hy terwyl sy oë op klein skrefies trek, “ek is nie dun van nerf nie, maar wanneer ek jou vra of jy iets wil drink, dan betaal ék.”
Lisa staar hom sprakeloos aan. So dís wat fout is met hom – hy’s ’n volslae Neanderdalman! Sy lig haar ken.
“As ek vooraf geweet het hoe jy oor die saak voel, sou ek kraanwater gedrink het. Maar toe het ek ook koffie gevra en ’n tydskrif gevat, so dis net reg dat ek betaal.”
“Drink jou koffie.” Hy knik stroef na die bottel. “Die water kan jy in die vliegtuig drink.”
Haar wange brand van ergernis. Kan ’n man so ongeskik wees! Twee vroue by ’n nabygeleë tafel kyk na hulle en Lisa besluit om liewer nou die minste te wees. Sy hou haar stem sag en kalm.
“Op een voorwaarde. Volgende keer betaal ek.”
Nié dat sy beplan om ooit weer iets saam met hierdie vent te drink nie! Hoekom Tillie gereël het dat so ’n lummel haar kom haal, is vir haar ’n raaisel. Sy kan nie glo hy en Nico is neefs nie. Sy moes haar instink vertrou het en self Rooiklip toe gery het.
“Ons sal sien,” grom Kallie. Sy kan sien hy probeer hard om nie na haar te kyk nie. Sodra haar koppie leeg is, staan hy op en lig sy wenkbroue. “As jy gereed is?”
Woordeloos kom Lisa orent, laat val die water langs die tydskrif in haar handsak en volg Kallie.
Buite wag ’n skok op haar. Daardie dingetjie? Dís waarin sy nou moet klim? Dit lyk soos ’n speelgoedvliegtuigie! Kallie lig sonder inspanning haar bagasie op en bêre dit in die piepklein bagasieruim. Dan hou hy die vliegtuigie se deur vir haar oop.
Nêrens sien Lisa handvatsels om aan vas te hou nie, ook geen leer om tot binne te klim nie. Boonop staan die ekskuus van ’n vliegtuigie nogal hoog. Haar nou rok perk haar in toe sy een been probeer lig – vrek, hoekom het sy tog nie jeans gedra nie? Sy gooi haar sak in en soek naarstiglik na vashouplek. Sy is pynlik bewus daarvan dat Kallie haar van agter staan en dophou.
Skielik vou sy hande om haar middel en hy lig haar binne-in die kajuit asof sy ’n veertjie is. Doodluiters maak hy die deur toe en stap om die vliegtuig. Hoe vernederend! Sy kan nie eens self in ’n vliegtuig klim nie.
Toe Kallie langs haar sit en aan die knoppies voor hom stel, bestudeer sy die binneruim so ongemerk moontlik. Sy het nog nooit in ’n ligte vliegtuig gevlieg nie. Sy wonder hoe veilig dit is, maar dit klink en lyk darem asof Kallie weet wat hy doen. Hy praat kort en kragtig in sy mondstuk met iemand in die beheertoring. Sy vat die oorfone wat Kallie vir haar hou, druk haar hare agter haar ore in en skuif die lomp goed oor haar kop. Haar hare gaan oes lyk hierna.
“Ek neem aan jy het nog nie in ’n Cessna gevlieg nie?”
“Nee, nog nooit.”
“Dis heeltemal veilig.” Hy leun oor haar en gord haar vas.
Sy donker hare hier naby haar gesig ruik na suurlemoen en Lisa hou op asemhaal. Toe hy weer regop kom, trek sy haar longe saggies vol lug. Hy het onverwags haar persoonlike ruimte binnegedring. Dít moet wees hoekom haar hart so in haar keel wil spring.
Kallie herhaal wat die persoon uit die beheertoring sê. “Runway clear,” eggo hy oplaas en kort daarna spoed die vliegtuig oor die aanloopbaan. Hulle’s in die lug! Eers sien Lisa net geboue en hutjies onder haar, dan raak dit ’n groen-en-bruin lappieskombers en is daar berge … Skielik voel sy naar.
Dit sal seker beter raak as sy nie by die venster uitkyk nie. Lisa maak haar oë toe, rus haar kop teen die kopstut en bid woordeloos dat die naarheid nie moet vererger nie. ’n Ruk later voel sy ’n bietjie beter, maar sy hou steeds haar oë toe. Sy wil nie na Kallie kyk nie. Haar gedagtes kan sy egter nie keer nie.
Hoekom is hy nie getroud nie? Hy is tog … wel, aantreklik. Op ’n ruwe manier aantrekliker en beslis meer manlik as Dewald. Kallie sou vroue byvoorbeeld laat toustaan vir kaartjies as hy ’n safaritoerleier was, dis vir seker.
Sy loer onder haar wimpers deur in sy rigting, sien hoe hy ’n verstelling aan ’n skakelaar maak en bestudeer sy hande. Mooi hande, groot, met lang, sterk vingers. Sy draai haar kop net effens om sy gesig te kan bekyk. Sy beenstruktuur is sterk, sy ken hoekig en sy neus reguit onder digte wenkbroue. Selfs sy nek is die soort waarvan sy hou.
Lisa sit regopper. Sy is skoon laf om Kallie so te beloer. Sy hou dan niks van die man nie! Sy kry haar water uit haar handsak en drink ’n paar slukkies. Toe kyk sy maar uit verveling by die venster uit na die kleurlose landskap, en besef haar fout oombliklik toe die naarheid haar opnuut oorval. Nêrens sien sy sakkies vir noodgevalle nie. Asseblief tog nie! Laat sy groot asseblief tog nie Kallie se vliegtuig bemors nie! Dit sal die ergste vernedering van haar lewe wees.
Sy kyk af na haar Gucci-handsak, sluk naarstiglik en bedink haar. Binne-in is haar grimering, bankkaarte, haar selfoon: goed waarsonder sy nie kan klaarkom nie. En dis in elk geval Gucci! Weer maak sy haar oë toe, lê met haar kop agteroor en probeer haar gedagtes na vrediger kanale lei. Gou dwing haar boetieks na vore. Geleidelik begin sy beter voel.
Sy dink aan die verfrissende lugversorging en kalmte in haar winkels. Sy hoor die gemurmel van vrouestemme. Sy sien die fleurige klere en voel die verskillende lapteksture. Sy hoor die klokkie se helder klingel om ’n nuwe kliënt aan te kondig.
Maar