Название | Louisa du Toit Omnibus 5 |
---|---|
Автор произведения | Louisa du Toit |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624053705 |
As haar oorlede ma haar net sterker laat geld het, kon dit alles ook anders verloop het. Corlia het nou nog ’n vaste vermoede, ofskoon sy dit nooit met iemand bespreek het nie, dat haar ma soms haar lyf verkoop het. Gedurende die tye dat haar pa wel gewerk het en soms vir ’n week of meer van die huis af weg was, het sy meermale haar ma met plat handsak en loopskoene iewers heen sien koers kies, om dan skielik daarna weer geld te hê, vir baie drank en bietjie kos.
O, nee, Corlia, oftewel Struisie Simons, wil nie onthou nie. En kan nie vergeet nie. Sodat sy dikwels wonder of elke lewe dan maar op hierdie tweespoor voorthink.
Sy voel traag om haar stylvolle, verligte huis binne te stap. Dit voel asof sy op ’n brug verkeer, ’n smal, eensame brug. Agter haar lê Makkie en haar mense, en alles waarvoor hulle staan. En voor haar lê die nuwe lewe wat sy vir haar geskep het: die huis met sy ruim, verligte vensters waaragter stinkhout en koper lonk, waar nuwe asook antikwaries gekoopte boeke in hulle leerbande wagstaan en waar Klaas se pyp dwars oor die albas-asbak lê. Waar Christopher iets van Chopin op die vleuelklavier speel, en die Dalmatiese hond met sy fyn neus die kombuisgeure beproef.
Iewers tussen hier en daar het sy gekwes. Sy moes noodwendig pyn aandoen, en Elna se bokkie-oë swem deurentyd voor haar. Sy kon in die verlede tog agterkom dat die kind vertroue in haar stel, bewondering koester. Sy het, so ongeërg moontlik, menigmaal en onder menige voorwendsel ’n goeie kledingstuk na Elna se kant toe laat gaan, heimlik trots daarop dat haar figuur nog dié van die jong meisie ewenaar.
Maar Elna moet kan verstaan waarom sy hierdie besoek afgelê het. Waarom sy duidelik geskimp het dat Elna tog maar moet maak of sy Christopher glad nie ken nie. Dis vir Elna se eie beskerming ook. Christopher is onvoorspelbaar, hy kan dalk net sy rug op haar draai.
Dis ’n vermoeide vrou wat die swaar voordeur van professor Klaas Ligthart se huis oopstoot. Vermoeid nie vanweë enige fisieke inspanning van hierdie dag nie, maar die geestelike stremming van die dae van vele jare.
Toe sy by die woonkamer se oop deur wil verbygaan, steek sy vas. Christopher sitlê in die diep leerstoel. Dis moeilik om te sê of sy aandag wel is by die radiomusiek waarop hy ingeskakel is, want sy oë, ’n boeiende mengeling van amber en groen, is sonder belewenis of vonk. Slegs toe hy haar gewaar, flikker sy blik in herkenning, maar hy neem nie sy hand onder sy ken weg nie. Sy digte bruin hare lê oor sy voorkop.
Op ’n ingewing loop Corlia nader. Sy is bewus daarvan dat sy ’n koue van buite af meebring, dat dit om haar gestalte huiwer. “Ek was by tant Makkie-hulle,” sê sy asof sy ’n verduideliking verskuldig is. Hy kyk net na haar en knik nie ja of nee nie, sodat sy half weerbarstig besluit om ’n reaksie te ontlok. Sy loop heeltemal tot by hom. “Ek was onrustig nadat ek gehoor het jy en Elna het mekaar by daardie jeugsamekoms raakgeloop.”
“Hoekom?” vra Christopher. Die woord verraai niks van wat hy waarlik hiervan dink nie.
“Wel, jy het pas begin uitgaan met Phoebe. Wat moet sy dink as Elna na jou toe stap en jou soen asof dit so hoort?”
Hy kom stadig regop. “Ek glo dit nie. Wat het Ma toe by tant Makkie gaan doen? Daaroor gaan praat?”
“Wel, ek het gedink voorkoming is beter as genesing. Jy sou in ’n groot verleentheid kon beland as daar op jou toegesak word. Phoebe sou tot ’n totaal verkeerde gevolgtrekking kon kom.”
“Toegesak word, deur Elna? Ek twyfel of sy behoorlik weet of omgee hoe ek lyk.”
“Wat van Boet en Berrie en Ria? As hulle volgende keer saamgaan? Jy weet nie een van hulle kan onderskei tussen vriendelikheid en familiariteit nie.”
Christopher Ligthart staan op. Corlia besef nou eers tot watter lengte hy uitgegroei het. Sy voel verdwerg teen hom … of dalk is dit woede wat hom laat uitswel. “Laat ons kyk of ons mekaar reg verstaan: Ma het na die Osmans toe gery en vir hulle gesê Elna moet liewer nie na die jeugaksie toe gaan nie?”
“Nee, o nee.” Sonder dat Corlia weet hoe, het sy in die beskuldigdebank beland. “Ek het net gesuggereer dat dit nie hoef te blyk julle ken mekaar nie.”
“Wat nog te sê familie wees, nie waar nie? En hoe suggereer ’n mens so iets sonder om dit blatant te sê?”
“Verstaan mooi, ek het nie met Elna self gepraat nie, net met Makkie. Sy kan dit op haar manier oordra. Dis nie eers nodig dat Elna weet ek het daaroor kom praat nie.”
“Ek sien. En tant Makkie het soveel sielkunde in haar hele lyf soos ’n gemiddelde renoster in sy neushoring. Waarom het Ma dit gedoen? Elna het genoeg om minderwaardig oor te voel. En ek het alle rede om te dink sy is nie dikvellig nie, maar baie fyngevoelig.”
“Soos Malie, nie waar nie?” Corlia is nou onteenseglik sarkasties. “Wat haar lyf op straat rondgegooi het?”
“Sy is nie Malie nie.”
“Ek was nie bewus daarvan dat jy partydig vir haar voel nie.”
“Ma, ek is ’n mediese student. Ek bekyk die lewe vanuit ’n kliniese oogpunt. Daarom sal ek enigiets wat pyn veroorsaak my bemoeienis maak. En die liggaam en gees is nie los te make van mekaar nie. Ek is besorg en hewig ontsteld omdat my ma deur hooghartige meerderwaardigheid ’n onskuldige meisie gekwes het.”
Dis die eerste keer wat hy haar so beskuldig. Is dit wat hy van haar motiewe en lewenshouding dink? Met ’n sekere droefheid besef sy dat daar eintlik niemand is wat haar werklik verstaan nie. Klaas is vir haar goed, maar hy lewe in ’n wêreld van taalverskynsels, morfologie en sintaksis. Hy het haar lief en versorg haar goed, maar sy weet onfeilbaar dat hy hom nog nooit volkome met haar frustrasies vereenselwig het nie. Hy buig nie maklik die knie voor krisis nie. Hy is gemaklik met homself sowel as met andere. Sy studente en kollegas is om daardie rede mal oor hom.
“Is dit wat jy dink,” sê sy. Geen vraag nie, maar ’n stelling. Haar stem is dof en swaar. “Wat weet jy, Christopher, van seerkry? Waar sal ek begin vertel, en watter woorde sal ek kies, sodat jy kan verstaan?”
“Ja, ja, ek weet,” val hy haar ongeduldig in die rede. “Ma het arm grootgeword. Wat daarvan? Ek wens ék het. Nie dat ons ryk is nie, Pa is ook maar net ’n akademikus. Maar ek wens ek het swaar genoeg grootgeword om te moet veg vir elke dingetjie wat ek wil hê.”
“Jy weet nie waarvan jy praat nie.” Haar stem is snerpend.
“Wie se stem klink nou soos die veragte tant Makkie s’n?” smaal die jong, vyandige man wat vandag allermins soos haar seun voel.
“Jy dryf my daartoe. Jy weet nie wat jy sê nie. Veg vir elke ding wat jy wil hê. Goed, vergeet van arm wees. Armoede is niks. Maar om verag te wees.” Sy weet nie wat haar besiel nie. Uit haar mond het Christopher nooit voorheen ’n soortgelyke belydenis gehoor nie.
“Ek hunker daarna om net een maal basies te leef,” verklaar Christopher. “Ek is sat van oortollighede. Hoeveel gaan nie net om die verganklike stuk lyf nie, wat ten slotte op die siekbed of sterfbed net ’n patetiese hopie vleis is.”
“Hou jou ou studentefilosofietjies!” roep Corlia, nou deeglik vies. “Jy, wat nooit met my praat nie, wat soos ’n nors bul rondloop, wil jy nou met my kom staan en baklei en my motiewe bevraagteken?”
“Die Simons-bloed slaan deur,” glimlag Christopher onpeilbaar. Sy beheersing maak haar woedender. En magteloos, omdat sy woorde onverwags waar is: die bloed wat in haar are loop, is dié van dronk Jan Simons en sy vrou. En die bietjie beskawing wat sy onder Klaas Ligthart se beskerming ryker geword het, is ’n dun nerfie. Het haar seun haar altyd nog gepeil, en daarom sy koue kant na haar toe gekeer? Dus het dit daartoe gekom dat hy haar verwerp.
Oorspanne begin sy rukkend huil.
Dan is Klaas in die deur, pyp in die hand, onverstoorbaar soos gewoonlik: “Wat is hier aan die gang?” wil hy weet en daar gaan gesag van hom uit asof hy voor ’n klas balhorige studente staan.
“Vra vir hierdie seun van jou!” roep Corlia uit en haar skouers skok … ’n skok wat deurloop keel toe, lippe toe.
“Christopher?”