Название | Vlam van verlange |
---|---|
Автор произведения | Schalkie van Wyk |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624052166 |
Vlam van verlange
Schalkie van Wyk
Melodie
Met liefde opgedra aan ’n kosbare vriendin, Burtie Craëmer
1
Carli van Eeden sit opgekrul op ’n gemakstoel in die ruim sitkamer van haar ouerhuis, haar arms om haar opgetrekte bene saamgevat, haar ken rustend op haar knieë. Sy staar stom na die lang, soepel Mariska Viviers wat met glyende balletbewegings die vertrek binnedans, sierlik op die punte van haar tone pirouetteer en ’n elegante buiging maak voordat sy haar balans verloor en op die naaste rusbank neerplof.
“Geen applous nie?” vra Mariska meer uitasem as beledig en vervolg agterdogtig: “Of is dit ’n sameswering tussen jou en my ma? Sy sê ek mag nie balletklasse gee nie, want sy en my pa het ’n fortuin betaal sodat ek my graad in Ekonomie kon kry. Dis glo nou my plig en voorreg om soos my pa ’n effektemakelaar te word. Ek, Mariska Viviers, die wêreld se grootste ballerina – groot in talent en nog groter in bou!” ’n Onkeerbare laggie glip oor haar lippe en dan leun sy terug op die rusbank en lag haarself skaterend uit.
Carli glimlag halfhartig. Sy voel gemeen toe Mariska ophou lag en haar bekommerd aankyk en sê waarderend: “Dankie dat jy my probeer opbeur, Mariska, maar dis glad nie nodig nie. Ek bedoel, ek is nie ’n treurende wesie of … of hartseer nie.”
“O, ek glo jou. Ons was gistermiddag op jou ma se begrafnis, maar niks het verander nie. Jy jok vir die Schoemans en jy jok vir my, jou beste vriendin. Jy slaap stoksielalleen in hierdie vistenk van ’n huis – terwyl ek glo jy oornag by die Schoemans en hulle glo jy oornag by ons. Toe daardie lastige Vincent my nou-nou bel om te hoor hoe jy geslaap het, moes ek soos ’n tandetrekker lieg om aan verskonings te dink waarom ek jou nie na die foon kon roep om met hom te praat nie,” verwyt Mariska kamma gegrief.
“Ek is jammer, Mariska, maar ek wou net alleen wees. Al daardie mense op my ma se begrafnis … Almal praat en simpatiseer en huil – net ek huil nie, want ek wil net alleen wees. Is dit só moeilik om te verstaan?” vra Carli pleitend.
“Ek sou probeer het om te verstaan as jy my vertel het hoe jy voel. En jy antwoord nie jou selfoon of julle huisfoon nie. Ek was so bekommerd oor jou dat ek byna ’n fietsryer uit die aarde gehardloop het toe ek die straat oorsteek om hier te kom. As ek nie ’n afstandbeheer vir julle motorhek en ’n voordeursleutel gehad het nie, het ek lankal die polisie en die brandweer gebel!” vaar Mariska verwytend uit.
Sy merk hoe Carli op haar onderlip byt en sê skuldig: “Skuus, Carli. Ek kyf nes my ma as my pa gaan gholf speel wanneer my ouma die naweek kom kuier.”
Carli glimlag ten spyte van haarself en betrag Mariska met ’n gevoel van warmte en dankbaarheid. Wat sou sy al die jare sonder Mariska se lojale vriendskap gedoen het? vra sy haarself af. Mariska, die lang, blonde meisie met die hemelsblou oë wat altyd ’n kop langer as sy was, selfs al is hulle dieselfde ouderdom. Net Mariska kon haar troos toe haar pa twaalf jaar gelede dood is, want haar vriendin beskik oor die rare talent om humor in hartseer of teleurstelling raak te sien. Maar sy was hartseer toe haar pa dood is, onthou Carli, hartseer met die skrynende seer van ’n tienjarige kind se onbegrip, want die groot man met die sterk arms en die warm lag in sy stem was skielik nie meer daar om haar styf vas te hou teen sy bors en te troos nie. Om haar stukkende wêreldjie heel te maak.
“Ek is jammer jy moes ter wille van my vir Vincent jok, maar as jy geweet het ek wou gisternag alleen in ons huis slaap, sou jy my nooit met rus gelaat het nie. Jy was hier toe die polisie my oor my ma se noodlottige motorongeluk ingelig het, Mariska. Ek het vyf nagte in julle huis geslaap en … en jy het my getroos. Julle was almal so goed vir my, maar gister ná die begrafnis moes ek net terugkom huis toe om alleen te wees. Dis waarom ek vir jou gejok het toe ek gesê het ek sou gisteraand by die Schoemans slaap,” verduidelik Carli skuldig.
Mariska kyk Carli agterdogtig aan, skreef haar oë en sê verpletterend: “Jy is ydel, Carli van Eeden! Ek besef in sprokies is die prinsesse altyd blond met blou oë, en die hekse het rooi hare en groen oë, maar dis loutere bog. Ek is blond en gebou om te hou, terwyl jy met jou koperbruin hare en groen oë en jou pieperige … e … fyn liggaamsbou, soos een van my ma se Dresden-beeldjies lyk. Vandat ons tieners was, skouer Vincent Schoeman my uit die pad as hy my raakloop, maar sien hy jou aankom, gaan lê hy op die grond sodat jy bo-oor hom kan loop. Jy, meisiekind, is só ydel oor jou skoonheid dat jy nie voor my wou huil nie, daarom het jy in julle huis kom wegkruip. Toe, erken dit en lyk berouvol!”
Carli sien die vonkelende lag in Mariska se oë, probeer vergeefs om te glimlag en druk haar voorkop met ’n kreunsuggie op haar knieë. Sy lig haar kop eindelik op, haar oë die onstuimige donkergroen van ’n stormsee. “Ek het gedink ek sal kan huil as ek terug is hier in my ma se glaspaleis … huis … maar ek kan nie, Mariska, ek kan nie! Ek onthou hoe verskriklik ek gehuil het na my pa se dood – dae, weke, maande aanmekaar. Ek kon nie aanvaar hy is vir altyd weg nie, want ek wou altyd net nog iets vir hom gesê of gevra het.”
Haar stem word sagter toe sy aarselend voortgaan: “Ek het selfs gewens dat my ma liewer gesterf het, as ek net my pa kon terughê. Dalk … dalk is dit waarom ek nie nou kan huil nie; dalk het ek haar al die jare doodgewens.”
Mariska lyk oomblikke lank onkant gevang en sê dan met oordrewe erns: “My liewe Carli, jy is toe nooit ydel nie, net doodgewoon dom.”
Sy glimlag met sigbare verligting en vervolg vertroulik: “My ma sê dis my onstuitbare optimisme wat my, ten spyte van my groot beenstruktuur, al die jare laat ballet neem het. My optimisme het my laat glo ek kan ’n professionele ballerina word, maar gelukkig is ek met insig en intelligensie geseën – dis wat my ma sê – daarom het ek universiteit toe gegaan en my graad gekry sodat ek vir my pa se firma kan werk.”
Carli staar haar verward aan toe sy selfvoldaan swyg en vra onthuts: “Hoe raak jou onstuitbare optimisme en intelligensie mý, Mariska? Of gee dit jou die reg om te sê ek is dom?”
“Ek dink insig is die sleutelwoord,” antwoord Mariska met ’n selftevrede glimlaggie.
“Net ou mense het insig, Mariska. Jy is twee-en-twintig en jy weet net so min soos ek!” protesteer Carli ongeduldig.
“Nee, ek weet baie meer, want ek is gewoond om op die kantlyn te staan en toeskouer te speel. Jy weet self wat het op skool en universiteit gebeur, wat nou nog gebeur as ons partytjies toe gaan of doodgewoon by die bure kuier: jy kry al die aandag, en ek is net toevallig daar omdat ek jou vriendin is. Reg?”
Carli byt op haar onderlip en antwoord ongemaklik: “Vincent se ma gee net voor dat sy van my hou omdat sy nie met hom wil rusie maak nie. Ek vermoed sy hou meer van jou. En my ma het van jou gehou.”
“Leuenaar!” roep Mariska treiterend uit en skaterlag toe Carli skuldig bloos. “Ek twyfel of jou ma ooit besef het sy het ’n dogter, of dat ek haar dogter se vriendin is. My ma is my ma, maar sy is terselfdertyd my vriendin en vertroueling. Ek dryf haar gewoonlik tot raserny omdat ek so lomp is dat ek altyd klein tafeltjies omstamp of kosbare ornamente breek, maar ek weet sy is lief vir my. Ek weet ek kan op haar skouer huil as ek hartseer is en ek weet sy sal my troos. My ma deel beurtelings drukkies en soentjies en preke en dreigemente uit, maar dis alles deel van haar liefde. Jou ma was ’n glasvrou wat in ’n glaspaleis gewoon het. As daar liefde in haar glashart was, was dit nie vir jou nie. Of is ek nou te blatant eerlik, Carli?”
Carli stoot ’n bewerige suggie oor haar lippe en skud haar kop ontkennend. “Nee … My ma het net een kind gehad: my broer, Arnold. Dalk was dit omdat hy sestien jaar ouer as ek was dat hy nooit soos my broer gevoel het nie, of dalk het hy te hard gewerk om notisie van my te neem. Hy en my ma was altyd so besig met ons maatskappye en om vriende te onthaal of saam oorsee te gaan. My ma het hom haar kroonprins genoem. En toe hy vyf maande gelede in ’n vliegongeluk dood is …” Carli swyg en kyk met ’n bodemlose leegheid in haar oë na Mariska voordat sy effens skor voortgaan: “Ek dink ná Arnold se dood het my ma vir die eerste maal besef ek bestaan; dat ek leef terwyl Arnold dood is. Soms … soms het sy met ’n uitdrukking van haat na my gekyk, asof sy gewonder het waarom ek durf leef terwyl Arnold moes sterf. Of miskien was dit net my verbeelding, omdat ek skuldig gevoel het dat ek nooit enigiets in haar lewe sou kon