Narkose vir die hart. Helena Hugo

Читать онлайн.
Название Narkose vir die hart
Автор произведения Helena Hugo
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624052012



Скачать книгу

      “Jan is desperaat om my getroud te sien, anders sou hy nooit sy standaarde verlaag het nie,” sê Saranie Dinsdagmiddag vir haar vriendin, Anna.

      Dis byna drie-uur en die kafeteria se slaaiblare is al net so verlep soos sy en Anna. Hulle moet ’n blaaskans vat, en middagete in die kaf is ’n goeie verskoning. Hulle skep louwarm roerbraaigroente en gebakte vrugtepoeding met dun vla, en dra hul skinkborde na ’n oop tafeltjie naby die venster. Die hospitaal loop al weer op noodkrag en die res van die kaf is in skemer gehul.

      Hulle was besig vanoggend, selfs besiger as wat Saranie voorspel het. Operasies én keisers wat tot ná die Paasnaweek uitgestel is, moes afgehandel word. Om alles te kroon was Glenda Olckers, hul eie Cruella de Ville, weer op haar stukke.

      Maar hulle praat nie oor die werk nie, durf ook nie iets sê nie. Iemand kan net hoor en stories aandra. Saranie se naweek op die plaas is in elk geval interessanter as hospitaalintriges.

      “Was dit so erg?” vra Anna nadat hulle aan tafel gaan sit het.

      “Ek gaan nie weer nie … nie alleen nie.”

      “Hulle het jou probeer afsmeer aan al wat ’n losloperman is?”

      “Veral een.”

      “Wie?”

      “Gerhard de Lange van Sandheuwel.”

      “ ’n Wewenaar met sewe kinders?”

      “ ’n Outjie, jare jonger as ek.”

      “O wel, solank hy nie dom of lelik is nie …”

      “Ek was die hele naweek opgeskeep met hom en hy met my.”

      “Shame.”

      “Hy moes my Saterdag troue toe vergesel, nadat hulle hom Goeie Vrydag vir ete genooi het sodat ons mekaar gewoond kon raak. Kan jy glo, my broer wys hom ons home movies van dertig jaar gelede.”

      “En?”

      “Ek dink hy skuld Jan geld of iets, want hy het deur alles gesit, en toe wil hy dit weer sien.”

      “Jy onderskat jouself, Saranie.”

      “Ek’t nie geweet waar om my kop in te steek nie! Jan wys tot vakansiefilms waar ek kaal op die strand rondhardloop.”

      “G’n wonder die man het aangedring op nog nie.”

      “Om ’n drie jaar oue dogtertjie in haar evaspakkie te sien?”

      “Hy’t seker gehoop dis die begin van ’n reeks.”

      “Anna, Gerhard is vyf jaar jonger as ek. Hy was nog op skool, toe werk ek al!”

      “Jy dra jou jare goed, niemand sal sê jy’s dertig nie,” terg Anna.

      “Drie-en-dertig!”

      “Maak hom agt-en-twintig, ’n jong boer vol testosteroon. Jy’s ondankbaar.”

      “Ek wil nie ’n jong boer vol testosteroon hê nie!” roep Saranie uit. “Ek wil …”

      “Jou matriekliefde terughê?”

      “Sê maar so … Nee!”

      Saranie moet nog besluit of sy Anna van hul herontmoeting wil vertel, maar Anna ken haar so goed, sy lees gedagtes.

      “Was hy ook daar?”

      “Tot my spyt.” Saranie reageer met soveel passie, dis of ’n onweerswolk op die tafel neerdaal.

      Anna sug en Saranie maak haar klaar vir nog ’n bestraffing. Anna hou nie van, soos sy dit stel, “hierdie ongesonde hunkering na jou eerste liefde” nie. Sy het al verskeie beraders en selfs ’n hipnotiseur aanbeveel sodat Saranie bevry kan word en weer met haar eie voete kan loop waar sy moet.

      Wat Anna nie weet nie, is dat Saranie in haar drome lankal ’n ander land begin verken het, sy sal net om de dood nie daaroor praat nie. Haar geheim. Vanoggend was dit weer ’n marteling om op te kyk in daardie vergeet-my-nie-oë bokant die operasiemasker, vlugtig, byna per ongeluk, maar ’n ewigheid.

      Anna klik met haar tong. Dié keer raas sy nie, sy doen iets wat Saranie nog meer irriteer. “Daar’s Corné,” sê sy en beduie met haar vurk in die rigting van die deur.

      “Dag hy werk nie vandag nie.” Saranie fokus eerder op die repies uie en groenrissie op haar bord.

      “Hy’t ons gesien, waai tog maar, hy verlang al heel naweek na jou.”

      “Hy’t gebel en SMS’e gestuur.”

      “Moenie so hard wees nie, hy’s verlief op jou en hy doen moeite.”

      Corné het al blomme gestuur, sjokolade aangedra, gegeurde kerse gebrand in die hospitaal se slaapkwartiere, geskenkies onder die kopkussing gelos as hy weet sy slaap daar, notas en gediggies op haar lêers geskryf, haar sover gekry om hom na opvoerings en hospitaalfunksies te vergesel, selfs haar motor gediens.

      Die hele hospitaal dink hulle is ’n paartjie, so te sê verloof om te trou.

      Corné waai sy leë skinkbord in die lug, beduie met sy los hand dat hy gaan kos haal, hulle moet wag.

      “Hoekom gee jy hom nie ’n kans nie?”

      “Hoekom sê jy nie vir Nico julle huwelik is ’n mislukking nie?”

      “Dit gaan baie beter met ons.”

      Saranie kan dit nouliks glo. Nico het die een buite-egtelike verhouding ná die ander. “Voor die Paasnaweek wou jy van hom skei, hoe kan dit nou beter gaan?”

      Anna kyk af. Toe sy opkyk, lyk sy ernstig.

      “Ons was toe op daai huweliksverrykingskamp wat die berader aanbeveel het, en ons is nie so uniek nie. Ek bedoel, daar was ander paartjies nes ons. Ek kon myself ’n slag sien soos ek is – dominerend, oorheersend, alte slim. Nico het ’n minderwaardigheidskompleks en dis mý skuld – ek’s die dokter, hy die restauranteur wat niks verder as matriek geleer het nie.”

      “Nico doen sy werk goed, sy restaurant is een van die top tien in die stad. Jy werk by ’n staatshospitaal. Hy verdien meer as jy!”

      “Ja, maar ek sê dit nie genoeg nie. Ek verstaan ook nie sy werkure nie, terwyl hy my altyd in ag neem. Ek vertrou hom nie en hy vertrou my, al slaap ek soms snags in dieselfde slaapkwartiere as die mans.”

      “Wie sê so? Hy?” Nico het Saranie al ’n paar keer in ’n hoek probeer vasdruk.

      “Nee, die berader.”

      “Is alles skielik jou skuld?” Nico het haar op ’n tyd aanhoudend gebel en oor Anna gekla.

      “Ons het vraelyste en vorms ingevul, hulle is wetenskaplik uitgewerk. Ek sal jou die vrou se nommer gee.”

      Nico versamel vroue se telefoonnommers asof dit uit die mode gaan, dink Saranie.

      “Ek’s nie getroud nie, Anna, hoe kan sy my help?”

      “Dit gaan oor verhoudings en sy ken haar storie. Niemand kon my en Nico help nie, maar toe ons daai vorms klaar ingevul het, was dit glashelder.”

      “Wat? Die waarheid?” Sy het nog nooit vir Anna vertel hoe Nico haar eendag so te sê onsedelik aangerand het nie. Sy sal ook nie.

      “Dis oulike vorms, jy sien jouself soos jy is.”

      Saranie wonder of daar vorms is vir ongetroude vroue wat aan hul skoolliefdes vasklou. In haar geval is dit nie al nie. Anna weet nie, niemand weet nie. Maar sy is ’n ongetroude vrou wat aan haar skoolliefde vasklou terwyl sy heimlik verlief is op die onbereikbaarste van alle onbereikbares – ’n senior kollega wat moontlik niks met vroue te doen wil hê nie!

      Só pynlik is haar geheim, sy wil nie eens aan sy naam dink as sy in ander se geselskap is nie. In haar kop is hy haar skarlakenliefde, die geheime besoeker wat haar snags in haar drome treiter, soms selfs helder oordag ook.