Название | Eksklusief uit Eden |
---|---|
Автор произведения | Marida Fitzpatrick |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624051831 |
“Dan dank jy my af.”
Sy kan nie glo sy het dit so pas gesê nie. Vir ’n oomblik hoop sy Grethe beveel haar om op te hou nonsens praat en na haar lessenaar terug te keer. Maar hoop en opgewondenheid steek haar borskas aan die brand toe sy sien dat Grethe sowaar haar voorstel oorweeg. Heen en weer, heen en weer swaai sy in haar kantoorstoel.
Dit voel soos ’n ewigheid, maar dan kom die woord soos ’n geskenk toegedraai met ’n goue strik: “Goed.”
“Is dit ’n ja? Beteken dit jy stuur my?”
“Ja,” antwoord Grethe sag. Moedeloos. En roep dan dramaties uit terwyl sy haar hande in die lug gooi: “Ja! Die Vader alleen weet hoekom. Ek is seker aan die kens raak.”
“Dankie, Grethe, dankie! Jy sal nie spyt wees nie.”
Net toe sy wil uitstap, roep Grethe haar terug. “Gaan lees net in vadersnaam eers oor Bahrein op die internet op. En onthou, jy moet ’n eksklusiewe storie kry. ’n Scoop. Weet jy wat dit beteken, Bindeman? Ek wil nie iets hê wat klaar in die Sondagkoerante was nie. Veral nie Verslag nie. Hulle is ons grootste kompetisie.”
“Natuurlik.”
“Dit gaan nie so maklik wees nie. Ek hoor Verslag stuur vir Malan Retief. Pasop vir hom, hy’s vlymskerp. Jy moet sorg dat jy iets kry wat hy nié het nie. Moenie dat ek Sondag óns scoop in Verslag lees nie.”
O hel. Malan Retief is ’n joernalistieke god met ’n ontwerperstoppelbaard. Hy ryg die pryse en toekennings die een na die ander in. Maar sy laat blyk nie haar paniek nie, sê net: “Ek weet van Malan. Ek het hom al ’n paar keer by Persklubfunksies raakgeloop.”
“Jy het één kans, Bindeman,” sê Grethe nadruklik. “As jy droogmaak, kom jy terug en skryf vir die res van jou lewe TV-gidse. Dis te sê ás jy nog werk het. Jy kan gaan; sorg dat jy die reisreëlings by Portia kry.”
2
Oorsee! Sy gaan oorsee! Sy moet haar keer of sy huppel uit Grethe se kantoor.
Mia was nog nooit oorsee nie. Om die waarheid te sê, was sy nog in weinig ander plekke as Potchefstroom. Negentig persent van haar volwasse lewe, twee en twintig uit die vyf en twintig jaar, het sy in Potchefstroom in haar ouerhuis gewoon. Die verste wat sy nog ooit was, is Kleinmond in die Kaap. Sy wou ná haar studie by die Potchefstroomse universiteit oorsee gaan, maar haar pa wou niks daarvan hoor nie.
Nou gaan sy Midde-Ooste toe, van alle eksotiese plekke! Kamele op goue sandduine in uitgestrekte woestyne, oliesjeiks met harems vol vroue met sluiers en geheimsinnige oë wat in soet parfuumwolke verleidelik dans … Sy kan gil van opgewondenheid!
Maar wag, daar is ook altyd oorlog in die Midde-Ooste. Sy onthou nog die opskrif in haar matriek-Geskiedenishandboek: Die nimmereindigende Midde-Oosterse konflik. O hemel, sê nou daar’s oorlog in Bahrein? Sê nou sy moet tussen mortiere of missiele of wat hulle ook al in oorlog gebruik, koes en hardloop om haar storie te kry?
Sy gaan sit voor haar rekenaar. Haar hart klop wild. Sy kan nie glo sy het dit reggekry om Grethe te oortuig nie. Waar sy die moed vandaan gekry het, weet sy nie. Ou Grethe, soos die kantoor haar agter haar rug noem, het nog nooit van haar gehou nie. “Dis niks persoonliks nie,” het sy eenkeer vir Mia gesê sonder om ’n oog te knip. “Dis maar net jou tipe gesig. Dit werk net nie vir my nie.” Ou Grethe moet vandag ’n besonder goeie of slegte dag beleef dat sy so maklik ingegee het.
Wag tot haar ma en pa hoor! Hulle wou nooit hê sy moes oorsee gaan werk nie, maar hulle sal baie beïndruk wees dat haar werkgewer genoeg vertroue in haar het om haar oorsee te stuur. In hul oë sal dit amper so goed soos ’n bevordering wees.
Mia hoor al hoe mevrou-professor Henriëtte Bindeman gemaak terloops vir die ander vroue by die Potchefstroomse leeskring sê: “Ja, jong, Mia se werk het haar na Bahrein gestuur. Jy weet, in die Midde-Ooste? Sy’s so besig, jong. Vat nie grond nie.”
En sy sien al haar naam in Grethe se redakteursbrief (daar waar Terry-Lee se naam gewoonlik pryk): Lees die skitterende artikel deur ons sterjoernalis Mia Bindeman, wat uit Bahrein in die Midde-Ooste berig. Dink net hoe jaloers gaan Terry-Lee wees!
’n Regte, egte nuusstorie. Nuusweek se hoofartikel! Sy het só lank gewag vir hierdie kans. Al vir agttien maande sleep sy haar lyf elke oggend werk toe om TV-gidse te skryf met opsommings oor wat in flieks en sepies gebeur. Daar is ook net soveel maniere om te sê X raak verlief op Y, A is woedend vir B, en T kry ’n verrassende besoek uit die verlede.
Nou kry sy uiteindelik die kans om haarself te bewys. Al is dit in ’n oorlogsone. O hemel, sy beter dit net regkry. Mislukking is nie ’n opsie nie. Sy sal Grethe, haar ouers, niemand weer in die gesig kan kyk nie. Sy móét net slaag.
Goed, sy moet nou kalmeer. Sy moet nog op die internet oplees oor Bahrein en die Shia-fundamentaliste. Maar eers gaan sy haar oorwinning met ’n Cinnabon vier.
Met haar ringvinger (die enigste vinger wat nie taai is van die Cinnabon nie) kliek sy op die muis om by Beeld se webblad te kom. Die Suid-Afrikaanse konstruksiemaatskappy McMillans, lees sy en vat nog ’n hap Cinnabon, het die Al Dana-veerboot gehuur vir ’n partytjie om ’n konstruksiemylpaal te vier. Al die Suid-Afrikaners wat op die boot was, het óf vir McMillans gewerk óf was metgeselle van McMillans-werknemers. Sover vasgestel kon word, het 34 mense, onder wie ses Suid-Afrikaners, die ontploffing oorleef.
Goed, sy moet beslis met van die oorlewendes praat, en natuurlik met familie van die oorledenes. Sy moet sommer vandag al ’n kontak by McMillans kry, nog voordat sy vanaand vlieg. Vanaand … Vandag is Maandag, 2 Mei. Dit beteken sy sal môre op 3 Mei land … Ag hemel tog!
Sy probeer daarvan vergeet en lees verder: Islamitiese Shia-fundamentaliste het na bewering die bom op die McMillans-veerboot geplant om vir die Weste die boodskap te gee dat hulle uit die Midde-Ooste moet bly. Hulle is veral nie ten gunste daarvan dat soveel Westerlinge in die Midde-Ooste werk nie.
Sy tik Bahrain in Google se soekkassie in. Sy hou asem op. Sê nou dis ’n bar, oorloggeteisterde landskap met geboue voos geskiet deur missiele en kindertjies sonder ledemate? Hoe kan sy dan vir Grethe sê sy wil nie meer gaan nie?
Verlig blaas sy haar asem uit toe sy op die eerste paar webblaaie sien daar is nie oorlog in Bahrein nie. Eintlik lyk dit soos ’n baie stil en vreedsame plek. ’n Klein woestyneiland omring deur helderblou see – die Persiese Golf, om presies te wees.
In historiese geskrifte word daar na Bahrein as die Tuin van Eden, die Paradys en die Pêrel van die Persiese Golf verwys, lees Mia. O, dit klink soos ’n fantastiese plek! Dis die kleinste Arabiese nasie in die wêreld. Saoedi-Arabië lê wes van die eiland en Katar suid. Van Doebai af is dit sowat ’n uur se vlug.
Bahrein is ’n Moslemland, die amptelike taal is Arabies en die land se amptelike naam is die Koninkryk van Bahrein, lees sy. ’n Monargie, soos die Britte. Oe, sy wonder of hulle ’n mooi, eksotiese prinses het. Of beter nog, ’n eksotiese prins. Die koning wat die land regeer se naam is sjeik Hamad bin Isa Al Khalifah.
Dit het Mia etlike maande geneem om die minister van gesondheid, Manto Tshabalala-Msimang, se naam te onthou. Sy sal mos nooit hierdie sjeik se naam in ’n dag kan memoriseer nie, dink sy en sug.
Die sjeik is blykbaar ’n baie goeie koning, want sedert hy in 1999 oorgeneem het, is daar weinig, indien enige, politieke onrus in die land. Die Shia-fundamentaliste het in die 1980’s en 1990’s moles gemaak in Bahrein, en ’n klomp mense is dood in die geweld tussen die regering en die fundamentaliste. Hulle het hotelle en restaurante met plofstof aangeval. Maar sedert die koning se oorname is hulle stil – dit wil sê, tot nou toe.
Alle aanduidings is dat ’n terroristegroep genaamd Jaish Islamiyah vir die bomontploffing op die veerboot verantwoordelik was, lees Mia. Dié groep bestaan glo uit Shia-fundamentaliste en het in die 1980’s bekend gestaan as die Islamitiese Front vir die Bevryding van Bahrein. Hulle het in 1981 onsuksesvol probeer om die regering met ’n staatsgreep omver te werp.